Archive by Author

Juweelslaaie en yskelkies met pêrels van granaat

4 Feb

 

granate in blou bak uitgedop

“Daar was so vyf granaatbome tussen die agterdeur en die -hek wat die ganse en makoue uitgehou het op my grootouers se plaas. Elke middag na die 11h30 middagete  is die kombuis opgeruim en dan het my Ouma Bes die klein halfronde blou enamelbakkie gevat en vrugte van die seisoen is daarin geskil: ‘n enkel appel, perske, of wat ook al ryp was.  Met granaattyd was daar ‘n ekstra bakkie ingesluit. Sy het die sagte rooi skil (ja, dis sag as dit sonryp raak) perfek in die rondte gesny sonder om een enkel pit te beskadig, dit oopgebreek en dan pit vir pit uitgehaal, die geelwit velletjies sorgvuldig verwyder en in die helfde van die vrug in die ekstra bakkie gegooi. Teen die tyd wat Jan Blomerus die nuus gelees het, het ek omtrent geweet presies hoeveel pitte in daardie bakkie was – pure afwagting. “Bokstertjie, jy kan maar kom haal!” Dan het ek versigtig opgestaan van voor die bank waar my oupa geslaap het en ek sit en lees het, want hy het aan die einde van die nuus diep gesluimer – en dan het ek saggies oorgehuppel na my ouma en die bakkie pitte geneem waar sy op die lang sonstoep uitgestrek gesit het met haar voete “op” en die boonste deel van haar witvoorskoot losgeknoop – en met koperspeldjies weer vasgemaak. In haar hand die blou bakkie met die bloedrooi krale daarin. Een vir een het ek die vreemde wasagtige krale in my keel afgegooi. Elke jaar dieselfde storie. Dit was 1968. En vandag, 2015, sal ek baie betaal: vir die granaatpitte, en dalk ook vir die oomblik. “  (Pieter Arno Du Toit, 3 Feb 2015)

Groot granaat-oomblikke

Groot granaat-oomblikke

Ek het ook sulke robynoomblikke uit my kinderdae, toe ‘n hele middag sorgloos kon verbyvlieg met ‘n oopgebreekte granaat en voete in die koel leivoorwater. Die dieprooi granaatvlekke op my wit polkadot-rokkie was die stil verklikker van die middag se wegdroom. Dis egter oor die grootmens-genot van granaat waaroor ek vandag gesels – die oomblik wat granate se soet vrankgeit en die sensoriese ekstase van ‘n dag onder die somerson ‘n wonderlike kosmaak-wulpsheid in my losgewikkel het.

My Groot Grootmens-Granaat-Oomblik was laas Sondag by die eerste viering van Convivium, ‘n opwindende nuwe kossaamtrek geskoei op die MAD-simposium van Denemarke. By ‘n tafel met die mooiste uitsig oor die Swartland het Caro De Waal vir my ‘n yskelkie geskink – Shiraz druiwesap met roosmalva gegeur, geskink oor ysskaafsels en geborduur met roospienk granaatpêrels.

Convivium granaat-yskelkie

Convivium granaat-yskelkie

Ek dwaal vir ‘n oomblik af, want ek moet net meer vertel van die dag in die son op Kalmoesfontein,  die visionêre plaas van Adi en Cornelia Badenhorst. Die Convivium-saamtrek is die inisiatief van die kospersoonlikheid Andy Fenner en Wesley Randles van The Pot Luck Club om plaaslike sjefs, verskaffers (van slagters, bakkers, vissermanne, wynmakers, distilleerders en bierbrouers tot kaasmakers) bymekaar te kry. Dit was ‘n dag vol van kreatiewe energie en ‘n terug-na-die-aarde benadering met groot fokus op plante, kruie en ons plaaslike koskultuur.

En die een ding wat steeds by my talm is die ervaring van die goue glasie met die ysdrankie – ‘n granaat slush puppy – in my hand. Die gevoel om omring te wees met mense wat ‘n beeldskone passie deel, die natuurskoon, die bedwelmende kleure  en geure van die tuin met kruie en wilde als, en die klanke van sjefs wat kosmaak, ys wat in glasies klinge.

Die uitsig terwyl ek knibbel aan granaatpitte in 'n yskelkie.

Die uitsig oor Kalmoesfontein terwyl ek knibbel aan granaatpitte in ‘n yskelkie.

Hierdie twee granaat-inspirasie slaaie vang vir my die sensoriese ervaring van die dag vas. Deel van die genot is om self die granaat te skil en die pêrels los te breek. Kyk gerus op YouTube vir die vinnige, effektiewe maniere om ‘n granaat in ‘n oogwink te skil en die pitte los te maak.

Juweelslaai met granate, couscous en grondbone

Juweelslaai met granate, couscous en grondbone

Granaat en grondboontjie couscous-juweelslaai

Bedien 4

1 koppie couscous

1 hoender bouillon blokkie, aangemaak met 1 koppie kookwater

1 koppie platblaar pietersielie, grofgekap

1 koppie vars koljander, grofgekap

½ komkommer, in blokkies (verwyder skil en pitte indien verkies)

1 rooi of groen brandrissie, pitte verwyder en opgekap

½ koppe granaatpitte + ekstra vir oorstrooi

1/3 koppie geroosterde grondboontjies, grofgekap (of amandels)

½ t sout

½ koppie olyfolie

Sap van ½ suurlemoen

  • Plaas couscous in ‘n vlak bak, giet die warm aftreksel oor, bedek en laat 5 minute staan. Roer met vurk deur.
  • In ‘n mengbak, roer die couscous, pietersielie, koljander, komkommer, rissie, neute, granaatpitte en sout deur. Net voor opdiening, skud die olyfolie en suurlemoensap saam en giet oor die couscous. Sprinkel nog granaatpitte oor. Bedien teen kamertemperatuur.

    Eiervrug. Granaat. Dennepitte, Dik jogurt. Saffraan. Basielkruid. Hemels.

    Eiervrug. Granaat. Dennepitte, Dik jogurt. Saffraan. Basielkruid. Hemels.

Geroosterde eiervrug- en granaatslaai met saffraanjogurt

 Die kleurvolle slaai word afgerond met granaatpittte en dennepitte wat soos krale op die liggoue saffraansousie pryk. Dis ewe lekker as voorgereg, slaai of vleislose hoofgereg.  

5 medium eiervrug, in 2 cm snye of wiggies gesny

Olyfolie of sonneblomolie vir borsel

45 ml liggeroosterde dennepitte

Groot handvol granaatpittte

15 basielkruidblare

Saffraanjogurtsous:

Knippie saffraandrade

45 ml warm water

180 g Griekse-styl jogurt

1 knoffelhuisie, gekneus en fyngekap

Sap van 1 suurlemoen (sowat 30 ml)

45 ml olyfolie

  • Geroosterde eiervrug:Voorverhit oond tot 220⁰C. Smeer eiervrugringetjies aan beide kante met olyfolie, besprinkel kwistig met sout en peper en plaas op ‘n bakplaat. Bak  sowat 35 minute tot dit ‘n mooi ligbruin kleur is. Laat afkoel.
  • Saffraanjogurtsous: in ‘n klein bakkie gooi kookwater oor saffraandrade en week vir 5 minute.  Gooi die saffraanwater in ‘n mengbakkie met jogurt, fyngemaakte knoffel, suurlemoensap en olyfolie. Klop dit goed saam tot dit ‘n gladde, goudkleurige sous vorm. Geur met sout en peper na jou smaak.
  •  Opdiening: Pak eiervrug effe oormekaar in ‘n mooi plat opdienbak, bedruip dit met die saffraanjogurt, gooi 20 basielkruidblare oor en besprinkel  met die robynrooi granaatpitte en dennepitte. (Resep uit  ‘Ottolenghi: the Cookbook’)
Roospienk granate vir 'n yskelkie

Roospienk granate vir ‘n yskelkie

Ek het nie by Caro die resep vir die Convivium granaat-ysdrankie gekry wat so ‘n indruk op my gemaak het nie, My eie kelkie word gemeng met granaatsap, wit rum, suiker en lemoenskyfies oor ys. Ek klink ‘n glasie op Convivium 2015 in die maand van die liefde en tel my  seëninge pêrel vir pêrel.

Caro skink kelkie

Huiskok se vrugteslaaipaai – Aarbei, bessie en basiliekruidpastei

28 Jan Up close and personal met 'n vrugteslaaipaai

As die lewe jou vrugte gee, maak vrugteslaai, of beter selfs – ‘n landelike vrugteslaaipaai. ‘n Paai met ‘n bedwelmende parfuum en surrealisties mooi.

skreeupienk mooi

Somer is juis so ‘n seisoen van oorvloed. Aangevuur deur my huidige bakobsessie wil ek net van alles iets maak wat kan oond toe. Ek stuur my nie aan die hitte nie; trek net die kombuisskuifdeure wyd oop sodat die briesie my kan afkoel. ‘n Resep vir ‘n gebakte aarbei-pastei trek my aandag. In my yskas is daar juis vars aarbeie, bloubessies en klein swart vytjies wat ek vir ontbyt aanhou. In die vrugtebak op die eetkamertafel is daar ‘n paar ryp pruime en nektariens wat ook deel van die slaai-paai kan word.surreal vragte in bak

In ritme met die somer vra vars vrugte die groen smaak van vars kruie, eerder as die hartliker, warmer speseryegeure van kaneel en naeltjies. Om by die idee van die vrugteslaai-paai te bly word basielkruid, balsemiek-asyn en swartpeper die geurmiddels. Basielkruid is veral lief vir perskes, appelkose, bloubessies. Ander kruie en vrugte wat dik pelle is: druiwe of aarbeie met roosmaryn; kruisement met frambose; tiemie met perske. surreal pastei half close up top shot

AARBEI, BLOUBESSIE EN BASIELKRUIDPASTEI

Deeg:

1k (225g) yskoue ongesoute botter in klein blokkies gesny

½ k (125 ml) volroommelk, gemeng met 1 E appelasyn (koud) + ekstra 15 -20 ml indien nodig

3 k (340g) meel (koud)

1 E mielieblom

2 E (30 ml) suiker

1 ½ t sout

Sif die meel, mielieblom, suiker en sout saam in ‘n koue bak, voeg die koue blokkies botter by en sny dit by die meel in tot dit soos ertjies lyk. Ek gebruik eerder ‘n deegsnyer as my vingerpunte wat die botter sal laat smelt. Sprinkel net genoeg van die melk-met-asyn oor die meel om dit aan te klam. (As die deeg nog te droog is, voeg nog vloeistof lepel op ‘n slag by tot die konsistensie reg is. Druk dit met ‘n vurk aanmekaar MAAR MOENIE dit knie nie. Vou in kleefplastiek toe en laat rus in die yskas (minstens 1 uur).

*Die deeg kan ook in ‘n voedselverwerker gemaak word.

Voorverhit die oond tot 220C en rol solank die een helfte van die deeg in ‘n sirkel uit sowat 28 cm deursnit, voer die tertpan uit en plaas in die yskas. , bedek met kleefplastiek.

Nou maak jy die ‘slaai’ vir die vulsel:

In ‘n mengbak meng sowat 7 koppies vrugte soos aarbeie, bloubessies, vye, nektariens of pruime, opgesny, en gooi 12 opgekapte basielkruidblare, 3 E balsemiekasyn en skil van 1 suurlemoen.

In ‘n aparte bak meng ¾ k suiker, ¼ k mielieblom, 1 t varsgemaalde swartpeper en ‘n ¼ t sout.  Net voor jy die vulsel in die tertpan skep, tip die vrugte daarby in en meng sommer met die hande deur.

Smeer die rand van die kors met ‘n eierwas (1 eier gemeng met  ¼ k water) of met melk.  Skep die vulsel in. Rol nou die ander helfte van die deeg uit op ‘n meelgestrooide oppervlakte en sny in 6 breë stroke, plaas dit in ‘n weefpatroon (of hoe jy verkies) oor die vrugtevulsel.

Vou die oorhang deegstukke om, en crimp ‘n mooi sierrand. Bestryk nou die deeg met eierwas, strooi bruinsuiker oor.  Sit die tertbak op ‘n oondrak wat enige souse wat uitborrel kan opvang. Bak die eerste 30 minute by 220C, verminder die hitte na 180C en bak ‘n verdere 30 tot 40 minute tot die kors goudbruin is en deurgebak wees; en die sous verdik het. ‘n Goeie aanduiding is dat die stroop in die middel sal borrel, dan’s dit reg.

Laat afkoel vir minstens ‘n uur. Dit kan teen kamertemperatuur of effe louwarm geniet word. Dit hou ‘n week in die yskas of tot 2 maande in die vrieskas.

Up close and personal met 'n vrugteslaaipaai

Up close and personal met ‘n vrugteslaaipaai

 Vir inspirasie, lees First Prize Pies, deur Allison Kave wat ‘n ‘pie-shop’ het in New York.

Viskoekies – voet in ‘n visblik en verlange in die hart

21 Jan

‘Eendag maak ek vir my ‘n oopdeurhuis

Met mense wat viskoekies eet in die kombuis

Met honde en fietse in die agterplaas.

In ‘n dorp vol bome’

(Vriendin Anoniem)

helder foto

Wat IS dit aan viskoekies wat mense altyd so aan die mymer kry? Dis asof hierdie kos wat ons ken  ‘n verlangdraadjie lostorring saam met al die lekker van onthou.

Nostalgie is  juis die beste geurmiddel. Viskoekies laat hardebaardmanne terugdink aan “die kraak van die sekuur-fyngesnyde uie en pietersielie in die gaar koekie tussen my tande; die suurlemoenwiggies en fyn fyn ‘mash potatoes’ daarby. Die jaar: 1971.”  Die onthouer is my passievolle kosvriend Pieter van die Sederberge.

Dis wat Ilza laat terugdink aan ouma Suzie Schietekat en wens sy’t meer langs haar ouma gestaan toe sy dit gebak het –  sy onthou die gerasperde ui en pietersielie, die res het sy nooit neergeskryf nie.

Viskoekies was die naaste wat my ma aan geriefskos gekom het, met die oopsny van blikkies Glenryck of Lucky Star, (verkieslik middlecut, sonder die tamatiesous). Sy kon viskoekies vinniger optower as wat Paul Nash destyds die 100 m kon hardloop.  Partykeer was die viskoekies ‘n lucky packet, want Pa kon iewers groot hoeveelhede blikkies vis met ‘n duik hier en daar  in die hande kry, wat ten bate van die skoolfonds verkoop is. Ma moes maar maak wat die blik dikteer – soms was daar nie eers ‘n etiket op die blik nie.

Diegene wat dit kan bybring gebruik ingelegde salm of tuna – of meng dit met die pilchards.  Theresa De Vries, laat weet uit Brandvlei ver van die viswaters af, mens kan viskoekies van enige geblikte vis maak (‘darem net nie maalvis nie/); veral kerrievis en piekelvis maak heerlike koekies. Die lekkerste viskoekies is egter van gerookte of gewone gepluisde snoek, reken sy.

Ek gebruik nie broodkrummels vir die bind nie, maar wel koekmeel, soms bruismeel soos my ma. Jy kan ook hawermout,  selfs Weetbix-flenters vir die bind inspan. Aficionados sal aandring op kapokaartappels, fyn vir een kamp; grofgedruk vir die robuuste fynproewer. Banting-aanhangers sal soetpatats gebruik.

Nou die geurmiddels. Vir Annie Scharneck, my huiswerker en leermeester van eg-kos, MOET dit tamatiesous-vis wees. Dis wat viskoekies die geur en sappigheid gee waarvoor haar kinders en kleinkinders so lief is. Sy lol nie met ander smaakmiddels soos pietersielie nie, maar oor die rou ui is sy uitgesproke – dit moet fyn gekerf wees, nie te bonkig of gerasper soos ‘n lui kok sou maak nie. Verder net ‘n eier en broodkrummels van ou brood. Sout en peper. Annie belowe sy sal vir my haar viskoekies maak.

in visvorm top shot

Hilary Dennis, wat saam met my wonder ‘What is it about viskoekies that arouses such passion and enthusiasm?”, maak hare so: “My favourite additions: hard boiled chopped egg; finely chopped gherkins and red pepper (with the usual – tuna or PLAIN – not tomato – middlecut; chopped red onion; one or two eggs; s+p; sometimes a little bit of chunky crushed potato) – roll in egg and flour (or not, just makes it more crispy).

Ek is my ma se resep getrou, behalwe dat ek dit sterk bykom met suurlemoensap; en ek druk die koekies beide kante in mieliemeel of polenta voor ek dit braai. Sy  het viskoekies in haar dikboompan met die seegroen emalje-afwerking gebraai met ‘visolie’; ek gooi klontjie botter by. (Ma was destyds in ‘n ‘tuisgemaakte’ margarine-fase).  Een tegniek waarvan ek onlangs gehoor het, maar nie probeer het nie, is om na die braaislag bietjie water by te sit en 5 minute toe-deksel te stoom.

Die viskoekie-ritueel gaan ook oor wat saam met dit voorgesit word. Kapopaartappels, ertjies, ‘n botterdammetjie. Vir Veralda  ‘n groenslaai met ‘n slaaisous van asyn en kondensmelk. Vir my, en die res van die viskoekie-clan is dit die trio – gekapte tamatie en uie, met ‘n asynsousie.

Dan, as die diep verlangdors water gekry het, raak mens avontuurlik met die viskoekies. Maak dit met vars vis, geur dit met vars koljander. brandrissie of soetrissie vir geur en kleur, peperwortel. Ek hou vir eers by die geure van Ma s’n.

Kosvriendin Marieta het ook met blikkiesvis grootgeword soos ek. Sy het die idee van die mieliemeel gebruik en hierdie foto gestuur van die viskoekies wat sy gemaak het ... op die oewers van die Vaalrvier!

Kosvriendin Marieta het ook met blikkiesvis grootgeword soos ek. Sy het die idee van die mieliemeel gebruik en hierdie foto gestuur van die viskoekies wat sy gemaak het … op die oewers van die Vaalrvier!

MA INEZ SE VISKOEKIES

Die resep vir die viskoekies is presies soos  Ma Inez dit vir haar honger kroos gemaak het. Wel, amper presies, 90% presies. Ek zoep dit op met lemmetjie- of suurlemoensap. Die groot bydrae tot Ma se weergawe vir die volgende geslag is die bros korsie wat my viskoekies kry van die polenta of growwe mieliemeel waarin ek dit druk voor ek dit bak in olie met ‘n blobbie botter.

Ma het nie omgegee of die koekies ewe groot is nie; ek weer gebruik ‘n 60 ml maatlepel – en maak dan ewe groot koekies daarmee.

rou koekies

Viskoekies

  • 2 x 425 g blikke ingelegde vis (Lucky Star ‘middlecut’ ), goed gedreineer
  • 2 eiers
  • 1 koppie bruismeel (of na gedagte) – jy kan ook kapokaartappel of hawermout gebruik
  • 1 klein ui, fyngekap
  • handvol pietersielie, fyngekap
  • sout en peper na smaak
  • Suurlemoen of asyn na smaak
  • Mieliemeel of polenta vir doop
  • Olie en klontjie botter vir panbraai

Plaas die vis in ‘n mengbak en druk fyn met ‘n vurk. Gooi uie, pietersielie, bruismeel, sout en peper  by. Breek 2 eiers in. Meng goed tot behoorlik deurgemeng. Voeg suurlemoensap by – genoeg. Proe en geur weer.  Vorm viskoekies. (Ek gebruik maatbekertjie om dit in te druk). Braai in ‘n pan met vlak olie tot gaar en bruin aan beide kante.  Hou warm.

Ek sit dit voor met growwe brood en tamatie-uieslaai, of met kapokaartappels. Chutney of mayonnaise.  Soms selfs met hierdie lae-vet tartaarsous:

Meng die volgende saam tot glad – 125 ml vetvrye gladde maaskaas, 45 ml lae-vet mayonnaise, 1 fyngekapte hardgekookte eier, 5 ml Engelse mosterd, 5 ml fyngekapte sprietuie en 15 ml fyngekapte agurkies.

Garnale met Pernod en ‘n sous vir die seegode

17 Jan Garnale met 'n kreefkroon en Pernod-pansouse.
As Cobus in my kombuis is, wil ek alles in grootmaat doen.

As Cobus in my kombuis is, wil ek alles in grootmaat doen.

Live in abundance het na my kombuis toe gekom in die vorm van kreefsterte wat vriend Cobus Bekker na sy Paternoster-vakansie hier aangebring het.

Alles aan Vrystater Cobus is groot; hy’s seker 6 vt 4 in ou taal (dis lank). Maar dis in ruimhartigheid dat hy ‘n reus is. As hy in my kombuis is, wil ek alles in grootmaat maak. Sy kreefpersent het my aangemoedig om my groot te gaan, my gunsteling garnaalresep en my paella-grootte koperpan uit te haal. Die bottel Pernod, die anys-aperatif waaroor die Franse gaande is,  word vir oomblikke soos hierdie prop-af gedraai.  Wat dan volg is nie soseer resep as ritueel nie.

Garnale met 'n kreefkroon en Pernod-pansouse.

Garnale met ‘n kreefkroon en Pernod-pansouse.

Die pan word baie warm gemaak en ‘n stewige klont botter ingegooi. Dit sis, raas en word neutbruin. Gooi garnale in, fyngekapte knoffel en droë rissievlokkies. Ek vul die botter aan as dit lyk of die garnale nog vra. Alles gebeur in sekondes eerder as minute. Braai, braai, skud die pan, braai.  Klompie ontpitte Kalamata olywe kom by. Nou moet die Pernod diens doen. ‘n Paar skeute word in die pan gegooi (en ek laat glip hierdie keer my hand) om die bottersappe te bevorder tot ‘n sous vir die seegode. Pietersielie in repies gesny (chiffonade vir die kenner) en blokkies vars pruimtamatie by geroer. Klaar.

En as jy so gelukkig soos ek is om ‘n pêl soos Cobus te hê, pak jy geskenk-kreefsterte (apart in botter gebraai en met suurlemoen geseën) bo-op. Dit gaan alles blitsig tafel toe waar varsgebakte growwebrood wag om die heilige botter-, Pernod, seesmaak-sous op te slurp.

Daar’s nie nog tyd vir mooi fotos neem nie, maar sonder ‘n speech kan dit nie. Dit word oorgelaat aan vriend Rick sat altyd instaan as praise-singer aan die vriendskapstafel. Hierdie Pernod garnale met ‘n kreefkroon verdien ‘n speech. En ‘n oomblik stilte.

Piesang- en sagte toffie onderstebokoek

14 Jan aaa blokke blou mooi IMG_3438 (3)

Met die herlewing van landelike koeke wat nie op uiterlike versiering staatmaak nie, blom onderstebo-koeke weer.aaa blokke blou mooi IMG_3438 (3)

Die pynappelonderstebokoek rinkink steeds asof sy die ‘belle van die onderstebo-ball’ is, maar die eertydse glans het ietwat verdwyn uit haar goue kolrok met die neonrooi maraschinokersie. Dis egter nie  alles neusie verby vir hierdie retro-gebak nie. ‘n Kykie na gister: Die oumagrootjie van hierdie koekstyl kom uit ’n era wat koeke nog bo-op die vuur in ysterpanne, of skillets, gebak is. Die vrugte en suiker is op die bodem gesit, die beslag bo-oor geskep en op die vuur gesit.  Wanneer die koek op die bord omgekeer word, is die mooi patrone en  smaaklike stropie onthul.

Die koek het 'n sagte, klam krummel en ontwikkel selfs meer smaak met 'n bietjie staan.

Die koek het ‘n sagte, klam krummel en ontwikkel selfs meer smaak met ‘n bietjie staan.

Vroeg in die 20ste eeu het geblikte vrugte beskikbaar geraak en al wat bakker wou die pynappel-onderstebo-koek met sy kenmerkende neonrooi-maraschinokersies maak, wat toe as baie haute en gesofistikeerd gesien is. Vandag keer ons eerder terug na die vars, seisoenmaniere en ondersoek ander moontlikhede as vrugte uit ‘n blik. (Winter is ‘n ander saak – dan is ingelegde vrugte ideal). Gebruik vars steenvrugte soos perskes, nektariens, bessies, vars of bevrore, speserye of selfs vars kruie. Of maak die pynappelweergawe met vars pynappelringe, en los vervlakste kersies uit!

Algemene wenke: Gebruik kruie om die vrugte op te kikker, soos perskes en nektariens met basielkruid; vye en roosmaryn of kruisement en aarbeie.  As jy kruie gebruik, sprinkel dit bo-op die vrugte voor die beslag opkom. Dit kan ook as versiering gebruik word.

  • Moenie die vrugte te yl of  suinig in die pan rangskik nie. Die vrugte krimp ietwat.
  • Plaas die koekpan op ‘n bakplaat om die oond te beskerm teen van die taai vrugtestroop wat kan oorborrel.
  • Na die pan uit die oond gehaal is, laat dit ‘n minuut staan vir die kokende strope om rustig te raak, gaan versigtig om die rand van die pan om die koek los te sny en keer dan om.
  • Moenie die koek in die pan laat afkoel nie, want dan sukkel jy om dit uit te kry.
  • Ontspan. Daar bly dalk van die vrugte in die pan agter – rangskik dit net weer mooi.
  • aa blou agtergrond in piering IMG_3433

Steeds tropies, en sonder pynappel nie 

Ons is so getroud met piesangbrood dat mens vergeet watter fantastiese ander bakplesiere in ‘n piesang opgesluit is. Soos hierdie piesang- en sagtetoffie onderstebokoek. Dit is ‘n baie lekker sagte fyn koek met ‘n stroperige bolaag van piesang en bruinsuiker- en botterkaramel. Die toffie kan ook sout bykry om die modern soutkaramel-smaak in te span (nie te veel nie, want piesang moet steeds die held bly, nie die toffie nie). Vir ‘n ekstra tropiese noot kan klapper ook by die beslag kom. Wissel dit verder af deur die piesang of in die skywe te sny, soos hierdie voorbeeld, of sny die piesangs in ringetjies om ‘n polkadot-effek op die koek te skep.

PIESANG- EN SAGTE TOFFIE ONDERSTEBOKOEK 

Maak 1  23 x 12 cm koek in broodpan? Jy kan ook ‘n ietwat kleiner pan gebruik of ‘n 24 cm koekpan as jy ronde vorm verkies.

Maak eers die piesang-bolaag:

50 g ( ¼ k botter)

100 g (1/2 k)  bruinsuiker

2-3 piesangs geskil

Koek

200 g (1 ½ k) koekmeel

½ t bakpoeier

¼  t koeksoda

½ t sout

115 g ( ½  k sagte botter

1 k (200 g) witsuiker

2 eiers, kamertemperatuur

1 t (5 ml vanielje-ekstrak of paar druppels vanieljegeursel

½ k + 2 E suurroom (155 ml)

  1. Voorverhit oond tot 180C. Smeer ‘n 23 x 12 cm broodpan of ‘n 24 cm koekpan.
  2.  Maak die toffie-en piesang laag: Smelt die botter in ‘n klein dikboomkastrol oor medium hitte tot dit begin borrel. Voeg die suiker by, roer net tot opgelos en laat prut tot dik en glad. Gooi nou die karamel  op die bodem van die gesmeerde pan uit.
  3. Halver die piesangs in die lengte, en afhangdende van die grootte van die pan en die piesangs, sny elke stuk in 2 of 3 stukke.  Plaas die piesangs met die gesnyde kant op die toffie.
  4. Maak die koekbeslag:  In ‘n medium bak, sif die meel, bakpoeier, koeksoda en sout saam, Hou eenkant.
  5. In ‘n groter mengbak, verroom die botter en suiker tot lig en donsig – ek gebruik elektriese klitser. Onthou om die kante en bodem van die bak nou en dan te skraap.
  6. Voeg die eiers een op ‘n slag by (medium spoed) en klits goed na elke byvoeging. Klits die vanileje by.
  7. Op lae spoed klits die meelmengsel in 3 dele by, afgewissel met suurroom – begin met die meel en eindig met die meel.  Moenie die mengsel oorklits nie.
  8. Skep die beslag versigtig oor die piesangs en maak bo gelyk. Bak vir 40 – 50 minute tot goudbruin en toetspen skoon uitkom. Laat die koek vir presies 5 minute in die pan op ‘n afkoelrak staan. (as dit langer staan sal die koek vassit in die pan soos wat die karamel weer afkoel). Keer dit op die bedieningsbord uit en laat afkoel.

    Eet louwarm of afgekoel.

    Eet louwarm of afgekoel.

Bedien warm of teen kamertemperatuur. Die koek hou goed in die yskas.  Lekker met room, crème fraiche of roomys.

Sticky-van-lekkerte varknek uit die boek

11 Jan

Originally posted on huiskok:

Hierdie klewerige varknek gegeur met steranys, vars gemmer en aromatiese Chinese 5-speserye het sy ikoon-status verdien. Dis een van die gewildste resepte in die Huiskok Glanskok kookboek – vir goeie rede.  Min voorbereiding is nodig en dit smaak verruklik.

Die vleis tuimel sommer om homself in, so sag en sappig is dit. Die vleis tuimel sommer om homself in, so sag en sappig is dit.

Snip snip die toutjies, sny in skywe en eet. (foto deur Samarie Smith vir ons boek Huiskok Glanskok)

Moets liefs nie kortpaaie vat en sommer van die bestanddele uitlos nie. Elkeen is daar met ‘n doel. En dis dalk nou die ideale kans om by ‘n Chinese spesialiteitswinkel te gaan snuffel vir goed soos Chinese kookwyn. As jy nie die Chinese 5-speserye by ‘n betroubare handelaar kan kry nie (vra ook by Woolies) kan jy jou eie ook maak.

Reg om gesny te word. Reg om gesny te word.

Klewerige Varknek

Die resep kom egter met ‘n waarskuwing: jou huismense en kuiermense gaan…

View original 241 more words

Herinneringe in ‘n skoolkosblik en ‘n saadbroodjie vir selfbak.

7 Jan Die begin van 'n toebroodjie met my gunsteling saadbroodjie.

As jy ‘n klomp grootmense hier net na die Nuwe Jaar se jollifikasie ‘n kol op die maag wil gee, praat oor die ‘back to school’ gevoel wanneer die skooljaar weer begin. In dieselfde asem, as jy oor skooldae se kosblik, pouse en toebroodjies praat is die meeste mense weer aan die glimlag.

Die begin van 'n toebroodjie met my gunsteling saadbroodjie.

Die begin van ‘n toebroodjie met my gunsteling saadbroodjie.

Onlangs vertel ‘n FB-vriendin, Hannelie van der Merwe Myburgh van haar kosblik met die prentjie van ‘n dogtertjie en twee katjies op. Die meeste van die tyd was daar bontbul op die broodjie – hulle familiewoord vir sagte skaapvet gemeng met hulle eie bye se heuning.  Dit was haar werk om die bontbul aan te maak – sy kan duidelik die erde-emmertjie met die swart deksel en draadhandvatseltjie onthou waarin dit gebêre is. Toe het sy haar neus opgetrek.

Oorskiet het dikwels op die volgende dag se brood beland: van oorskietaartappels tot dit wat oorgebly van die vorige aand se tamatie en uie slaai, gegeur net met sout en peper.  Tannie Poppie Coetzer deel met my hoe soos gister kan onthou hoe haar ma se toebroodjies van ligte bruinbrood, gevul met koue boontjies en aartappels en rou uie daarop met heelwat peper, of koue frikkadelle met rou uie geproe het.

Lekker toebroodjies het ook die ruilwaarde daarvan op die speelgrond verhoog.

Kosskrywer Sophia Lindop vertel:  “my ma het elke dag brood gebak en ons het die heerlikste toebroodjies gekry met koue lamsboud  wat oor was van Sondag, saam met Mrs HS Ball’s chutney en kraakvars blaarslaai uit haar tuin. Ek kon nie wag om dit uit te ruil met my niggie nie, want sy’t Provitas met smeerkaas en Marmite gekry wat jy kon uitdruk om geel en swart wurmpies te maak. Wat ek nou sou wou gee vir daai toebroodjies!”

Ander het hulle so uitgekuier dat hulle steeds vandag nie polonies en sandwich spread kan hanteer nie. Party onthou met deernis die grondboonbotter en stroop (soms met piesang), en ander wil weer nie hul lippe daaraan sit nie.

Skrywer Nelia Viviers was verknog aan haar appelkooskonfyt- en kaas toebroodjies, maar o, tog net nie rooi jêm nie!  Ansu le Grange se ma het nog brood in ‘n koolstoof gebak en die lekkerte het in die kosblik beland – varsgebakte brood, plaasbotter en tuisgemaakte konfyt. “Teen pouse het die appelkooskonfyt al so bietjies-bietjies in die brood ingetrek.”

Kokkedoor Lorraine Swanepoel onthou die keurige kospakkies van gekookte eier en mayonnaise waarom sy wye draaie geloop het want al die skoolkinders sou jou terg oor die hmmm windmakerigheid wat sou volg. Sy het wel die piesangbrood-toebroodjies baie geniet. So ook die verrassing van ‘n buisie kondensmelk in die kosblik.

Liza Louw vertel: “My kosblik was so ‘n reghoekige blikkie met ‘n los deksel. Dit het ‘n pragtige Noag-en-ark-met-diere toneel op gehad. Ek dink dit het oorspronklik vol Wilson toffies in my lewe gekom. Wanneer ‘n mens die deksel met speeltyd opgelig het, het die papierdun skywe van Sondag se geroosterde boud daaruit opgewalm met ‘n hemelse geur. Ma se liefde het so geruik. Dit is lêgemaak tussen haar netjiese gebotterde broodsnye tussen fyngekerfde slaaiblare. Ma het my (en Pa se) toebroodjies in kwarte gesny en stewig toegedraai in waspapier voordat dit in die kosblik gepak is.

Die skooltoebroodjie van my herinneringe. Vandag steeds my gunsteling.

Die skooltoebroodjie van my herinneringe. Vandag steeds my gunsteling.

Wat in die kosblik beland het, was ook dikwels ‘n aanduiding van die huis se kontantvloei. “Soms was die broodjies maar dun,” onthou my kleinnig Anne-Marie Oliver. “Ek onthou my Ma se appelkooskonfytbroodjies. Dit was soos ‘n warm kombersie op ‘n koue aand. As ons die dag “french polony” en Mrs Balls gekry het, het ek geweet dit gaan beter in die geldblik. My beste – tot vandag nog – witbrood met roereier en wit peper. ”

Toe ek ouer word het ons naby skool gewoon, vertel sy verder. “ My Ma het so 10 uur geroosterde kaasbroodjies op die Aga se plaat gemaak dan het ons pelle gou pousetyd gaan eet! Wonderlike sterk cheddar – my liefste Ouma Anna het by Wellington Fruit Growers se kaastoonbank gewerk! “

Vandag doen ma’s steeds moeite – nou wel nie meer met sagte vet en oorskietbredie nie, maar sekere dinge bly dieselfde soos Alida Ryder, skrywer en ma van 2 jong kindertjies vertel:  “My kinders kry ‘n peanut butter en stroop of bovril broodjie, ‘n yoghurt, vrugte rolletjie, vars vrug, baba tamaties en so nou en dan ‘n pakkie koekies of salticrax. Dan kom die broodjie, yoghurt en appel gewoonlik terug.”

Vickie de Beer, kosredakteur van Rooi Rose maak deesdae vir haar seuns wraps, omdat dit so ‘n maklike manier is om oorskietkos as vulsel te gebruik. “Hulle geniet ook die jaffels met maalvleisvulsel, en so ook volgraanworsrolletjies – en altyd ‘n groot bottel water.”

Die lekkerste toebroodjie vir my? Vars volgraan-saadbrood met soutbotter, die krakerigheid van outydse kropslaai en komkommer, gerasperde cheddar en tamatie goed gelooi met sout en peper.  (Dis nou as daar nie koue skaapboud oor is van Sondag nie).

Haal saam met my die mengbak uit. Ek gebruik hierdie broodresep:

Die bak van saadbrood is 'n klein seremonie in ons huis.

Die bak van saadbrood is ‘n klein seremonie in ons huis.

SAADBROOD

Die saadbroodjie uit die 1970’s word wêreldwyd as eg-Suid-Afrikaans beskou. Dit word met ‘n baie slap deeg gemaak en nie geknie word.  Dis die lekkerste varsgebak, maar hou ‘n paar dae as dit in bruinpapier gesit word of met ‘n skoon teedoek toegedra word. Dit rooster baie lekker.

Bestanddele:

500 ml+ warm water (kan sowat 100 ml ekstra bysit as beslag te droog is)

15 ml bruinsuiker of heuning

15 ml molasse (jy kan meer molasses bysit vir ‘n dieper kleur)

15 ml olie

4 x 250 ml (4 k) volkoring meel (Nutty Wheat)

1 k (250 ml) witbroodmeel

10 ml kitsgis

7 ml sout

100 ml sonneblomsade

Ekstra sade vir oorsprinkel: sonneblomsade, sesamsade, pampoenpitte, lynsaad

Metode:

  • Meng die meel, sout, kitsgis en sonneblomsaad saam in ‘n ruim mengbak.
  • In ‘n groot maatbeker roer die olie, bruinsuiker en molasses by die louwater in. Roer die watermengsel by die meel in om ‘n slaap deeg te vorm.
  •  Smeer ‘n groot broodpan met olie of kleefvrye sprei en skep die mengsel in die pan. Strooi die sade in rytjies bo-oor of sprinkle sommet net so. Laat rys in ‘n warm plek met ‘n doek oor vir sowat 45 minute tot ‘n uur.
  •  Terwyl die brood rys, voorverhit die oond tot 190°C.
  • Bak vir 50 minute.  Keer uit en laat afkoel. As die brood nie maklik uit die pannetjie kom nie, laat dit ‘n paar  minute in die pan staan om los te stoom.
Hierdie keer het ek sonneblaadsaad, swart sesam- en nigellasaad in rytjies gegooi - ander keer sommer net oorgestrooi - selfs pampoenpitte.

Hierdie keer het ek sonneblaadsaad, swart sesam- en nigellasaad in rytjies gegooi – ander keer sommer net oorgestrooi – selfs pampoenpitte.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 578 other followers

%d bloggers like this: