My kosheld Nigel Slater pak op Oujaar spens reg en maak dan lensiesop met byt op Nuwejaarsdag. Ek wag vir ‘n koue dag net voor die lente aanbreek vir die groot spensskrop en maak dan ‘n hitsige harissa lensiesop wat, soos Nigel se sop, terselfdertyd sweepslag én soen is.
My spensskrop-lensiesop is een van daai dinge wat ek nie met maatlepels of te veel voorafbeplanning aanpak nie, want die spens sal wel sorg. Sopvleis is egter ‘n moet.
Gebruik enige lensies, rooi of bruin, afhangende wat die spensskrop oplewer. Kook dit saam met ‘n takkie tiemie of marjolein in water (sonder sout) tot sag vir omtrent 40 minute.
Verbruin intussen bees-sopvleis in bietjie botter en olyfolie in ‘n diep kastrol. Voeg gekapte uie, speserye soos kerrie, ‘n paar naeltjies, bietjie komyn en steranys by. Roer ‘n paar lepels harissa* (Marokkaanse speserysmeer) daarby – afhangende van hoe ‘sweepslag’ jy die sop wil maak. Gooi opgekapte wortels by en ‘n tamatie vir die vog. Soteer stadig. As jy bang is dit brand aan, voeg ‘n klein bietjie hoenderaftreksel by.
Wanneer die wortels en uie glanserig en sag is, voeg 1,5 l hoenderaftreksel by. Prut tot die stoofvleis van die been afval. Voeg die gaar lensies by sop en laat ongestoord verder prut vir solank die huismense se geduld is. Loer en proe nou en dan.
Skep sop in bakkies, rond af met ‘n lepel crème fraiche, suurroom of dik bulgaarse jogurt en rasper suurlemoenskil of lemoenskil bo-oor.
*Wenk: koop klaargemaakte harissa of as dit nie anders kan nie, vervang dit met ‘n teelepel paprika en ‘n paar knippies rooipeper.
Nota: my teks is uit ons boek Huiskok Glanskok, uitgegee deur Human & Rousseau. Toe ek so sit in werk in my huiskantoor vanoggend en die verwarmer (en bokhaar kombersie) veg ‘n verbete stryd teen die koue wat in vlae om my bene kom vou, besluit ek dat ek hierdie deel van die hoofstuk geskryf het juis vir dae soos hierdie.