Archive | November, 2011

Hoe lyk dit met karringmelk-pannekoekies en ‘n Crunchie vir brekfis?

25 Nov

Ek soek iets om die lyf om my dag te begin, met darem ‘n tikkie sondigheid en bederf  by …. dus is ek en ‘n bakkie semels nie vriende in die oggend nie.  Ek wil ook nie die roete gaan van  W.C. Fields wat geskerts het: “I must have a drink of breakfast”.  Maar ai, in die week hol ons van vroegdag al soos afkophoenders rond. Geen tyd om enigiets meer in die oggende te eet as weetbix  of ‘n marmite roosterbrood nie. Maar dis waarvoor naweke is – om  iets spesiaals vir ontbyt te maak, en dan rustig om die tafel te sit sonder ‘n sorg in die wêreld.

Hierdie karringmelk pannekoekies is eintlik semi-plaatkoekies. Vreklekker. Dit kom uit die liewe Bill Granger se ‘Bill’s Food’, uitgegee deur Murdoch Books.

Karringmelk pannekoekies (en ‘n Crunchie vir ontbyt)

Hierdie heerlike pannekoek van die Australiese sjef Bill Granger is presies waarvoor ek hierdie naweek lus het. Ek noem dit eintlik eerder pankoekies – want dis halfpad tussen wat ons as pannekoek en plaatkoekies ken.  Die karringmelk maak die pannekoekies besonder lig.  

(maak 16 pannekoekies)

2 koppies koekmeel

15 ml bakpoeier

knippie sout

30 ml suiker

2 eiers, lig geklits

750 ml karringmelk

75 g ongesoute botter, gesmelt

ekstra botter om die pan mee te smeer

Sif die koekmeel, bakpoeier, sout en suiker saam in ‘n mengbak. Voeg die eiers, karringmelk en gesmelte botter by om dit net goed te meng.

Maak ‘n kleefvrye pan warm op medium hitte en borsel die bodem met ‘n smeersel van die gesmelte botter.  Vir elke pankoekie skep jy so ‘n 1/3 koppie van die beslag in die pan – en bak 2 minute tot dit begin blasies op die oppervlakte maak  en die onderkante goudbruin is, dan draai jy dit om en bak nog ‘n minuut. Stapel jou pankoekies op ‘n bord tot almal gaar is.

Jy kan dit voorsit met gekarameliseerde pruime – ewe maklik: maak ‘n braaipan baie warm, sny jou pruime in die helfte en besprinkel die gesnyde kante met suiker.  Plaas die pruime suikerkant in die warm pan en laat die suiker smelt en karameliseer vir omtrent 1 minuut. Bedien die pankoekies in stapeltjies met die pruime, esdoringstroop en jogurt.

  •  Wat jy ook kan doen is om  bloubessies oor die pannekoek te strooi net na jy die beslag in die pan gegooi het.
  • ‘n Ander lekker bederfding bo-op pannekoekies/plaatkoekies is heuningkoekbotter: die heuningkoek wat ek hiervan praat is ‘honeycomb’ soortgelyk aan die binnekant van ‘n Crunchie. Om jou eie heuningkoekbotter te maak, gooi  250 g sagte botter en ‘n groot Crunchie (in stukke opgebreek) in ‘n voedselverwerker, verwerk tot dit glad is en draai die mengsel in kleefplastiek toe om ‘n worsie te vorm – dit sit jy dan in die yskas vir 2 ure, voor jy dit in skywe sny en op die warm pannekoek sit . Dis ook lekker op roosterbrood.
Wenk: Kyk gerus uit vir Bill Granger se kookboeke. Een van sy eerste boeke Bill’s Food het sy stewige staanplek in my kombuis oor en oor bedien.

Gryp-gryp, meng-meng …. Gado gado!

18 Nov

"Gemeng-gemeng" of te wel gado gado. Samarie Smith het die foto vir ons boek Huiskok Glanskok geneem

My kuiermense kan maar weet – hierdie somer eet hulle by my ‘n mengslaai van ‘n ander aard. Gado-gado is een van die Indonesiërs se mees tradisionele geregte – en met baie goeie rede. Daar’s min slaaie wat so gasvry en mededeelsaam is. Dit lyk deksels mooi en proe uit ‘n ander wereld.

Wat die slaai van rou en gaar groente so spesiaal maak is die grondboontjie sataysousie wat oorgegooi word of in ‘n aparte bakkie as doopsous bedien word.  So lief is ek daarvoor dat ek dit ingesluit het in ons Huiskok Glanskok kookboek.

Gado-gado beteken gemeng-gemeng, en dis presies wat gebeur. Tradisioneel sit die gaste  om die bak en meng ‘n verskeidenheid van die klaarbereide bestanddele in ‘n slaaiblaar en doop dit in die geurige satay. Die bestanddele word gewoonlik nie deurmekaar gemaak nie en in hopies langs mekaar gepak sodat die gaste hul slaaiblaarbondeltjies makliker kan maak. Maar jy kan maak soos jy lekkerkry – meng dit liggies deurmekaar of pak dit kunstig uit.

Die hoender kan vervang word met gebraaide garnale of repies gaar steak. Op Meatless Mondays kan jy seker tofu gebruik as jy in die Oosterse gees wil bly.

Ek sit dit voor in ‘n lang houtbak – van hierdie wat jy dikwels vroue met pragtige Afrika kopdoeke langs die pad sien verkoop.  Vir ‘n groter groep gaste pak ek dit op ‘n groot ou antieke skinkbord uit.

En as jy nou werklik wil uithang en jou huismense en gaste na smaak-nirvana wil vat, sit dit voor met gestoomde jasmynrys, krupuk (‘prawn crackers’), bruingebraaide uie en suurlemoen- of lemmetjiewiggies. Dis presies wat ek hierdie somer gaan doen.

Gado Gado  

Lewer 4 – 6 porsies

Slaai:

500 g hoenderdye, ontbeen (of vellose hoenderfillete in repies)
30 ml sojasous
5 ml gerasperde gemmerwortel
5 ml knoffel, fyngekap
sap van 2 lemmetjies of 1 suurlemoen

olie vir vlakbraai

2 middelslag-soetpatats, geskil en in blokkies gesny

8 baba aartappels, gehalveer
200 g groenboontjies
250 ml boontjiespruite
2 komkommers, in skywe gesny

Kersie-tamaties

4 hard gekookte eiers, in wiggies gesny

60 ml grondbone, gerooster
60 ml vars koljanderblare, grof gekap

Sny die hoender in repies en plaas in ‘n bak saam met die sojasous, gemmer, knoffel en lemmetjie- of suurlemoensap en marineer 1 uur lank. Verhit ‘n bietjie olie in ‘n pan en braai die hoender 2 tot 3 minute aan elke kant. Kook intussen die aartappels en patat tot sag, sowat 10 minute.

Blansjeer die groenboontjies in kookwater en dreineer. Pak die  groente,  vleis en eiers in hopies uit.   Indien verkies kan jy die bestanddele – buiten die vleis en eiers – eers liggies deurmekaar maak en laastens die vleis en die eiers bo-oor pak. Giet die satay sous oor (of sit in aparte bakkie) en besprinkel met neute en koljander.

sataysousie

Sataysous:

200 ml laevet klappermelk
125 ml growwe grondboontjiebotter
1/2  klein ui, gerasper
15 ml sojasous
10 ml bruinsuiker
3 ml droë rissievlokkies

Voeg al die bestanddele in ‘n swaarboom kastrol en bring stadig tot kookpunt. Prut 5 minute  oor matige hitte; roer af en toe. Hou die sous eenkant tot nodig.

Opdiening

Sit dit voor met gestoomde jasmynrys, krupuk (‘prawn crackers’), bruingebraaide uie en suurlemoen- of lemmetjiewiggies.

Vis goujons met klapper om die lyf

11 Nov Vis goujons uit IDEES resepteboek; Human & Rousseau

Goujons?

Ag nee wat, dit klink te hoog-Frans, reken jy. Tog is goujons een van die maklikste, sorgvrye geregte denkbaar. Goujons is repies vis of hoender met ‘n krummelkors wat in diepvet gebraai word en gewoonlik met ‘n doopsous bedien word. Vergeet van daai betreurenswaardige bevrore visvingers of hoendernuggets wat nou in jou kop opkom… tuisgemaakte goujons is ‘n perd van ‘n ander kleur.

Vir my proe vis goujons na Desember-vakansies by die see – iewers by ‘n seekoseetplekkie op ‘n kaai waar jy ‘n rietmandjie vol van hierdie  bros, pasgemaakte lekker happies geniet met goeie mayonnaise.

Vis goujons uit IDEES resepteboek; Human & Rousseau

Ek het ‘n baie interessante resep vir vis goujons  met ‘n soetrissie mayonnaise raakgeloop in die nuwe resepteboek van IDEES tydskrif wat pas op die rak verskyn het (terloops, IDEES is ‘n moet-aanskaf kookboek met sy 365 maklike resepte – letterlik een vir elke dag van die jaar.)

Wat IDEES se visgoujons anders maak is die gebruik van droë klapper in die krummellaag. Dit gee ‘n Oosterse geurtjie saam met die soetrissiemayo.

Jy’t nodig:

4-6 stokvismootjies in repies gesny

125 ml mielieblom (met bietjie sout gegeur)

100 ml droë broodkrummels gemeng met 100 ml droë klapper

2 groot eiers, liggies geklits

sonneblomolie vir diepbraai

Jy begin deur  die visrepies eers in die mielieblom te doop,  dan in die geklitste eier en laastens in die broodkrummel en klappermengsel. Pak die bekrummelde repies op ‘n bakplaat en los in die yskas tot jy dit wil gaarmaak. Dit help ook dat die krummels beter kleef.

Om dit gaar te maak verhit jy ‘n dik laag olie in ‘n pan oor medium hitte. Braai die repies vis ‘n paar op ‘n slag tot goudbruin en dreineer dit op kombuispapier. Dit moet onmiddellik so lekker warm bedien word.

Sit dit voor met ‘n maklike doopsousie gemaak met ‘n koppie goeie mayonnaise met 30 ml soetrissiesous  en varsgekapte koljander.  En natuurlik ‘n paar suurlemoenwiggies.

Ek belowe jy sal jou verbeel die seevoëls krys en die branders breek terwyl jy die bros  goujons verslind.

*IDEES word deur Human & Rousseau uitgegee en kos R225.

%d bloggers like this: