Archive | March, 2012

Paasbolletjies, pashka en simnelkoek

30 Mar

Met Paasnaweek skaars ‘n week weg word die kostradisies van hierdie geestelike tyd tafel toe gebring. – van pashka en  kulich in Rusland tot Simnelkoek in Engeland – en natuurlik die  wêreld deur word paasbolletjies (hot cross buns) geniet.

             Pashka op paasbolletjies 

Ek het nie grootgeword met spesiale Paasgebruike nie – behalwe stringetjies sjokolade-paaseiers van marshmallow wat my ma by Grand Basaars gekoop het.  Pa het nie paaseiers in die tuin weggesteek nie (my drie broers en ons hond Wagter sou dit in elk geval lank voor my uitgesnuffel het), maar Ma het gesorg dat die huis oor Paastyd na die soet warmte van kaneel en korente geruik het.  Paasvrydag het ons  haar tuisgemaakte paasbolletjie (nog warm van die rooster) geëet met botter wat in geel strome oor die vingers drup.

As kind het die lekkerte die voorhand gehad bo simboliek en ek het die kruisie bo-op die paasbolletjies stukkie vir stukkie afgetorring, sonder om werklik te weet dat dit ’n diep geestelike betekenis het.

{Paasbolletjies}

‘n Mens kan jou dit skaars indink dat die blink-wang spesery-bolletjies ‘n bron van politiese konsternasie kan wees. In die 16de eeu in Engeland het die Protestante beswaar gemaak teen die paasbolletjies wat hulle as Katolieks beskou het. Elizabeth I het toe ‘n wet gemaak dat dié geurige gebak net tydens Paasfees, Kersfees en begrafnisse geëet mag word. Paasbolletjies het ‘n paar jaar gelede weer die nuus gehaal in Brittanje toe sekere skole nie meer dit aan hul leerlinge wou voorsit nie – oor die kruis!

 Jy het nodig:

4 x 250 ml meelblom

3 ml sout

5 ml fyn kaneel

5 ml gemengde speserye

65 g koue botter

125 ml korente, rosyntjies of sultanas (of mengsel)

1 pakkie gis

125 ml suiker

250 ml melk

1 eier, geklits

Kruise:

100 ml meel

25 ml suiker

Genoeg melk om ‘n pasta te maak

30 ml stroop, verhit*

Maak so:

Sif die meelblom, sout en spesery saam in ‘n groot mengbak. Vryf die botter in en voeg die korente (of ander) by. Voeg die pakkie gis en die suiker by.  Maak die melk louwarm en voeg dit by die bestanddele in die bak en meng tot dit ‘n deeg vorm. Knie vir 3-5 minute tot glad. Laat rys sowat 30 minute in ‘n warm plek tot die deeg verdubbel het.  Keer deeg uit op ‘n meelbestrooide oppervlakte en knie goed tot glad. Verdeel die deeg in 12 dele en vorm elke deel in ‘n platterige balletjie. Sny diep kepe in ‘n kruisvorm op elke bolletjie. Laat rus vir 15 minute. Verf die bolletjies met die geklitste eier.

Kruise: Meng die meel, suiker en melk saam met die orige geklitste eier om ‘n  pasta te vorm.  Rol die deeg in lang dun worsies en plaas op die kepe van die kruis. Bak 20 minute by  200º C. Haal uit en smeer die warm stroop oor.

* Maak die glasuur-stroop deur 15 ml strooisuiker en 5 ml gelatien in 15 ml water te verhit tot dit opgelos het, maar nie kook nie.  Smeer oor die bolletjies wanneer dit uit die oond kom.

{Pashka}

Bevind jy jou oor Paastyd iewers in Rusland, kruis pashka dalk jou pad. Pashka is Russies vir Paas.  Die pashka word gemaak van kaas soortgelyk aan maaskaas,  versoet en in ‘n vorm geset. Die tradisie is om die kaasmengsel te giet in ‘n piramied-houtvorm, simbolies van Christus se graftombe. Die Ortodokse tradisie is steeds om die letters XB op die sykante van die pashka uit te pak met neute en versuikerde skil. Die letters beeld uit ‘Christos voskres’ – Christus het opgestaan. Die gebruik is om die pashka op die Donderdag en Vrydag voor Paassondag kerk toe te neem om geseën te word deur die priester.

En die kulich? Kulich is ‘n koek-brood, deurspek met rosyne, amandels en speserye. Volgens gebruik sal die kulich bedek wees met wit versiersuiker, afgerond met ‘n wit roos wat dan ook deur ‘n priester geseën word. Die gees van ‘n Russiese Paasfees kan geniet word met ‘n kortpad deur die kombuis. Vervang die kulich met paasbolletjies, rosyntjiebrood of brioche.

Pashka resep

Pashka pas uit die vorm gehaal.

Gebruik ‘n meelsif as vorm, of ‘n terracotta blompot vir ‘n meer tradisionele vorm.

 150ml vars room, geklop tot sagte punte vorm

2 houers Simonsberg tradisionele roomkaas (dis ’n lekker veerligte roomkaas)

150 g strooisuiker

Gerasperde skil van 2 suurlemoene

5 mℓ suurlemoensap

60g versuikerde lemoenskil, fyngekap

60g versuikerde gemengde skil

30g geroosterde amandels of pistasie neute, gekap

Vir afwisseling kan gedroogde appelkosies, dadels of goue sultanas ook bygevoeg word.

Voer ‘n meelsif uit met kaasdoek. Klop room tot sagte punte vorm. Plaas in yskas. Kombineer roomkaas, neute, versuikerde skil, strooisuiker, suurlemoenskil en sap.  (As die roomkaas te dik is, verdun met ‘n bietjie lemoensap). Vou room in. Skep in die voorbereide vorm. Verkoel vir 8 ure.  Haal uit die vorm en bedien verkieslik teen kamertemperatuur saam met tradisionele paasgebak.

Wenk: Jy kan ook maaskaas of ricottakaas gebruik, pleks van die roomkaas. Die vars room kan met suurroom vervang word, maar los dan die suurlemoensap uit die resep.

Dankie Simonsberg vir die foto van pashka met paasbolletjie.

{Simnelkoek}

Paasfees Simnel koek (Foto Waitrose.com)

Paasfees-Simnelkoek (Waitrose.com)

Simnelkoek is ‘n gewilde paasgebak met simboliek so ryk as die koek self. Die  gebruik het in Engeland onstaan om dié  ligte vrugtekoek op Paassondag voort te sit. Dogters het die koek gebak vir hul ma’s op die sogenaamde ‘Mothering Sunday’  – terloops, dis  ‘n dag op die kerkkalender wat nie verband hou met die hedendaagse Moedersdag nie).

Soos met tradisionele Kerskoek, word simnelkoek ook met marsepein, die klassieke wit amandelgegeurde koekversiering, bedek. Wat die simnelkoek onderskei van ander feesgebak is die elf marsipeinballetjies waarmee dit afgerond word. Hoekom elf? Elke balletjie verteenwoordig ‘n dissipel, met die uitsondering van Judas.

Resep – Simnelkoek

Die resep bak ‘n familiegrootte koek, genoeg vir 15 snye.

Jy het nodig:

500 ml suiker

250 g botter

4 eiers

500 ml meelblom

Knypie sout

500 ml korente

375 ml Sultanas

125 ml fyngemaalde amandels

5 ml gemengde speserye

Gerasperde skil van ½ suurlemoen

Paar druppels amandel-geursel

3 ml koeksoda

190 ml melk

Gekoopte marsepein vir versiering

Metode

Voorverhit die oond to 150ºC. Smeer 2 groot koekpanne. In ‘n groot mengbak, voeg die suiker by die botter en verroom. Klop die eiers een op ‘n keer by saam met ‘n bietjie van die meel en meng tot die beslag styf en glad is.  Voeg die oorblywende meel, sout, vrugte, neute, speserye, amandelgeursel, koeksoda en melk by. Meng goed. Plaas die helfte van die mengsel in elke koekpan en maak die oppervlakte goed gelyk.  Bak nagenoeg 2½ uur. Die koek is gaar as jy ‘n metaalpen indruk en dit skoon uitkom. Haal koek uit die oond en laat behoorlik afkoel. Versier met marsepein tussen die twee lae en bo-op. Rol 11 marseleinballetjies (so groot soos okkerneute) en plaas in ‘n sirkel bo-op.

Druiwepizza en ander oes-gebak

16 Mar

Ons vier die einde van parstyd – of ‘oesaf’ – soos die boere dit in die Durbanville kontrei noem. Wat uitstaan van oestyd,  of dit nou hier by ons is of Frankryk of Italië, daar’s altyd een of ander tradisionele gebak. Dink maar aan Kaapse mosbolletjies en Toskaanse druiwebrode.

Druiwepizza met parmasaan, kruie en heuning

DRUIWEPIZZA MET KRUIE, HEUNING EN PARMESAANSKAAFSELS

Lekker en mooi genoeg om saam met vonkelwyn te geniet.

500 g klaar brooddeeg (koop by supermark se bakafdeling)
4 teelepels loperige heuning (fynbosheuning gee ‘n heerlike geur)
’n paar takkies vars roosmaryn
’n paar skeute olyfolie
twee handevol druiwekorrels, verkieslik swart druiwe
50g parmesaan in skaafsels gesny

Bedien 4

Verhit die oond tot 200°C. Intussen stamp die roosmaryn fyn in ‘’n stamper en vysel, gooi ‘n bietjie olyfolie by en stamp  nog fyner. Sny die druiwe in die helfte en hou eenkant.

Sny die gekoopte deeg in 4 stukke. Rol die deeg baie dun uit en bak in die warm oond tot die deeg  plek-plek sulke blase maak en goudbruin is. Nou’t jy ’n baie lekker bros kors.  Smeer nou die basis met die fyngestampte roosmaryn en die kruierige olietjies wat in die stamper oorbly. Strooi die druiwekorrels oor, bedek met die parmasaanskaafsels en bedruip met die heuning. Sit dit dan net vinnig weer in die oond sodat die Parmasaan net-net begin smelt.

‘n Blaaskans in oestyd met  Italiaanse druiwekoek en ‘n glasie Meerendal natuurlike soetwyn

MARIO SE DRUIWEKOEK

Druiwekoeke is ‘n eeue-ou Toskaanse oestyd-tradisie. Hierdie resep van die Italiaans-gebore stersjef Mario Batali is so lekker dat dit in my kookboek Huiskok Glanskok ingesluit is. Dis ’n lekker koek om laat-somer, vroegherfs te maak – en met koffie of soetwyn te geniet.   Maklik en mooi. Al versiering wat jy nodig het is ‘n takkie druiwe.        

3 eiers

250 ml suiker

75 ml botter, gesmelt

75 ml olyfolie

125 ml melk

500 ml koekmeel

fyn gerasperde skil van 1 lemoen

30 ml amaretto likeur

5 ml bakpoeier

500 ml druiwe, gehalveer en ontpit

ekstra druiwekorrels vir versiering
Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer ’n ronde losboom koekpan met gesmeerde bakpapier uit.

Klop die eiers en suiker tot lig en donsig, sowat 3 minute lank. Voeg die botter, olyfolie en melk by. Vou die meel, lemoenskil, amaretto en bakpoeier by die mengsel. Roer die ontpitte druiwe by. Giet die mengsel in die voorbereide pan en bak 40 tot 50 minute tot goudbruin en ’n toetspen skoon uitkom. Laat die koek in die pan afkoel. Sit dit met die onderkant na bo voor, sif versiersuiker oor en sprinkel ‘n paar druiwekorrels oor.

Druif- en okkerneut oesbrood

DRUIWE EN OKKERNEUT OESBROOD

 Die platbrood is gemaak met swart Barbera druiwekorrels, ‘n Italiaanse druifsoort gepluk in  Altydgedacht se wingerd. Enige swart druiwe is geskik.  Bedien dit warm met brie. 

(maak 2 brode)

14 g kitsbrouersgis

170 g strooisuiker, plus ekstra teelepel

Knippie sout

350 g broodmeel

500 g swart druiwekorrels

85 g okkerneute

2 eetlepels olyfolie

1 eetlepel gekapte vars roosmaryn

Growwe seesout vir oorsprinkel

Meng die gis, ekstra suiker en ½ koppie warm water in ‘n bakkie en laat staan vir ongeveer 15 minute. Sif die meel, 110 g strooisuiker en ‘n knippie sout saam in ‘n groot mengbak.  Voeg die gismengsel, olyfolie en 45ml warm water by en meng goed. Knie die deeg vir ongeveer 5 minute en plaas in ‘n gesmeerde bak en bedek liggies met kleefplastiek, laat rys tot dubbel in volume. Voorverhit oond tot 180⁰C. Knie die deeg af en sny in 2 ewe groot dele. Vorm twee plat sirkels. Meng die druiwe, neute, roosmaryn en die res van die strooisuiker en plaas bo-op die deegsirkels. Bak vir 45-50 minute tot goudbruin. Besprinkel met growwe seesout en bedien die brood warm met brie of enige sagte ryp kaas

{Dankie Samarie Smith wat altyd regstaan met die kamera as die druiwegebak uit die oond uit kom}

Applous vir patee, kulinêre ‘little black dress’

8 Mar

“The memory of a good French pâté can haunt you for years.”  

[Julia Child in Mastering the Art of French Cooking]

Patee en soetwynjellie

Laat patée jou dink aan outydse dinner-parties in die sewentigs? Patee (so ook sy niggie Parfait en sy kosnefie Terrien) is dalk van ‘n ander era, maar ou-skool sjarme is juis weer byderwets. Vir my bly dit ‘n uithang-staatmaker, my kulinêre little black dress.  Hier is ‘n paar van my gunsteling hoenderlewerpatees – en sommer ook ‘n kaaspatee, ‘n biltong patee en snoekpatee, al is dit meer ‘n smeer as  patee.

Die moet-maak resep is beslis Sjef Yusuf Isaacs van The Eatery at Durbanville Hills se Hoenderlewer Parfait met druiweblatjang  wat onlangs die Skrikkeljaar kos-en wynpaar kompetisie gewen het. (Dis heerlik saam met  Durbanville Hills Rhinofields Sauvignon Blanc 2011.)

Hoenderlewer Parfait met druiweblatjang

Maak so: Soteer 1 fyngekapte ui en 1 gerasperde knoffelhuisie in botter tot sag en deurskynend. Voeg 250 g houer hoenderlewers by en braai oor matige hitte tot die lewertjies net-gaar is. Haal van die plaat af, geur met sout en varsgemaalde swart peper en laat afkoel. Meng dit in ‘n voedselverwerker tot ‘n fyn, gladde tekstuur. Vou geklopte ongegeurde roomkaas lepel vir lepel by tot dit die regte konsistensie het (sowat ‘n halwe houertjie roomkaas). Skep lepeltjiesvol op melba roosterbrood gegeur met knoffel en swartpeper en bedien met tuisgemaakte druiweblatjang.

Druiweblatjang 

½ Koppie pitlose wit druiwe, in kwarte gesny

½ Koppie swart druiwe, in kwarte gesny

1 ui, fyn gekap

1 knobbel gemmer, gerasper

1 eetlepel mosterdsade

1 ½ eetlepel asyn

3 eetlepels kookolie

½ eetlepel swartpeper, fyngemaal

2 eetlepels suiker

½ eetlepel sout

Verhit olie in medium-grootte pan en draai hitte laer na 2 minute. Gooi mosterdsade by en wanneer dit begin ‘skiet’ voeg die uie by. Soteer uie vir 3-4 minute en roer gereeld. Voeg gemmer, druiwe, asyn en peper by en laat prut sowat 15 minute oor lae hitte. Roer gereeld. Voeg die suiker en sout by die blatjang, roer deur en laat verder prut oor lae hitte tot die druiwesap weggekook is en ‘n dik blatjang vorm. Haal van hitte af en laat afkoel voor gebruik.

Patee en goue jellie

Die brandewyngeur in die patee is eg Kaaps, terwyl die blokkies goudkleurige wynjellie tong-in-die-kies ‘n bietjie blieng aan die voorgereg verleen. Die resep het ‘n hele klompie jare gelede verskyn in Taste,  en die gewildheid vandag nog bewys dat patee nie aan die kort raklewe van trendy kosgiere uitgelewer is nie.  Ek is so dol oor die gereggie dat ek dit ingesluit het in ons kookboek Huiskok Glanskok se hoofstuk ‘Bistro by die Huis’. Let net op dat die wynjellie voor die tyd gemaak moet word om te stol.

Lewer 6 porsies

Wynjellie:

375 ml edel laatoes wyn of soet dessertwyn  (ek gebruik Meerendal Natural Sweet)

10 ml gelatien

Hoenderlewerpatee:

225 g botter, gesmelt

10 hoenderlewers

1 ui, fyngekap

1 handvol vars tiemie, fyngekap

knypie neutmuskaat

sout en peper na smaak

60 ml goeie brandewyn

gesmelte botter om oor die patee te gooi

snytjies dun roosterbrood vir bediening

Wynjellie: (maak die vorige dag)

Voer ’n plat plastiekbak met kleefplastiek uit.

Plaas 45 ml van die wyn in ’n mengbakkie en sprinkel die gelatien oor. Giet die res van die wyn in ‘n kastrol en bring tot kookpunt. Verwyder van die hitte en hou eenkant. Roer ’n bietjie van die warm wyn by die gelatienmengsel en roer goed. Voeg die gelatienmengsel by die res van die wyn in die kastrol en roer tot die gelatien gesmelt is. Giet die mengsel in die voorbereide bak en laat oornag in die yskas staan om te stol. Sny die jellie in dobbelsteentjies net voor opdiening.

Hoenderlewerpatee:

Giet die helfte van die gesmelte botter in ‘n pan. Voeg die hoenderlewers en ui by en soteer liggies tot die lewer net-net ligbruin is. Roer die tiemie, neutmuskaat, sout en peper by. Giet in ‘n mengbak, voeg die brandewyn en die res van die gesmelte botter by. Zirts tot glad. Skep in ‘n pateebak en bedek met ‘n dun lagie gesmelte botter, wat sal verhoed dat die patee bo-op verkleur. Verkoel. Sit die patee met snytjies dun roosterbrood en blokkies wynjellie voor.

  • Hoenderlewers moet verkieslik nie te gaar gemaak word nie, dit maak die tekstuur droog en melerig.

Herman Lensing se Hoenderpatee met vars vye

Ek kon dit nie weerstaan om hierdie resep in te sluit nie. Dis so ‘n ougat-idee om dit in die glasflessie voor te sit – en tesame met agurkies wat ‘n tradisionele smaakmaat vir patee is, ook vars vye saam met dit te eet. ‘n Oulike triek is om tamatiesmeer by die hoenderlewers te voeg terwyl dit gebraai word. Dit gee kleur en diepte aan die patee.

Hoenderpatee met vars vye

  (Sarie, April 2011. Foto: Donna Lewis. Sien ook www.sarie.com vir nog heerlike patee-resepte ).

(Maak 6 porsies)

25 g botter

1 ui, fyngekap

2 knoffelhuisies, gekap

15 ml tiemie, fyngekap

600 g hoenderlewers

40 ml brandewyn

15 ml tamatiepasta

160 ml room

sout en varsgemaalde swartpeper

100 g botter vir bo-op, gesmelt

Verhit botter tot warm in ‘n middelslag-pot. Voeg uie, knoffel en tiemie by. Braai liggies tot goudbruin. Voeg hoenderlewers by en braai verder tot goudbruin, sowat 5 minute. Voeg brandewyn en tamatiepasta by en meng goed. Laat brandewyn wegkook en voeg room by. Laat stadig prut vir sowat 5 minute of tot room met helfte verminder het. Geur goed met sout en swartpeper. Laat afkoel. Plaas mengsel in voedselverwerker en verwerk tot gladde patee. Verdeel mengsel tussen glasflesse van jou keuse. Gooi gesmelte botter bo-op en laat oornag in yskas stol. Sit voor met roosterbrood, agurkies en vars vye.

 Pronto-pronto Kaaspatee

Verander oorskiet-flertse kaas 1-2-3 in ‘n sjiek happie. ‘n Bakkie van hierdie staatmaker in die yskas het my al baie gered as gaste skemer-uurtyd by ons aanklop. Die resep van Francois is in ons boek Huiskok Glanskok opgeneem vir daai rede.

Kaaspatee met koue bier en Melba wiggies 

250g cheddar kaas, gerasper

250g mozzarella kaas, gerasper

2 houertjies gladde maaskaas (vetvry)

1 knoffelhuisie, fyngekap

5ml Worcestersous

15ml droe sjerrie

Sout en swartpeper na smaak

Gesmelte botter

Meng al bestandele saam in ‘n voedselverwerker. Plaas die mengsel in kleiner bakkies en seel met gesmelte botter. Gebruik soos nodig.

  • As jy dit onmiddellik as ‘n kaasgang by ‘n ete wil aanbied, rol die mengsel in ‘n lang “wors” en daarna in gekapte neute of kruie. Bedien onmiddellik met vars brood of beskuitjies.
  • Dit is ook lekker om ‘n mengsel kase te gebruik – veral as jy stukkies kaas in die yskas het. Meng alles net saam en bedien.
  • Die sjerrie kan met brandewyn vervang word.

Lannice Snyman se gerookte snoekpatee            

Op volgraanbrood is dit vir my een van die lekkerste peuselhappies op aarde. En dit laat my van voor af na Lannice verlang!

200 g gerookte snoek, gevlok, grate en vel verwyder

1 ui, grofgekap

50 g botter

sap van 1/2 suurlemoen

swart peper na smaak

250 ml (1 k) room of laevet jogurt

1 bossie grasuie (chives) met skêr geknip

Versag die ui in die botter. Verwyder van die hitte en meng die gevlokte vis, suurlemoensap, peper, room en grasuie in. Plaas in voedselverwerker en pols tot glad. Geur na smaak. Skep in ‘n bakkie, bedek met kleefplastiek en verkoel.  Bedien met roosterbrood, Melba-toast, geroosterde pita-kwarte of volgraanbrood.

{Met dank: Foto’s vir Huiskok Glanskok kookboek  – Samarie Smith. Foto van hoenderlewer parfait – Roxane Laker}

Snoek met amandelkors en druiwekonfytsous

2 Mar

Bonnie en Clyde. Antony en Cleopatra.  Lancelot  en Guinevere. Daar is gelukkig beroemde ander paartjies wat ewig trou aan mekaar gesweer het sonder tragiese eindes – soos vis en tjips, oesters en vonkelwyn, grondboontjiebotter en goue stroop.

Vandeesweek het ek by ‘n goedige kookkompetisie met die Durbanville se wynboere ‘n paar nuwe uitblink-kombinasies ontmoet en ou gunstelinge herontdek.

Die wonderlike tradisie om snoek saam met korrelkonfyt te geniet was ook in die kollig, met ‘n kinkel. Die snoek het met ‘n nuwe baadjie  gespog – in die vorm van ‘n amandelkors.

Dis met ‘n Chenin Blanc korrelkonfyt-bottersous bedien en voorgesit met outydse bykosse soos patat-in-die-skil, rou beetjies en gesnipperde vars geelperskes met borrie.

Berei die amandelkors voor:  Rooster 200 g heel amandels met die skil aan in die oond, laat dit afkoel en kap dit dan grof of pols dit in ‘n voedselwerker saam met vars tiemie.

Snoek: Vat jou gevlekte snoek, geur liggies met sout en peper. Plaas dit op bakpapier op ‘n bakplaat velkant na onder. Smeer die vis aan die vleeskant met crème fraiche – want dit help dat die amandel vasklou en gee ook smaak aan die vis. Strooi nou die amandelstukkies met tiemie bo-oor die vis en druk liggies vas. Bak die snoek in ‘n baie warm oond  teen 240°C vir sowat 12 minute tot dit net gaar is.

Korrelkonfyt bottersous – Smelt 1 koppie druiwekonfyt saam met 1/2 koppie botter en ‘n stewige skeut suurlemoensap.

{Wyn in die glas}

Ek het die amandelsnoek verskriklik geniet saam met Phizantekraal se bekoorlike Anna de Koning Chenin Blanc 2011 – die eerste Chenin Blanc uit die Durbanville wynstreek (* sien wynnota).

{Bykosse}

As bykosse het jy niks meer nodig as oudae se patat-in-die-skil, rou beetjies en gesnipperde vars geelperskes met ‘n speserysmakie.

Vir outydse ‘rou beet- en uieslaai’:  Skil 6 jong beetjies af en sny in papierdun skyfies met ‘n  mandolien . Sny 1 klein ui ook so fyn en plaas die beet en uie in yswater.  Spin dit droog.  Giet ‘n vinaigrette oor gemaak van  ½ k witwyn + ½ k olyfolie + ½ k witsuiker.  Geur met sout en fyn witpeper.

Patats: was die patats goed af, prik die skil met ‘n vurk en bak in ‘n voorafverhiite warm oond 200 °C tot die patat sag is en die skil begin loskom.  Medium grootte patats bak sowat 60 minute.

Gesnipperde geelperske-sambal: snipper die perske fyn, bedek liggies met ‘n vinaigrette of selfs ‘n bietjie van die druiwekonfytstroop en titsel borrie of kerrie.

{*Wynnotas}

Phizantekraal se Anna de Koning Chenin Blanc 2011 is die eerste Chenin Blanc uit die Durbanville wynstreek. Die pragtige ou-wêreldse wynetiket met sagte turkoois het eerstens my oog gevang, en toe het die gekonsentreerde vrug en heuningrige amandelgeure amper marsepeinagtig – my opgeval. Die wyn is in Franse eikevate verouder. Die wyn is besonders saam met die snoek en dit sny ook deur die botterige korrelkonfytsous. Heerlik, mens. Heerlik.

My dankies: aan Ronelle Brink van Groot Phesantekraal vir die wyn, die Chenin blanc korrelkonfyt en die pragtige ou opskepskottel. Dankie Anita vir die snoek-soek, Roxane vir die foto’s en vir Jacques Erasmus wat sy kosidees so ruimhartig deel.

%d bloggers like this: