Archive | October, 2012

Van boks-snob tot woepsie-aanhanger: ek maak Herman se rooifluweel whoopie pies

26 Oct

Vandag word daar whoopee gemaak in die RSG radio-ateljee.  RSG vier sy 75ste bestaan en ek vat vir Martelize Brink ‘n bordjie vol soetgoed wat ons saam met De Grendel se MCC vonkelwyn gaan geniet.  Hoekom ek hierdie resep kies waaroor ek reeds op ‘n vorige geleentheid gepraat het? Want dis naas die sagopoeding resep, die een ding wat die luisteraars, bloglesers en koerantlesers die meeste op hol gehad het!  Whoopie-maak is uiters gewild!

Met Pienk peperkorrels neem ek woepsies van kinder-eetgoed tot grootmens-genot

Ek was tot onlangs ‘n self-erkende bokssnob, tot ‘n resep vir whoopee-pies my tot inkeer gebring het.  ‘Another bride, another June Another sunny honeymoon Another season, another reason For makin’ whoopee’ sing Frank Sinatra en Ella Fitzgerald.

Dr John en Rickie Lee Jones ook. Die jazz-liedjie Makin’ Whoopee met sy stoute ondertone van blommetjies en bytjies (geskep deur Donaldson en Kahn) is egter so ver van whoopie-pies as ‘n skon van ‘n troukoek.

Die Amerikaanse whoopie-pies, wat ek herdoop na woepsie-koekies – of sommer net woepsies – is nie koekies met ‘n ouderdomsperk om laatnag te verorber saam met 50 Shades of Grey nie. Dis ‘n onskuldige lekkerny met sy oorsprong in die Amish-gemeenskap van Pennsylvania. So vroom dat dit  tradisioneel met ‘n glas melk geniet is. As jy nog nie self  ‘ge-whoopie’ het nie: dis  twee koekies opmekaargeplak met ‘n vulsel. Dis beskuitjiebros buite, en ten volle koek-se-kind binne.  Half-kolwyntjie. Half-soetkoekie.

Hier wag die klaargemaakte woepsies om opmekaar geplak te word met die roomkaas versiering … en pienk peperkorrels!

Vandag se bekoorlike een-happie woepsies lyk egter nie soos hul voorsate nie. Destyds was dit amper so groot soos hamburgers. Ek oordryf nie. Dis ook maar goed dat woepsies se  oorspronklike benaming ‘gobs’ nie bly kleef het nie. Die koekies is destyds in die mynwerkers se kosmandjie gepak; en omdat steenkool-hope as gobs bekend gestaan het, is die hopies-koekies met die naam opgesaal. Die vrome Amish whoopie-makers reken dis mettertyd herdoop omdat kinders ‘whoopie’ gejil het as die koekies uit die oond gekom het. Die oorspronklike koekie was sjokolade-gegeur met ‘n marshmellow-vulsel.

Vandag ontgin bakkers alle geur- en smaakmoontlikhede en versierings. So behep is die New Englanders met whoopie pie dat daar selfs ‘n Whoopie Pie Fees gehou word in Strasburg, Pensylvannia,  met sy eie Whoopie Feeskoninigin. Sowat 130 nuwe variasies word jaarliks by dié fees bekend gestel. Dis ook die staat Maine se offisiële nagereg.

Ek het ook onlangs gewoepsie. Maar eers moet jy dit  weet voor ek verder vertel: Ek het nog nooit ‘n koek uit ‘n boks gemaak nie. Nie koek nie. Nie skons nie. Nie muffins nie. Selfs nie eers Ina Paarman se ikoniese boksmengsels nie. Ek is/was onbeskaamd boks-bevooroordeeld. Voorbok in die anti-boks kamp. ‘n Bokssnob.

Toe verlei Herman Lensing, Sarie se kosredakteur my met ‘n artikel oor rooifluweelkoek (nog ‘n juweel uit die Amerikaanse baktradisie). Die rooi fluweel-whoopie pie, veral, het my gesteel. Ek moes terstonds die twee Amerikaanse ikoniese koektradisies whoopie en rooi fluweel-in-een maak.

“Dié klein koekie is deesdae oral geliefd, vertel Herman. “Die beste van die resep is dat jy dit met ’n gekoopte bakmengsel kan maak.”

O mensdom. Ek moes terstonds my fiemies in ‘n boks bêre, want as Herman (‘n bekroonde kosskrywer) die boksroete kondoneer behoort ek dit ‘n kans te gee.  Werk dit nie, kon ek hom en die boks die skuld gee. Nou dat die woepsies wel een van die jaar se grootste suksesse uit my oond is, vat ek natuurlik alle eer vir myself. Bakkers-voorreg.

my gunsteling nuwe koekies (uit die boks gemaak) op my gunsteling kleinbordjie.

Huiskok se Woepsie-wenke: Lees gerus die wenke voor jy begin woepsie maak

 * Herman beveel aan dat die koekies met versiersuiker besprinkel word. Om die koekies my eie stempel te gee- en nog meer grootmens te maak, het ek die versierselrand wat tussen die twee opgeplakte koekies uitpeul in pienk peperkorrels gerol. Dit gee ‘n krakerigheid, pikante smaak en lyk soos sequins op die rooi fluweel.

*moenie jou doodskrik as jy sien daar kom ‘n volle botteltjie rooi kleursel in nie. Die resep is korrek en dit werk. *skaf gerus ‘n spesiale whoopie-koekpannetjie aan as jy kan – twee nog beter.

*’n Spuitsak werk baie goed om die deeg in die pannetjies te skep. Wees presies dat jy dieselfde hoeveelheid in elke pannetjie skep.

*Die koekies moenie oor die rand rys met die bakkery nie, so spuit eerder minder as meer in.

*As die koekies te veel bo-op kraak is jou oond dalk te warm. Myne maak krake en dit pla nie.

*ek beveel Simonsberg se tradisionele lae-vet roomkaas vir die vulsel aan; nie omdat ek al vir hulle skakelwerk gedoen het nie, maar  omdat die sagte lug-ingeklitste romerigheid  die inklits by die botter en versiersuiker makliker maak.

*Die resep maak heelwat roomkaas-vulsel – so moenie suinig wees met die vulsel nie.

HERMAN SE ROOI FLUWEEL-WOEPSIES

My gebruik van pienk peperkorrels is natuurlik heeltemal opsioneel, maar feestelik. Ek vind selfs kinders hou van die korreltjies.

sowat 24 koekies

• 1 x Ina Paarman- sjokoladekoekmengsel • 250 ml karringmelk • 250 ml kanola-olie • 3 groot eiers • 1 x 30 ml-botteltjie rooi koskleursel

ROOMKAAS-VULSEL • 120 g sagte botter • 240 g versiersuiker, gesif • 230 g roomkaas (my wenk: gebruik Simonsberg tradisionele roomkaas / kyk uit dat ander handelsname se verpakking nie dalk 180g is nie) Opsioneel: Pienk peperkorrels om dit in te rol: dis my eie toevoeging tot die oorspronklike Sarie-resep.

Verhit oond tot 180 °C. Plaas koekmengsel, karringmelk, olie, eiers en kleursel in groot mengbak. Roer met draadklitser tot gladde mengsel en vul ’n spuitsak met ’n 1 cm-tuit. Vul whoopie-panholtes met die mengsel of spuit 2,5 cm-sirkels op ’n bakplaat met kleefwerende kossproei gespuit. Bak 8 – 12 minute of tot gaar. Laat afkoel.

Roomkaas-vulsel Plaas botter in elektriese menger en klits tot romerig, sowat 5 – 8 minute. Voeg versiersuiker en roomkaas by. Meng goed. Skep ’n bietjie van die versiersel op die helfte van die gaar koekies. Plak elkeen toe met een sonder versiersel. Sif versiersuiker oor en sit voor. *Rol party op hul kant in pienk peperkorrels.

Kook saam. Eet saam. Praat saam: Ek praat gereeld  op RSG as Huiskok met Martelize Brink. Kwetter saam met my  op Twitter @huiskok  of sluit by my aan op Facebook. 

Gestoofde koejawel en okkerneut ‘crumble’ uit Jerusalem

19 Oct

Gestoofde koejawels. Net die gedagte daaraan het my klaar in ‘n beswyming.

Daar is ‘n ander woord ook wat kosliefhebbers en kookboekversamelaars se ore laat spits en mond laat water: Ottolenghi.  Ottolenghi is die naam van ‘n Joodse kok Yotam Ottolenghi, en ‘n restaurant/deli in London wat sy naam dra. Dis vir my ook ‘n styl van kook: interessant,  vars, oorspronklik – met ruim skepsels Midde-Oosterse romantiek.

Ottolenghi en Tamimi wys hoe kos die vredemaker kan wees. Hulle glo hummus kan vrede bring tussen Jood en Palestyn.

Dis die verhaal van Ottolenghi en sy vennoot-en-vriend Sami Tamimi wat my geraak het met hul eerste kookboek:  Hulle kom beide van Jerusalem en het mekaar in London ontmoet – Yotam is die Jood en Sami Tamimi is die Palestyn. Oor kos het die twee die eeue-oue stryd tussen hul kulture en gelowe oorbrug. Ottolenghi is vir my ook ‘n verhaal van vrede.

Ek hou van ‘n mooi storie, en hul kookboeke met hul vredesboodskap is eregaste in my kombuis.  En nou is daar hulle nuutste boek Jerusalem op die rak, vol van geure uit hul kinderjare in hierdie antieke stad. En mense, dis die lekkerste resepte – sommige tradisioneel en ander byderwetes geinspireer deur die stad. In linne oorgetrek het die boek ‘n wonderlike antieke gevoel – iets kosbaars.

En soos ek deur die lieflike boek geblaai het, het ek net weer besef hoe universeel sekere smake is: daar’s soveel dinge waarvoor ons almal lief is en deel, ongeag ons kultuur- en geloofsverskille. Soos hulle resep vir ‘n koejawel-nagereg.

Dalk het jy ook soos ek grootgeword met gestoofde koejawels;  my ma het dit in sulke groot glasflesse ingelê. Ek sny sommer ‘n blik oop en eet dit met Ideal melk (ingedampte melk). Ander mense eet dit met vla.

Die parfuumgeur van die koejawels en die neuterigheid van die bakkende krummels het die hele dag in my kombuis gehang. Ons het tot die tafel gedek in ‘n Midde-Oosterse tema vir die kos uit Jerusalem

Toe ek die resep vir koejawel nagereg in Jerusalem raaksien, was dit liefde op die eerste oogopslag – en ook die eerste resep wat ek gemaak het uit die boek.  Jy kan enige vrugte smaakmaats gebruik – hulle het bv. koejawel met pruime gebruik; ek het aarbeie saam met die koejawel gekook.

As jy wil, beveel die manne van Jerusalem aan om die vrugte selfs verder te geur met soet speserye soos allspice (wonderpeper), kaneel, neutmuskaat, foelie of naeltjies of vars kruie soos marjolein, basielkruid, of selfs sitrusskil.

Wat my besonder belustig gemaak het is die heerlike neute crumblewaarmee  dit bedien word en die kardomom-gegeurde room waarmee dit bedien word.

Skep die pitte sommer met ‘n teelepel uit.

Vir die gestoofde Koejawel en aarbeie (ook genoem compote):

4-6 koejawels, ontpit en in 3 cm stukke gesny

1 bakkie (sowat 300g) aarbeie, gewas, stingels afgesny en in helftes gesny OF 6 pruime, ontpit en in kwarte gesny (300 g)

30 ml (2 E) strooisuiker

15 ml (1E) suurlemoensap

15 ml (1E) water

Plaas die bestanddele in ‘n medium kastrol en stowe oor  lae hitte vir sowat 15-2o minute tot die vrugte heeltemal sag is – jy moet nou en dan roer. (Indien jy ander vrugte gebruik, pas net die hoeveelheid suiker en die kooktyd aan na jou smaak)

Vir die okkerneutkrummel (‘crumble’)

40 g volgraanmeel (soos Nutty Wheat)

40 g koekmeel

50 g koue ongesoute botter, in 2 cm blokkies

3 1/2 E ligte bruinsuiker

Knippie sout

100 g okkerneute, grof gekap

Om die krummel te maak: verhit die oond tot 190 C. Sit nou twee soorte meel in ‘n groot mengbak met die botter, suiker en sout.  Vryf die mengsel met die vingerpunte tot die tekstuur soos broodkrummels lyk.  Roer die okkerneute by.

Plaas bakpapier op ‘n bakplaat, strooi die mengsel daarop en bak vir 15-20 minute tot die krummels deurgebak is en ‘n ligte goudbruin kleurtjie kry.

Room*

*Ek het net jogurt en mascarpone gebruik en die room uitgelos; en dit net met ‘n ballon-klitser geroer tot gladde tekstuur. Na my mening is dit net bietjie te rojaal en geil om drie tipe rome te gebruik!

150 ml slagroom

100 g Griekse jogurt

100 g mascarpone

15 ml (1 T) strooisuiker

½ t vanieljegeursel

½ t fyn kardamom

½ steranys, fyngemaal

Plaas die bestanddele in ‘n groot mengbak en klop tot sagte punte, maar weer versigtig om dit nie te veel te klits nie. Die mengsel is aanvanklik redelik dik, maar ‘n minuut se klits is voldoende.

Opdiening:

Skep ‘n lepeltjie room onder in die poedingbakkie, skep die vrugte bo-op en sprinkel die krummels kwistig bo-op.

Dit is besonder lekker as dit goed verkoel is.

Ek het gaan sit met ‘n koppie tee en rustig deur Jerusalem geblaai – ‘n heerlike reis wat my nog lank in die kombuis sal inspireer. ‘n Uitstekende belegging.

*Jerusalem deur Yutam Ottolenghi en Sami Tamimi word deur EBury Press uitgegee. Hardeband. R415.

Loer gerus die volgende paar dae weer in, want ek gaan nog ‘n paar resepte uit Jerusalem maak en met jou deel.

Omelet vir Colette met karamelappels en gekookte kondensmelk

12 Oct

Colette, wie en wat jy ookal was; waar in die wêreld jy gebly het en watter Franse sjef  jy so bekoor het, weet ek nie. Maar dat hy vir jou lief was is gewis, want die soet ontbytomelet wat jou naam dra is die lekkerste ooit.

Dalk het hy hierdie omelet  as liefdesbrief aan jou voorgelê:  die  konfituur de lait (hy sou nie dulce de leche  of gekookte kondensmelk gebruik het nie) soos stroopsoet liefdeswoorde in ‘n geurige omelet-koevert versteek,  die romerige effe suur crème fraiche ‘n teken van sy melancholie en verlange omdat julle nie openlik bymekaar kan wees nie. Die appels het hy dalk self in die boord gaan pluk, en die appelskyfies sag geprut in ‘n karamelsous van bruinsuiker en egte botter  as ‘n verwysing na gesteelde ure saam in daai appelboord. Die eiers het hy vroegdag nog warm onder die hoenders gaan uithaal.

Vandat ek hierdie resep jare gelede Omelette Pomme Colette in  die gevierde Gourmet tydskrif opgespoor het het ek gewonder wie sy is. Die resep is net ingelei met die woorde: ‘A jar of confiture de lait, a French caramel-like sauce made from whole milk and sugar, and fresh apples inspired this omelette.’ Geen verwysing na Colette se herkoms nie.

As jy nou wonder hoekom ek ‘n liefdesroman van ‘n omeletresep wil maak, maak dit self, deel dit met jou geliefde, ervaar die glimlag vol belofte, dan sal jy weet: Colette was nie sy dierbare ouma nie. Eerder die rooiwang dogter van die kwaai hoteleienaar of bistro.

Omelette Pomme Colette maak ek om iets te vier: vandag omdat dit Internasionale Eierdag is, ja, maar ook om sommer net  ‘n liefdesoomblik te herdenk.   Ek maak dit op ‘n sonskynoggend na ‘n week van triestige weer of wanner die verlange na Buenos Aires waar ek dulde de leche die eerste keer geproe het, die oorhand kry.

Maar die beste verskoning om Colette se omelet te maak is as jy dit geniet om ‘n blikkie gekookte kondensmelk oop te maak (ons ma’s en oumas moes dit vir ure kook; ons trek net die blik se deksel oop). Na die omelet se maak bly daar nog bietjie karamelkondensmelk in die blik oor. Dit verdwyn so bietjie bietjie soos wat almal wat verby die yskas loop eers ‘n lepeltjie deurtrek.

Net ietsie oor die bestanddele:

Eiers: gebruik vars eiers. Dit hoef nie teen kamertemperatuur te wees nie, want die eierwit word nie vir hierdie omelet styfgeklits nie. Vir ‘n pofomelet sou jy wel die eiers vooraf uit die yskas moes haal.

Vir jou Colette oomblik is die ware jakob confiture au lait natuurlik die naaste aan die oorspronklike liefdesbrief. ‘n Tweede, en baie dekadente plaasvervanger dulce de leche sal jou ook die weelde gee wat jy soek. Maar dit gaan jou kos: jy sal dit uit  die land van tango moet aanvlieg, of ten duurste ‘n flessie by Hemelhuijs aanskaf (R90 ‘n flessie uit die hemel). Daarom koop ek myne maar in ‘n blik in die supermark: jy ken die soort. Nestle of Carnation maak dit.

Ek was gelukkig om ‘n boks vol appels van alle soorte, kleure, geure en grade van soet en ‘tartness’ te kry van Tru-Cape. Ek het ‘n soeter  rooi appel gebruik.  Jy kan werklik enige appel gebruik.

Bewonderaars van ons labrador Tjoklit sal hierdie ene geniet: Met die fotonemery trek ons agter die beste lig aan – wat hier Tjoklit se gunsteling uitkykpunt op ons stoep is. Hy pas dan die kos goed op sodat die katte nie ‘n hap kom vat nie. Hy weet vir sy eie gehoorsaamheid kry hy later ‘n bederf uit die kombuis.

Omelet vir Colette

30 ml botter, verkieslik ongesout (beslis nie margarien nie)

10 ml suiker

1 appel (myne was van Tru-Cape), geskil, pitte verwyder en in dun skyfies gesny (6 mm as jy ‘n presiese mens is)

3 groot eiers

30 ml crème fraiche (vervang met mascarpone of suurroom – jy soek bietjie surigheid om deur die soet te breek)

30 m dulce de leche of karamel-kondensmelk

Opsioneel: versiersuiker vir oorsif

Smelt die botter in ‘n 30 cm (12 duim) kleefvrye pan oor matige hitte. Sodra die skuimerigheid afneem gooi die suiker by, roer tot opgelos vir sowat ‘n minuut. Voeg die appelsnye by, kook sowat 6 tot 8 minute tot die appel sag en goudbruin is – draai een keer tydens die kookproses om.

Klits die eiers met ‘n knippie sout. Gooi oor die appels en kook oor redelike lae hitte terwyl jy liggies die rand van die omelette oplig sodat die rou eier ondertoe kan vloei. Gebruik ‘n hittebestande rubber spatula hiervoor. Die omelet moet net-net gestol aan die bokant wees, wat sowat 2 minute neem.

Skep lepeltjies vol van die crème fraiche en die gekookte kondensmelk in die middel af; vou  een-derde van die omelet oor die vulsel met ‘n hittebestande eierspaander. Nou laat jy die omelette versigtig afgly op die bord en kantel dit dat die omelet toevou. Hier is dit ‘n storie as jou pan – soos myne – nie ‘n goeie kleefvrye pan is nie. Maar toe maar, dis ewe lekker as hy bietjie verkeerd uitgly. Druk net alles weer mooi toe!

Sif bietjie versiersuiker oor as jy wil, sny in die helfte en verdeel tussen twee borde. Speel Franse kafee-musiek en verbeel jou Colette en haar kosminnaar iewers op ‘n straatplein knibbel in die vroegoggend aan ‘n soet ontbyt-omelet.

*Volg my gerus op Twitter by @huiskok dan deel ons kospraatjies uit. 

Somer-fling tussen Alida se bokmelk-uietertjies en Sauvignon Blanc

5 Oct

Trek saam met my strappy somersandale aan en sit ‘n sonhoed op, want dis witwynseisoen. Meer spesifiek die Seisoen van Sauvignon Blanc.

Ek soek ‘n somer-fling vir my gunsteling somerwyn, wat terloops ook een van die trendieste wyne ter wêreld is – en as dit by kos-en wynparing kom is Sauvignon Blanc ‘n elegante vryer saam met salm tot sashimi. Mossels, ja. Soesji, ja. Perlemoen en garnale, beslis. In piekniekmandjies, met antipasti en Mediterreense styl alfresco-etes, en soos ek al uitgevind het selfs saam met Italiaanse vinkel-wors met druiwe gestowe.

As dit by hierdie wyn kom het die pot beslis nie net een deksel nie. En dis wat ons vanjaar vier by die Durbanville wynvallei se Seisoen van Sauvignon. Ek het egter wyer as my eie kontrei gaan soek vir die ideale, terterige kosmaat.

Ek het ‘n hele boek vol keuses, want uit Pretoria kom die pragtige kookboek Heerlik & Maklik: Hartskos van die ewe pragtige Alida Ryder. Alida se blog Simply Delish SA is ‘n wegholsukses en ek glo die boek gaan ook wees. Lieflike foto’s, verbeeldingryke kos. En bowenal maklik: ek wil immers nie in die somer sukkel met komplekse geregte en magdom bestanddele nie.

Toe ek tot by die resep blaai vir veerligte, goudbruin gebakte skilferkorstertjies gevul met gekarameliseerde uie, bokmelkkaas en tiemie, toe weet ek: hier’s die perfekte somerromanse vir my glas Sauvignon Blanc.

Maar kom ons gesels eers oor Alida: hierdie besige ma van ‘n tweeling is ook kosstilis en fotograaf. Sy’s van Pretoria en het by my kom kuier met haar Kaapse besoek vir die vrystelling van haar boek. Ons het tee gedrink en appeltert geeët. Om ‘n tafel – selfs ‘n teetafel – leer jy ‘n mens goed ken.

Alida Ryder – blink nuwe ster op die SA kosskryf-toneel

Alles wat ek van hierdie nuwe ster op ons kostoneel ervaar het, is ook in haar boek te beleef. Vol geesdrif, kreatief, passievol, eerlik en sonder aansit.  Mensig, en sy is mooi. Smeulend mooi met warm bruin oë, ‘n blink bos swart hare en kurwes wat Nigella in die skadu laat. Daarby ‘n hart van goud.

Haar boek is net so ‘n welkome gas in my boekrak. Dit word deur Penguin uitgee, dieselfde uitgewer as Jamie Oliver se boeke, vertel sy my oor die stuk appeltert: “dit was nog altyd my droom om eendag ‘n boek uit te gee deur dieselfde mense as een van my koshelde.”

By haar ma Ronel het sy haar avontuurlustigheid gekry; haar invloed geur vandag steeds Alida se kombuisskeppings. Haar ouma het ook help vorm aan haar kossiel. Van kleinsaf het sy en haar ouma wie se naam sy dra, saam gebak en gebrou: net soos Alida vandag doen met haar tweeling Aidan en Abigail.

En as ek enigsins nog sou wonder of my eerste indrukke van Alida – en ons tydjie saam oor koek en tee – dieselfde Alida is wat op die blaaie van haar pragboek saamgevat is, hoef ek net die voorwoord van my kosheldin, die formidabele Sam Woolidge, te lees. (Sam het net soos ek aanvanklik vir Alida deur haar kosblog leer ken; en later eers persoonlik ontmoet).

“Ek het nog altyd van Alida se passie vir kos gehou, haar gulhartigheid en oorspronklike benadering,” skryf sy. “Noudat ek haar ontmoet het, is ek mal oor haar geesdrif vir die lewe, die vreugde wat sy uitstraal en haar dankbaarheid vir goeie dinge wat met haar gebeur.

Sela, Sam! Viva, Alida!

Net na ek Alida ontmoet het – en haar boek onder oog gekry het – vertel ‘n ander kosgeesgenoot (wat onder die skuilnaam Big Big Joe sulke wonderlike artikels vir Rapport geskryf het) ook hoe eerlik en heerlik hy haar boek gevind het. En vertel kwylbekkend van die oondgeroosterde hoender met suurlemoen wat hy uit die boek gemaak het. Dit maak ek die oomblik as ek gaste oornooi.

As dinge soos kos uit die hart vir jou, my liewe bloglees-vriendin en vriend, ook waarde het, skaf gerus Alida se boek aan wat vol daarvan is. Jy sal soos ek weer besef hoe heerlik en sielsbevrediging eenvoudige kos kan wees wat met ‘n ruimhartige gees berei en met baie liefde voorgesit word.

Terug by die somervryery tussen kos en wyn wat hopelik tot ‘ouers vra’ sal lei:

My Sauvignon Blanc keuse is een van die wyne op die FNB Top 10 Sauvignon Blanc lys – die MM Louw 2011 van Diemersdal, ‘n ware fynproewersdroom wat 9 maande verouder is in eikevate. Dis ryk en vol met note van nartjie, spesery, heuning en selfs vanielje. Dis ‘n intense sauvignon blanc – nie ‘n skaam wyn nie. ‘n Wyn vir grootleef in die somer.

Hier is enkele voorbeelde van somer-vryers vir witwyn uit Heerlik en Maklik: Hartskos –

  • Pasta met oondgeroosterde kersietamaties, pesto en ricotta (beslis my ‘go-to’ pasta gereg hierdie somer)
  •  Gerookte salmballetjies met roomkaas (fabulous vir ‘n partytjie of skemeruur-happie)
  • Cajun steurgarnaalslaai met aioli
  • Somergroente pasta met geposjeerde eier (die aspersies gaan Sauvignon Blanc laat sing)
  • Gebakte seekos met rys (haar  weergawe van paella, met mossels,steurgarnale en calamari)
  • Gekruide risotto met bros calamari en ook die steurgarnaal en ertjierisotto
  • Sout en peper inkvis (hierdie Griekse gereg is ‘n ode aan Alida se ma wat so lief was vir Griekse kos)
  • Baguette met geroosterde groente en chevin (hou jou lyf Fransman die somer. Pragtig. Maklik. Gesond. En die chevin is Sauvignon blanc se hartstogtelikste kaasminnares).

ALIDA SE SKILFERKORSTERTJIES MET GEKARAMELISEERDE UIE EN BOKMELKKAAS

 Die resep bevat net 3 hoofbestanddele en daarom beveel Alida aan dat jy net die beste aanskaf – goeie skilferkosdeeg en goeie bokmelkkaas (ook bekend as ‘chevin’). Sit dit voor met ‘n eenvoudige slaai van roket, bronkors, avokadopeer en ‘n suurlemoenslaaisous. Alida geniet dit met chenin blanc – ook ‘n somerwyn wat al hoe meer opspraak maak.

2 rooi uie, in fyn skywe gesny

1 E balsemasyn

2 E suiker

1 rol gekoopte skilferkorsdeeg

100 g chevin kaasrolletjie, in 4 dik sirkels gesny

Vars tiemie

1 eiergeel, geklits

Maak so:

Voorverhit die oond tot 180C. Soteer die uie in ‘n braaipan tot sag en deurskynend. Voeg die asyn en suiker by en karameliseer 5 minute. Verwyder van hitte en hou eenkant.

Rol die deeg effens dunner en sny 8 sirkels met ‘n deursnee van 10 cm elk uit die deeg. Plaas 4 van die sirkels op ‘n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is. Sny nou sirkels van omtrent 8 cm uit die oorblywende 4 deegsirkels, sodat jy 4 deegringe kry. Bestryk die rande van die deegsirkels op die bakplaat met eiergeel en sit een deegring op elke deegsirkel om ‘n rand te vorm. Skep ‘n eetlepel van die die gekarameliseerde uie in elke holte en sit ‘n dik sny kaas op die uie. Bestryk die deeg weer met eiergeel, sit tiemietakkie op elke tertjie.

Bak vir ongeveer 10 minute tot goudbruin en die kaas effens versag het.

Koel komkommer – bietjie meer oor die Durbanville Wynvallei

 – Alhoewel die Durbanville Wynvallei se rooi wyne toenemend naam maak, het die  area sy uitstekende sauvignon-reputasie opgebou as gevolg van die terroir wat ideaal is vir hierdie klassieke koel-klimaat variëteit.

– Die Durbanville Wynvallei is een van die koelste streke in die wynlande, omdat dit so naby die koel Atlantiese Oseaan is (die gebied is minder as 15km weg van die see en baie plase het ’n uitsig op die Oseaan) en as gevolg van die hoogte van die heuwels. Die wingerde kry blootstelling aan misnewels en die somer se suidooster waai weer van Valsbaai aan die Indiese Oseaan-kant in.

– Die heuwels sorg ook vir ’n reeks warmer en koeler klimaat-eienskappe wat sorg vir verskillende wynstyle van dieselfde variëteit terwyl almal terselfdertyd ook ’n sekere mate van vrugtigheid en elegansie in gemeen het.

– Die grond in die gebied is ideaal: baie ou, leiklipagtige diep grond wat goed gedreineerd is, maar ook goed vog terughou wanneer dit droog raak. Voeg daarby  wynmakers en wingerdgroeiers wat die grond se potensiaal ten volle benut.

(Bron Durbanville Wynvallei Assosiasie)

Die Seisoen van Sauvignon word van 6 en 7 Oktober op 11 plase in die vallei gehou. Besoek www.durbanvillewines.co.za vir die program.

Nota: Ek doen skakelwerk vir die Durbanville Wynvallei Assosiasie. My entoesiasme en liefde vir die streek kom egter oor jare – want ek het grootgeword in die omgewing en bly 15 jaar al op die soom van die wynlande. Ek ervaar daagliks die opregtheid, gasvryheid en passie van die wynmakers en die streek se kokke. Dis wat ek ken en daarom skryf ek daaroor.

Gesels saam:

Kwetter saam op Twitter: met my @huiskok en met Alida @SimplyDelishSA ; Martelize @MartelizeBrink en Francois is @Glanskok

Luister gerus ook Vrydag-oggende op RSG na my en Francois Ferreira se kospraatjies Huiskok Glanskok saam met Martelize Brink.

Tarentaalburger, roosterkoek, Shiraz en uie-blatjang: Huiskok raak wild op Pasella

3 Oct

Dit het begin met ‘n wilde uitdaging van Pasella. “Nooi ‘n paar van jou twittervriende en kook met wildsvleis. Niks te deftig nie, net lekker maklik vir stokperdjiekokke om by die huis te kan maak”.

Fritz en Ishay toe die kameras nie kyk nie

Kosmaak vir jou eie mense om jou eie tafel is een ding. Kosmaak op radio selfs – want daar kan niemand sien hoe agter die klip my ‘knife skills’ is nie. Niemand sien die flopse, die aanbrandsels en die skeefgesnyde groentes nie. Op TV is dinge heeltemal anders. Ek weet hoe sukkel ek om te fokus op die snyplank en die klompie bakkies uitgepakte bestanddele met die kameralens op my. Op die beste van tye is ek kamera-sku.

Maar ‘n geleentheid om saam met kos-sielsgenote te kan kook en kuier laat ek nie verbygaan nie. Nooit nie. Selfs nie as dit beteken dat ek my naels afkou voor en na die shoot nie. Dis altyd ‘n goeie ding om die kameras in die huis in te bring. Dan word die boekrakke weer ‘n slag reggepak; die kombuis geskrop; selfs die spens en die speseryrakke (let wet ‘rakke’) kry weer ‘n slag ‘n goeie afstof, uitstof en orde.

Die honde word tot gehoorsaamheid gemaan, die katte geborsel – wetende dat hulle wel een of ander tyd uit hul aanhouding gaan ontsnap om te kyk wat gaan aan en hoekom daar die heel dag wonderlike koswalms uit die kombuis kom.

Maar eers moes ek besluit watter wild ek gaan kies. Wat kan binne die beperkinge van die televisieprogram gemaak word. Wat sal nie voor aansien van die ganse volk platval, omval, neerval of flop nie. Wat gaan nie te veel op my klere spat nie; liefs nie met uie werk nie, want dan loop die mascara oor my wange. Nie iets wat te veel stoom maak nie, want dan val my bolla plat! My gaskokke is Ishay Govender Ypma (van die kosblog Food and the Fab) en blogger-bluesman Fritz Brand van Real Men Can Cook (deur die dag skryf hy rekenaarprogramme) en hoflikheidshalwe gee ek hulle die eerste keuse: Ishay kies koedie; Fritz kies Springbok.  Ek gaan vir die geveerdes.

Jagterskos, saamgestel deur my vriendin Daleen van der Merwe, toe huishoudkundige en nou kookboekuitgewer

Gelukkig kan ek op my kosvriende staatmaak. Ek loer in die Kambedoo wildsvleis kookboek; bestudeer Leipoldt se werke van hoek tot kant. Ek lees van geveerdes wat moet hang tot hul adellik is. Ek lees van salmi, ‘n ragoût van pluimvee of wild wat met deegkluitjies opgedien word. Dalk moet ek sy raad volg van ‘n patrys-pastei soos die Swede dit maak. Ek probeer verby die resep lees – ragoût van klein voëltjies … tortelduiwe, kiewiete, lewerike, vinke en mossies, al klink dit hoe lekker met nartjieskil, soetwyt en baie botter.

Ek steek kers op by my beste vriendin Daleen, ‘n kookboekuitgewer en formidabele wildsboud-ghoeroe. Die Jagterskos-handleiding wat sy jare gelede saamgestel het, bly ‘n fontein van kennis.  My kollega Anita stuur vir my haar fantastiese wildsboud resep – ek oorweeg ‘n wildspastei gemaak met die fyn vleisies van oorskiet wildsboud.

Ek bel sjef Ian Bergh van De Grendel restaurant – ‘n man wat met vleis grootgeword het; wat wildsvleis goed ken. Maar ek weet ook dat daar tarentale op die ou familieplaas rondtrippel, wat beteken ek kan dalk ‘n interessante vleisie daar afbedel.  Tarentaal is ongewoon; maar nie vreemd nie. Ek het die tarentaal-gourmet burger vir die eerste keer juis op De Grendel Landgoed ge-eet, waar verskillende tarentaal-en ander wildsvleisgeregte die eters aan die gons het.

Ian se raad is goed – maak ‘n burger want met die maalvleis het mens nie sommer ‘n probleem met taai vleis nie (en dit hoef nie tot adellike status te hang nie). Moet hom net nie te gaar maak nie … en die goeie nuus: hy kan vir my tarentaalvleis voorsien. En die Shiraz om ‘n heerlike rooi-uie blatjang mee te maak wat ek reeds vooraf kan klaarmaak (geen uie sny op kamera nie).

My ‘wilde kos op Pasella, gemaak met tarentaal uit my kontrei en wyn uit my kontrei.

Die voorbereiding van tarentaalvleis – en ander geveerde wild  soos fisant en patrys – is ‘n belangrike deel van ons kosgeskiedenis, veral voor verstedeliking en supermarkkos die gewildheid daarvan laat afneem het. Nou weer wat die ‘locavorian’ en foraging kosbeweging so ‘n groot kostrend is, verskyn tarentaalvleis weer op restaurantspyskaarte.

Vandaar kom die planne: pleks van ‘n gekoopte witbrood-rolletjie, kom ons hou by die uit my kontrei-tema en bedien die tarentaal-pattie op roosterkoek. Roosterkoek! Dit klink na besigheid.

En wat’s ‘n burger sonder gesmelte kaas. (Ek besluit op ‘n beleë Gouda van Simonsberg – want ek weet dit smelt goed). Pleks van ‘n toe hamburger, besluit ek om dit ‘n afslaandak-burger te maak sodat ek die tarentaal kan kroon met ‘n takkie lig-gebraaide rosa-tamaties op die rank.

Die dag het gekom. Die aanbieder Vicky Davis is ‘n honey. Jana du Preez, die insetsel-regisseur ‘n ware pro, so ook Prudence; die kameraman en die klankman.

Die Pasella span.

My gaskok-vriende is voorbereid, knap voor die kamera, hulle kos is wild uit die boonste rakke. Die burger kom lekker, die roosterkoek ‘rustic’. Als lyk mooi en proe lekker.

Ons kook. Ons kliek. Ons twiet.

Vicky vra oor sosiale netwerke, twitter en blogs. Lank daarna wonder ek nog oor dinge wat ek eerder moes gesê het, en nie moes gesê het nie. Ek wonder lank daarna of ek nie eerder ‘n voorskoot moes aangesit het nie; of my hare reg was en of die kamera verby die wasgoed op die draad geskiet het.

Maar waaroor ek nie wonder nie, is oor my tarentaalburger op roosterkoek met Shiraz- en rooiuie-blatjang. Tuisgemaak, met hierdie einste hande. Hoop net nie hulle’t gebewe op kamera nie!

 

 

Hier’s die resep:

TARENTAAL BURGER MET SHIRAZ UIEBLATJANG OP ROOSTERKOEK

Tarentale is ‘n bekende gesig in die Noordelike voorstede en Durbanville – op plase, tussen wingerde en selfs in die woonbuurte. Sjef Ian hang eers die vleis goed  voor dit gebruik word, wat die smaak verfyn en die vleis sagter maak. Maalvleis is natuurlik nie sommer taai nie, so die burger maak dit maklik om tarentaal te geniet. Die fyn naeltjies gee ‘n heerlike smaak aan die vleis, moenie dit uitlos nie! 

Bestanddele

500 g tarentaal maalvleis (gemaak van boud en borsvleis)

30 ml koljandersade, gestamp

¼ t, fyn neutmuskaat

¼ t, fyn naeltjies

1 eier, gesklits

2 snye witbrood, korsies verwyder en geweek in 60ml melk

½ t, gemaalde swartpeper

1 ½ t maldon sout

125 ml gekaramaliseerde uie

Metode

Kombineer al die bestanddele in ‘n groot mengbak, meng goed en vorm 4 ewe-groot vleiskoekies.  Braai oor medium tot hoog vir 2-3 minute – verkieslik tot nog pienk binne. Bedien met rocket, Simonsberg se belëe gouda, tamatie, De Grendel Shiraz blatjang op roosterkoeke.

Wenk: Die tarentaalvleis kan vervang word met volstruis. Ciabatta-rolletjies sal lekker wees, of ‘n tradisionele hamburger-broodrolletjie sal ook deug.

SHIRAZ BLATJANG

Bestanddele

Die resep maak sowat  750ml  blatjang.

8 uie, fyn gesny

225 ml rooiwyn asyn

350 ml De Grendel Shiraz

225 ml strooisuiker

45 ml olyfolie

Metode

Kombineer die uie en ‘n goeie paar spatsel olyfolies (sowat 45 ml)  in ‘n kastrol, en soteer vir 5 minute; voeg suiker by en kook nog 10 minute.  Voeg die wyn en asyn by en kook liggies tot al die vog geabsorbeer is en die uie sag en stroperig is.

ROOSTERKOEK

Bestanddele

1 pakkie kitsgis

250 g Eureka koekmeel

250 g Eureka broodmeel

1 eier

25 g sagte botter

30 ml suiker

7.5 ml sout

Genoeg louwarm water om ‘n sagte deeg te maak.

Metode

Plaas meel en gis in ‘n bak, meng deur en voeg sout en suiker by. Vryf die sagte botter in die meel en voeg die eier by.  Voeg bietjie vir bietjie die louwarm water by die meelmengsel om ‘n sagte deeg te vorm.  Knie die deeg ongeveer 10 minute tot glad, blink en elasties.  Plaas die deeg in ‘n skoon kom en bedek met ‘n teedoek. Laat dit in ‘n warm plek rys tot dubbeld die grootte, sowat 35 – 40 minute. Knie die deeg af, druk dit plat en sny in vierkante.  Bestryk dit liggies met meel sodat dit nie aan die rooster vassit nie.  Rooster dit oor medium kole.  Dit is reg wanneer dit hol klink as jy daarop klop.

Ons sê baie baie dankie:

Naas die Pasella-span, Ishay en Fritz sonder ek graag die volgende mense uit wat my op Pasella help goed lyk het (behalwe daai krul in die kuif wat ek nie gaan oorleef nie!):

Agter die skerms sal die TV-kykers nie die helpende hande gesien het nie: my kosvriendin Catherine Eybers (volg haar blog Lemon and the Dachshund; en op twitter @CaththeGirl) wat kom handgee, want onthoud – daar’s drie kokke in die kombuis vir die wilde Pasella-shoot. En die TV-span moet koskry ook (boere-gasvryheid en goeie maniere); en koffie kry. En iemand moet die honde stilhou en die katte paai. Dankie Katryn. Dankie aan my man Ian wat geduld met my het.

En iemand moet voor- en na die tyd skoonmaak: Dankie my wonderlike huishoudster Annie Scharnek.  Ek’s ‘n wilde kok in die kombuis. Daar’s altyd nog ‘n vuil kastrol, nog ‘n nat vadoek.

Dankie aan Sjef Ian Bergh en De Grendel Restaurant, Durbanville Wynvallei vir die tarentaal, die goeie raad en die wyn waarmee ons die dag gekook het en in ons glase gehad het.

Dankie aan die tarentaal.

 * Volg my op Twitter @huiskok. Dankie dat jy ingeloer het. Lewer gerus kommentaar sodat ons verder oor kos kan gesels.

%d bloggers like this: