Archive | January, 2013

Eet lensie- orzo en goudbruin uie met geroosterde dennepitte langs die Jordaanrivier

30 Jan

Daar’s nie klarigheid by my wat presies dit is wat ‘n eenvoudige vermenging van lensies, rys en gekarameliseerde uie so ‘skep weer’ maak nie. Is dit die speserye? Die lensies se effense byt onder die tande saam met die sagtheid van die rys? Die soet van die kaneel en die gebraaide uie wat soos ‘n mahonie-koepel oor die gereg kom lê?

bak orzo lensies dennepitte en stadiggebraaide uie IMG_1954 Resized

Deel van die bekoring  is die misterie van die naam mejadra op die Westerse tong; vreemd genoeg ook bekend asof ek daarop grootgemaak is. Of dit met stadig-gekookte lamsblad of skenkels bedien word; met tamatiebredie of met Woolies se wegneem-spithoender; of net so op ‘n vleislose Maandagaand, dit ‘n Arabiese basaar na my voorstedelike tafel toe.

lamsblad opgeskep resize

Daar’s ‘n 1 001 maniere om die gemengde lensiegereg te maak en net soveel maniere om dit te spel: mejadra, mujaddara, mujadaraj, moujadara, mudardara en selfs megadarra.  Maar gelukkig bring al die variasies jou uit by dieselfde moedergereg wat van Jericho tot aan die Jordaanrivier die hongeres, armes en lekkerbekkiges gevoed het. Dis goedvoelkos waarvoor jy, as jy dit een keer geproe het, altyd ‘n kolletjie op jou tafel sal los.

aa orzo en lensies met dennepitte en gekarameliseerde uie RESIZE bestanddele IMG_1940

Anderdag toe ek vir die hoeveelste keer lamsblad in die oond bak onder ‘n kombers van tiemie en komyn kry ek lus om hierdie antieke gereg aanmekaar te slaan. Ek laat my ook nie afsit deur die feit dat die basmatirys waarmee dit tradisioneel gemaak word op is nie. Pastarys (orzo) is net so lekker, dan kan jy dit moutzendra noem soos die Cipriote. Die lensies sal ook in vrede leef met bulgur, stampkoring, ‘n mengsel van bruin- en wilderys of gort (pearl barley).

bakkie gekarameliseerde uie met saffraan IMG_1945 RESIZE

Maar die een ding waarsonder jy nie kan nie, is die soet, gekarameliseerde uie. Daarsonder is die lensies, wel, net lensies, die Arabiese klanke stil en die Midde-Ooste maar net weer die noordelike voorstede duskant Tygervallei.

LENSIE-, ORZO- EN GOUDBRUIN UIE MET GEROOSTERDE DENNEPITTE

Uit watter van my horde resepteboeke dit eens gekom het, weet ek nie. Die resep is ‘n skadu van sy ou self en en die Midde-Oosterlinge en Cipriote sal seker ‘n oorval kry, maar dit werk vir my. Sien dit as ‘n riglyn eerder as presiese aanwysings na die Jordaanrivier. Die hemele gaan ook nie intuimel as jy nie dennepitte het nie; span amandelvlokkies in en gaan skryf dennepitte op jou inkopielys vir volgende keer.  

2 bruin uie, in dun ringetjies gesny (probeer dit eweredig dun sny – ‘n mandolien werk goed)

olyfolie vir braai

1 koppie bruin lensies

¾ koppie orzo (pastarys)

1 rooi ui, fyngesnipper

7 saffraandrade of ½ teelepel borrie

1 t wonderpeper

1 ½ t kaneel

Opsioneel: ½ t elk komyn en koljander

Sout en peper

50 g dennepitte, gerooster

Vars marjolein of origanum

Metode

Maak die gekarameliseerde uie: Verhit 2 eetlepels olyfolie in ‘n pan en voeg die ringe bruin-uie by, verlaag die hitte en soteer sowat 30 minute tot sag en goudbruin terwyl jy nou en dan ‘n roer gee. Dit kan maar effe bruin word op plekke, maar nie te swart nie anders proe dit bitter. (Sien ook Moro se metode onderaan). Geur met sout en peper.

Plaas die lensies in ‘n medium kastrol met genoeg water om dit goed te bedek en kook sowat 15 minute tot amper sag (indien dit droog kook, gooi nog water by). Gooi orzo by en kook saam vir verdere 10 minute of tot net sag. Braai fyngesnipperde rooi uie in ‘n pan met olyfolie, voeg die kaneel, borrie (of saffraan) en wonderpeper by, braai nog ‘n paar minute en voeg  die lensie- en pastarysmengsel by. Braai 2 minute saam. Roer die geroosterde dennepitte deur, reserveer ‘n paar dennepitte vir garnering. Geur goed met sout en peper.

Skep in opdienbak, strooi vars gekapte origanum of marjolein oor en rond af met die gekarameliseerde uie en nog van die dennepitte. En as jy net pietersielie in die huis het, net so goed.

close up IMG_1964 resize

{Variasies}

*Vir ‘n ekstra Griekse geur, voeg feta by – in blokkies of opgebreek. Bedien dan met suurlemoenwiggies.

*Maak soos die Lebanese en bedien dit met ‘n bakkie jogurt, ongegeur of met gerasperde komkommer.

*Vervang die orzo met gaar basmatirys; dis tradisioneel om dan ‘n bietjie suiker by te voeg. Ottolenghi-volgelinge kan kyk hoe mejadra in Jerusalem, sy nuutste boek, met basmatirys gemaak word.

*Los die rooi uie uit en meng dan die helfte van die gekarameliseerde bruin uie deur die lensie- en rysmengsel en die ander helfte as garnering.

*Spaans: Vervang die kaneel met paprika. Skep individuele porsies en bedien met  gebakte eier bo-op, verkieslik met die eiergeel nog loperig.

*Gee dit ‘n Italiaanse geur  met vars basielkruid en rasper parmesaan of grana padano oor.

*Gee dit ‘n Indiese kinkel deur kerriepoeier saam met die uie te braai en die dennepitte met geroosterde amandels te vervang.

*Gee dit ‘n boerekos-kinkel met blokkies gaar pampoen, geur met vars tiemie en strooi geroosterde pampoenpitte oor. Lekker saam met die kaneel en die soet van die uie.

{Brosgebraaide uie soos Moro maak}

Sam en Sam Clark van Moro se metode om die uie bros te braai is ‘n treffer, maar gebruik heelwat olie en moet liefs in twee sarsies gedoen word om te verseker dat die uie bros en krakerig braai. Dis egter lekker afwisseling en gee die lensiegereg selfs meer woema.

Om 2 groot uie te karameliseer, verhit 300 ml sonneblomolie in ‘n groot braaipan of kastrol. Sodra goed warm, gooi die helfte van die fyngesnyde uie in die pan, en braai oor medium hitte tot mahoniebruin. Skep met gaatjieslepel uit, plaas op kombuispapier om te dreineer en herhaal die proses. Die orige olie kan herwin word, maar onthou dat dit nou sterk na uie smaak.

Pofomelet uit Prins Albert en Appelkoospoffertjies uit my onthouspens

25 Jan

Dennhof collage met pofomelet

{WONDERWOLK VAN ‘N OMELET}

Ek het tot ‘n paar dae gelede gedink ek kan ‘n omelet maak – ‘n redelike goeie een – tot ek met die moeder van alle omelette kennis gemaak het by ‘n gastehuis in die hartjie van die Karoo. Dit was tydens ‘n kosbesoek aan Prins Albert en ons by Dennehof Karoo Gastehuis oorgeslaap het.

Die vorige aand al het Mark en Paul, reisgenote, vertel dat ek nie moet uitmis op brekfis nie, want die omelet is glo legendaries. Toe die kelner trots die pofomelet voor my neersit het ek eers in oooo’s en aaaaa’s uitgebars voor ek aan die eet kon kom.  Dis nie ‘n omelet nie, eerder ‘n wonderwolk. ‘n Geelbruin jas wat uit sy nate uit bars van die wolk wat uit hom uitbeur.

Die Karoo-mense deel mos graag en sommer in die stap terug kar toe vertel Ria Steyn, eienaar-kok, hoe om die wonderwolk aan mekaar te slaan. Die eerste oggend terug by die huis moes ek dit net probeer: en het weer verstom gestaan vir die manjifiekheid van my vroegoggend-skepping. Maar dis spog met ‘n ander man se kalwers. Dankie Dennehof dat julle my omelet-horison verbreed het.

Dennehof se pofomelet, of te wel die Wonderwolk' soos ek dit gedoop het

Dennehof se pofomelet, of te wel die Wonderwolk’ soos ek dit gedoop het

DENNEHOF SE POFOMELET

Ek doop hierdie omelet ‘Dennehof se Wonderwolk’. 

Skei twee eiers, klits die eierwit goed styf, klits die eiergeel (ek gooi  1 eetlepel kraanwater by). Geur eiergeel met sout en peper. Smelt botter in die pan, gooi die geklitste eierwit in die pan en giet dan die geklitste eiergeel bo-oor. Net dit – jy roer nie, jy staan net in verwondering hoe die eiergeel sy lê kry onder die wolk van eierwit in. Bak dit tot goudbruin onder en die eierwit gestol maar nog wolkerig. Gooi jou omelet-vulsel oor die een helfte, vou oor en glip dit uit die pan tot op jou mooiste brekfis bordjie.

{POFFERTJIES UIT MY ONTHOUSPENS}

Die laaste ryp appelkose het my so uitdagend gelê en loer: “Maak iets lekkers met ons.”  Ek het die somer reeds ‘n Midde-Oosterse jogurt- en appelkooskoek gemaak, maar het nie veel bestanddele in die huis gehad vir fency goed nie.  Dis toe wat ek dink aan my ma wat altyd so woeps-waps vrugtepoffertjies aanmekaar kon slaan al was daar net ‘n appel of piesang in die die vrugtebak oor.

appelkose op hul eie

My ryp appelkose is in my ma se poffertjie-beslag gedoop en goudbruin gebraai – en omdat die hart van die poffertjies so soetsuur van die appelkose was, het ek nie net die kaneelsuiker nader getrek nie, maar ook esdoringstroop wat ek met ‘n paar druppels lemoenbloeiselwater gegeur het….. net om die surigheid te tem.

poffertjies mooi

 Appelkose hou ook van spesery soos kardomom en word baie gevlei deur amandelgeure. Marsepein en appelkose klink vir my na ‘n forever-after paartjie; nie iets wat my ma saam met haar vrugtepoffertjies sal bedien nie, maar sy het ‘n avontuurlike dogter grootgemaak.

 VRUGTEPOFFERTJIES

Die beslag kan gebruik word om stukkies vrugte in te doop. Bedien dit tradisioneel of maak ‘n eksotiese stropie.

120 g  (250 ml) koekmeel

5 ml bakpoeier

Knippie sout

25 ml suiker

1 eier, geklits

75 ml melk of bietjie meer

12,5 ml gesmelte botter

Vrugte van jou keuse: soos appel, appelkoos, perske, pynappel, piesang,

Metode:

Sny die vrugte van jou keuse in gerieflike stukke gesny. Sprinkel suurlemoensap oor vrugtestukke wat kan verkleur, soos appel en piesang) – ek het appelkose in kwarte gesny.

Sif droë bestanddele saam en maak met die eier, melk en botter tot ‘n glad beslag aan.

Voeg nog ‘n bietjie melk by as dit te styf is. Moenie te slap maak nie, anders sal die poffertjies nie fatsoen hou nie.

Verhit olie in kastrol. Gebruik ‘n vurk en doop voorbereide vrugtestukke in doopbeslag, dreineer effe. Braai in warm olie (170°C) tot goudbruin. Dreineer op kombuispapier.

Strooi kaneelsuiker of strooisuiker oor. Loperige heuning of esdoringstroop, gegeur met ‘n paar druppels lemoenwater is ook lekker, veral met ‘n surerige vrug.

Kontakdetails: Dennehof Karoo Gastehuis

Tel 023 5411 227

http://www.dennehof.co.za

Gordel stywer trek met tuna-koekies

10 Jan

Tamsin Snyman se tunakoekies  uit haar kookboek You Can With Fish is in gordel styftrek-dae op my radar met ‘n bak groenslaai vir ‘n ligte ete; of met roerbraaigroente en oondgebakte soetpataptjip vir ‘n groter aptyt.

Tuna cakes with tartare sauce

Vir die tapas-uur maak jy die viskoekies net kleiner en sit dit met tandestokkies en tartaarsous voor as ‘n doopsous. Ek het dit al met groot sukses voorgesit saam met ‘James Mitchell’s Gone Fishing’, artisan cider uit Grabouw se geweste.

Tamsin se Tunakoekies

Maak 8 groot koekies

3 aartappels, geskil en in blokke gesny

2 x 170 g Lucky Star Shredded Tuna, goed gedreineer

2 eiers, lig geklits

1 klein ui, fyngekap

30 ml fyngekapte pietersielie

Swartpeper

Canola-olie vir braai

Suurlemoenwiggies vir opdiening

Kook die aartappels tot sag, dreineer goed en maak fyn. Meng die tuna, eiers, uie en pietersielie; geur met peper. Vorm die mengsel in agt koekies. Verhit ‘n kleefvrye braaipan en gooi ‘n bietjie olie in. Braai die tunakoekies tot goudbruin aan albei kante.

Bedien met tartaarsous en suurlemoenwiggies.

Kyk uit in jou boekwinkel vir You Can With Fish geskryf deur Tamsin Snyman en uitgegee deur Lannice Snyman Publishing. Teen R80 is die kookboekie ‘n winskopie-duisend en gelaai met interessante, maklike resepte vir geblikte vis. Dis opgedeel in resepte wat jy in 10, 20 of  minute kan maak. Sy gebruik Lucky Star-produkte, ‘n ikoniese Suid-Afrikaanse handelsmerk wat ek ook gebruik.

%d bloggers like this: