Archive | March, 2014

Lensiesop met murgbene en ñora-soetrissies

28 Mar

Lensiesop-maak is een van my mees geliefde kombuis-seremonies. Ek begin die sopseisoen daarmee sodra die swaeltjies ons verlaat om hul somer elders te gaan soek.

Lensies uit Frankryk, noras uit Spanje en murgbene van my slagter om die hoek.

Lensies uit Frankryk, noras uit Spanje en murgbene van my slagter om die hoek.

Die groot soppot word agter uit die kas uitgehaal. Die vintage sopkom wat soos ‘n koolkop lyk kom druk in voor die slaaibakke waar dit sal bly tot die somer weer eendag begin flikkers gooi. Daar’s nie dag en datum vir my lensiesop ritueel nie. Ek begin dit net so aan my bas voel dat die dae te kort begin raak vir die son om by te hou. Dis dan wat ‘n kombers op ‘standby’ geplaas word aan die voetenent van die bed, en teen slapenstyd liefderyk gestaar word na die flennie-pajamas.

Die groen sopskottel word agter uit die kas gehaal en die bestanddele vergader.

Die groen sopskottel word agter uit die kas gehaal en die bestanddele vergader.

 

Die sopmaak-dag kom vanjaar besonder vroeg, asof die winter kort van draad-ongeduldig is; nie sy beurt wil afwag nie. Ek gee in en sit sopbene op die inkopielys. In my geure-kas wag ‘n middernagblou boksie van my kosvriend Johan wat al vir laaswinter bedoel was. Binne in lê klein songedroogte ñora soetrissies, blinkvet en donkerrooi soos gloeilampies. Al die pad van Spanje af met die belofte om ‘n diep, donker, behaaglikheid met ‘n sweempie van rokerigheid aan my soppe of stowegeregte te gee. Pimiento choricero kan ook gebruik word.

Die gedroogte klein smaaklanterns - nora soetrissies - van Spanje is soos 'n vriendelike soen op die wang - en glad nie branderig nie.

Die gedroogte klein smaaklanterns – nora soetrissies – van Spanje is soos ‘n vriendelike soen op die wang – en glad nie branderig nie.

Die groen lensies is ook spesiaal, al die pad van Frankryk af. Op die Sabarot-boksie is daar ‘n vinnige kosgeskiedenis-les: lensies het hul oorsprong in die Neolitiese periode, waarna dit ook deur die Egiptenare, Grieke en Romeine  geniet is. ‘n Vinnige voedingsles: ‘n 80 g porsies bevat 19.2 g proteiene (22.6% van my daaglikse behoefte), 40g koolhidrate, geen sout, heelwat vesel en 40g koolhidrate. ‘n Vinnige kookles beveel aan dat dit vir 15 – 20 minute oor medium hitte gekook word – 1 volume lensies vir 3 volumes water. (In ‘n drukput is die verhouding 1 : 1.5 en kook dit in 7 minute gaar!)

Daar’s ryp tamaties op die vensterbank, vet knoffelhuisies en uie in die groenterak. Twee stukke beesstowevleis en bonkige murgbene word saam met geelwortels en ‘n handvol pietersielie uit die yskas gehaal. Uit die speseryrak sluit ‘n paar naeltjies, wonderpeper en borrie by die kosbare ñora-rissies aan. Sout en peper is standaard. Die lensies vra ‘n paar takkies tiemie en lourierblaar. Sal ek die Spaanse sjerrieasyn of die  30-jaar verouderde Dennehof-asyn uit Prins Albert gebruik vir die laaste laag geur? Vir die goeie orde gee ek ‘n resep, alhoewel dis eintlik ‘n oerproses wat instinktief vir elkeen kom.

aa sop 1ste keuse IMG_3117 Small

 

Lensiesop met murgbene en ñora-rissies

Hierdie is my klein lensiesop-ritueel, jy sal wel jou eie vind. Kyk uit vir die gedroogte nora-soetrissie a by goeie deli’s of vervang dit met rooi soetrissie wat oor ‘n vlam swartgebrand is en dan gesweet word in ‘n plastieksak tot die velletjie maklik afgevryf kan word.

500 ml lensies

3 takkies tiemies

1 lourierblaar

300g stowevleis, in blokkies gekap (ek gebruik chuck)

6 stukke murgbene

2 uie, grofgekap

5 ml borrie

4 naeltjies + 4 wonderpeperkorrels (opsioneel)

4 geelwortels, gekrap en opgesny

4 knoffelhuisies, skilletjies verwyder en grofgekap

3 ryp tamaties, gekap

15 ml tamatiepasta

4 – 6 nora rissies (of vervang met 1 rooi soetrissie oor ‘n vlam swartgebrand, in plastieksak gesweet en skilletjies afgevryf, pitte verwyder)

2 koppies kookwater of meer

3 koppies beesvleisaftreksel

Sout en peper

10 ml goeie druiweasyn (nie balsamiese asyn nie)

Pietersielie, gewas en gekap

Metode:

Kook die lensies met die tiemietakkies en lourierblaar in 1.5 l water in aparte kastrolletjie vir 20 minute (hou net nou en dan dop dat dit nie droog kook nie). Dreineer en haal tiemietakkies uit.

Gooi bietjie olie in die sopkastrol en braai die vleis en die sopbene goudbruin, sowat 8 minute. Roer die uie, wortels, knoffel, borrie, naeltjies en wonderpeper by en kook sowat 8 minute tot  alles  mooi bruin en blinkerig in die pot is. Roer die tamaties, die tamatiepasta en die Spaanse gedroogte soetrissies by en kook nog ‘n paar minute. As jy bang is dit brand aan gooi ‘n bietjie water by.

Gooi nou die lensies, aftreksel, kookwater en asyn by. Verlaag die hitte en prut tot die vleis sag is (sowat 60-80 minute).  As die sop te dik is, verdun met nog aftreksel of kookwater. Roer die pietersielie by. Geur goed met sout en peper. Voeg ‘n paar druppels asyn by om die smaak op te vars en roer deur.

Bediening: Plaas ‘n murgbeen in elke sopkom en skep sop oor. Strooi nog fyngekapte pietersielie oor en bedien vuurwarm.  

Toortisserie en plomp tjips – oondhoender vat die langpad

21 Mar

Dis tyd vir ‘n oondhoender-makeover

My langafstand hoendertjie met sy aartappel drafmaats. Ian het die foto geneem. Die ou bruin Lieberman bak het my ma in die sewentigs as geskenk gekry. Sy het dit min gebruik en was liewer vir Pyrex. Ek het weer gedink die bruin erdeware was die mooiste denkbaar.

My langafstand hoendertjie met sy aartappel drafmaats. Ian het die foto geneem. Die ou bruin Lieberman bak het my ma in die sewentigs as geskenk gekry. Sy het dit min gebruik en was liewer vir Pyrex. Ek het weer gedink die bruin erdeware was die mooiste denkbaar.

Dieselfde ou haarstyl, dieselfde tint lipstiffie, dieselfde blosser, jaar in en jaar uit. Jy kan dit toe oë doen. Net soos met die voorkoms-groef wat jou laat vashaak in die 80’s of 90’s – of wanneer ook al jý jonk was, kan dit met die hoender in jou pot gebeur. Die  selle ou storie. Oor en oor  dieselle ou roast chicken– die manier van gaarmaak wat jy maar altyd doen.

Ek loop in Bon Appetit ‘n resep raak vir  hoender wat drie ure in die oond deurbring.  Wanneer ek  hoender in die oond rooster gaan ek gewoonlik hoog en ek gaan vinnig : 200°C, 50 minute, Bob’s your uncle. Noem dit maar die 100 m hoender-sprint.  Nee, hierdie nuwe resep vat dit lank en laag – soos ‘n lang-afstand atleet.  Net hier in die laaste pylvak piets jy hom met die roosterelement.

Met bonkige wiggies aartappels as drafmaats pak hierdie hoendertjie ook nie die pad alleen aan nie. Hulle kom saam bros, goud ge-‘tan’ en deurtrek van smaak anderkant uit.  Net nou en dan vra hulle ‘n watergat pitstop, ‘n omdraai sodat hulle bietjie sous kan kry. Kom ons noem dit Toortisserie hoender, ‘n kamma-weergawe van die Woolies- rotisserie hoender,  sonder ‘n draaispit.

Toortisserie hoender met plomp tjips 

1 hoender

15 ml vinkelsade (fennel)

1 E gekapte tiemieblare + 2 takkies

1 E vars marjolein, gekap + 2 takkies

5 ml sout

½ t peper

3 E olyfolie

1 kleinerige suurlemoen, in kwarte

1 heel knoffelbol, middeldeur gesny

6 aartappels, geskrop en in kwarte gesny

Metode:

Voorverhit oond tot 150°C.

Maak vinkelsade fyn in stamper en vysel. Gooi kruie, sout en peper en 2 E van die olie by, stamp fynerig om ‘n smeer te vorm. Sit hoender in die oondpan en smeer goed in met die mengsel.  Sout en peper die holte van die hoender deeglik, druk die suurlemoen en knoffel in die holte; steek die marjolein- en tiemietakkies ook in die holte.  Bind die pootjies mooi kuis met kombuistou toe.  Rangskik aartappelwiggies om die hoender in die oondbak, sprinkel olyfolie oor die aartappels en geur goed met sout en peper.  Wikkel bietjie deurmekaar.

Bak 3 ure in die oond. Draai elke 40 minute of so die hoender en die tjips om sodat dit met die pansouse gegeur word. Om ‘n lekker kleurtjie aan die hoender te gee en die aartappels goed bros te kry, plaas sowat 10 minuut onder die gloeiende roosterelement.

Ek sit dit voor met blomkool en witsous, asook groenbone, tamatiesmoor en ‘n mozzarella-kombers wat ek in my platboom-swartpot saam in die oond sit.  Maar as jy net mengelslaai wil voorsit – ook reg.

Oorpeinsing: Ek doen hierdie inskrywing vandag op Menseregte Dag.  Dit laat my dink aan  ‘n saghartige Franse koning wat ‘n visie gehad het van ‘n hoender in elke pot – dat daar in elke Franse huishouding, tot die armstes ‘n hoender in die pot sal wees. Terwyl ek oor hierdie hoender skryf, dink ek aan huise in ons eie land waar ‘n hoender in die pot selde, indien ooit, op die tafel verskyn. Laat ons saam ons deel doen om iemand in nood ‘n hoender te gee, vir wie dit ‘n koshoogtepunt van die jaar sal wees.

Resepbron: Bon Appetit, Maart 2014

Meringuekoek met gedroogte vye, neute en gemmerstukkies (met sjokolade ook as jy wil)

14 Mar

Vandag is een van daai dae wat ek die soet terapie van my kombuis en koekpanne opsoek. Sommer in die middel van die werkdag.

Roxane pout haar pad deur die soet meringuekoek

Roxane pout haar pad deur die soet meringuekoek

Ek trek ‘n vertroude, maklike resep vir meringuekoek nader.  Saam met die gekonsentreerde soet van die blinkbruin gedroogte Smyrna vye en die knars-stroperigheid van die ingelegde gemmer breek ek ‘n hele plak donkersjokolade by die meringuemengsel ook nog in. Nog soeter gaan mos nog beter wees, dink ek.

Die koek was nog nie koud nie, toe sny ons hom. My kollega Roxy staan nader en vat ‘n groot hap. Sy pout haar lippe en eet ewe dapper voort aan die suikerbom. Sy glimlag, praat nie eintlik nie. Die bordjie kom leeg terug. My man Ian sny  ‘n allermintige stuk af wat in warm brokke sjokolade, stroop, neute, gemmerstukke, meringueflardes op die koekbord neerplatz.  Hy kou en ek vra wat hy dink. ‘Sjoe, oorweldigend.’

Meringuekoek om voor te swig

Meringuekoek om voor te swig

Ek stem saam. Om wat reeds lekker genoeg is, nog lekkerder te wil maak, laat ons dikwels die pad byster raak. Ek gee die resep dus soos hy MOET wees, en nie soos ek dit opgefoeter het nie. Maar as jy ook in soet waansin WIL wegsak, vou gerus die 100 g grofgekapte donkersjokolade blokkies by die meringue in. Dis soet troos op ‘n oorweldigende weeksdag.

Soet goed word ingevou by 'n wolk van soet meringue.

Soet goed word ingevou by ‘n wolk van soet meringue.

GEMMER, NEUTE EN DROË-VY-MERINGUEKOEK

110 g heel, gepelde amandels of pekanneute of okkerneute, vir 10 minute gerooster by 190C  en dan grofgekap

4 eierwitte, kamertemperatuur

225 g strooisuiker

150 g droë vye, grofgekap

70 g ingelegde gemmer stukke in stroop, grofgekap

(100g donker sjokolade in groot stukke gekap – as jy so voel – maar wees gewaarsku, dis oorweldigend dekadent en net vir geswore suikerbekke)

Voorverhit oond tot 170C. Maak meringue: klits eierwitte tot stywe punte vorm. Roer die strooisuiker geleidelik by en klits na elke byvoeging goed. Vou die neute,  vye en gemmerstukkies by en skep mengsel in ‘n gesmeerde 20 cm losboom-koekpan. Bak 35 minute. Sny los van die kante met ‘n mes en laat afkoel. Bedien  met vanielje- of sjokoladeroomys.  Lekker saam met sterk koffie (verkieslik bitter na dese).

Resepbron: Annie Bell se Baking Bible.

%d bloggers like this: