Rooibostee vry na Nic se kos

11 Jun
Sjef Nic van Wyk - vinger in die lig met rooibostee. Foto Verskaf.

Sjef Nic van Wyk – vinger in die lig met rooibostee. Foto Verskaf.

Vanoggend is daar in die RSG-ateljee behoorlik gebak en (tee) gebrou! Sjef Nic van Wyk het kom kuier en spesiale geregte saamgebring wat voetjie-voetjie speel met rooibostee. As ek dink aan smake en geure wat vir my na aan die hart is, staan rooibos voor in die tou. Rooibos laat my dink aan my ma se kombuis, en tog is rooibos ook baie byderwets. Nic vertel juis dat tee, en veral verskillende geure en vermengings tee nou hoogmode is.

Nie dat ek of hy ons vreeslik aan modefoefies steur nie, maar as daar nou een trend is wat ons ondersteun is die belangstelling in unieke Suid-Afrikaanse produkte. Rooibostee is immers een van ons groot ikone. Nic is ook Kokkedoor-beoordelaar en ‘n kinkelkok in hart en siel – hy vat dinge uit die verlede die toekoms in, sonder om vreemd en te eksoties te gaan. Opwindend? Altyd.

Nic se kuiertjie saam met ons in die RSG ateljee

Nic se kuiertjie saam met ons in die RSG ateljee

Wat ek geleer het uit die tydjie saam met Nic is dat tee inderwaarheid ‘n baie goeie pasmaat is vir kos,  en nou praat ek nie net van tee en skons nie. Rooibostee veral is ‘n baie goeie palet-verfrisser en bou ook ‘n brug tussen ander smake. En vir ‘n lekker huispartytjie is so iets natuurlik ook baie gepas sodat jou gaste nugter huis toe kan bestuur. Ek sal beslis so onthaal en net ‘n spesiale wyn met een van die gange bedien – die res word met tee voorgesit – elkeen in ‘n verskillende klein proekoppie.

Kyk net na hierdie indrukwekkende spyskaart.  En as jou lus uithang vir die bergamot crème de pots met die sitrus-koekiekrummels gee ek die resep ook. Dan maak jy dit, skink vir jou gaste Carmien se Earl Grey rooibostee en drink die komplimente in.

Sjef Nic van Wyk se Tee en kos-pasmaat-spyskaart

Met Carmién Rooibostee

 

Makadamia-neut platbrood en spesery-heuningbotter

Vanilla Rooibos

*

Bronkorssop met posjeerde kwarteleier

Rooibos, sitroengras en gemmer

*

Gestoomde vis met vinkel compote en anyssaad room

Rooibos  en Chai speserye

*

Merguez lamfrikkadelle met pampoenmoes en tamatiesous

Rooibos en boegoe

*

Bergamot pots de creme met sitrusbeskuitjies

Earl Grey Rooibos

Nic se bergamot roompotjies met sitruskoekiekrummels (foto verskaf)

Nic se bergamot roompotjies met sitruskoekiekrummels (foto verskaf)

NIC SE BERGAMOT CRÈME DE POTS MET SITRUS-KOEKIEKRUMMELS

Bestanddele

Pot de creme

1 liter room

12 Eiergele

100 g Strooisuiker

80g Wit Sjokolade

5 Druppels Bergamot essence of die skil van een groot lemoen, een suurlemoen en een pomelo

 Sitruskoekie

300 g koekmeel

100 g suiker

200 g botter

Skil van 1 lemoen

Metode

Roompotjies:

Meng die eiergele en strooisuiker in ‘n mengbak.  Verhit die room, voeg die sjokolade by tot dit smelt. Voeg dan die room mengsel bietjie vir bietjie by die strooisuiker –mengsel  terwyl jy aanhou klits met die hand. Sodra alles saam gemeng is, gooi die bergamot of die vrugte skil by.  Skep in in klein koppies, plaas in ‘n waterbad en bak in die oond op 140ºC  vir 40 tot 50 minute. Laat afkoel.

Sitruskoekie-krummel:

Meng die bestanddele  in ‘n mengbak en laat rus in die yskas vir ‘n halfuur. Rol dan uit in ‘n dun laag, sowat 3 mm en en bak in die oond op 180º C vir 10 minute tot bros en strooibruin. Laat afkoel en breek in krummels op. Strooi bo-oor elke potjie en bedien.

*Volg my op Twitter @ huiskok en vir Nic @NicvWyk

 

 

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.