Archive | November, 2014

Dutch baby – ‘n pronkerige pofpannekoek vir somerweer

25 Nov
Dutch baby met die pofkraag en 'n nes vir somerbessies. Foto: Ian du Toit.

Dutch baby met die pofkraag en ‘n nes vir somerbessies. Foto: Ian du Toit.

Die pannekoek waaraan ek jou nou gaan bekendstel is nie een vir winter of gure weer nie. Dis ‘n pofpannekoek met ‘n somerrok aan.

Ontmoet die Dutch baby. Maar moenie dat die naam jou mislei nie – dis nie Hollands nie en dis ook nie ‘n baba nie. Hierdie spoggerige ontbytgereg is eerder die  liefdeskind van ‘n adelike pof-omelet en ‘n vryerige werkersklas-pannekoek. Die oondgebakte pannekoek is so groot soos ‘n ‘hub cap’ wat met ‘n swierige rolkraag uit die oond kom en dan platval in die middel. Hierdie krater, omring met die bros, bruingebakte kraag, bied lêplek vir vars bessies, suurlemoensap en ‘n sifsel versiersuiker – die tradisionele manier om dit te eet.

Dutch babies het nie ‘n Hollandse oorsprong nie, maar wel Germaans. Dit was Duitse immigrante na Amerika wat hulle in plekke soos Pennsylvania gevestig het en dit gewild gemaak het. So het die verdraaiing van Deutsch na Dutch gebeur. In Amerikaanse stede soos Portland en Seattle het die Dutch baby ‘n instelling geword waar dit met gekarameliseerde appels bedien word.

Met hierdie gereg sit ek my huidige obsessie met pofgeregte voort. Al wat jy nodig het om kuiermense hierdie vakansie te laat ooh en aah is ‘n goedgeklitse dun beslag van melk, meel en eiers, sissende botter, ‘n gietyster- of oondvaste swaarboompan …. en ‘n baie warm oond. Die resultaat is die bymekaarkom van wetenskap en verwondering. Die vloeistof in die dun beslag word omskep in stoom, wat dit laat uitrys.

Dis ‘n dramatiese omskakeling, want een deel vloeistof word omskep in 1 600 dele stoom!  Soos die stoom gevorm word strek die eier-proteïene soos ‘n lugballon. Die dele teen die kant vorm ‘n pofkraag, terwyl die middel insak om ‘n heerlike vlaerige bodem te vorm. aa IMG_0772 Dutch baby DUTCH BABY PANNEKOEK

Die ideale gereg om vir ontbyt of nagereg aan mekaar te slaan. Ekonomies en beeldskoon.  Ek bedien dit met aarbeie, crème fraiche of suurroom, versiersuiker en suurlemoensap. ‘n Sprinkel varsgekraakte witpeper doen ook wondere.

Bedien 4

125 ml koekmeel

125 ml melk

3 groot eiers, liggies geklits

Knippie elk sout en neutmuskaat

60 ml botter

Vir opdiening: versiersuiker, opgesnyde aarbeie of ander bessies, suurlemoenwiggies, Griekse jogurt of crème fraiche of suurroom.

Voorverhit oond tot 220°C. Plaas ‘n oondvaste swaarboom of gietyster-pan van 24 cm op ‘n laer rak in die oond vir sowat 8 minute om baie warm te word.

In ‘n medium-grootte mengbak klits die meel, melk, eiers, neutmuskaat en sout saam tot net gemeng OF blits die bestanddele vinnig in ‘n versapper of voedselverwerker saam tot skuimerig (moenie oormeng nie).

Smelt die botter versigtig in die warm pan, kantel om die bodem goed te bedek en giet die beslag in. Bak in die oond tot die opgepofte kante lekker goed bruin is en die middel goudbruin (18 – 25 minute). Moet glad nie die oond oopmaak gedurende die baktyd nie. Haal uit die oond, druk bietjie suurlemoensap oor, skep die bessies in en sif versiersuiker oor. Sny in wiggies.

  • Errieda du Toit is die inhoudsvervaardiger van Kokkedoor en Koekedoor, en bied Woensdagoggende om 9h30 as RSG Huiskok die rubriek ‘Die kos wat ons ken’ aan.

Hertzoggies en ander politieke koekies

19 Nov

 Ons koskultuur is so ryk en vol wonderlike stories. Een van my gunstelinge is die verhaal van ons land se eie politieke koekies.

HERTZOGGIES

Hertzog-koekies (hertzoggies) is vernoem na J.B.M Hertzog, Eerste Minister van die destydse Unie van Suid-Afrika. Sy ondersteuners het gebakte tertdoppies gevul met ’n appelkooskonfyt-tussenlaag en klappermeringue bolaag.

Jan Smuts-koekies (of Smutsies) is ‘n variasie wat deur Jan Smuts se aanhangers gebak is. Dit het ’n konfyt-tussenlaag en deegbolaag.

Tweegevreetjies maak stem dik oor verbreekte beloftes in die parlement. Maleier-vroue wat nie stemreg gekry het soos hulle belowe is nie,  het Hertzog teruggekry deur dieselfde konfyttertjies in proteskoekies te omskep met ‘n duidelike boodskap: die een helfte van die holte is met konfyt gevul en die ander helfte met die klapper-meringue. Die protes is afgerond deur die een kant met bleekpienk versiersuiker te bedek en die ander kant met bruin versiersuiker.

Wenke: Gebruik ‘n patty pan of kolwyntjiepannetjie – nie ‘n muffinpannetjie nie.

RESEP: Hertzogkoekies

(Bron Kokkedoor Kookboek)

Lewer 12 hertzoggies

Selfs die mees geharde tradisionaliste sal stem vir hierdie hertzoggie.

Kors

120 g botter

37,5 ml (2½ e) strooisuiker

3 eiergele

500 ml (2 k) koekmeel

10 ml (2 t) bakpoeier

5 ml (1 t) sout

5 ml (1 t) vanieljegeursel

25 ml (5 t) water of melk

 

Bolaag

3 eierwitte

25 ml (5 t) kookwater

250 ml (1 k) strooisuiker

500 ml (2 k) klapper

5 ml (1 t) bakpoeier

fyn appelkooskonfyt, yskoud

Kors

  • Klits die botter en suiker saam tot romerig, voeg die eiergele by en klits goed.
  • Voeg die res van die bolaagbestanddele by en meng tot ’n deeg. Laat die deeg 30 minute lank rus.
  • Rol die deeg tot ’n dikte van 2–3 mm op ’n meelbestrooide oppervlak uit. Druk deegsirkel uit om in kolwyntjiepanne te pas en plaas dit in die holtes van die kolwyntjiepanne.

Bolaag

  • Voorverhit die oond tot 180 °C.
  • Klits die eierwitte en kookwater saam tot sagte punte vorm en klits die suiker bietjie vir bietjie by. Klits tot stywe punte vorm. Voeg die klapper en bakpoeier by en klits net tot gemeng.
  • Skep lepeltjies appelkooskonfyt in die deegdoppies en skep die eierwitmengsel bo-op.
  • Bak 15 minute lank tot gaar en goudbruin.

Foto: Spar.co.za

Blaasoppies, pop-overs, holbolletjies, poffers – hoera vir die krag van stoom

12 Nov

Die wonder van stoom! Die holbolletjies waaroor ek hier skryf  verdien ‘n naam wat beskryf hoe lig en uitgepof dit is. imageDaarom doop ek dit plegtig blaasoppies. Dink daaraan as die arm man se choux-poffertjies. Die bolletjies wind word gemaak met dun pannekoekbeslag en het sy ontstaan in spaarsamigheid eerder as in fantasie waaraan dit mens laat dink. Destyds is die beslag by die vleisdrupsels ingegooi en s0doende is die maaltyd gerek … en Yorkshire-pudding is gebore. Die blaasoppies se holte binne  smeek om met ietsie heerlik vir ontbyt of versnapering geniet te word. Eet dit ook soos Yorkshire pudding met vleis en sous of rol dit in kaneelsuiker vir ietsie soets. Drup moskonfyt of goue stroop oor, of skep ‘n bietjie suurvykonfyt in die holte.

My blaasoppies dompel ek sommer in speserysuiker.

My blaasoppies dompel ek sommer in speserysuiker.

Holbolletjies is ook baie gewild in Holland en staan daar bekend as  ‘poffertjes’. Dit word oral by straatmarkies en feeste geniet. ‘n Spesiale pan word gebruik hiervoor, en dit word op die stoof gaargemaak, teenoor blaasoppies, of te wel pop-overs wat in die oond gebak word.  

Blaasoppies is heerlik met konfyt, soos suurvytjiekonfyt.

Blaasoppies is heerlik met konfyt, soos suurvytjiekonfyt.

BLAASOPPIES Gebruik ‘n muffinpan of selfs ou teekoppies (solank dit vuurvas is!) Maak 8 1 koppie melk 2 Groot eiers 3 E botter, gesmelt en verdeel 1 koppie koekmeel Knippie sout Metode Klits die meel, eiers en 1 E gesmelte botter goed en voeg dan die meel en sout by; klits tot skuimerig. Verhit jou oond tot 230C. Terwyl die oond warm word kry die beslag kans om te rus en vir die meel om die vloeistof goed te absorbeer). Plaas ‘n muffinpannetjie in die warm oond vir 2-3 minute, smeer 8 holtes baie goed met die al die oorblywende gesmelte botter. (Werk vinnig). Klits die beslag een keer weer tot skuimerig en skep die gebotterde muffinholtes halfvol met die beslag. Enige muffinholtes wat leeg bly kan halfpad met water gevul word om die pan te beskerm teen die baie warm oond. Plaas pan in die oond en bak 15 minute. Moenie die oonddeur oopmaak nie. Verminder oondhitte na 180C en bak verdere 15 min. Kyk nou of die poffertjies gaar is: Dit moet goudbruin en droog wees, en hol klink. Prik elke poffertjie om die stoom uit te laat en plaas op afkoelrak en koel net effe Af sodat jy Dit met die hand kan vat. Eet onmiddellik. Wenk: die blaasoppies is heeltemal hol binne en kan met konfyt, stroop of met kaas geéet word. Variasie: bestryk die bolletjies met gesmelte botter en rol in kaneelsuiker. Hierdie speserysuiker is ook baie lekker en kan ook saam met gewone panne koekies, plaatkoekies of wafels geniet word. SPESERY-SUIKER 625 ml sagte bruinsuiker 50 ml van der Hum likeur 10 ml kaneel 2 ml neutmuskaat 1 ml gemengde speserye 25 ml gerasperde lemoenskil 25 ml sjokolade vermicelli Meng 125 ml suiker met die likeur en speserye, voeg res van suiker, skil en vermicilli by en roer goed deur. Bêre in lugdigte houer.

Dimpelbrood

4 Nov

Brood bly  ‘n wonderwerk –  gebou op graan, gis, water en tyd.

Of dit nou die plaasbrode en soetsuurdeegbrode uit ons eie koskultuur is, of brode soos baguette, focaccia of ciabatta waarvoor ons lief geraak het, is daar ‘n geestesband met brood wat dieper gaan as net om ons honger te stil.

foccacia blokkie uit

Vars gebakte brood bly steeds sekerlik een van die maklikste, en mees ekonomiese maniere om ‘n aardse genoegdoening aan die dag te gee. Dis jammer dat die idee van deeg knie mense afskrik van hul eie brood bak. Daarom hierdie heerlike broodresep vir dimpelbrood wat nie geknie word nie.

Dimpelbrood is natuurlik nie die amptelike naam vir foccaccia, die platbrood met sy kenmerkende holtetjies nie.  Die dimpels wat met die vingerpunte in die deeg gedruk word, lok my uit om dit te vul met geurmiddels, van groen olywe tot okkerneute. Terloops, focaccia se naam is afgelei van die Latynse word ‘focus’ – wat verwys na die vuurhert.  Die dimpels is ook nie net vir die mooi nie; bakkers gebruik hul vingerpunte om die rysborrels wat tydens die gisting ontstaan te laat ontsnap. Die lekkerte van focaccia of te wel dimpelbrood is dat dit olyfolie so goed absorbeer.

 

foccacia vol

 

DIMPELBROOD

Ek het ‘n lekker broodresep gesoek vir die Sondagbraai en toe op hierdie platbrood uit Sense of Taste van sjef Peter Ayub besluit. Soos altyd kon ek nie die versoeking weerstaan om die dimpels te vul met ‘n pikante geurmiddel nie, in hierdie geval ‘n tuisgemaakte spesery- en kruiemengsel.  Dis nie ‘n brood wat te veel ander bestanddele op die bo-laag nodig het nie; tradisioneel nie meer as 1 krui en 1 ander bestanddeel nie.  Ek het wel vir die lekkerte parmesan oorgerasper ‘n paar minute voor dit uit die oond uit kom, en dit voorgesit met vars basielkruid.

Bestanddele

375 g koekmeel

2.5 ml fyn sout

500 ml warm water

10 g ( ½ koevertjie) kitsgis

½ t (2.5 ml) strooisuiker

350 g witbroodmeel

2 T (30 ml) ekstra suiwer olyfolie

30 ml gemengde *speserye soos braaispeserye, dhukka of za’atar

roosmaryn-blaartjies

1 ½ t (7,5 ml) Maldon sout

Metode

Sif die koekmeel en sout in mengbak en voeg warm water, gis en suiker by. Meng tot ‘n slap spons en laat 30 minute rus.

Voeg die broodmeel by en werk deur tot ‘n gladde, sagte deeg vorm. Plaas die deeg in ‘n geoliede bak en bestryk met van die olyfolie. Laat rys vir 1 uur of tot dit verdubbel in volume.

Knie die deeg af. Bestrooi ‘n diep, reghoekige pan met ‘n speserymengsel soos dukkah of selfs braaispeserye. Druk die deeg met jou kneukels in die pan en maak dimpels met jou vingerpunte.  (Ek smeer ook hier ‘n bietjie olyfolie olie oor om te keer dat die deeg uitdroog). Strooi braaispeserye in die dimpels en plaas twee roosmarynblaartjies in elke dimpel.

Laat weer rys tot dubbel die volume, sowat ‘n uur. Hou jou oog op die deeg, want dit kan gouer reg wees.

Bak in ‘n voorverhitte oond teen 200°C vir 15-20 minute tot goudbruin. Haal uit die oond, laat effe afkoel, sprinkel olyfolie oor die brood en strooi growwe sout oor.

Sjef wenk: Vars kruie soos roosmaryn kan ook by die meel ingemeng word, maar moenie ‘n swaar hand gebruik nie – die kruie moenie oorheers nie.

foccacia 3

Maak jou eie spesery- dimpel en doopmengsels

Maak jou eie mengsels om in die dimpels en onder in die pan te gooi, en selfs ook om die brood in te druk saam met olyfolie:

Midde-Oosterde kruie-mengsel (ook genoem za’atar)

20 ml sesamsaad

60 ml fyngekapte vars oreganum

20 ml gedroogte marjolein

20 ml fyn sumac (of vervang met 10 ml paprika en skil van 1 suurlemoen)

5 ml sout

5 ml peper

20 ml fyn komyn

Rooster die sesamsaad in ‘n droë pan vir 1-2 minute. Plaas al die bestanddele in ‘n versapper of voedselverwerker tot fyn. Plaas in die yskas vir tot ‘n week.

Dukkah-doopspesery

60 ml haselneute

30 ml sesamsaad

15 ml koljandersaad

15 ml komynsaad

15 ml vinkelsade

10 ml fyn rissievlokkies

10 ml droë kruisement

5 – 10 ml sout

Droogrooster die haselneute in ‘n dikboompan tot jy die neuterigheid kan ruik. Vryf die skilletjies af en stamp die neute fyn in ‘n stamper en vysel. Droogrooster die sesamsaad, koljander, komyn, vinkelsaad en rissievlokkies tot die geure vrygestel word en voeg by die haselneute. Maak liggies fyn in stamper en vysel tot goed gemeng. Hou een deel growwer en ‘n ander deel baie fyn.

 Ander smaak-kombinasies vir bo-laag (onthou die tradisionele riglyn van  1 krui + 1 bestanddeel as bo-laag)

  •  Druiwe, vars roosmaryn en dennepitte
  • Kersietamaties en vars basielkruid
  • Groen olywe en tiemie
  • Sondroog tamaties, parmesaan en pesto
  • Oondgeroosterde knoffel en pietersielie
  • Okkerneut, bloukaas of  peer
  • Salie en spek

Erkenning: Die resep vir die brooddeeg is aangepas uit die nuwe kookboek Sense of Taste van Peter Ayub wat pas op die rak verskyn het. Dit word deur Human & Rousseau uitgegee en is propvol idees wat Peter in sy 22 jaar as hoofsjef en spysenier vir die sterre opgedoen het. Ek sien uit daarna om sy resepte as inspirasie in te span.

 

%d bloggers like this: