Archive | April, 2015

Rogbrood hoenderschnitzel met mosterdroom en selfs springmielie-schnitzel

29 Apr

Of jy sê schnitzel soos die Oostenrykers of shenitsel soos in Iran, tankatsu soos die Japannese, cotoletta alla Milanese soos die Italianers, Milanesa soos die Meksikane, die hoenderkarmenaadjie van Louis Leipoldt of selfs die dubbelsinnige chicken fried steak van Texas, die vleisgeregte uit alle windrigtings het baie in gemeen: ‘n krummellaag, geen bene en plat gemoker.

Rogbrood hoenderschnitzel met mosterd room - die krummel donker gebraai soos ek daarvan hou.

Rogbrood hoenderschnitzel met mosterd room – die krummel donker gebraai soos ek daarvan hou.

Vandag dink ons aan wiener schnitzel as retro-kos wat sy piek bereik het in die sestigs en sewentigerjare. Dis eers as jy die spore terug begin loop dat jy besef hoe ver terug in die geskiedenis die plat vleisie sy voorouers kan gaan soek. Sonder drama en romantiek is dit nie, en daar is ook nie net een weergawe van die stamboom nie. Daar is aanduidings dat die Romeine reeds 3000 jaar gelede dun skywe vleis in krummels gedoop en in olie gebraai het. Maar dis die oerouers wat al besef het dat ‘n stuk taai vleis met ‘n goeie opdons, sagter geslaan kan word.

Moker die vleis liefies met 'n rolstok en maak jou eie krummels.

Moker die vleis liefies met ‘n rolstok en maak jou eie krummels.

Die schnitzel se storie bevat ook eksotiese elemente van Konstantinopel, waar die superrykes glo die vleis met stukkies goud bedek het, ‘n gebruik wat glo na die Venesiers oorgetrek en toe na Noord-Italië waar dit as Cotoletta alla Milanese tot wêreldroem verhef is. Dis ook hier wat ‘n Oostenrykse generaal daarop verlief geraak het en dit bekendgestel het aan die Oostenrykers. Die term Wiener Schnitzel het in die 1860’s gevestig geraak.

Sederdien waak die Oostenrykers oor hul wiener schnitzel soos die goud wat krummel se voorganger was. Daar is selfs wetgewing wat bepaal dat dit slegs slegs so genoem mag word as dit van kalfsvleis gemaak word.

So puristies is ek nou nie – die een oomblik schnitzel ek, en die ander keer noem ek die plat skywe vleis in sy onesie van krummels scallopini, ‘n ander Italiaanse gereg.

‘n Resep van Diana Henry, op wie ek ‘n ware bakvissie kos-crush het, uit haar nuwe boek ‘A bird in the hand’ het my belangstelling in schnitzel weer geprikkel.  Haar metode is niks nuuts nie, maar dis die gebruik van die rogbroodkrummels wat dit onderskei van enige ander schnitzel, scallopini of platkrummelhoender wat ek al gemaak het. Die resep sal ewe goed deug met vark, kalfsvleis (ekself is jammer vir kalfies), beesvleis, en selfs kalkoen. Ek het haar resepmetode aangepas volgens wat vir my oor die jare goeie resultate gegee het.

My interpretasie van Diana Henry se rogbroodhoenderschnitzel op Diana Ferreira se keramiekbord. Hier het ek dit bedien met 'n eenvoudige jogurtsousie met suurlemoen gegeur.

My interpretasie van Diana Henry se rogbroodhoenderschnitzel op Diana Ferreira se keramiekbord. Hier het ek dit bedien met ‘n eenvoudige jogurtsousie met suurlemoen gegeur.

Wat om saam met schnitzel te eet: 

  • Die mosterd-uie-witwyn-roomsous van Diana Henry is baie lekker (probeer dit beslis), maar dit sal goed werk net met mosterd (en baie suurlemoensap!)
  • Dan natuurlik, saam met kappertjiesaad, botter en salie gaan jy die son, maan en sterre bedank vir schnitzel. Weeereens, baie suurlemoen.
  • Ek het die schnitzel ook baie geniet met ‘n eenvoudige jogurtsous, gegeur met suurlemoensap, fyngekapte dille en behoorlik gegeur met sout en peper, met ‘n paar druppels goeie olyfolie oor gesprinkel. So lekker was dit, dat ek ter ere van ‘n ander Diana – die keramiekkunstenaar Diana Ferreira – ‘n koslandskap daarmee geskep het op die onderkant van een van haar moderne borde geskep uit die mooiste diepbruin (amper swart) klei.
  • Tradisioneel word aartappelslaai, komkommerslaai met dille saam met schnitzel voorgesit. ‘n Caprese-slaai met rooi uie en ‘n slaaisous van olyfolie en rooi wynasyn eerder balsamiekasyn sal jou schnitzel in ‘n Milanese stemming plaas.
    Die hoender moet deurgaar wees, maar nie te droog nie - braai dus 4 min aan een kant, korter aan die ander kant en moenie meer as een keer omdraai nie.

    Die hoender moet deurgaar wees, maar nie te droog nie – braai dus 4 min aan een kant, korter aan die ander kant en moenie meer as een keer omdraai nie.

    Rogbrood-hoenderschnitzel met mosterd-roomsous 

Bedien 4 (ruim porsies)

Schnitzel

  • 8 hoenderborsies of dye, beenloos en sonder vel
  • Koekmeel
  • Sout en peper
  • Neutmuskaat
  • 3 eiers, liggies geklits
  • 200 g rogbroodkrummels (verkieslik van brood half rog half volgraan)*
  • 30 ml olie, vir braai
  • 1/2 suurlemoen

Mosterdsous

  • 15 g botter
  • 4 salotte of 1 medium bruin ui, baie fyn gekap
  • 40 ml witwynasyn
  • 150 ml droë witwyn
  • 200 ml dikroom
  • 30 ml Dijon mosterd
  • Goeie skeut suurlemoemsap
  • Sout + peper na smaak

Maak schnitzel so:

  • Plaas elke hoenderborsie of dytjie tussen 2 velle waspapier of kleefplastiek en moker liefies plat met ‘n rolstok. (Ek vind egter dat kleefplastiek beter werk, want dit disintegreer nie so maklik in die vleis nie) Hamer die vleis net hard genoeg dat dit nie opbreek nie. Probeer om die dikte egalig te kry, maar die vorm hoef nie netjies te wees nie. Sowat 6 mm dik – dan word dit vinniger gaar.
  • Plaas drie sopborde, of soortgelyke houers, langs mekaar. Sit die meel in die een en geur goed, plaas die geklitste eier in die middelste bord, en die laaste bord met die broodkrummels.
  • Geur die hoender met sout en peper, druk elke stuk eerstens in die meel, dan in die eier en laastens in die broodkrummels. Pak dit uit op ‘n kleefvrye bakplaat.
  • My wenk: Op hierdie punt kan die gekrummelde hoenderstukke in die yskas geplaas word terwyl jy die sous maak. Dit help dat die krummels beter kleef aan die vleis.

Om schnitzel gaar te maak:

Verhit olie in ‘n groot kleefvrye pan. Braai die schnitzels oor matige hitte sowat 4 minute aan die eerste kan en 2-3 minute aan die ander kant. Party mense hou daarvan goudbruin, ek verkies dit ‘n dieper bruin. Geur met sout en peper.  Druk suurlemoensap oor en bedien onmiddellik saam met die sous.

Om sous te maak:

  • Smelt die botter en soteer die uie tot sag, maar nie bruin nie.
  • Voeg die asyn by en verhoog die hitte,tot net sweempie van asyn oorbly in die pan.
  • Voeg wyn by en kook met die helfte af. Voeg room, mosterd, suurlemoensap, sout en peper by en laat deurwarm word, sonder om te kook. Indien die sous te dik raak (die suurlemoensap verdik die sous), verdun met bietjie water.
  • Hou eenkant tot schnitzels gaar is. Warm dit weer vinnig op en bedien die hoender onmiddellik saam met die sous.

    Daar is meer moderne maniere om jou eie broodkrummels te maak as my ouma se rasper!

    Daar is meer moderne maniere om jou eie broodkrummels te maak as my ouma se rasper!

Maak jou eie krummels: 

*Rogbroodkrummels: maak jou eie krummels deur snye brood, korsies en al met ‘n handrasper fyn te maak. ‘n Kortpad is om dit met ‘n voedselverwerker of staafmenger fyn te maak – maak net seker of jou toerusting sterk genoeg is om harde korsies ook te verwerk. (My een staafmenger het ‘n ‘moer gestrip!’, maar my ou Braun het gehou, korsies en al).

Springmielie-krummels: Skiet die springmielies, plaas in versapper of voedselverwerker en pols tot dit soos fyn broodkrummels lyk. Vir 8 schnitzels benodig jy sowat 2 ½ koppies springmieliekrummels. Meng dit met 2 koppies pecorinokaas en 30 ml fyngekapte pietersielie, sout en peper.

*Panko broodkrummels:  Die krummels kan gemeng word met ‘n koppie fyngerasperde parmesaan of pecorino – dan staan jy Milanese se kant toe eerder as schnitzel, as ons dan nou moet hare kloof. Maak so:

  • Voorverhit die oond tot 150 °C. Sny bruinbroodsnye in repe en plaas in voedselverwerking met die kerf-lem. Pols die brood tot dit fyn vlokkies vorm. Moenie dit te fyn maak nie.
  • Sprei die krummel op ‘n bakplaat uit en bak vir 4 minute in die voorverhitte oond. Skud die plaat om te verseker dat dit eweredig bak. Bak nog 4 minute sonder dat dit brand.

Down Memory Lane met Peter Veldsman 

Peter skryf vir my:Gedurende my jong dae was daar ‘n eetplek in Strandstraat in die Kaap. Die chef-eienaar het later groot naam gemaak:  Zerban. In ieder geval ons het Wiener Schnitzel, Hoender Saltimbocca en Scallopini’s daar ge-eet en was dit nie wonderlik nie. Sy gebraaide “Lunch Loaf” met warm aartappelslaai, propvol ingemaakte argurkies, was ‘n treffer. O die nostalgie is ‘n lekker kuierplek.

Dit was in die middel sestigs. Toe verdwyn hy en maak ‘n terugkeer in die sewentigs – die keer met die wonderlikste , in die Weense tradisie van Demels en Zacher,”konditorei” in Seepunt oop. Die hele Kaapstad het gaan koek eet. Toe verdwyn hy weer en die volgende stap was ‘n kombinasie van sy eerste eetplek en die Zerbans koekwinkel in die Tuine Sentrum. Die keer ook ‘n bakkery elders omdat die aanvraag so groot was. Toe vertrek hy na New York net om uiteindelik af te tree – nie in die VSA nie, maar in Houtbaai.”  

Bronne:

  • Rogbrood-schnitzel en mosterdsous: A Bird in the Hand, Diana Henry.
  • Panko-krummels: Taste
  • Springmieliekrummel-idee:  Chewtown.com (waar dit vir krummel-lamstjops gebruik is)
  • Facebook-gesprek: Peter Veldsman, Johan Liebenberg

Ouma Liena se suursouslewer en een met vye vir my oupa

22 Apr

Lewer. Ek het altyd gedink lewer sal ‘n verdelende onthoukos wees, met ‘n kamp heftig daarteen, en ‘n kamp wat dit met passie verdedig. Toe word die gesprek oor lewerkoekies een van die mees meelewende ooit. Op my Huiskok-blog is dit die resep wat, naas my ma se hoenderpastei, feitlik daagliks steeds die meeste opgesoek word!

Ouma Liena se lewer met suursous (Foto: Kokkedoor, Human & Rousseau)

Ouma Liena se lewer met suursous (Foto: Kokkedoor, Human & Rousseau)

‘n RSG luisteraar Ilze Burger het laat weet sy soek met seer hart ‘n lekker resep vir lewer met soetsuursous. Sy eet nie self lewer nie, maar sy onthou haar dierbare skoonma het die heerlikste suursouslewer gemaak. Sy skryf: “ my probleem is dat nie een van my drie  skoonsusters weet hoe my skoonma dit gemaak het nie. Ek het nou al hordes resepte probeer, maar my liefie kan maar net nie liries daaroor raak nie.

My ma het lekker suursous-lewer gemaak, en die lekkerste wat ek meer onlangs geproe het is Ouma Liena se manier. Dis nie MY ouma nie, maar sjef Nic van Wyk s’n.  Nic is my kos-peetkind en hy het ‘n bekende gesig op televisie geraak as Kokkedoor-beoordelaar en is bekend vir sy kinkels. As dit by sy Ouma Liena se lewer met suursous kom raak sy hart week. Variasies van hierdie geurige gereg word gereeld by sy eetplek Bistro 13, op Welmoed, Stellenbosch, voorgesit.

Kleintyd-kuiers by sy ma se ouers, Oupa Boet en Ouma Liena, het ‘n diep indruk op sy kindergemoed gelaat. “Eet was baie belangrik en daar was altyd berge kos,” vertel hy. “Dit was eenvoudig, dit was heerlik en dit het gesmaak na die seisoen. Ouma het my geleer van eenvoud: nie dat eenvoudig kook altyd maklik is nie. Eenvoud stel eise van sy eie, alhoewel die beloning groot is. Die uitdaging is om baie reg te kry met min en die leisels bietjie in te hou. Dis kook sonder spog maar met baie respek, want elke element ken sy plek.”  

OUMA LIENA SE LEWER MET SUURSOUS

Ouma Liena se lewer met suursous verskyn tot vandag nog in verskillende variasies op Bistro13 se spyskaart. Dis ook opgeneem in die Kokkedoor 1 kookboek, as die resep wat vir Nic onthoukos simboliseer. (Bistro13 is op Welmoed, Stellenbosch.)  

Lewer 

  • 500g skaap of beeslewer
  • Sout en peper
  • Olie vir braai

Sous 

  •  3 groot uie
  • Botter vir braai
  •  Olie vir braai
  • 1/2 koppie suiker
  •  100ml bruinasyn (Nic verkies sjerrieasyn)
  •  Skoot Worcestersous

Metode:

Sny die lewer in dun repies, geur met sout en peper en braai dan in ’n warm pan tot bruin aan alle kante. Haal uit die pan en laat eenkant rus totdat die sous klaar is. Probeer die versoeking te weerstaan om nie te pik aan die lewer nie.

Die sous is baie eenvoudig, soos Ouma se kos was. Sny die uie in dun skywe en braai dit stadig in botter en olie tot lekker sag en bruin. Voeg die asyn en suiker by. Trek die sout en peper nader en gooi ’n skoot Worcestersous by. Nou gaan die lewer terug in die sous tot deurwarm. Die lewer moet gaar wees en nie meer pienk nie. Bedien dit met ertjies waarvan die helfte fyngedruk is en die ander helfte heel gehou word.

Beeslewer met balsamiekasyn, karameluie en vye (foto The Healthy Foodie)

Beeslewer met balsamiekasyn, karameluie en vye (foto The Healthy Foodie)

LEWER TER ERE VAN MY ITALIAANSE OUPA EN BOERE OUMA: MET VYE-, SPEK, BALSAMIEKASYN EN GEKARAMELLISEERDE UIE 

My oupa het uit Italië emigreer en vir hom ‘n boernooi uit die Sandveld gekry. Hy is vroeg oorlede toe my pa nog ‘n jong seun was. Ek het hom nie geken nie, en ek maak altyd vir sy nagedagtenis kos om iets van hom te kan vier.  Toe ek ‘n lewerresep van The Healthy Foodie raakloop het ek die lus gekry om dit aan te pas met  ‘n Mediterreense geurtjie, ter ere van my oupa Espost wat sy land moes agterlaat.

Bedien 2-3

  • 375 g beeslewer, in snye
  • Sap van 1 suurlemoen
  • 10 ml mielieblom
  • 1/2 t seesoutvlokkies (Maldon of Khoisan)
  • 5 ml swartpeper
  • 4 snye gerookte spek of pancetta
  • 2 groot uie, in ringetjies gesny
  • 200 g sampioene, gesny
  • 4 gedroogte vye, opgekap
  • 2 takkies salie, gekap
  • Ekstra sout en peper
  • 30 ml balsamiekasyn (wit of bruin)
  • 60 ml water

Metode

  • Marineer lewer 3-4 ure (kan ook oornag) in suurlemoensap. Gebruik plastiekhouer wat nie met die suur reageer nie.
  • Braai die spekrepe oor matige hitte bros in ‘n dikboompan. Terwyl die spek braai, spoel die lewer af onder lopende water en druk droog.
  • In ‘n vlak bakkie, meng die mieliemeel, sout en peper tot goed gemeng. Druk die snye lewer in die mengsel, skud af. Hou eenkant.
  • Skep  gaar spek uit die pan met gaatjieslepel en hou eenkant.  Behou 2 eetlepels van die spekolie uit vir latere gebruik en hou die res in die pan. Plaas die pan oor hoë hitte en wanneer baie warm seel die lewer net sowat 45 sekondes aan elke kant – net genoeg om dit mooi bruin en bros te maak. Werk in sarsies as jou pan nie baie groot is nie.
  • Haal uit en hou eenkant (bedek om warm te hou).
  • Maak nou die uie-compote:  plaas uie en gereserveerde bacon-vet terug in die pan en laat sowat 10 minute op medium-lae hitte karamelliseer tot ‘n mooi goue kleur. Voeg die sampioene by en en soteer tot sampioene sag en liggoud is.
  • Voeg die vye, ekstra sout en peper by, asyn en water en kook ‘n paar minute.
  • Roer die vars salie, sit die plaat af en skep die lewer bo-op die uie. Bedek liggies en laat staan ‘n paar minute tot die lewer deurwarm is.
  • Krummel die brosgebraaide spek en strooi bo-oor.

Bron: http://thehealthyfoodie.com/beef-liver-with-fig-bacon-and-caramelized-onion-compote/

Sam Liederman se lewer met suursous. Haar kinders het gesmul daaraan.

Sam Liederman se lewer met suursous. Haar kinders het gesmul daaraan.

SAAMPRAAT VAN DIE LEWER-ETERS 

  • Ek het by my ouma geleer van vliesie aftrek,  maar verder vra die lewer nie enige spesiale voorbereiding nie. Ek braai dit net in mengsel van olyfolie en botter nadat ek dit in meel gerol het. My gunsteling is kalfslewer op kapokaartappels met soet ertjies. (Samantha M Liedeman)
  • “Ek is mal oor lewer! En niertjies. Ek maak baie, baie lekker devilled kidneys. Een van die lekkerste dinge wat ek nog ooit geëet het was ‘n bord kalfslewer wat met roosmaryntakkies deurryg was, op slap polenta, toe ek in Londen gewoon het. Ek was 19, en het op my eie in die restaurant gesit en die bord skoon gevee met brood. Die kelner het vir my gesê ‘Wow, I’ve never seen a girl do that’. Skynbaar is afval nie ‘n vroulike ding om te geniet nie. Pah! (Sonia Cabano)
  • Dis beter as steak. Bedien met gebraaide uie en kapokaartappels. (Allet Smith)
  • “Lewer, niertjies, hart, vetdermpies – eet dit met die suursousie op kraakkors regte egte aartappelsuurdeeg tuisgebakte brood en botter (Hannelie van der Merwe Myburgh)
  •  “Eet die lewer en suursous saam met slapperige pap. Skep gaar pap wat gemeng is met roommielies en room, in ‘n bak, dan gaar lewer repies, gebraaide uie wat dun gesny is, en laastens genoeg soetsuursous.  Laat vir ‘n ruk staan sodat sous kan deurtrek . Bak in warm oond. Kyk, dan vee ons die laaste sous met pap skoon op die bord.” (Sanette Henning)
  • “Die beste lewer ooit geëet in die ou Alfama in Lissabon. Die Portuguese lewer en speenvarkies het geen gelyke nie.” (Lochner de Kock) “Sweet and sour kidneys, liver and heart”: dit was as kind ons gunsteling Sondag-breakfast met toast.” (Salvin Hirschfield, Son of a Butcher)
  • “Die grootste fout wat ‘n kok kan maak is om lewer oorgaar te maak. (Colyn Serfontein)
  • “Ons huis se lewertreffer is om die lewerblokkies (nie te klein nie) in meel gegeur met tiemie, growwe peper en gemaalde seesout te rol en dan te braai, Lekker dun uieringe saambraai en als liggies gaar te smoor. Bedien met kapokaartappels”. (Liza Louw)
  • “Lewer vinnig gebraai, tamatie, uie, sampioene en sjerriesousie op nat polenta. Hemels!” Frans Groenewald
  • Theresa du Vries ( onthoukok-naaswenner Kokkedoor 1 ) laat weet uit Brandvlei, Namakawaland: “Ek laat die lewer in bietjie asynwater lê en haal velletjie af. Sny in blokkies of strips. Sny baie uie in ringe en braai tot deurskynend. Voeg die lewer by en roerbraai tot gaar. Voeg dan helfte blatjang en asyn by net om effense sous te maak.  As jy ‘n behoorlike suursous maak kook die lewer in water en sout en peper en uie en as lewer gaar is voeg jy asyn by. Ek maak dit met ‘n meelpasta dik of jy kan gelyke dele botter en meel meng en byvoeg om te verdik. Saam met tuisgebakte brood, heerlik! Ek hou nogal daarvan om as ek bv wildslewer gebruik om bietjie bacon saam met die uie te braai..”

Piesang- en sagte toffie onderstebokoek

20 Apr

Na ek weer hierdie koek gebak en daaroor op Facebook gepraat het, was daar soveel bakkers wat se vingers gejik het, dat ek Dit weer plaas.

huiskok

Met die herlewing van landelike koeke wat nie op uiterlike versiering staatmaak nie, blom onderstebo-koeke weer.aaa blokke blou mooi IMG_3438 (3)

Die pynappelonderstebokoek rinkink steeds asof sy die ‘belle van die onderstebo-ball’ is, maar die eertydse glans het ietwat verdwyn uit haar goue kolrok met die neonrooi maraschinokersie. Dis egter nie  alles neusie verby vir hierdie retro-gebak nie. ‘n Kykie na gister: Die oumagrootjie van hierdie koekstyl kom uit ’n era wat koeke nog bo-op die vuur in ysterpanne, of skillets, gebak is. Die vrugte en suiker is op die bodem gesit, die beslag bo-oor geskep en op die vuur gesit.  Wanneer die koek op die bord omgekeer word, is die mooi patrone en  smaaklike stropie onthul.

Die koek het 'n sagte, klam krummel en ontwikkel selfs meer smaak met 'n bietjie staan. Die koek het ‘n sagte, klam krummel en ontwikkel selfs meer smaak met ‘n bietjie staan.

Vroeg in die 20ste eeu het geblikte vrugte beskikbaar geraak en al wat bakker wou die pynappel-onderstebo-koek met sy kenmerkende neonrooi-maraschinokersies maak, wat toe as baie…

View original post 704 more words

Gebakte appels met speculaas en vla (custard)

15 Apr

Gebakte appel en vla is ‘n nostalgiese kombinasie van oudag se appelboord en die melkkamer. Hier kry dit ‘n paar wulpse smake by.

Spekuloosgeure gee gebakte appel en vla se liefdesverhouding bietjie spice.

Spekuloosgeure gee gebakte appel en vla se liefdesverhouding bietjie spice.

Adam en Eva, Romeo en Juliet, Ginger Rogers en Fred Astaire – pare vir altyd aan mekaar gekoppel, soos jellie en vla, basaarpoeding en vla, malvapoeding en vla, gestoofde perskes en vla.

Vla op die klassieke manier is ‘n wonderskone ding, liggeel eiervla, creme anglaise, vloeibaar dun met spikkeltjies vanielje. Ons hou dít vir die fynkook, vir roomysmaak of sneeu eiers in ‘n see van vla. Die middel-van-die-week gebakte appels dring nie aan op die fynste van Vla nie. Is heel happy met die langlewe custard wat blob-blob uit ‘n boks geskink word.  Dis prakties, vinnig, vrek lekker (nostalgie is ‘n goeie smaak wekker) en altyd op gereedheidsgrondslag. Dan is daar ook vla van my herinneringe, gemaak met vlapoeier – en as ek so luister na die mense om my se vla-gedagtes is dit hierdie vla, gemaak met vlapoeier wat die hartsnare roer. Maar dan moet dit met volroommelk gemaak word!image

Gebakte appel-aficionados sal jou ‘n ding of twee kan vertel watter appels die beste is. Een reken Granny Smiths collapse te maklik in ‘n misrabele hopie as dit gebak word. Die vrou wat gister saam met my by die rak winkelappels gestaan het sweer weer by Granny Smith …”gebruik net kleiner appels, hulle bak nie so lank nie.” Pink Ladies ook lekker, maar as huiskok gebruik ek meestal maar die appels in my vrugtebak wanneer die appel-vla lus my tref.

My herfsontdekking 

Herfs gaan ook saam met soet speserye. Hoekom nie die smake van speculaas kombineer met gebakte appels  en  vla. Op hul eie outyds, maar saam iets nuuts. Gepraat van nuut, ek het  Biscoff (Lotus) spekuloosbotter in Paradyskloof Spar* raakgeloop – iets uit België waarvan ek baie gelees het, maar nêrens kon opspoor nie. Lekkerder as Nutella belowe ek jou.

Gina proe of my speculaasbotter fassinering geregverdig is.

Gina proe of my speculaasbotter fassinering geregverdig is.

Warm uit die oond kry dit spekulaasbotter oor en wag net vir die vla.

Warm uit die oond kry dit spekulaasbotter oor en wag net vir die vla.

SPECULAAS GEBAKTE APPELS MET VLA 

Wenk: die appels word in muffinpannetjies gebak wat sorg dat al die heerlike appelsappe, botter en speserye nie op die bakplaat agterbly nie. Jy kan enige tipe appel vir hierdie metode gebruik – gebruik eerder kleiner appels as groot lummels wat langer bak.  Vir die spekulaas-geure kan jy bloot die tipiese spekulaas-speserye gebruik, of jy kan die luukse roete vat om die appeltjies te bedien met spekulaasbotter – oorsee bekend as cookie butter. Kyk onder vir resepte as jy tuisgebakte  speculaas wil maak (heerlik). Ek gee nie ‘n resep vir die vla nie – maak dit soos jy daarvan  hou.

Bestanddele

6 medium appels, ongeskil, ontklok

Vulsel:

  • 6 dadels, ontpit en fyngekap
  • 60 g gedroogte bosbessies, fyngekap
  • 80g bruinsuiker
  • 80 g muesli of opsioneel krummels van 6 spekulaaskoekies
  • 3 ml kaneel
  • Mespunt elk fyn gemmer, neutmuskaat, koljander, wonderpeper (all spice) kruienaeltjies,  peper
  • Knippie sout
  • Klontjies botter + ekstra vir onder in die pan

Bediening: Vla is ‘n MOET, sommer ‘n Geel golf daarvan. Die spekuloos is opsioneel.

Metode

Voorverhit die oond na 180C. Plaas ‘n klontjie botter in elke holte van ‘n muffinpan.

Wenk: Sny reg rondom die appel ‘n fyn kepie in die skil – dit help dat die vel nie bars nie.

Meng die fyngekapte dadels en bosbessies, bruinsuiker, muesli of koekiekrummels, speserye en sout. Druk die vulsel styf in die appelholtes, plaas in die muffinpannetjie, sit klein klontjie botter op elke appel en strooi van die laaste vulselkrummels oor. Bak tot die appels sag is, maar nie heeltemal in mekaar gesak nie – kyk na 30 minute.

Hou die appels in die muffinpannetjies, skep die vla oor die een helfte en bedien net so aan tafel in die pannetjie. Natuurlik moet daar ekstra beker vla op die tafel wees.

Appeltjies voor en na die oond.

Appeltjies voor en na die oond.

MAAK JOU EIE SPEKULOOSKOEKIES (OOK GENOEM SPECULAAS) EN SPECULOOSBOTTER

As jy ‘n voedselverwerker het is jou kop deur om jou eie spekulaasbotter te maak (die gekooptes is ingevoer en baie duur). Bak die koekies wat jy daarvoor nodig het self, of gebruik gekoopte speculaaskoekies wat gewoonlik van Hollandse bakkerye beskikbaar is .

Vir die koekies

  • ¾ k koekmeel
  • ¾ k krummels van gemmerkoekies
  • Knippie wonderpeper, fyn naeetjies, neutmuskaat
  • 1/3 k bruinsuiker
  • 1/2 k (115g) botter
  • 1 ½ E witsuiker
  • 1 ½ E heuning of goue stroop

Vir die koekiebotter

  • 1 baksel tuisgemaakte spekulooskoekies
  • ¼ k gesifte versiersuiker
  • 1 E witsuiker
  • 1 ½ E vetvrye melkpoeier
  • 1 t kaneel
  • Knippie elk gemmer, naeltjies, wonderpeper,
  • ¼ k of meer canola olie of enige neutrale olie

Om die spekulooskoekies te maak vir die botter: Verhit oond na 180C. Voer bakplaat met bakpapaier uit.

Klits die meel, gemmerkoekiekrummels en speserye in mengbak. Hou eenkant.

Room botter en bruinsuiker en verroom tot goed gemeng – sowat 3 minute met elektriese klitser. Skraap die kante van die bak, en op lae spoed meng die helfte van die meelmengsel in, meng tot net gemeng, voeg die witsuiker en heuning (of stroop, by en meng deur.

Voeg die oorblywende meelmengsel by en meng net tot daar nie meer wit strepe in die deeg oor is nie. Met ‘n roomysskepper skep ewe groot bolletjies deeg uit en plaas op bakplaat. Druk elke deegballetjie liggies plat met die palm van die hand. Bak die koekies vir 14 – 16 minute of net tot die koekie sigbaar verdonker en die rante effe donkerder is. Die koekies sprei nie baie uit nie en sal nog sag wees terwyl dit warm is. Haal pan uit die oond en laat staan vir 10 minute. Plaas die koekies op afkoelrak tot koel en bros.

Vir die koekiebotter  

Plaas die koekies in ‘n voedselverwerker en verwerk tot baie fyn krummels Meet  1 ¼ k van die koekiekrummels lossies af. Behou die orige krummels vir ander gebruike (lekker oor roomys of selfs gestoofde patats).

Voeg versiersuiker , witsuiker, melkpoeier en speserye by. Verwerk tot net gement – voeg olie by en verwerk verder Na sowat 3 tot 4 minute stop die verwerker. AS jy ‘n lekker sterk voedselverwerker het sal dit ‘n pastasmeer vorm Skraap die mengbak, plaas die deksel op en meng verdertot die smeer teen die kante van die bak begin opklomp. Indien jy ‘n minder stywer botter soek, meng nog ‘n bietjie – sowat ½ E – olie in.

Gaan aan met die proses – as jy nog olie bygevoeg het sal die mengsel ‘n loperige smeer vorm, amper soos outydse grondboontjiebotter. Afhangende hoe loperig jy dit wil hê, voeg jy nog olie ½ E op ‘n slag by – en meng elke keer goed. Na sowat 8 minute se verwerking behoort dit reg te wees en die koekiebotter teen die kant vassit. (Resep vir koekiebotter van Food52.com)

Draai die skuldigvoel-kraantjie effe toe met suikervrye vla wat spog met 50% minder kJ. Ek gooi sommer nog vla oor.

Draai die skuldigvoel-kraantjie effe toe met suikervrye vla wat spog met 50% minder kJ. Ek gooi sommer nog vla oor.

 

Vaal Frikkie kry ‘n jas van geur: Kerrie-piesang-frikkadelle

8 Apr

Frikkadelle, frikadelle, fricadels, albondigas, meatballs, Sweedse frikadeler in roomsous … bykans elke kultuur het herinneringe en ‘n huis resep hiervoor.

'n Frikkadel vir elke nasie.

‘n Frikkadel vir elke nasie.

Ek het grootgeword met  die Vaal Frikkie, ‘n oondgebakte frikkadel wat  los en geurig uit die oond uit kom, met ‘n sout waterigheid wat onder in die bak poel. Dan het ek ‘n dammetjie in my kapokaartappels gemaak en dit met die vaalwater volgemaak.  Daarby skorsies gevul met ertjies.

Ek kon my ma die wonder van haar frikkadelle nog nooit nagedoen het nie. Daarom reis ek maar die wêreld rond vir ander se frikkadelmaniere, alhoewel ek bly verlang na die Frikkie Vaalwater van my jeug.  Dis my vertroostende onthoukos, maar soms wil ek tog my vlerke sprei. (ek kom wel uiteindelik weer huis toe na ma-se-kos toe)

Soms verken ek die wereld weg van Ma se Vaal Frikkie.

Soms verken ek die wereld weg van Ma se Vaal Frikkie.

Soveel huiskokke, soveel resepte. Ek het op Facebook ‘n imprompto-frikkadelkommissie beroep. Vra jy hulle, is hulle vinnig met die wenke -gebruik baie koljander en pietersielie of tamatie of kerrie – maar die gemene deler is geweekte brood, fyn ui (rou of gaar), sout, peper, naeltjies, asyn.

Die televisiekok Renette Vosloo onthou:  “ My ma s’n het gerasperde ui in gehad en baie vars pietersielie, geen brood, geen eier, m.a.w geen bindmiddel nie.” Een van haar televisiegeregte is ‘n bobotie- lamsfrikkadelletjies met ‘n bobotie-vla hart.

Daar is ook die paartie-frikkadel. Die ou staatmaker wat koud of warm op ‘n stokkie beland neffens ‘n mosterd- of tamatiesous. Dit ryg gaste die een na die ander in.

bedien met klapper en 'n warm sousie soos blatjang of soet rissiesous

bedien met klapper en ‘n warm sousie soos blatjang of soet rissiesous

Net ‘n vinnige een en ander oor ons frikkadelle se stamboek: Die woord kom van die Franse “fricandeau” of “fricandel”, en aan die Kaap het die Hollanders van “vrikkendillen” en “frickedille”  gepraat.  De Verstandige Kock (1668) verwys na “frikedillen” wat met foelie en neutmuskaat gegeur is en toegevou is om spek, kruie en lemoenskil. Heel byderwets.

Op die noot van byderwets: kokke maak ook deesdae vark-frikkadelle met origanum en tamatie ragut wat met gnocchi bedien word. Dit laat my dink aan ‘n storie wat my nig Anna-Marie Oliver vertel uit die dae wat sy ‘n wegneemeetplek in Kaapstad gehad het, waar honderde frikkadelle daagliks verkoop is. “Maar die grand dames het altyd gevra vir rissoles!”

Met soveel maalvleisballetjies op die wêreld-dienbord, wat is dan uniek Suid-Afrikaans?  Die kerrie-en-piesang frikkadel. In die dae wat Peter Veldsman sy Rapport kosrubriek gehad het is hierdie resep in 1996 uit duisende resepte aangewys as die Frikkadel van die Dekade.

Hierdie resep is so ikonies soos Peter self, en die resep is opgeneem in sy boek Kos van die Eeu. Dis nie ‘n ‘1-2-3’ resep nie, en gaan ook nie so proe nie. Selfs net deur die resep te lees kon ek my die lae smaak en teksture indink.

Rou frikkadelle word in die oondbak gepak en die kerriepiesangsous oorgegooi. Dan bak tot gaar.

Rou frikkadelle word in die oondbak gepak en die kerriepiesangsous oorgegooi. Dan bak tot gaar.

KERRIE-EN-PIESANG-FRIKKADELLE

Bestanddele vir frikkadelle:

  • 1 groot ui, fyngekap,
  • 12,5 ml olie,
  • 2 dik snye dagoue witbrood, korsies afgesny, geweek in 75 ml melk
  • 1 tot 2 geelwortels, grofgerasper,
  • 1 ekstra-groot geklitste eier, 800 g maer gemaalde beesvleis,
  • 50 ml blatjang,
  •  25 ml asyn,
  • 15 tot 20 ml sout,
  • Na smaak: varsgemaalde peper, knippie naeltjies, neutmuskaat en Worcestersous

Bestanddele vir die kerriesous:

  • 15 ml olie + 15 ml botter
  • 3 uie oorlangs gehalveer, geskil en in skyfies gesny
  • 2 knoffelhuisies, gekneus en fyngedruk saam met 5 ml sout
  • 12,5 ml sterk kerriepoeier
  • 12,5 ml borrie
  • 3 ml fyn gemmer
  • 3 ml fyn kaneel
  • 1 ml rooipeper of na smaak,
  • 75 ml asyn
  • 50 ml blatjang
  • 25 ml sagte bruinsuiker
  • 50 ml appelkooskonfyt
  • varsgemaalde peper na smaak
  • 500 ml water
  • 6 tot 10 baie ryp, amper oorryp piesangs, in skywe gesny en met suurlemoensap bedek

Frikkadelle:

Braai die ui in olie tot sag en deurskynend, maar nie bruin nie. Laat eenkant afkoel. Druk oortollige melk uit  die geweekte brood en maak brood met ‘n vurk fyn. Skep brood, geelwortels en eier oor vleis. Moenie meng nie. Skep die blatjang en asyn bo-oor en geur met sout, peper, neutmuskaat, naeltjies en Worcestersous. Meng met ‘n groot tweetandvurk al die bestanddele liggies, maar deeglik deur. Moenie knie en druk aan die mengsel nie. Vorm 12 frikkadelle. Rangskik in ‘n enkellaag in ‘n gesmeerde oondskottel, bedek en plaas in koelkas.

Kerriesous:

Skep olie en botter in ‘n diep kastrol en verhit oor matige hitte tot botter gesmelt is. Voeg uie by en braai tot dit sag en deurskynend is, maar definitief nie bruin nie. Voeg knoffel en sout by en roerbraai vir ‘n minuut. Strooi speserymengsel en borrie bo-oor en roerbraai tot ‘n sterk geur die lug intrek. Roer gemmer, kaneel en rooipeper by en voeg bietjies van asyn op ‘n keer by. Stootskraap sodat deeltjies wat aan kastrol se boom kleef, kan oplos. Wees versigtig dat mengsel nie aanbrand nie. Voeg konfyt, blatjang, suiker, peper en helfte van water by. Verhit tot kookpunt. Verlaag hitte en laat prut vyf minute. Voeg res van water by, verhoog hitte, verhit weer tot kookpunt en kook nog 10 tot 15 minute. Roer af en toe.

Verwyder die sous van die hitte en roer die piesang by. Haal die frikkadelle uit die yskas en skep die warm sous oor. Bak 40 – 45 minute in ‘n voorverhitte oond van 160°C totdat die vleis gaar is. Bedien met rys.

Sit voor met sambals, soos tamatie- en uie, klapper en 'n brandsous soos warm blatjang of soetrissiesous.

Sit voor met sambals, soos tamatie- en uie, klapper en ‘n brandsous soos warm blatjang of soetrissiesous.

HUISKOK SE “VERDICT”:

Verdien die resep sy destydse titel as Frikkadel van die Jaar? Vir 2015-palette wat hul kosinspirasie elders soek, of diegene wat aandring op naakte Vaalfrikkies, dalk nie. Vir my wat opgewonde raak oor unieke Suid-Afrikaanse smake, is dit die Frikkadel van die Eeu. Nêrens anders in die wêreld gaan jy hierdie frikkadel raakloop. Dis ons eie inheemse frikkadel. Gelukkig was daar ‘n paar kerrie-frikkies oor wat vandag koud geniet gaan word op ‘n snytjie brood.

‘Meng die maalvleis baie liggies met die langste tand vurk wat jy het. As jy begin druk en knie en roer gaan jy opeindig met kanonkoeëls.

  • Veldsman maak die uie vir die frikkadelle vooraf gaar, eerder as om die rou uie in die maalvleis te sit – uitstekende wenk, want dit gee ekstra geur en jy hap nie op stukkies hardnekkige uie agterna nie.
  • As jy nie witbrood wil gebruik nie, staan hawermout of ‘bran’ ook in.
  • As jy verkies om frikkadelle op die plaat eerder as in die oond gaar te maak, doen dit lank en stadig oor lae hitte.
  • Wees geduldig met die kooktye van die sous – jy gaan beloon word met ‘n fluweelsagte kerriesous.
  • Ek het nie 6 tot 10 diep-ryp piesangs op hande gehad toe ek die resep aangepak het nie, jy kan met 4 ryperige piesangs ook wegkom.
  • Bedien die frikkadelle met sambals, soos klapper, blatjang of selfs soet-rissiesous. Heerlik op los, gestoomde witrys.

Resepbron: Kos van die Eeu, Peter Veldsman (1998), Tafelberg.

Foto-collage van ander frikkadelle van die internet bekom.

 

Saffraan rosyntjiebrood met lemoen glasuur – ideaal vir kerrievis bunnychow

1 Apr

Vir die eerste verjaarsdag van my RSG radiorubriek “Die Kos wat ons Ken” wou ek iets spesiaals maak om aan te sluit by die kerrievis waaroor die eerste uitsending gegaan het.

Saffraan en lemoen rosyntjiebrood kerrievis bunny chow

Saffraan en lemoen rosyntjiebrood kerrievis bunny chow

In die plek van die hot cross buns, of te wel paasbolletjies, wou ek ‘n ander broodjuweel uit ons kultuurskat vir Paastyd maak. Rosyntjiebrood is so ‘n skat. ‘n Tradisionele rosyntjiebrood is ‘n gebak van allerprag, maar ek wou bietjie rondspeel met geure en smaakkombinasies en het ook ‘n vinniger metode gesoek. Inspirasie is ook gesoek in ons land se diverse kulture en die gedagte het ontstaan om rosyntjiebrood- en kerrievis bunnychow te maak.

Ek dra hierdie brood op aan my broer Theo Espost wat vanjaar nie meer hier is om Paasfees te vier nie.

Rosyntjiebrood kry smake van lemoen, saffron en heuning

Rosyntjiebrood kry smake van lemoen, saffron en heuning

SAFFRAAN-ROSYNTJIEBROOD MET LEMOENGLASERING

Geen, maar geen geknie nie! Die deeg kan ook gebruik word vir ander gebak, soos kaneelrolletjies, sticky buns of net in muffinpannetjies gebak word. Hierdie smaakkombinasie is spesifiek ontwikkel met die oog op Paastyd, maar die saffraan en lemoen kan uitgelos word vir ‘’n meer basiese gebak.

Maak sowat 4 brode.

Bestanddele

125 g rosyne

Stewige knypie saffraandrade

Skil van 2 lemoene

375 mℓ louwarm water

15 mℓ droë kitsgis

15 – 20 mℓ sout

8 groot eiers, liggies geklits (eiers teen kamertemperatuur)

125 mℓ heuning

340 g (1 ½ koppies) ongesoute botter, gesmelt

1 kg meel (ek meng helfte koekmeel, helfte broodmeel)

Eierwas:

1 eier lig geklits met ‘n bietjie water

Lemoenglasuur:

Sap van 1 lemoen

30 mℓ suiker

5 mℓ botter

Metode

Week die rosyne in sterk warm water vir 10 minute, dreineer.

In aparte bakkie, gooi 125 mℓ sterk warm water oor die saffraandrade.

Meng die gis, eiers, heuning, lemoenskil, gesmelte botter, 250 mℓ louwarm water en die 125 mℓ louwarm saffraanwater in ‘n groot bak of houer met ‘n lospassende deksel. (houer se inhoudsmaat 5 liter).

In ‘n aparte bak, meng die twee soorte meel en die sout saam, voeg die rosyne – meng dit deur sodat die rosyne goed met die meel bedek is. Meng die meel in by die gis-eier-botter en roer goed met ‘n houtlepel tot al die meel goed ingewerk is en ‘n slap deeg vorm.

Bedek (maar nie lugdig nie) en laat sowat 2 ure teen kamertemperatuur staan. Verkoel die deeg in die yskas vir ‘n paar uur – sodra die deeg koud is, is dit reg om te gebruik en hanteerbaar. Die deeg kan ook tot 5 dae in die yskas gehou word, so jy hoef nie alles op een slag te bak nie.

Smeer jou broodpanne of spuit met kleefvrye sproei. Verdeel die deeg in die panne, bedek en laat rys. Intussen voorverhit die oond na 190°C. Smeer die brood met eierwas en bak 35-40 minute tot gaar. Dit sal hol klink as jy daarop tik. Wenk: om te keer dat die brood te sterk bruin bak bo, kan jy ‘n laag foelie lossies bo-oorsit na sowat 25 minute.

Terwyl die brood bak, maak die glasuur deur die lemoensap en suiker te kook tot ‘n ligte stropie en botter in te roer. Haal die brood uit die oond en bestryk met die lemoenglasering. Laat 10 minute in die pan afkoel, haal versigtig uit en plaas op afkoelrak om af te koel.

rosyntjiebrood en kerrievis  bunny chow

Wenke:

  • Die deeg kan gevries word. Ontdooi in yskas.
  • Die brood is heerlik met kerrievis (piekelvis) vir Paastyd. Jy kan kleiner broodjies bak, die bokant uithol, met die vis vul en as bunny chow bedien.
  • Die saffraan kan uitgelos word vir ‘n standaard rosyntjiebrood. Bosbessies (cranberries) kan ook met die rosyne gemeng word.
  • Om rosyntjiebrood-brioche te maak, knyp stukkies deeg af tussen duim en voorvinger en plaas bo-op die rolletjies.
  • Ek hou daarvan om my rosyntjiebrood in twee dele in die pan te sit – plaas twee bolle deeg (sowat 330 g elk) langs mekaar in die pan en druk deeg liggies in die hoeke in. Laat rys.
  • Die brood is heerlik gerooster: Maak ‘n lekker geroomde heuning- en kaneelbotter daarby – roer bloot net heuning en fyn kaneel in by sagte botter en klop met die lepel tot dit romerig is. .

Ten slotte: baie dankie Hein van Tonder vir die heerlike gesels en kreatiewe idees. Volgende keer maak ek ‘n Kaapse kerrie- en lourierblaar rosyntjiebrood en noem hom Hein!

%d bloggers like this: