Archive | August, 2016

Mooi en nuutgemaak: souttertjies / feta en biltong eclairs

13 Aug

Kom oms gee ou bekendes van die bordjie sout ‘n bak-Botox.

image

Die gebruik om ‘n bordjie eetgoed na ‘n kerk- of gemeenskapsbyeenkoms te neem is ‘n tradisie wat spruit uit ‘n tradisie van inspring en jou deel te doen. Dis die happies wat die tafels laat kreun vir vrolike affêres soos die kerksaal se inwyding, hartlike familiegeleenthede, of die hartseer van ’n begrafnis te salf. Jy bring ‘n bordjie vir die biduur en twee vir welwillendheid.

Niemand word voorgesê wat om na die tafel te bring nie en by sulke geleenthede verwag mens ook nie iets uitspattig of eksoties nie, eerder ‘n verskeidenheid van bekende smake.

Hierdie twee mooi-getooide southappies uit die Koekedoor 2 bakboek is die outydse souttert en sout soesies (kaas eclairs van choux deeg) in ‘n nuwe gedaante.

TANNIE HENNAH SE MOOI SOUTTERTJIES
Maak 12 klein tertjies

Nostalgie en rooipeper is die beste geurmiddel, reken die skoonheidsghoeroe Hannon. Sy tannie Hennah se souttert is sy gunsteling. Afhangende of jou bloeddruk die dag laag of hoog is gooi jy minder of meer rooipeper in die kors.

(Koekedoor Wessels van Vuuren het  die souttertjies so mooi gemaak dat hy ‘n Kenwood gewen het.)

Souttertkors vir doppies

500 ml cheddarkaas, fyn gerasper
125 g koue botter
250 ml meel
Sout
2,5 ml rooipeper

• Voorverhit oond na 180 °C.
• Sif meel, sout en rooi peper saam. Rasper botter in en voeg gerasperde kaas by. Meng deurmekaar. Voer die holtes van ‘n 12-holte mini-muffinpannetjie uit met die deeg (daar kan dalk deeg oorbly).
• Bak die doppies leeg tot goudbruin en gaar.

Souttertvulsel

500 ml volroommelk, warm
50 ml koekmeel
50 ml botter
Sout en peper
180 g streepspek, fyn opgekap
30 ml fyn gekapte ui
3 eiers + 1 ekstra eiergeel, geklits
330 ml sterk Cheddarkaas, gerasper
3 Weense worsies, in dun ringetjies gesny en verder in kwarte gesny
10 ml pietersielie, fyngekap
Sout en peper na smaak

• Maak die witsous: in ‘n medium kastrol, smelt die botter, voeg die meelblom bly en roer. Voeg die warm melk by en roer tot dit klontvry is en die witsous gaar is.
• In ‘n pannetjie, braai die spek en die uie tot gaar. Roer dit saam met die res van die vulselbestanddele by die witsous in.
• Skep die mengsel in ‘n gesmeerde medium oondbak (16 cm x 25 cm) en bak by 180°C tot gaar en gestol, sowat 35-40 minute. Koel af.
• Druk of sny fatsoene uit die souttert en plaas op die doppies. Garneer met mikrokruie.

image

PARMESAAN ECLAIRS MET BILTONG-EN GEKLOPTE FETA 

Een-happie sout eclairs, versier om soos eetbare juwele te lyk is vuurwarm modenuus uit Parys. Ek het hierdie  resep met byderwetse vulsel van geklopte feta en fyn biltong  ontwerp vir Rolene Strauss, Mej Wêreld 2014 en gas van Koekedoor 2 se openingsepisode.

100 g botter, in blokkies
150 ml kookwater
2 ml sout
Knypie droë mosterd
Stewige knypie rissiepoeier of cayenne
70 g meelblom
2 groot eiers
60 g gerasperde Parmesaan-kaas verdeel: ¾ vir die beslag en ¼ vir oorstrooi.

• Voorverhit oond na 220°C. Smeer ‘n bakplaat of plaas Silpat daarin.
• Smelt die botter in die water, saam met die sout, mosterd en rissiepoeier en laat opkook. Roer meelblom by, verhit en roer vinnig totdat die mengsel loskom van die kastrol se kant.
• Laat sowat 2 minute afkoel en roer die eiers een-een by en roer vinnig totdat die mengsel glad is. (Die stap kan in ‘n voedselverwerker of elektriese menger gedoen word.) Voeg ¾ van die kaas by en roer tot goed gemeng.
• Skep die beslag in ‘n spuitsak met ‘n spuitpunt van jou keuse en spuit eclairs vorms op die bakplaat of Silpat tot die deeg op is. (Jy moet 24 klein eclairs voorsit).
• Bak vir 10 minute by 220 °C, en verminder die hitte tot 180 °C en bak nog sowat 15 minute lank tot goudbruin en deurgaar.

Geklopte feta- en fyn biltongvulsel

250 ml feta, kamertemperatuur
125 ml roomkaas
75 g fyn biltongpoeier
10 ml vars pietersielie
10 ml Dijon mosterd
Brandrissie na smaak (ontpit, membraan verwyder, grofgekap)
15 ml suurlemoensap of na smaak
Gerasperde skil van 1 suurlemoen

• Verwerk die bestanddele in die bak van ‘n voedselverwerker en pols op hoog tot glad. Roer nog biltongpoeier by indien te slap en geur vir regte sout-suur-balans. Die mengsel sal stywer raak in die yskas. Skep in spuitsak en verkoel tot benodig.

Balsemiek-asynreduksie

250 ml balsamiesasyn
65 ml bruinsuiker
Brandrissie, na smaak

• Plaas die bestanddele in ‘n klein kastrol en kook stadig af terwyl jy gereeld roer. Die stroop is loperig terwyl warm, maar taai as dit koud is. As dit hard raak, roer net bietjie water by. Drup in mooi patrone of strepe oor die eclairs.

Errieda du Toit is die skrywer van Koekedoor 2 wat uitgegee is deur Human & Rousseau in samewerking met kykNET. Die rakprys is R300.

Sanet se vonkelwyn koek met soutkaramel en roosmarynspringmielies

3 Aug

‘Kom ons bak ‘n ding’ is die strydkreet waarmee Sanet Eigelaar haar plek as die land se top-drie amateurbakker verdien het in Koekedoor, kykNET se werklikheidsreeks wat ‘n bakrewolusie ontketen het.

image

Met ‘n reputasie as smaak-avonturier en haar speelse, plesierige styl was die uitnodiging om ‘n koek te skep vir Versnit se eerste verjaarsdag so in haar kraal. Die jong koek-entrepreneur se Cup of Cake-handelsmerk en koffiewinkel in Saldanha trap reeds diep spore met sy babaskoene.

Haar man Andre en haar twee jong spruite Derik (5) en Henkie (1) is ook aan die gelukkige ontvangkant van haar kreatiewe gebak.

image

Met sy eerste verjaarsdag-kolwyntjie nog vars in die geheue word Henkie uitgevat met ‘n strikdas en partytjiehoed uit koerantpapier, vir die onthulling van die Versnit-verjaarsdagkoek.

Die koek dra duidelik haar eie ‘Sanna van Saldanha’-stempel, eerder as om net te herhaal wat op Instagram of Pinterest te sien is.

Dit bring elemente soos vonkelwyn, soet en sout bymekaar; ook springmielies – ‘n simbool van kinderpartytjies, wat hier vriende maak met grootmenssmake soos roosmaryn en soutvlokkies.

Die gesoute karamel wat sy deur die springmielies roer en kwistig oor die vonkelwynkoek spat is meer as net mode.

image

image

“Dit vertel iets van Weskus-seelug en Velddrif se sout. Die roosmarynsmaak van die springmielies maak dit ook meer volwasse, en ‘n ongewone nuwigheid om aan te peusel saam met ‘n glas vonkelwyn.”

In pas met die ontblote voorkoms en haar informele sjiekstyl pleister sy die kante net liggies met roomkaasversiersel. Die kleiner koekpanne skep ‘n nouer koektoring, op ‘n omgekeerde koekpan geplaas; die pan se rand versier met letters  vryhand uit Versnit-koerantpapier geknip.

Sy stapel die taai springmielies ongëerg bo-op die koek, en laat dié wat aftuimel lê waar dit val. ‘n Groot hout-kaasbord word die koekstaander. 

Pleks van die gebruiklike kerse steek Sanet twee vonkstokkies aan. “Een vir die jaar wat verby is, en een vir die jaar wat voorlê.”

image

SANET SE VERSNIT-VONKELKOEK MET WESKUS-KARAMEL EN ROOSMARYNSPRINGMIELIES

Vonkelwynkoek

250g botter
2 ¼ k suiker
4 eiers
250ml suurroom
5ml vanillageursel
3½ k koekmeel
5ml koeksoda
2,5ml bakpoeier
5ml sout
250ml vonkelwyn

Voorverhit oond tot 180°C.Voer 4 X 15cm koekpanne met bakpapier of smeer met botter, strooi liggies met meel.
Room botter en suiker tot romerig en liggeel in ‘n mengbak met die spaanhegstuk.
Voeg eiers een op ‘n slag by en meng goed na elke byvoeging. Voeg suurroom en vanilla by en meng goed.
Sif meel, koeksoda, bakpoeier en sout in ‘n apart bak.
Voeg gesifte bestanddele in 3 dele by die mengsel, afwisselend met die vonkelwyn (begin en eindig met die droë bestanddele). Verdeel beslag tussen die 4 voorbereide panne. Bak vir 45 minute tot gaar en laat afkoel vir 10 minute en keer uit op ‘n afkoelrak.

Roomkaasversiersel:

250g botter
250g roomkaas
2 k versiersuiker
5ml vanillageursel

Klits botter tot romerig en sag, Voeg roomkaas by en klits tot gemeng.
Voeg versiersuiker by, klits tot goed gemeng en roer vanilla by.

Gesoute Weskuskaramel:

1 k suiker
90 g botter
125ml room
5ml soutvlokkies

Verhit suiker in ‘n medium pot oor matige hitte, roer aanhoudend. Die suiker maak klonte en begin verkleur.
As al die suiker opgelos hét, voeg die botter by en roer tot al die botter gesmelt is. Voeg room stadig by terwyl jy roer en kook vir 1 minuut. Haal sous van die hitte af en roer sout by. Laat afkoel.

Roosmaryn-karamel springmielies

½ k springmielies
30ml olie
⅔ k suiker
½ k donker bruinsuiker
¼ k melasse
⅓ k vonkelwyn
5ml seesoutvlokkies
30 g botter
30ml vars gekapte roosmaryn

Springmielies

Verhit olie in groot pot oor mediumhitte en voeg springmieliepitte by.
Plaas deksel op pot tot al die mielies gespring is.
Haal van hitte af en gooi springmielies in ‘n groot skottel

Karamel

Voer 2 bakplate met bakpapier.
Kook suikers, melasse, vonkelwyn en sout in ‘n medium pot op hoë hitte sonder deksel
Moenie roer nie.
Gee die pan n effense skud om alles te meng en kook tot 140°C op suikertermometer. Haal van hitte af en roer botter en roosmaryn in.
Gooi karamel oor springmielies en roer met houtlepel sodat elke pit met karamel bedruip is
Plaas springmielies op uitgevoerde bakplate en koel effe af.
Breek springmielies los van mekaar.

Saamstel van koek
Sny die koeke se bokant af sodat al die koeklae ewe dik is. Smeer of spuit versiersel tussen die lae en plaas lae op mekaar. Smeer versiersel aan die kante met paletmes en skraap dit weer effens af. Spuit horinkies bo-op koek met ronde punt.
Bedruip koek met karamelsous en versier met springmielies, vars roosmaryn en seesoutvlokkies.

image– Cup of Cake, Hoofweg 37, Saldanha. Oop Dinsdae tot Vrydae 9:00 – 17:00 en Saterdae 9:00 – 13:00

– Sanet doen praatjies, demonstrasies en spanbou-cupcake-versiersessies. Kontak die besprekings agentskap Talentspens by info@edtpr.co.za

Spesiale Dankie aan Cathrienke van den Bergh, Sanet se suster vir die warm ontvangs by Cup of Cake.

image

Foto’s: Ian du Toit

Stilering: Errieda du Toit en Sanet Eigelaar

Die blogskrywe is aangepas uit my rubriek ‘Aan Tafel’ in Die Burger Versnit wat Woensdae verskyn.

%d bloggers like this: