Archive | September, 2016

Erfporsies van askoek en bokkombotter – The Great South African Cookbook

20 Sep

“Wanneer jy meer het as wat jy nodig het, bou ‘n groter tafel, nie ‘n hoër muur nie.”

_mg_6146-kobus

The Great South African Cookbook is  ‘n boek wat breedmond lag. Blaai net deur die foto’s van die  67 Suid-Afrikaanse sjefs, kokke, boere, bakkers, veldskroppers en plaaslike koshelde in die boek en jy gaan verstaan – dit handel oor die kos waarvoor ons lief is. Op elke bladsy ervaar jy die vreugde van kosmaak vir jou mense.

Die pragtige hardebank-boek vorm ‘n kaleidoskoop van wat stedelinge en plattelanders eet, ‘n rigtingwyser na ons streekskos, huiskos en kuierkos. [Kyk onder vir besonderhede oor Die Burger Versnit-kookboekkompetisie]

Die boek is geskoei op die treffers The Great New Zealand Cookbook  en The Great Australian Cookbook en word in samewerking met die Nelson Mandela-stigting uitgegee. Die opbrengs (royalties) word ingeploeg in projekte vir kossekerheid soos landbouprojekte in arm gemeenskappe.  Hoekom 67 kosmense? Dit val saam met 67 jaar van sy lewe wat Madiba gewy het aan gelykheid en sosiale  opheffing.

Ek was lid van die boek se advieskomitee en om saam met Cass Abrahams, Reuben Riffel, Hilary Biller, Phillipa Cheifitz, David Higgs, Dorah Sitole en Anna Trapido deel te wees om Madiba se visie van gelykheid en sosiale opheffing so te kan uitleef is ‘n hoogtepunt in my kosloopbaan en as Suid-Afrikaner.

Jy sal my en my man Ian ook in die boek sien met twee van ons huisgunstelinge – my ma se macaroni en kaas met ‘n byderwetse bokors van broodblokkies en sonryp-rosatamaties; asook ‘n pof-oondpannekoek met geroosterde perskes en amandelsmeer.

errieda-en-ian

Ons daaglikse brood

Brood is ‘n deurlopende tema, soos roosterkoek en potbrood (heerlik met boeremeisies, naartjiestroop en maas); vetkoek,brood-en-botter-poeding en ujeqe stoombrood.

_mg_6209askoek

ASKOEK EN BOKKOM BOTTER

Kobus van der Merwe, veldskropsjef van Paternoster word deur die landskap, die ryk geskiedenis van die Weskus skiereiland en die Strandveld Saldanha fynbos koninkryk geinspireer om met eenvoudige erfeniskosse te eksperimenteer en inheemse wilde veldkosse daarby in te sluit.

Bedien 6

  • 1 kg witbroodmeel
  • Knippie sout
  • 10 g kitsgis
  • 700 ml lou water

Bokkombotter

  • 250g sout botte, in blokkies
  • ‘n handvol gemengde kruie wat wild en in die tuin groei, soos suurlemoen-buchu, wilde knoffel, krusement, oregano, tiemie en basielkruid, fyngekap
  • 2 maasbanker-bokkomfilette, gekap

Sif die meel in ‘n emaljeskottel, voeg die sout en kitsgis by en roer deur. Maak ‘n holte in die middel en voeg louwater , meng vinnig met die hand tot die goed bymekaar kom in ‘n rowwe bal. Keer die deeg uit op ‘n meelbestrooide oppervlakte. Vou 4 keer dubbel  en druk liggies af. Laat uitrys tot die volume verdubbel, sowat 40 minute. Vou die deeg dubbel en druk liggies af. Vorm 6 plat ovaal stukkies deeg en plaat direk op die uitgebrande kole en as, bedek met nog kole. Bak sowat 20 minute of tot hulle hol klink wanneer jy met die kneukels daarop klop. Borsel die as en kole af.

Terwyl die askoek gaar word, maak die bokkombotter. Meng die botter, kruie en gekapte bokkom met ‘n vurk. Verkoel. Om te bedien, smelt die bokkombotter in ‘n pan en bedien saam met die varsgebakte askoek.

_mg_0122-konfyt

PEER, PINOTAGE EN ROOSMARYNKONFYT

Vrystater Vera Ann Sluis-Cremer van Karma Jams hou die konfytkook-tradisie lewendig. Die mooi pienk peerkonfyt laat haar dink aan die sonsondergange van Kestell, haar tuisdorp.

Maak 2½ liter

  • Sowat 10 pere, geskil en in klein blokkies gesny
  • Handvol roosmarynnaalde,
  • ½ bottel Pinotage of ander rooiwyn
  • 1 k pektiensop*
  • 4 k suiker

Meng die peerblokkies, roosmaryn en Pinotage in ‘n bak. Voeg pektien by. Meet 4 k van die vrugtemengsel af in ‘n groot kastrol en voeg die suiker by. Bring tot kookpunt terwyl jy stadig roer tot die suiker heeltemal opgelos het. Maak seker dat die konfyt nie vassit aan die bodem of brand nie. Draai die hitte effe hoër, maar nie volspoed nie. Roer gereeld tot die mengsel verdik. Skep in gesteriliseerde flesse.

Om pektiensop te maak: skil 10 Granny Smith appels, verwyder klokhuis en sny in stukke. Plaas in kastrol, bedek met water, prut tot moeserig. Gooi die appelmoes deur kaasdoek en vergiettes oor ‘n houer. Die vloeistof is pektiensop en word gebruik om alle tipe konfyt te stol.

_mg_4141-chakalaka

RITA SE CHAKALAKA

Rita Zwane het in 1997 die Imbizo Shisanyama Busy Corner op ‘n straathoek in die township Ivory Park begin. Die oorspronklike pot waarin sy kosgemaak het hang vandag in haar suksesvolle eetplek om haar te herinner waar sy vandaan kom.  Hierdie chakalaka word met gestoomde brood,  iPapa (pap) en braaivleis (kortrib, tuisgemaakte boerewors, hoendervlerkies- en  boudjies) en lampstjoppies bedien. So ook spinasie en koolslaai.

Bedien 4–6

  • 150 ml sonneblomolie
  • 1 groot ui, fyngekap
  • 2 groen soetrissies, sade uitgehaal, gekap
  • 2 groen brandrissies, gekap
  • 4 t warm kerriepoeier
  • 4 wortels, gerasper
  • 1 x 410 g blik sousboontjies
  • 1 t peri-perisous

Maak ‘n groot kastrol warm oor medium-hoë hitte. Voeg die olie by en soteer die uie, groenrissies en brandrissies tot die uie deuskynend is. Voeg die helfte van die kerriepoeier by en soteer tot goudbruin. Voeg wortels by en hou aan roer tot die wortels sag is en voeg dan die orige keriepoeier by. Draai die hitte af tot baie laag, kook saggies vir 30–40 minutes, roer gereeld.  Voeg die sousbone en peri-perisous by. Meng baie goed deur en prut nog 15 minute. Bedien warm of koud as deel van ‘n tradisionele Suid-Afrikaanse ete.

_mg_6826final-bunnychow

VEGETARIESE BUNNY CHOW

Die 100-jaar oue Patels Vegetarian Refreshment Room in Durban spot dat hul tradisionele bunnychows, gemaak met ‘goewerment’-witbrood die beste in Durban – en dus in die wêreld – is.

Bedien 6

  • 2 uie, fyngekap
  • 3 E sonneblomolie
  • 2 knoffelhuisies, gekap
  • 1 knobbel gemmer, geskil en fyngerasper
  • 2 gedroogte brandrissies
  • 2 E komynsaad
  • 2 E kojandersaad
  • 1 E mosterdsaad
  • 2 E garam masala
  • 1 t rissiepoeier
  • 1 t borrie
  • 2 tamaties, gesny
  • 2 k bruinlensies, gewas
  • 1½ l water of groenteaftreksel
  • 3 winkelwitbrode
  • Vars koljanderblare
  • Rooi uie

Braai die uie in olie tot sag. Voeg knoffel en gemmerby en kook 1 minuut. In ‘n ander pan braai die rissies, komyn, koljander en mosterdsade. Wanneer dit begin geurig raak, haal van die hitte, plaas in stamper en vysel, maak fyn.  Voeg die  garam masala, rissiepoeier en borrie by. Voeg speserymengsel by die uie en kook ‘n paar minute.  Voeg die tamaties by en kook ‘n paar minute. Roer die lensies en water of aftreksel by. Kook tot gaar, sowat 45 minute.

Sny elke brood in die helfte, hol die middel uit en skep die lensies in. Garneer met koljanderblare en rooi uie.

3d_cover_gsacb_final-with-ribbonKookboek-kompetisie:

Skryf in vir ‘n kans om The Great South African Cookbook te wen. Stuur vir my ‘n e-pos by Errieda@edtpr.co.za en vertel hoekom jy graag The Great South African Cookbook wil wen.  Antwoord ook die kompetisievraag: Waarvoor word die opbrengs van die kookboek aangewend? Sluitingsdatum: Erfenisdag, 24 September 2016 om 18h00.

Baie dankie aan Libby Doyle en Jules Mecrer van Quivertree Publications, asook PQ Blackwell.

Die foto’s is geneem deur Toby Murphy.

macaroni-en-kaas

Bros calamari, blitsbraai knoffel & witpeper – teëvoeter vir tolbos-lewe

14 Sep

As die gejaag na wind my soos ‘n tolbos laat voel, roep ek halt en nooi vriende om saam met ons kalm te raak aan tafel.

edit-8135-drie-geregte-vir-asie-ete-rs

Kalm-word kuierkos om my tuistafel, gekook uit ‘Balance and Harmony’.

Die kosmaak is ‘n kalm-raak-ritueel. Eers draal ek rustig voor my boekrak en soek ‘n kookboek wat by die stemming pas. Balance and Harmony van die Australiese supersjef Neil Perry is so ‘n boek.

Die belangrikste deel van die kookproses is smaak – ‘n balans tussen intense smake,’ is sy filosofie. “You will always here me say ‘balance, balance, balance’. And when I’m not saying balance, I’ll be talking about harmony.”

Balans en harmonie is nie net ‘n oogmerk in die kombuis nie, maar ook vir die lewe. Ek kry dit net makliker reg in die kombuis as met my leefstyl. Maar ek probeer – en vind dit aan my tuistafel, omring met mense wat so lief is vir eet as wat ek is om vir hulle kos te maak.

voorblad

Balance and Harmony op my kookboekstaander.

Wat ek wel goed regkry in my lewe is om ‘n leerling te bly. Om nie net op gister se kennis en belewenisse staat te maak nie, maar nuwes op te soek, nuwe smake, nuwe kooktegnieke.  So het ek uit Balance and Harmony ‘n nuwe manier geleer om my resep vir sout-en-Szechuan-peper calamari  (my Huiskok Glanskok-boek’) op te vars, makliker en meer opwindend te maak.

Hierdie mond-wakkermaak resep vind balans en harmonie  in kontras.  Wat ek nuut geleer het is watter heerlike smaaksprinkels grofgemaalde, blits-gebraaide knoffel en varsgekraakte witpeper vir calamari is.  (Geen probleem as jy nie witpeperkorrels het nie – swartpeper werk net so goed.)

Knoffelfobe kan die knoffel uitlos, maar is ‘n nuwe ervaring armer.

edit-8140-calamari-methoenderslaai-in-agtergrond-resze-vir-blog

Calamari-stroke bestrooi met blitsbraai knoffel en witpeper in een van kleinnig Diana Ferreira se keramiekbakke. In die agtergrond is ‘n Thaihoenderslaai gemaak met gepluiste spitbraai-hoender.

CALAMARI MET BLITSBRAAI KNOFFEL EN WITPEPER

Vir 4

  • 800 g calamaribuise, skoongemaak (ek koop dit gevries by PnP)
  • 30 ml vissous (kyk uit by deli’s)
  • 2,5 ml suiker
  • 2,5 ml sout
  • 5 ml witpeperkorrels
  • 1 heel knoffelbol, huisies losgemaak, skil aan
  • Sonneblom- of canolaolie vir diepbraai
  • 120 g koekmeel
  • Vir opdiening: Varsgemaalde witpeper, koljanderblare en skyfies lemmetjies, mayonnaise of rissiedoopsous (nuoc cham)

Sny die calamaribuise oop en vou plat. Met ‘n skerp mes, sny kruis en dwars kepe aan die binnekant en sny dan 2 cm wye stroke in die lengte af. Marineer die calamari in die vissous en suiker vir 30 minute.

Intussen stamp die peperkorrels en sout fyn, voeg die knoffelhuisies by en stamp verder tot ‘n growwe pasta – verwyder die ooglopende knoffelskilletjies.

Verhit die olie in ‘n kastrol of diepvetbraaier tot 180°C. Meng die helfte van die calamari met die meel tot goedbedek, skud oortollige meel af en braai tot goudbruin. Skep uit met gaatjieslepel en dreineer op kombuispapier. Herhaal met die res van die calamari.

Skep los stukkies uit die olie uit met ‘n gaatjieslepel en strooi die knoffelpasta versigtig oor die warm olie. Roer terwyl dit tot goudbruin braai, maar nie bruin nie. Skep uit met gaatjieslepel en dreineer op kombuispapier.

Plaas die calamari op opdienbord, sprinkel die bros knoffel en witpeper oor, garneer met koljanderblare en bedien met souse.

Vietnamese doopsousie (Nuoc cham )

Hierdie veelsydige doopsousie helder bykans enigiets op van slaai, gestoomde groente, roerbraai en seekos, tot hoender en vis oor die kole gebraai. Doodmaklik, maar wees gewaarsku – dit is verslawend.

  • 2 lang rooi brandrissies, ontpit en gekap
  • 1 knoffelhuisie
  • 15 ml bruinsuiker of gerasperde palmsuiker (jaggery*)
  • 30 ml vars lemmetjie-of suurlemoensap
  • 45 ml vissous
  • 30 ml ryswynasyn of appelasyn

Stamp die rissie en knoffel tot ‘n fyn pasta, roer die suiker by om goed te meng. Roer dan die lemmetjiesap, vissous, asyn en 45 ml water stadig by.

edit-8146-calamari-top-shot-rs

Ek wou lang stroke calamari maak; as jy dit opgekrul soek, sny die kepe aan die binnekant van die calamari, na die buise oopgesny is.

Kortles in jaggery:

*Jaggery (palmsuiker) het ‘n heerlike ryk, amper neutagtige soet smaak en lyk soos humpies fudge.

jaggery-getty

Jaggery/palmsuiker lyk vir my nes growwe hompe fudge. (Getty Image)

Dis nie-gedistilleerde, onverfynde suiker gemaak van palmsap (soos dadel, kokosneut of sagopalm) – of rietsuikersap. Die molasses en suikerkristalle word nie deur van mekaar geskei nie. Dis te kry by goeie deli’s, Oosterse winkeltjies en spesialiteitswinkels. Dit hou baie lank.

Kosfotografie en stilering: Ian en Errieda du Toit.

Die artikel is aangepas uit my weeklikse kosrubriek wat Woensdae in Die Burger Versnit verskyn.

Balance and Harmony: the secrets of Asian Cooking deur Neil Perry is ‘n 400-bladsy boek met ‘n weelderige hardeband. Dit is in 2008 deur Murdoch Books uitgegee.

Suurlemoenroomtert en oondhoender uit Arina se Plaaskos

6 Sep
  • Staan ‘n kans om hier ‘n getekende kopie van Plaaskos te wen in Die Burger Versnit-kompetisie. Kyk onderaan hierdie blogstorie hoe om in te skryf. Dit sluit 9 September 2016.
Arina se aspersies met spek en sagte eier is waarmee ek elke lentedag mee wil begin.

Arina se aspersies met spek en sagte eier is waarmee ek elke lentedag mee wil begin.

Ek is een van Arina du Plessis se grootste bewonderaars. Ek het elke kookboek van haar en bewaar elke uitgawe van Boerekos, Landbouweekblad se kostydskrif, soos goud. Dit was pure plesier om op ‘n mooi lentedag met haar te gesels oor die seisoen van nuwe lewe en haar nuwe boek PLAASKOS.

“Daar kan nie iets mooier wees as lente op Elandsrivier, die plaas in die Ceres-vallei waar ek grootgeword het nie.”

Arina vertel hoe die plaashuis reg op die kop die beste uitsig gebied het op die aankoms van die lente. “My pa se appelkoos-, perskes- en peerboorde was lappe wit, pienk en donkerpienk bloeisels.”

Die seisoen van nuwe lewe het ook hanslammers gebring wat sy drie keer op ‘n dag moes melk gee. Vir die plaaskind was die langer dae baie welkom na die yskoue winters en sneeupieke waarvoor die streek bekend is, sodat sy weer kon kaalvoet loop en swem.

Lente hou vir haar goeie herinneringe in van aarbeie en pronkertjies. ‘My ma Rinie het twee akkertjies naby haar kombuis geplant, waar sy stroopsoet klein aarbeitjies gepluk het. Dit het grofgekap in haar tuisgemaakte roomys beland.”

Soos die seisoen van oorgang, het haar ma se bederfgoed ook verander. Die winter se warmer vlatert het plek gemaak vir yskasterte, waarmee haar pa en die plaasbestuurder teetyd en koffietyd ingewag is.

Na 17 jaar in die kos-mediabedryf begin Arina nou 'n nuwe fase in haar loopbaan. PLAASKOS bevat resepte iot haar grootwordjare en haar gunstelingsmake wat haar pad as kosskrywer en stilis gekruis het.

Na 17 jaar in die kos-mediabedryf begin Arina nou ‘n nuwe fase in haar loopbaan. PLAASKOS bevat resepte iot haar grootwordjare en haar gunstelingsmake wat haar pad as kosskrywer en stilis gekruis het.

Hierdie lente is ook tyd van verandering en vernuwing vir hierdie geliefde kosskrywer en stilis met sewe kookboeke op haar kerfstok. Na haar kosloopbaan van 17 jaar in die media-wêreld (die afgelope vier jaar as kosredakteur van Landbouweekblad en die kostydskrif Boerekos), is dit tyd om ‘n nuwe pad te verken. Selfs al is die roete nog onbekend. Wat sy voor hoop is nuwe horisonne en ‘n nuwe lewensritme sonder die meedoënlose sperdatums van ‘n weeklikse tydskrif.

“Dit was ‘n moeilike besluit, veral om my geliefde Boerekos tot sien te sê, maar ek is opgewonde oor nuwe geleenthede; veral om meer tyd saam met my kinders Daniël (7) en Emma(5) deur te bring. Ek kom agter hoe ouer mens se kinders raak hoe meer het hulle my nodig.”

Meer Oor Plaaskos  

Arina se nuwe kookboek Plaaskos is boordensvol grootwordkos en nuwe geure wat sy deur haar loopbaan leer liefkry het.   Myburgh Du Plessis se manjifieke foto’s gee atmosfeer aan die boek, en sy foto van Arina se pa wat saam met sy hondjie in sy geliefde vrugteboord staan vat die emosie vas waarmee Arina hierdie juweelvan ‘n boek saamgestel het.

Plaaskos is ‘n spieël van Arina as mens, eg en sonder fieterjasies, voete stewig op plaasgrond met ‘n moderne uitkyk op haar koserfenis. Haar vernuwing van melkkos is een van die beste vernuwings van ‘n erfkos ooit.

Die rakprys is R310.00 en dit word deur Human & Rousseau uitgegee.

plaaskos-voorblad

Vrae vir Arina:

  • Geliefde lentegeure:  Soet geure soos roos, amandel en melkerige geure. Ligter geregte, piepjong groente eenvoudig gaargemaak, saggekookte eier, aspersies. Melkjellie. In die lente gaan my speseryhand toe en gryp ek die vars kruie.
  • Lentegroentetuin: My tuin is woes op die oomblik, maar binnekort pluk ek en my kinders arms vol boontjies en tamaties.
  •  Altyd in die yskas: Parys-botter. Smeer dit oor hoender, roer dit by mossels.

Geheime bestanddeel: Geroosterde knoffel- ek bak ‘n klomp knoffelbolle op ‘n slag vir slaaisouse, smere en vinnige doopsous.

  • Hierdie suurlemoenroomtert lok die lente nader. Een van my allergunstelinge uit PLAASKOS.

    Hierdie suurlemoenroomtert lok die lente nader. Een van my allergunstelinge uit PLAASKOS.

SUURLEMOENROOMTERT

Toe ek die eerste keer Plaaskos deurgeblaai het, is dit die resep wat my eerste boekmerk gekry het. Nie net is sitrus, en veral suurlemoen, die vrug van my siel nie, dit sit ‘n zing en varsheid van lente op die tong. Pure son, pure lewenslus.

Suurlemoene is vir Arina ook baie spesiaal. Sy glo elke tuin moet ’n suurlemoenboom hê om ‘n tert soos hierdie – ook haar ma se gunsteling – te maak. “My ma verjaar in die lente – dan was die hele huis vol bosse pronkertjies en suurlemoentert op die teetafel. Ek onthou steeds die opwinding en afwagting van die tye wat ons saam beplan het aan die eetgoed vir haar partytjie.”

Kors

  • 680 ml koekmeel
  • knippie sout
  • 150 g botter
  • 180 ml versiersuiker
  • 2 eiers, geklits

Vulsel

  • 310 ml strooisuiker
  • 6 eiers
  • 310 ml room
  • 310 ml varsuitgedrukte suurlemoensap

Om te versier

  • 250 ml room
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 10 ml versiersuiker, gesif
  • geroosterde klapper of gemmerkoekiekrummels
  • om mee af te rond

Sif die meel en sout in ’n mengbak en vryf die botter met jou vingerpunte daarby in tot krummelrig. Sif die versiersuiker bo-oor en meng liggies deur. Maak ’n holte in die middle en voeg die geklitste eiers by. Meng liggies met jou hande tot ’n deeg vorm. (Voeg ’n paar druppels yswater by, indien nodig.) Druk die deeg bymekaar, draai in kleefplastiek toe en verkoel vir minstens 1 uur. Voorverhit die oond tot 180 ˚C. Rol die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak uit en voer ’n gesmeerde tertbord van 30 cm daarmee uit.

Bak die tertkors blind vir 15 minute, haal die bakpapier met bone of rys uit en bak die kors vir nog 10-15 minute. Haal uit die oond en laat effens afkoel. Verlaag die oondtemperatuur na 160 ˚C.

Klits die suiker, eiers, room en suurlemoensap saam. Giet in die voorbereide tertkors en bak vir 20-25 minute tot net-net ferm. Haal uit die oond en laat afkoel tot kamertemperatuur.Verkoel tot benodig. Klop die room, vanieljegeursel en versiersuiker saam styf net voordat die tert voorgesit word. Versier die tert daarmee en rond af met ’n bietjie geroosterde klapper of gemmerkoekiekrummels bo-oor.

Arina se bros, goudbruin oondhoender word met geurige botter ingevryf. Foto: Myburgh Du Plessis

Arina se bros, goudbruin oondhoender word met geurige botter ingevryf. Foto: Myburgh Du Plessis

OONDGEROOSTERDE HOENDER MET SUURLEMOEN-EN-KNOFFELBOTTER

Lente! Spring chicken! Wat ek hou van Arina se resep is die geurige botter waarmee die hoender ingevryf word vir ekstra geurigheid en heerlike suurlemoen-knoffel twang. Dit vel bak bros en goudbruin, terwyl die hoender binne sappig uit die oond kom. .

  • 1 groot skrophoender, skoongemaak en oortollige stukkies vet verwyder
  • seesout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • halwe ui, in wiggies gesny
  • 1 groot suurlemoen, in kwarte gesny
  • 1 knoffelbol
  • 160 g sagte botter
  • 5 ml fyngerasperde suurlemoenskil
  • 10 ml fyngekapte vars tiemie of dragon
  • seesout en varsgemaalde swartpeper

Voorverhit die oond tot 200 ˚C. Druk die hoender se vel droog met kombuispapier en geur die binneholte mildelik met sout en swartpeper. Sit die ui en suurlemoenwiggies in die binneholte. Haal vier knoffelhuisies uit die knoffelbol en hou eenkant. Skil die res van die knoffelhuisies, maar hou dit heel en druk dit ook in die hoender se binneholte. Bind die hoender netjies op met kombuistou.

Kap die vier ander knoffelhuisies goed fyn en meng dit met die sagte botter, suurlemoenskil, tiemie of dragon en ’n bietjie sout en peper. Smeer dit egalig oor die hoender en vryf die vel goed daarmee in. Maal sout oor die hele hoender en vryf dit ook in. Sit die hoender in ’n oondbak wat met olie gesmeer is en oondrooster vir 30-40 minute.

Haal die hoender uit die oond, bedek met tinfoelie en verlaag die oondtemperatuur na 160 ˚C. Bak vir nog 60 minute tot die hoender sag en gaar is. Haal weer uit die oond en skep die pansouse oor die hoender. Verhit die oond se roosterelement en braai die hoender onder die rooster tot dit ’n diep goudbruin kleur het. Laat rus vir 10 minute en sit voor.

Die blogskrywe is ‘n aangepaste weergawe van my kosrubriek in Die Burger Versnit.

Kompetisievraag: Wat is die naam van die plaas in die Ceres-vallei waar Arina du Plessis, skrywer van PLAASKOS, grootgeword het? Stuur jou antwoord per e-pos aan my by errieda@edtpr.co.za teen 9 September 2016.

 

%d bloggers like this: