Archive | December, 2018

Gelukbringer lemoen-toffie klapperkoek

31 Dec

Kos is ryk aan rituele, seremonie en bygelowe om die rug te keer op die jaar wat verby is en hoopvol vorentoe te kyk. En wie kan nie doen met ‘n bietjie ekstra geluk vir die Nuwe Jaar nie, soos ‘n lemoenkoek met ‘n kroon van toffielemoen-‘muntstukke’ nie.

Ronde vrugte wat muntstukke verteenwoordig beloof ook goeie geluk, veral as dit ‘n goue kleur het soos lemoene of mandarin. Granaatpitte word ook dikwels in beursies rondgedra dwarsdeur die jaar om goeie geluk te bring. My resepinspirasie is Plenty More.

GELUKBRINGER-KLAPPERKOEK MET TOFFIELEMOENE (glutenvry)

Hierdie glutenvrye koek word met amandelmeel, gougaar mieliemeel en droë klapper gemaak. Die x-faktor is die gekookte, verpulte lemoen wat by die beslag geroer word – en die goue kroon van toffielemoenringe wat soos blink goue munte bo-op die koek lê.

Vir koek:

2 lemoene

1 k (100 g) amandelmeel

½ k (90g) gougaar-mieliemeel of kitspolenta

½ k (45g) fyn klapper (desiccated coconut)

½ t (2,5 ml) bakpoeier

3 eiers, by kamertemperatuur

¾ k (165g) strooisuiker

1 ½ t vanielje-ekstrak

Vir toffie-lemoen

3 lemoene, geskil, in dun ringe gesny

1 k (220g) strooisuiker

Maak koek:

* Plaas lemoene in ‘n medium kastrol, bedek met water en laat kook minstens 45 minute tot baie sag. Dreineer en hou eenkant.

* Voorverhit oond tot 160°C. Voer ‘n losboompan (20 cm deursnit) se bodem en sye uit met bakpapier.

* Sny die gekookte lemoene in kwarte, haal die stam en alle pitte uit en verpulp in ‘n versapper. Hou puree eenkant.

* Voeg die amandelmeel, polenta of mieliemeel, klapper en bakpoeier in ‘n bak en roer om dit goed te meng.

* Klop die eiers, suiker en vanielje met ‘n elektriese klits tot baie dik en ligkleurig, sowat 4 minute. As jy die klitser oplig sal die mengsel linte vorm. Vou die lemoenpuree by die eiermengsel in tot net deurgemeng en vou dan die meelmengsel by tot alles goed deurgemeng is.

* Gooi die mengsel in die voorbereide pan en stryk die bokant glad met die agterkant van ‘n lepel.

* Bak 40-45 minute tot die koek ferm voel en ‘n toetspen skoon uitkom. Koel die koek 5 minute in die pan af, verwyder die ring en laat die koek op die basis heeltemal afkoel.

Maak toffielemoene:

* Voer ‘n groot bakpan of skinkbord met bakpapier uit. Rangskik die lemoenringe in ‘n enkellaag op die skinkbord.

* Plaas die suiker saam met 1/3 koppie (80 ml) water in ‘n kastrolletjie oor medium hitte, en roer – sonder dat dit kook- tot die suiker opgelos het. Bring tot kookpunt, SONDER OM TE ROER, en kook tot goudbruin (7 tot 10 min). Terwyl dit kook borsel die binnekante van die kastrol met ‘n nat kwassie om enige suikerkristalletjies wat mag vorm, af te was.

* Haal van die hitte af en drup die helfte van die toffie mooi eweredig oor die lemoenskywe. Plaas lemoene opsy om af te koel.

* Voeg ¼ k (60 ml) water by die oorblywende toffie en roer om ‘n dik stroop te vorm. Giet die warm toffiestroop oor die koek en laat afkoel.

Bedien die koek met die toffielemoene bo-op gerangskik en room of mascarpone in ‘n aparte bakkie.

Fotokrediet: Ian du Toit

Agter die voornemenslysie

30 Dec

Om aan die stertkant van die jaar terug te kyk op nuwejaarsvoorneme is ‘n soberende ervaring. Dis waar jou idealisme kragte meet met die werklikheid en wilskraag. Waar jou tekortkominge jou goeie intensies aan die strot beet het. Waar  jou beste bedoelinge waarskynlik bloedneus gelaat is deur verleidings. 

Gewoonlik is die Groot Vyf op hierdie lys (1) om gesonder te lewe, meer groente minder vleis (2) om gewig te verloor (3) om gym toe te gaan (4) om elke oggend sonskerm aan te smeer  (5) nougeset begroting te hou en beter oor die weg te kom met die bankbestuurder.

My lysie is minder tipies. Alhoewel dit ook uiteindelik struikel onder weifelende wilskrag en  tanende entoesiasme, is dit my vermoë om in chaos te floreer wat ‘n voornemenslysie sy agterkant op my laat draai. 

Vat nou maar Voorneme Een.  Om te sê ek het baie kookboeke is die eufemisme van die jaar. Belaglik-baie, obsessief-baie is nader aan die waarheid. Hulle oorstroom voetstoele, bedkassies, koffietafels en kombuiskaste.  Soek iets oor Spaanse kos? Ek het iewers elf titels wat my kan inlig oor enigiets van die Katalaanse seekos-bredie zarzuela  tot die koue knoffel – en amandelsop ajo blanco.  Maar probeer ek my hand slaan aan een van die elf is daar ‘n oormag van Duisend Ander Boeke wat hulle aan my opdring, ‘Kies my, kies my!’

In Januarie het ek kans gesien om selfs die mees losbandige, nomadiese van my kookboeke te tem met my huiskok-weergawe van die Dewey-stelsel. Ek was selfs van plan om  beter huise te kry vir die  weeskinders: die vervreemdes, die afgeskeeptes en die ongeliefde boeke.  Helaas, my  kookboek-chaos registreer nou al ‘n stewige 7 op die Richterskaal.

Nommer Twee op die lys is die stand van my instapspens, ‘n geraamte wat ek agter ’n toe  spensdeur wegsteek. Ek was vas van plan om my eie ‘voor en na’ spensmooimaak-proses van stapel te stuur soos op Home Channel. Die getransformeerde spens met blikkies, potjies, koekpanne, meelsakke, voorskote en flessies ingelegde vrugte (met ou-wêreldse etikette en doiliekragies) in gelid op parade vir die groot onthulling. Helaas.

Eintlik weet ek nie hoekom die derde item op my voornemenslys verskyn nie, want daar’s nie salf aan my te smeer as dit by speserye kom nie. Dié versamel ek met dieselfde koorsagtigheid as my kookboeke. Moontlik het die humoris Erma Bombeck na my verwys het toe sy gesê het vrouens gooi net nooit speserye uit nie. Ons moet eintlik – soos die Egiptenare destyds – begrawe word met ons speserye. 

Pleks van om ‘sorteer jou speserye uit’ op ’n voornemens-lysie te skryf, oorweeg ek nou om vooraf te bepaal dat elke botteljie kaneel, koljander, kerriepoeier, komyn, kardomom en karweisade  saam met my die Rivier Styx moet oorsteek. Veral die verslaandes, want dié kom immers die langste saam met my.

Laer af op die lys lag my bultende deurmekaar-laai in die kombuis vir my. Is dit net die Du Toits wat ‘n laai het wat as begraafplaas dien vir als wat stomp, stukkend of ongebruik is? Die swak patente s en mislukte kombuisgizmos; knoffeldrukkers wat nie druk nie; blikoopmakers wat nie oopmaak nie; uitgerekte rekkies en stukkende onderdele van die sapuitdrukker.  Vanjaar sou ek die laai laat sprankel met kombuistou en kombuisskêr op hul plek. Helaas, ek stuur steeds ‘n soekspan  uit voor ek die gevulde lamsboud kan opbind.

Nommer vyf op my lysie koggel my snoeiskêr in die hand. Wat begin het as ‘n gekonsulteerde eko-vriendelike kombuistuin is nou ‘n woud roosmarynbosse (‘n resep vra net ‘n takkie of twee) , ‘n wildtuin van selfgesaaide dille, ‘n lamlendige suurlemoenboom  wat met ’n eie ingeboude erdwurmplasie ten spyt net drie anemiese suurlemoene kon dra. En ek hét sulke groot planne gehad om vir myself groenvingers te kweek.

Om perspektief te kry teken ek dinge aan wat nié op die voorneme-lysie was nie, maar tog die skaal bemoedigend in my guns laat swaai. Dis die onbeplande ervarings en onvoorsiene heerlikhede van die jaar: 

om saam met Tiaan te werk aan die kykNet-program Tiaan Onthou;

om soetsuurdeegbrood in die Sandveld te eet, om Spaanse membrillo van kwepers te maak,

marankies te stowe en ‘n groenpampoen vars van die land van Vioolsdrif aan te ry vir groenpampoenbredie, souttoffie-aartappels te waag,

150 Gemeenskapskookboekies deur te werk,

en Cariema dop te hou terwyl sy vir ons denningvleis en breyani in my kombuis optower. 

Ek het verslaaf geraak aan adobo uit die Fillipyne en die outydse heerlikheid van gestoofde koejawels herontdek (al moes ek soek vir kaneelstokkies) en my bejaarde ma betraand gehad aan die lekker van onthou.  

Van voor en agter gesien was dit tóg my jaar.

Aangepas uit my rubriek vir Sarie Kos. Foto’s deur Ian du Toit

Mooileefkos van Halfaampieskraal

20 Dec

Vroeër jare het mooileef-publikasies soos The World of Interiors en Vogue Living opgestapel in my huis. Soos wat die storm-en-drang van die bymekaarmaakjare afgeneem het, kon ek ander mense se kunsversamelings, ontwerperkombuise en welige tuine met pergolas wat drup van bloureen geniet, sonder om die begeer-gebod te oortree.

HALFAAMPIESKRAAL_DAY32756 copy

2018_HALFAAMPIES_COVER_LOOK_04_006Ek moet egter bieg, toe ek onlangs blaai deur Halfaampieskraal: The Way we Live, ‘n leefstylboek oor lewe op die 2 ½ eeu-oue plaas in die Suidwes-Kaap, kon ek nie die wensdenkery weerstaan om plekke te ruil met die stylvolle, gasvrye boer Jan-Georg Solms en kosfoendi Cobus Geldenhuys nie.

Tot tyd en wyl is ek tevrede dat my sinne gepamperlang word deur fotograaf Ulrich Knoblauch se atmosferiese foto’s, die ryk vertellinge en verleidelike resepte. Dis binne maklike bereik op die koffietafel geplaas sodat ek net my hand hoef uit te steek as ek drentel-drentel deur dit wil blaai.

Man met skape

Oral voel ek my tuis, of dit die hoofstuk is oor hulle honde (“ons lewensdoel is om die mense te wees wat ons honde dink ons is”), of oor donker kamers (“die huis is gebou in ‘n era waar ontvlugting van die elemente belangriker was as ontwerp’), blomme (“daar is skoonheid in elke stadium van die blom se siklus, van groen botsel tot volblom en die blomblare wat afval op die tafel”); boerdery (“die ganse is al vir generasies hier, hulle dons vul die kwilts, hul eiers ‘n delikatesse in die lentetyd”).

Ek droom om te slaap in ‘n kamer met dik kleimure en donkerfluweelgordyne wat die somerhitte buite hou, dan aan die ontbyttafel die oorgroot servette oop te vou in afwagting vir sjef Mariette Scheltema se ontbyt-croissantkoek – ‘n gelaagde heerlikheid van Brie, uie, botter en eiervla gegeur met neutmuskaat en tiemie. Ek wil die legendariese skaappastei proe wat stadig oornag gaargemaak is, sappig, soutig-soet onder ‘n botterige kors. “Die nougat parfait, gelaai met haselneute, rooswater en kardamomstof stuur jou vir ‘n slapie met ‘n glimlag,” beloof die voorwoord.

Die resepseksie is soos ‘n plesiertuin van bekende en smake: aartappel Anna, baklava en feta-saganaki met bros filo en heuningdrupsels, salm- en skelvisvorm, elegante pecorino soufflé, bonkige appelblatjang, oornag skaapboud, soet uitjies en groenteskottels.

Skaapboud

Stadig gebakte Skaapboud

Op Halfaampieskraal word slegs vleis van hul eie Merino kudde gebruik, en slegs skape 20 maande of ouer, soveel geuriger as lamsvleis. Hierdie groot boud is genoeg om 10 mense kos te gee.

5 kg skaapboud

Growwe sout en varsgemaalde peper

5 knoffelhuisies, in die lengte deurgesny

4 groot uie, grofgekap.

1 bottel rooiwyn

3 roosmaryntakkies

60 ml swartbessiejellie

Voorverhit die oond tot 120ᴼC. Vryf die vleis in met sout en peper. Druk knoffel in die holtes. Plaas skaapboud bo-op die gekapte uie in ‘n oondbak, giet die rooiwyn oor. Die vleis moet kwartpad in die vloeistof wees, vul water aan indien nodig. Plaas roosmaryntakkies bo-op, bedek dig met foelie, bak 8 ure tot sag en koel af in die vleissap.

Trek die been versigtig uit en breek die vleis op in kleiner stukke.

Gooi die vloeistof deur ‘n sif in ‘n pan en laat afkoel tot die vet stol en maklik afgeskep kan word. Prut tot die vloeistof met die helfte verminder het. Roer die swartbessiejellie by. Die vleissous moet ‘n lekker souterige, vleiserige, asynerige smaak hê. Bedien dit met soet klein uitjies en gremolata.

Vir soet klein uitjies: Bedek 1 kg klein uitjies met kookwater, laat staan tot dit koel genoeg is om te hanteer, dreineer die water en skil. Plaas die uie, 125 ml botter, 65 ml suiker, 15 ml bruinasyn, 2 vars lourierblare (opsioneel), ‘n bossie vars tiemie en 2,5 ml sout in ‘n kastrol, bedek en kook oor lae hitte tot die uie net-net sag is. Haal die deksel af en laat die uie effens karamelliseer.

GroentebordGroentebord

Bedien 8

Groente:

1 medium rooikool, gekerf

1 kop broccoli, in blommetjies gesny

1 bos jong spinasie

2 handevol groenbone, kop en stert afgesny

Canola-olie, vir braai

5 ml mosterdsade

Sout en peper, na smaak

30 ml bruinasyn, verdeel

2 ml gerasperde neutmuskaat

1 suurlemoen se sap en skil

2,5 ml fyn komyn

15 ml geroosterde amandels, grofgekap

1 knoffelhuisie, gekneus

Afronding: olyfolie, 1 suurlemoen en geskroei op gasvlam tot die rante verbruin.

Roerbroei die rooikool in die canolaolie, geur met mosterdsade, sout en peper en 15 ml asyn. Verwelk die spinasie in ‘n pan en geur met neutmuskaat, sout en peper. Stoom die broccoli tot amper-sag en geur met suurlemoensap- en skil, sout en peper. Stoom die groenbone tot amper-sag en roerbraai in canolaolie, geur met komyn, geroosterde amandels, knoffel, 15 ml asyn, sout en peper.

Bedien die groente kwistig besprinkel met olyfolie en die geskroeide suurlemoene.

Irish Coffee jellyIerse koffiejellie

Bedien 8

300 ml suiker

125 ml water

350 ml sterk espresso

30 ml whisky

30 ml koffielikeur

5 ml vanielje-essens

Knippie sout

15 ml gelatienpoeier, opgelos in 125 ml warm water

250 ml room, liggies geklits

Los die suiker in die water op en prut oor lae hitte tot stroperig, sowat 2-3 minute. Voeg die espresso, whisky, koffielikeur, vanielje-essens en sout by die stroop. Voeg die aangemaakte gelatien by, verwyder van die plaat en laat effe afkoel. Giet die mengsel in 8 glasies. Stol in die yskas. Giet ‘n lagie geklitse room bo-oor net voor opdiening.

  • Meer oor Halfaampieskraall: The Way we Live.

Die versamelaarsdroom is uitgegee in samewerking met New Media Publishing. Enigiemand met ‘n waardering vir uitstekende foto’s, goeie papier en gehalte drukwerk sal die boek begeer. Smulpape sal die 32 resepte geniet, ‘n baie goeie aanvulling tot hulle vorige boek Halfaampieskraal Vier Fees. Bestel dit direk aanlyn bestel teen R400 by kraal.biz. www.kraal.biz. Die blad gee ook ‘n lys van boekwinkels wat dit aanhou.

Foto’s: Ulrich Knoblauch.

%d bloggers like this: