Agter die voornemenslysie

30 Dec

Om aan die stertkant van die jaar terug te kyk op nuwejaarsvoorneme is ‘n soberende ervaring. Dis waar jou idealisme kragte meet met die werklikheid en wilskraag. Waar jou tekortkominge jou goeie intensies aan die strot beet het. Waar  jou beste bedoelinge waarskynlik bloedneus gelaat is deur verleidings. 

Gewoonlik is die Groot Vyf op hierdie lys (1) om gesonder te lewe, meer groente minder vleis (2) om gewig te verloor (3) om gym toe te gaan (4) om elke oggend sonskerm aan te smeer  (5) nougeset begroting te hou en beter oor die weg te kom met die bankbestuurder.

My lysie is minder tipies. Alhoewel dit ook uiteindelik struikel onder weifelende wilskrag en  tanende entoesiasme, is dit my vermoë om in chaos te floreer wat ‘n voornemenslysie sy agterkant op my laat draai. 

Vat nou maar Voorneme Een.  Om te sê ek het baie kookboeke is die eufemisme van die jaar. Belaglik-baie, obsessief-baie is nader aan die waarheid. Hulle oorstroom voetstoele, bedkassies, koffietafels en kombuiskaste.  Soek iets oor Spaanse kos? Ek het iewers elf titels wat my kan inlig oor enigiets van die Katalaanse seekos-bredie zarzuela  tot die koue knoffel – en amandelsop ajo blanco.  Maar probeer ek my hand slaan aan een van die elf is daar ‘n oormag van Duisend Ander Boeke wat hulle aan my opdring, ‘Kies my, kies my!’

In Januarie het ek kans gesien om selfs die mees losbandige, nomadiese van my kookboeke te tem met my huiskok-weergawe van die Dewey-stelsel. Ek was selfs van plan om  beter huise te kry vir die  weeskinders: die vervreemdes, die afgeskeeptes en die ongeliefde boeke.  Helaas, my  kookboek-chaos registreer nou al ‘n stewige 7 op die Richterskaal.

Nommer Twee op die lys is die stand van my instapspens, ‘n geraamte wat ek agter ’n toe  spensdeur wegsteek. Ek was vas van plan om my eie ‘voor en na’ spensmooimaak-proses van stapel te stuur soos op Home Channel. Die getransformeerde spens met blikkies, potjies, koekpanne, meelsakke, voorskote en flessies ingelegde vrugte (met ou-wêreldse etikette en doiliekragies) in gelid op parade vir die groot onthulling. Helaas.

Eintlik weet ek nie hoekom die derde item op my voornemenslys verskyn nie, want daar’s nie salf aan my te smeer as dit by speserye kom nie. Dié versamel ek met dieselfde koorsagtigheid as my kookboeke. Moontlik het die humoris Erma Bombeck na my verwys het toe sy gesê het vrouens gooi net nooit speserye uit nie. Ons moet eintlik – soos die Egiptenare destyds – begrawe word met ons speserye. 

Pleks van om ‘sorteer jou speserye uit’ op ’n voornemens-lysie te skryf, oorweeg ek nou om vooraf te bepaal dat elke botteljie kaneel, koljander, kerriepoeier, komyn, kardomom en karweisade  saam met my die Rivier Styx moet oorsteek. Veral die verslaandes, want dié kom immers die langste saam met my.

Laer af op die lys lag my bultende deurmekaar-laai in die kombuis vir my. Is dit net die Du Toits wat ‘n laai het wat as begraafplaas dien vir als wat stomp, stukkend of ongebruik is? Die swak patente s en mislukte kombuisgizmos; knoffeldrukkers wat nie druk nie; blikoopmakers wat nie oopmaak nie; uitgerekte rekkies en stukkende onderdele van die sapuitdrukker.  Vanjaar sou ek die laai laat sprankel met kombuistou en kombuisskêr op hul plek. Helaas, ek stuur steeds ‘n soekspan  uit voor ek die gevulde lamsboud kan opbind.

Nommer vyf op my lysie koggel my snoeiskêr in die hand. Wat begin het as ‘n gekonsulteerde eko-vriendelike kombuistuin is nou ‘n woud roosmarynbosse (‘n resep vra net ‘n takkie of twee) , ‘n wildtuin van selfgesaaide dille, ‘n lamlendige suurlemoenboom  wat met ’n eie ingeboude erdwurmplasie ten spyt net drie anemiese suurlemoene kon dra. En ek hét sulke groot planne gehad om vir myself groenvingers te kweek.

Om perspektief te kry teken ek dinge aan wat nié op die voorneme-lysie was nie, maar tog die skaal bemoedigend in my guns laat swaai. Dis die onbeplande ervarings en onvoorsiene heerlikhede van die jaar: 

om saam met Tiaan te werk aan die kykNet-program Tiaan Onthou;

om soetsuurdeegbrood in die Sandveld te eet, om Spaanse membrillo van kwepers te maak,

marankies te stowe en ‘n groenpampoen vars van die land van Vioolsdrif aan te ry vir groenpampoenbredie, souttoffie-aartappels te waag,

150 Gemeenskapskookboekies deur te werk,

en Cariema dop te hou terwyl sy vir ons denningvleis en breyani in my kombuis optower. 

Ek het verslaaf geraak aan adobo uit die Fillipyne en die outydse heerlikheid van gestoofde koejawels herontdek (al moes ek soek vir kaneelstokkies) en my bejaarde ma betraand gehad aan die lekker van onthou.  

Van voor en agter gesien was dit tóg my jaar.

Aangepas uit my rubriek vir Sarie Kos. Foto’s deur Ian du Toit

One Response to “Agter die voornemenslysie”

  1. Tannie Frannie December 31, 2018 at 6:51 pm #

    😀

Leave a Reply to Tannie Frannie Cancel reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: