Sommige dinge het net nie verduideliking nodig nie. Soos die begeerte vir iets troostend in tye van onsekerheid. Soos die magiese vermoë van pampoenkoekies om die dag sommer beter te laat lyk.
Wenke:
Span jou drukkoker In om die pampoenblokkies te kook. Net drie minute!
Botterskorsie is ideaal, want dis minder waterig as pampoen.
As die beslag te loperig is, roer nog ‘n lepel meel by.
Pampoenkoekies
Maak 12
600 ml gaar, fyngemaakte pampoen of botterskorsie
250 ml koekmeel
5 ml bakpoeier
Knypie sout
Stewige mespunt anys (opsioneel)
2 eiers, geklits
Olyfolie vir vlakvetbraai
Kaneelsuiker
Opsioneel: blomblaartjies van marigolds
Meng die pampoenmoes, meel, bakpoeier, sout en anys in ‘n mengbak. Roer die geklitse eiers by om ‘n slapperige beslag te vorm. Giet ‘n bietjie olie in ‘n pan, skep lepelsvol (4 – 5 koekies op ‘n keer) in die warm olie en braai aan beide kante tot goudbruin en gaar. Dreineer op kombuispapier, strooi kaneelsuiker oor en rond opsioneel af met eetbare blommetjies.
Foto Ian Du Toit