Tag Archives: blatjang

Kerriesult, ja, maar werfsult?

28 May

 

Praat van sult en die gehoor is in een van twee kampe: die sult-bewonderaarskring of die flight-club

  1. Hoendersult met speserykwepers en blatjang (foto: Ian du Toit)

    Hoendersult met speserykwepers en blatjang (foto: Ian du Toit)

‘n Afval-aficionado is ek nie, en kan ook nie aanspraak maak op kinderjare wat deurweek is van vaal afval se lymerige heerlikheid of kerrieafval se begeerlikheid nie.  Maar my ma se sult onthou ek soos ek haar hoenderpastei, tuisgemaakte gemmerbier, slaphakskeentjies en outydse soetkoekies onthou. Ek onthou ook haar hoendersult, maar meer hieroor later.

Deur my verbintenis met Kokkedoor, die realiteitsreeks, het ek bewus geraak van Die Groot Sult-herlewing. Uit die honderde der honderde oudisiegeregte het die groot aantal sultdisse  my verras. Moenie dink dis net die ouer garde wat dit maak of geniet nie. Dis juis die jongeres wat die ‘snoet tot stert’ eet-etiek ondersteun en dinge soos afval en sult herontdek; dit as deel van ‘n artisanal charcuterie-bord voorsit, in ‘n sultslaai bedien met peperwortelmayonnaise, tuisgemaakte botter en plaasbrood; of kerriesult met groenvye soos Jo Fritz, ‘n Kokkedoor-onthoukok van Calvinia dit in sy oudisie voorgesit het.

Toe ek by Jo en sy kosbroer en mede-Kokkedoor Arthur Wildskut van Willowmore  hoor dat hulle ‘n Karoo-Kambro kos-en kultuuraand gaan hou met kerriesult vir voorgereg én rieldansers het ek gedril van lekkerkry.  Gelukkig het dit nie veel armdraai gevat om hulle te oorreed om te kom sult gesels in die RSG-ateljee nie. My kosrubriek ‘Die Kos wat ons Ken’ kyk mos juis na die dinge wat deel is van ons tafel. (Sien onder vir besonderhede oor die kos-en-kultuuraand)

Die Kokkedoor onthoukokke Arthur Wildskut en Jo Fritz kook die land warm met hul Karoo Kambroo kos-en-kultuuraande. En hulle maak kerriesult!

Die Kokkedoor onthoukokke Arthur Wildskut en Jo Fritz kook die land warm met hul Karoo Kambroo kos-en-kultuuraande. En hulle maak kerriesult!

JO SE KERRIESULT

1 baie skoon skaapafval

2 beespote

2 groot uie

3 naeltjies

4 lourierblare

8 peperkorrels

50ml vars koljander

1.5 liter water

Kerriesousie

Meng die volgende saam:

75 ml matige kerrie

30ml borrie

175 ml bruin suiker

150ml rooiwynasyn

  •  Sorg dat afval baie skoon is en plaas in stoompot met die speserye en water (behalwe die kerrie sousie se bestanddele). Stoom 1 uur en haal van plaat af en voel hoe sag dit is. Onthou dat vleis moet los van die been afkook.
  • Sodra dit sag gekook is, laat afkoel en ontbeen en sny in baie klein stukkies op. Plaas vleis terug in sous en gooi kerrie sousie-bestanddele by wat alreeds gemeng is, laat prut tot dit goed deurgekook is.
  • Gooi mengsel in n oondpan en laat afkoel. Nadat dit af gekoel het, plaas oornag in yskas. Sny volgende dag in vierkante of soos verlang.
  • Bedien dit koud met vars brood en met groenvye of soos verkies.
  • aa sult geskep

Werfsult persillé (of pleinweg Hoendersult met pietersielie)

Gesoute sult-eters sal sekerlik hoendersult as ‘n ‘cop-out’ beskou, maar tog was dit iets wat vir my alledaags was in my kinderjare. Johan Odendaal van Emily’s Bistro in Kloofstraat vertel dat hulle dit daar Werfsult noem! Dis gewis nie iets wat almal ken nie, maar dis dit werd om te leer ken.

Ek het ‘n resep uit die argiewe van Die Landbouweekblad ietwat aangepas; en geinspireer deur die Boergondiese jambon persillé roer ek vars pietersielie deur die fyn hoender en stol dit ook met pietersielie onder in die jellievorm (vandaar die Franse kroontjie persillé). Dis vir my heerlik met my tuisgemaakte spesery-kwepers, perske-blatjang, ‘n groenslaai en bruinbrood.

1 hoender, gekook, ontbeen en gepluis

300 ml hoenderaftreksel + ekstra (gebruik die vloeistof waarin die hoender gekook het, laat afkoel en verwyder die vet)

2 uie

Kookolie, genoeg om die uie in te braai

10 ml kerriepoeier

1 wortel, gerasper (ek sny dit in klein dobbelsteentjies op)

25 ml gelatien (nodig vir die jonger hoenders wat ons deesdae in die winkels kry – as dit ‘n ou hoender is, is dit nie nodig om gelatien te gebruik nie)

30 ml kookwater

20 ml appelkooskonfyt

Bruinasyn, sout en peper na smaak

Groot bos pietersielie, fyngekap vir garnering

  •  Braai ui in kookolie tot sag en deurskynend. Voeg kerriepoeier en wortel by. Braai deur vir 2 minute. Voeg die hoenderaftreksel by. Prut sowat 10 minute.
  • Los gelatien in kookwater op en voeg dit by.
  • Meng appelkooskonfyt met asyn, voeg by die kerriemengsel en kook 10 minute. Roer af en toe.
  • Voeg nou die vleis by kerriesous en kook tot deurwarm. Roer, proe en voeg nog asyn by indien nodig. Geur met sout en peper.
  • Indien nodig, kan meer sous by mengsel gevoeg word. Laat effens afkoel en roer die helfte van die pietersielie deur.
  • Strooi die orige pietersielie in ‘n geskikte broodpannetjie of vorm, skep die hoendermengsel in, druk plat en bedek met kleefplastiek. Plaas in yskas om te stol.
  • Sit voor met varsgebakte brood en slaai.

 Voetnota: Ek het die resep vergelyk met ‘n een uit Australië en die geurmiddels verskil heelwat, wat weer bevestig hoe lief ons vir ons soetsuur-smake saam met soutgeregte is.  Die Australiese resep (uit  The Northern Times van 29 September 1939) gebruik geurmiddels soos rooipeper, neutmuskaat en gerasperde suurlemoenskil.

Die sult kan in aparte jellievorms geskep word.

Die sult kan in aparte jellievorms geskep word.

Om te leer by Hetta

Volgens die kosgeskiedenis-kenner Hetta van Deventer het die Hollanders hoofdkaas of zure zult gemaak. Die Britte maak brawn, die Franse tête de fromage, die Dene maak sylte en die Duitsers maak sülze. Sy vertel van ‘n resep vir “varkpootjies in jellie” (varkenspootjes in gelei) uit ‘n Middeleeuse resepte-manuskrip in die biblioteek van Kent. Dit is gedateer 1035 in die mooiste handskrif.  Volgens die resep  vir ‘geleye van swijnen beene (in Middel-Nederlands) kook jy die varkpootjies met speserye en maak dit fyn as dit gaar is, en stol in die jellie.   Hulle noem dit nou wel nie sult nie, maar dis darem sult uitgeknip. En soos ek vir Hetta ken, sal sy nie rus voor sy nader aan ‘n geboekstaafde antwoord is oor waar die naam sukt sy oorsprong het nie! (Loer gerus in by Hetta se blog ‘Kos se Stories’ vir die lekkerste pitkos oor die herkoms van ons kosskatkis).

Om te leer by Leipoldt

Leipoldt het gereken daar is weinig skottels wat hy lekkerder vind as ‘n goed klaargemaakte sult. .. ‘die gejelliede vyfde essens van voortreflikheid – ‘n onverbeterlike kunswerk’ in sy woorde.  As jy jou hand op Polfyntjies vir die Proe (1963, Tafelberg) kan lê wag daar die lekkerste smullees oor sult. Sy vertelling begin by ‘n 3 eeue oue resep wat hy  ‘n nagmerrie van ‘n sult noem:

‘Kook ‘n skaapkop, ‘n varkkop en vyf of ses hoenderpote …’ En daar is ertjies by en meel en – wil jy glo? – snippers knoflok en ‘oorblyfsels van ‘n gesoute haring …’

Die fynproewer lament oor ‘egte, regte sult soos Ouma dit in die ou dae gemaak het’. Hy vertel hoe varkslag-dag die bruilof van werklike sult was. ‘Kop,  pootjies en uitgesoekte stukkies vleis is saam met lemoenblare, salie, ‘n lourierblaar, piment, neutmuskaat, gemmer en soms selfs ‘n flentertjie saffraan langsaam en geduldig opgekook in genoeg water om alles te bedek, maar nooit te versuip nie.’

‘n Lang, liefdevolle hantering verder het gelei tot sult wat hy so beskryf:  “Sag, smaaklik, geurig, met ‘n mengsel van verskillende aangename prikkels, ‘n ferweelagtige gladheid soos dié van ou wyn, en tog ‘n vastigheid wat ‘n Chinees sou bekoor het. Daar was niks bros in nie, niks wat jy met die tande op kon kners nie … die verheerliking van die beste wat in die varkkop en -pootjies behels was. En daarmee Amen!”

Sy beskrywing hoe sy Ouma dit gemaak het is ‘n MOET-lees. Hier is die skakel:

http://http://www.dbnl.org/tekst/leip001polf01_01/leip001polf01_01_0054.php

Karoo Kambro Kos-en-kultuuraand – 31 Mei 2014

Jo Fritz en Arthur Wildskut hou ‘n Karoo Kambro kos en kultuur aand op 31 Mei in Kraaifontein Stadsaal Hulle bring kontreikos Kaap toe asook Kultuur namens die Nasionale rieldansgroep Die Sitstappers.Om vir hierdie onvergeetlike aand te bespreek kontak asb ARTHUR OF JO by 0844613773 /0731565268. Arthur en Jo is ook deelnemers in Kokkdeoor 2 wat Donderdagaande op Kyknet uitgesaai word. 

Tarentaalburger, roosterkoek, Shiraz en uie-blatjang: Huiskok raak wild op Pasella

3 Oct

Dit het begin met ‘n wilde uitdaging van Pasella. “Nooi ‘n paar van jou twittervriende en kook met wildsvleis. Niks te deftig nie, net lekker maklik vir stokperdjiekokke om by die huis te kan maak”.

Fritz en Ishay toe die kameras nie kyk nie

Kosmaak vir jou eie mense om jou eie tafel is een ding. Kosmaak op radio selfs – want daar kan niemand sien hoe agter die klip my ‘knife skills’ is nie. Niemand sien die flopse, die aanbrandsels en die skeefgesnyde groentes nie. Op TV is dinge heeltemal anders. Ek weet hoe sukkel ek om te fokus op die snyplank en die klompie bakkies uitgepakte bestanddele met die kameralens op my. Op die beste van tye is ek kamera-sku.

Maar ‘n geleentheid om saam met kos-sielsgenote te kan kook en kuier laat ek nie verbygaan nie. Nooit nie. Selfs nie as dit beteken dat ek my naels afkou voor en na die shoot nie. Dis altyd ‘n goeie ding om die kameras in die huis in te bring. Dan word die boekrakke weer ‘n slag reggepak; die kombuis geskrop; selfs die spens en die speseryrakke (let wet ‘rakke’) kry weer ‘n slag ‘n goeie afstof, uitstof en orde.

Die honde word tot gehoorsaamheid gemaan, die katte geborsel – wetende dat hulle wel een of ander tyd uit hul aanhouding gaan ontsnap om te kyk wat gaan aan en hoekom daar die heel dag wonderlike koswalms uit die kombuis kom.

Maar eers moes ek besluit watter wild ek gaan kies. Wat kan binne die beperkinge van die televisieprogram gemaak word. Wat sal nie voor aansien van die ganse volk platval, omval, neerval of flop nie. Wat gaan nie te veel op my klere spat nie; liefs nie met uie werk nie, want dan loop die mascara oor my wange. Nie iets wat te veel stoom maak nie, want dan val my bolla plat! My gaskokke is Ishay Govender Ypma (van die kosblog Food and the Fab) en blogger-bluesman Fritz Brand van Real Men Can Cook (deur die dag skryf hy rekenaarprogramme) en hoflikheidshalwe gee ek hulle die eerste keuse: Ishay kies koedie; Fritz kies Springbok.  Ek gaan vir die geveerdes.

Jagterskos, saamgestel deur my vriendin Daleen van der Merwe, toe huishoudkundige en nou kookboekuitgewer

Gelukkig kan ek op my kosvriende staatmaak. Ek loer in die Kambedoo wildsvleis kookboek; bestudeer Leipoldt se werke van hoek tot kant. Ek lees van geveerdes wat moet hang tot hul adellik is. Ek lees van salmi, ‘n ragoût van pluimvee of wild wat met deegkluitjies opgedien word. Dalk moet ek sy raad volg van ‘n patrys-pastei soos die Swede dit maak. Ek probeer verby die resep lees – ragoût van klein voëltjies … tortelduiwe, kiewiete, lewerike, vinke en mossies, al klink dit hoe lekker met nartjieskil, soetwyt en baie botter.

Ek steek kers op by my beste vriendin Daleen, ‘n kookboekuitgewer en formidabele wildsboud-ghoeroe. Die Jagterskos-handleiding wat sy jare gelede saamgestel het, bly ‘n fontein van kennis.  My kollega Anita stuur vir my haar fantastiese wildsboud resep – ek oorweeg ‘n wildspastei gemaak met die fyn vleisies van oorskiet wildsboud.

Ek bel sjef Ian Bergh van De Grendel restaurant – ‘n man wat met vleis grootgeword het; wat wildsvleis goed ken. Maar ek weet ook dat daar tarentale op die ou familieplaas rondtrippel, wat beteken ek kan dalk ‘n interessante vleisie daar afbedel.  Tarentaal is ongewoon; maar nie vreemd nie. Ek het die tarentaal-gourmet burger vir die eerste keer juis op De Grendel Landgoed ge-eet, waar verskillende tarentaal-en ander wildsvleisgeregte die eters aan die gons het.

Ian se raad is goed – maak ‘n burger want met die maalvleis het mens nie sommer ‘n probleem met taai vleis nie (en dit hoef nie tot adellike status te hang nie). Moet hom net nie te gaar maak nie … en die goeie nuus: hy kan vir my tarentaalvleis voorsien. En die Shiraz om ‘n heerlike rooi-uie blatjang mee te maak wat ek reeds vooraf kan klaarmaak (geen uie sny op kamera nie).

My ‘wilde kos op Pasella, gemaak met tarentaal uit my kontrei en wyn uit my kontrei.

Die voorbereiding van tarentaalvleis – en ander geveerde wild  soos fisant en patrys – is ‘n belangrike deel van ons kosgeskiedenis, veral voor verstedeliking en supermarkkos die gewildheid daarvan laat afneem het. Nou weer wat die ‘locavorian’ en foraging kosbeweging so ‘n groot kostrend is, verskyn tarentaalvleis weer op restaurantspyskaarte.

Vandaar kom die planne: pleks van ‘n gekoopte witbrood-rolletjie, kom ons hou by die uit my kontrei-tema en bedien die tarentaal-pattie op roosterkoek. Roosterkoek! Dit klink na besigheid.

En wat’s ‘n burger sonder gesmelte kaas. (Ek besluit op ‘n beleë Gouda van Simonsberg – want ek weet dit smelt goed). Pleks van ‘n toe hamburger, besluit ek om dit ‘n afslaandak-burger te maak sodat ek die tarentaal kan kroon met ‘n takkie lig-gebraaide rosa-tamaties op die rank.

Die dag het gekom. Die aanbieder Vicky Davis is ‘n honey. Jana du Preez, die insetsel-regisseur ‘n ware pro, so ook Prudence; die kameraman en die klankman.

Die Pasella span.

My gaskok-vriende is voorbereid, knap voor die kamera, hulle kos is wild uit die boonste rakke. Die burger kom lekker, die roosterkoek ‘rustic’. Als lyk mooi en proe lekker.

Ons kook. Ons kliek. Ons twiet.

Vicky vra oor sosiale netwerke, twitter en blogs. Lank daarna wonder ek nog oor dinge wat ek eerder moes gesê het, en nie moes gesê het nie. Ek wonder lank daarna of ek nie eerder ‘n voorskoot moes aangesit het nie; of my hare reg was en of die kamera verby die wasgoed op die draad geskiet het.

Maar waaroor ek nie wonder nie, is oor my tarentaalburger op roosterkoek met Shiraz- en rooiuie-blatjang. Tuisgemaak, met hierdie einste hande. Hoop net nie hulle’t gebewe op kamera nie!

 

 

Hier’s die resep:

TARENTAAL BURGER MET SHIRAZ UIEBLATJANG OP ROOSTERKOEK

Tarentale is ‘n bekende gesig in die Noordelike voorstede en Durbanville – op plase, tussen wingerde en selfs in die woonbuurte. Sjef Ian hang eers die vleis goed  voor dit gebruik word, wat die smaak verfyn en die vleis sagter maak. Maalvleis is natuurlik nie sommer taai nie, so die burger maak dit maklik om tarentaal te geniet. Die fyn naeltjies gee ‘n heerlike smaak aan die vleis, moenie dit uitlos nie! 

Bestanddele

500 g tarentaal maalvleis (gemaak van boud en borsvleis)

30 ml koljandersade, gestamp

¼ t, fyn neutmuskaat

¼ t, fyn naeltjies

1 eier, gesklits

2 snye witbrood, korsies verwyder en geweek in 60ml melk

½ t, gemaalde swartpeper

1 ½ t maldon sout

125 ml gekaramaliseerde uie

Metode

Kombineer al die bestanddele in ‘n groot mengbak, meng goed en vorm 4 ewe-groot vleiskoekies.  Braai oor medium tot hoog vir 2-3 minute – verkieslik tot nog pienk binne. Bedien met rocket, Simonsberg se belëe gouda, tamatie, De Grendel Shiraz blatjang op roosterkoeke.

Wenk: Die tarentaalvleis kan vervang word met volstruis. Ciabatta-rolletjies sal lekker wees, of ‘n tradisionele hamburger-broodrolletjie sal ook deug.

SHIRAZ BLATJANG

Bestanddele

Die resep maak sowat  750ml  blatjang.

8 uie, fyn gesny

225 ml rooiwyn asyn

350 ml De Grendel Shiraz

225 ml strooisuiker

45 ml olyfolie

Metode

Kombineer die uie en ‘n goeie paar spatsel olyfolies (sowat 45 ml)  in ‘n kastrol, en soteer vir 5 minute; voeg suiker by en kook nog 10 minute.  Voeg die wyn en asyn by en kook liggies tot al die vog geabsorbeer is en die uie sag en stroperig is.

ROOSTERKOEK

Bestanddele

1 pakkie kitsgis

250 g Eureka koekmeel

250 g Eureka broodmeel

1 eier

25 g sagte botter

30 ml suiker

7.5 ml sout

Genoeg louwarm water om ‘n sagte deeg te maak.

Metode

Plaas meel en gis in ‘n bak, meng deur en voeg sout en suiker by. Vryf die sagte botter in die meel en voeg die eier by.  Voeg bietjie vir bietjie die louwarm water by die meelmengsel om ‘n sagte deeg te vorm.  Knie die deeg ongeveer 10 minute tot glad, blink en elasties.  Plaas die deeg in ‘n skoon kom en bedek met ‘n teedoek. Laat dit in ‘n warm plek rys tot dubbeld die grootte, sowat 35 – 40 minute. Knie die deeg af, druk dit plat en sny in vierkante.  Bestryk dit liggies met meel sodat dit nie aan die rooster vassit nie.  Rooster dit oor medium kole.  Dit is reg wanneer dit hol klink as jy daarop klop.

Ons sê baie baie dankie:

Naas die Pasella-span, Ishay en Fritz sonder ek graag die volgende mense uit wat my op Pasella help goed lyk het (behalwe daai krul in die kuif wat ek nie gaan oorleef nie!):

Agter die skerms sal die TV-kykers nie die helpende hande gesien het nie: my kosvriendin Catherine Eybers (volg haar blog Lemon and the Dachshund; en op twitter @CaththeGirl) wat kom handgee, want onthoud – daar’s drie kokke in die kombuis vir die wilde Pasella-shoot. En die TV-span moet koskry ook (boere-gasvryheid en goeie maniere); en koffie kry. En iemand moet die honde stilhou en die katte paai. Dankie Katryn. Dankie aan my man Ian wat geduld met my het.

En iemand moet voor- en na die tyd skoonmaak: Dankie my wonderlike huishoudster Annie Scharnek.  Ek’s ‘n wilde kok in die kombuis. Daar’s altyd nog ‘n vuil kastrol, nog ‘n nat vadoek.

Dankie aan Sjef Ian Bergh en De Grendel Restaurant, Durbanville Wynvallei vir die tarentaal, die goeie raad en die wyn waarmee ons die dag gekook het en in ons glase gehad het.

Dankie aan die tarentaal.

 * Volg my op Twitter @huiskok. Dankie dat jy ingeloer het. Lewer gerus kommentaar sodat ons verder oor kos kan gesels.

%d bloggers like this: