Tag Archives: boontjiesop

‘Baby, it’s cold outside’ geregte: kerrie-en-klappermelk ertjiesop met geroosterde blomkool; kortrib-, bier en boonbredie; boereworsfrikkadelle in sticky tamatiesous

7 Aug

Winter, bly tog ‘n bietjie langer … daar’s koue-weer geregte wat ek nog wil maak.

Die meer tradisionele wintergeregte en hartskosse waarmee die Kaap van Storms aangedurf word, soos die kerries, wildspasteie, lensiesop met murgbene en plaaskombuis-groentesoppe met kluitjies het klaaar gesig gewys in my kombuis.

Ek het midwinter al cassoulet, die legendariese wintershuiskos uit die suidweste van Frankryk gemaak, (‘n liefdestaak wat tyd, vleis en hul erfenisboon coco-tarbais vra), my kosbare slopie heerbone deurgewerk en ‘n paar keer outydse boontjiesop met dobberende blokkies spek gemaak. Steeds is ek nie reg vir groet nie; my spensrakke vol rantsoene teen die koue oorlog ook nie.

Daarom maak ek ‘n lysie “Baby, it’s cold outside”-geregte wat die winter verlei om nog bietjie langer te bly, tot die opgaardamme én my eie gees voel  ons is reg vir lente se groener weivelde.

Hier is drie resepte bly-nog-vir-eers wintergeregte. Die klem is op gedroogte bone en erte, vir my die simbool van winter op sy grouste. Ertjiesop, ‘n bekende in winterkringe word opgeknap met kerrie en klappermelk, en die lojale driemanskap van vleis, bier en bone vat die koue aan. As dit te koud is vir boerewors oor die kole, bak dit dan saam met bone.

KERRIE-EN-KLAPPERMELK GEROOSTERDE BLOMKOOL ERTJIESOP

Geniet dit met roti of vetkoek.

6  porsies

  • 1 medium kop blomkool, opgekap
  • 15 ml kerriepoeier
  • 10 ml garam masala
  • 45 ml olyfolie + ekstra vir braai
  • 1 ui, gekap
  • 3 knoffelhuisies, gemaal
  • 15 ml vars gemmer, fyn
  • 15 ml fyn komyn
  • 10 ml fyn koljander
  • 2,5 ml borrie
  • 250 ml droë ertjies, afgespoel
  • 1 l groenteaftreksel
  • 250 ml klappermelk
  • Gerookte varkworsies of 2 varkpootjies
  • Garnering: kerrie-olie* (opsioneel), jogurt, geroosterde blomkool-takkie

Voorverhit oond tot 180°. Voer oondpan uit met foelie en pak blomkool uit. Meng die olie met kerriepoeier en garam masala en bedek die blomkool met die olie. Rooster vir 30 minute.

.Verhit ‘n bietjie olie in ‘n groot kastrol, voeg die uie, knoffel en gemmer by, braai tot die uie sag en deurskynend is, voeg die komyn, koljander en borrie by en braai tot geurig, sowat 2 minute.

Voeg ertjies, aftreksel en worsies of varkpootjies by en prut tot die ertjies sag is en begin opbreek, Voeg klappermelk by en prut 10 minute. Voeg geroosterde blomkool by, hou stukkies terug vir garnering. Maak die sop fyn met ‘n staafmenger of aartappeldrukker tot verlangde tekstuur. Skep in bakkies en garneer. Eet met roti of vetkoek.

*Kerrie-olie: smelt 45 ml botter, roer 15 ml kerriepoeier by en drup lepeltjievol oor die sop.

BONE EN BOEREWORS-FRIKkADELLE IN PIKANTE TAMATIESOUS

6 porsies

  • 250g  Imbo rooi spikkelbone of nierbone
  • 400 g boerewors
  • 30 ml olie vir braai,
  • 1 groot ui, gekap
  • 2 knoffelhuisies, gemaal
  • 5 ml paprika
  • 50 g tamatiepasta
  • 2 x 410g blikke gekapte tamatie
  • 15 ml worcestersous
  • 10 ml suiker
  • Sout en peper
  • 5 ml asyn
  • Gekapte kruie

Spoel die bone af, plaas in groot kastrol, bedek met koue water, bring tot kookpunt en kook 5 minute. Verwyder van die hitte, bedek en week 1 uur.

Dreineer bone en plaas terug in die kastrol, voeg genoeg kookwater by om te bedek, bring tot kookpunt en prut dan met die deksel gekantel tot sag,45 – 60 minute (nierbone kook 90 minute).

Maak intussen die frikkadelle en tamatiesous: Druk die worsvleis uit die omhulsel en vorm klein balletjies. Verhit olie ‘n pan oor matige hitte en braai die frikadelle goudbruin,  skuif dit na die kant van die pan.

Vul olie aan indien nodig, voeg uie by en soteer 5 minute, roer die knoffel by, dan die tamatiepasta en paprika, laat 1 minuut braai en voeg die gekookte bone, worcestersous, suiker, asyn en geurmiddels by. Prut tot verdik, sowat 15 minute. Proe en pas smaak aan.  Druk van die bone met die agterkant van die houtlepel fyn as jy sous wil verdik.

Sprinkel kruie oor.

KORTRIB EN BONE IN BIER MET AMASI-BONEKAPOK

Die bone-tema word na die bykos deurgetrek met boonkapok ( fyngestampte bone wat romerig gemaak is met amasi.)

  • 500 g Imbo nierboontjies, geweek
  • 500 g – 750 g kortrib, in korter stukkies gesny of ander biefstowevleis
  • Sout en peper
  • Olie vir braai
  • 2 groot uie, grofgekap
  • 3 knoffelhuisies, gekap
  • 4 wortels, opgesny
  • 2 steranys
  • 500 ml biefaftreksel + ekstra soos nodig
  • 1 x 330 ml blikkie bier (of vervang met aftreksel)
  • 30 ml asyn
  • Tiemie, vars of droog
  • 125 ml maas (amasi)
  • 60 ml botter

Spoel die bone af, plaas in groot kastrol, bedek met koue water, bring tot kookpunt en kook 5 minute. Verwyder van die hitte, bedek en week 1 uur.

Dreineer bone en plaas terug in die kastrol, voeg genoeg kookwater by om te bedek, bring tot kookpunt en prut met die deksel gekantel vir 60 minute (bone nou halfgaar.) Skep die helfte van die bone met ‘n gaatjieslepel uit en hou eenkant om later by vleis te voeg. Kook die orige bone vir nog 30 – 40 minute tot sag (dit word vir die boonkapok gebruik).

Voorverhit oond na 160°C. Geur vleis goed met sout en peper. Verhit olie in oondvaste pot en verbruin vleis in sarsies. Skuif vleis na die kant, soteer uie vir 4 minute, voeg wortels en knoffel by en braai liggies vir nog 4 minute. Roer die vleis en groente deur, voeg vloeistof by, bedek en stowe 90 minute in die oond.

Voeg halfgaar bone, tiemie, asyn en nog biefafstrek by indien nodig (die bone soek vog om sag te word). Bedek en bak nog 90 minute tot die bone sag is en vleis van die bene afval. Druk van die bone fyn om die sous te verdik. Geur.

Boonkapok: verhit die orige gaar bone met 60 ml amasi, vars of droë tiemie en botter. Maak dit fyn en voeg nog amasi by. Geur.

  • Errieda Du Toit kook Saterdag 10 Augustus saam met Daleen van der Merwe ‘n uitsonderlike viergang winterspyskaart by die Karoo Art Hotel op Barrydale. Peter Veldman gesels saam. R500 met De Grendel wyne ingesluit. Bespreek by reservations@karooarthotel.

Twee broodmaats vir boontjie-en skenkelsop

27 Aug

Selfs die gedagte aan ‘n snytjie brood en ‘n skeppie tuisgemaakte sop verlig al die knyp van die winterkoue.  As die brood boonop vars gebak uit jou eie kombuis kom, is die beloning selfs groter, want die geure van goedheid wat oor die hele huis hang, lok die huismense tafel toe sonder om geroep hoef te word.

Sopmaakdag in my kombuis is altyd bakdag ook. Links bo ertjie en eisbein; regs onder: blomkool, ertjie en amandelsop.

Sopmaakdag in my kombuis is altyd bakdag ook. Links bo ertjie en eisbein; regs onder: blomkool, ertjie en amandelsop.

Soos sop is die wereld se brooderfenis  almal se erfenis. Die inspirasie is eindeloos: ciabatta met groot-oog rysgate uit Italië met ons eie hartlike soppe, karwei-gegeurde soetsuurbrood uit Oos-Europa met tamatiesop en broa, mieliebrood uit Portugal, met ons groentesoppe. Van die lekkerste kombinasies is limpa, ‘n Sweedse rogbrood met vinkel, karwei, goue stroop en lemoenskil as troumaat vir on eie boerpampoensop. Röti uit die Bo-Kaap praat ook lekker saam lensie- en tamatiesop  gegeur met saffraan en gemmer, uit Noord-Afrika.

 

Die geblikte borlottibone kan met geblikte canellinibone vervang word - of natuurlik spikkelbone uit die pakkie wat jy oornag moet week. Foto Soups and Breads, Janice Price.

Die geblikte borlottibone kan met geblikte canellinibone vervang word – of natuurlik spikkelbone uit die pakkie wat jy oornag moet week. Foto Soups and Breads, Janice Price.

 

Sarie-kom-tot-die-redding Boontjie- en Skenkelsop

Hoekom was ek gister verbaas dat elke liewe pakkie spikkelbone uitverkoop was in my kontreiwinkel. Die weerprofete het voorspel daar wag ‘n paar BAIE nat dae vir die Kapenaars voor … ander boontjiesop-entoesiaste het my voorgespring. Maar as lus vir boontjiesop jou aan die luskliere beet het, laat hy jou nie los nie.

Gelukkig het ek in my agterkop die boontjiesopresep van Barbara Joubert (SARIE KOS) wat met geblikte borlotti-bone gemaak word. Toe pak ek die inkopie-mandjie vol. Let wel, dis steeds ’n stadig-gekookte sop, soos dit hoort – anders maak dit jou lyf warm, maar nie die hart en gees nie.

6 porsies

700 g kort gesaagde lamskenkels

Meel, vir rol

1 ui, fyngekap

3 huisies knoffel, fyngekap

2 selderystokke, in blokkies gesny

3 groot wortels, in blokkies gesny

olyfolie

2 liter vleisaftreksel

2 lourierblare

1 blik gekapte tamaties (ek het 3 baie ryp vars tamaties in blokkies gesny)

3 blikke borlotti-bone

sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

Rol die lamskenkels in ’n bietjie meel. Skud die oortollige meel van die skenkels af. Verhit ’n bietjie olyfolie in ’n groot kastrol. Braai die skenkels tot bruin. Haal die skenkels uit die kastrol en braai die knoffel, seldery en wortels vir so 10 minute tot sag. Sit die skenkels terug by die groente en voeg dan die vleisaftreksel, lourierblare, geblikte bone en geblikte tamaties by. Geur met sout en vars gemaalde swartpeper. Kook nou vir minstens 6 ure – of verkieslik stadig oornag.

Broodkeuse: Die sop is baie vullend – maar daar’s altyd plek aan tafel vir vars gebakte brood. Hier is twee brode om uit te kies – terwyl die boontjiesop prut, bak jy genoeg brood om vir die bure ook oor te stuur. 

SOETPATAT-ANYSBROOD

Toe ons 5 jaar gelede Rio de Janeiro besoek het, het ek patatrolletjies Pãezinhos de Batata Doce verslind en die anyssmaak het my skoon huis toe laat verlang. Terug by die huis toe verlang ek weer na die dinamiese Rio en besluit toe om die bestaande patatbrood resep in ons boek Huiskok Glanskok aan te pas met mieliemeel en anyssaad by die mengsel. 

Maak 4 klein broodtjies

500 g gaar soetpatat, fyngedruk

900 ml louwater

j1.3 kg koekmeel

200 g mieliemeel

5 mℓ anyssaad

20 ml sout

1 ½ pakkie kitssuurdeeg

Metode

Voorverhit oond tot 220⁰ C. Smeer twee bakplaatjies. Meng gaar patats en louwater tot glad. Plaas al die ander bestanddele in ‘n kommetjie en maak ‘n holte daarin. Voeg soetpatat by en knie droë bestanddele in tot die deeg glad en elasties is. Laat rys tot die deeg in volume verdubbel. Knie die deeg af en verdeel in vier ewe groot dele.  Plaas twee op elke bakplaat, sny kepe in en laat weer rys. Besprinkel met meel. Bak vir 15 minute by 220⁰C en verlaag hitte na 180⁰C  vir die laaste 30 minute.

BOTTERSKORSIE EN OKKERNEUTBROOD

Die heerlikse pasmaat saam met lamskenkel-en boontjiesop en ’n glasie merlot.   Die resep het ek by Meerendal gekry.

600g broodmeel

300g koekmeel

30 mℓ bruinsuiker

15 mℓ sout

60g vars brouersgis

300ml warm water

1 medium botterskorsie, geskil en in blokkies gesny;

100g okkerneute

Vir geroosterde botterskorsie: sout, peper, olyfolie

Voorverhit oond tot 180⁰C. Plaas botterskorsie en okkerneute op bakplaat, besprinkel met sout, peper en olyfolie; bak tot botterskorsie sag is. Kap neute in growwe stukkies.

Plaas droë bestanddele in mengbak, meng botterskorsie en neute by. Meng gis met warm water. Voeg helfte van die gismengsel by die meelmengsel, meng  deur en voeg dan die res van die gismengsel by en werk in tot deeg vorm. Laat rys in ’n warm plek tot die deeg verdubbel, vorm en plaas in gesmeerde broodpan. Besprinkel met meel en sny kepe in. Bak sowat 40 minute tot goudbruin. Die brood is gaar as dit hol klink wanneer jy dit klop.

 

Soppot – bymekaarkomplek van alle dinge

18 May

‘n Amerikaanse rubriekskrywer van ouds, Judith Martin, het só oor sop gepeins: “Is daar ’n gawer, meer aanpasbare vriend as sop? Is daar enigiemand wat verder uit sy pad sal gaan sodat jy heilsaam kan eet, maar ook op die oorvloedigste tafel sy man sal staan en die punteneurigste gas tevrede stel?”

Sop doen altyd sy lojaalste bes, dit maak nie saak watter onwaardige bestanddele jy daarop afdwing nie. En dan vra sy tereg: “het ‘n steak al ooit aan jou deur kom klop as jy platsak is of siek in die kooi lê?”

Harissagegeurde hoendersop met chermoulagebotterde krummels in my ouma se borde. Dis nou wel nie die tradisionele hoendersop van ons jeug nie, maar ‘n antidote teen winter-blues en koudkry soos min. Indrukwekkend.

Op ‘n druppend-koue wintersdag sorg ek dat die brood warm uit die oond kom en die wynglase vol bly. En dat daar ‘n mega-pot vol sop is as trooster, warmwatersak vir die siel en almal se vriend.

As ek aan sop dink, draai my gedagtes altyd by my vriend  en kunstenaar Theo Kleynhans, sopmaker extraordinaire.  “Sop is een van daai oergoed van die wêreld,” vertel hy. “Iets wat aan jou binnewand en aan jou genetika krap. As mens goeie sop eet, is dit soos om te onthou waar jy vandaan kom.”

Oor ‘n skeppie wortel, preie en aartappelsop -met ‘n sprinkel gekapte haselneut – vertel hy my, “met sop is daar nie wegkruipplek nie – as dit afskeep is word jy uitgevang.  Vir iets soos sop wat allerweë as sussende trooster gesien word, is sop eintlik nie vergewingsgesind nie.”

Sop dra ‘n groot verantwoorderlikheid, as ek die filosowe reg lees. Sop is waar alle dinge byeenkom – die omnium gatherum, volgens Marthinus Versfeld, ons  land se eie Sokrates. Hy skryf in ‘The Philosopher Cookbook’ dat jou eie wêreld in geen van jou ander potte met soveel harmonie bymekaar kom as juis in die soppot nie.

Wat van fyn kookkuns-sop? Ag nee wat, maak Theo beswaar. En hy kan van fyn kook. In sy jong dae het hy by die Groot Sjef Garth Stroebel sop se gastronomiese kant  goed leer ken. “As ‘n sop eers deur ‘n moeseliendoek gedruk moet word; of sop so deursigtig is dat dit met die lepel weg van jou af geëeet moet word, laat dit my koud en kriewelrig.”

Dus: ongekunstelde sop is sop vir kuier. Hy maak ‘n broccolisop met twee tots brandewyn en ‘n tot old brown sherrie wat jou drie dae laat huil as dit op is. Dan gooi hy geroosterde neute ook oor wat jou nog meer laat snik van verlange as die soppot sy bodem wys. ‘n Resep kan hy my nie gee nie, dit word soos sy kuns met geïnspireerde hale van die kwas gemaak, nie met soveel lepels dit en koppiesvol dat nie.

Ek hou van hitsige soppe uit die warm lande – Mexico en Noord-Afrika. Soppe wat stewig genoeg staan vir die winter se wyne:  Merlot, Pinotage, Cabernet. So ook romerige soppe, seekossoppe met gemmer gegeur, ander met vars sampioene geskep. Kortom, enige sop wat uit die kok se hart eerder as uit blikke kom, is welkom in my sopkommetjie.

Hier is ‘n paar resepte wat ek die afgelope winters bymekaar gemaak het. Doen moeite daarmee – onthou sop wat afgeskeep is, blaker dit uit aan die wêreld en sy maat.

Kyk uit: Volgende week vertel ek van brode wat geestesgenote vir sop is.

Meksikaanse ‘hiert jou rissipit sop’ met tortillas en sterk cheddar. Suurroom staan in om te lawe. Ag ek speel, dis nie so chili nie – jy’s in beheer van die byt.

Mexikaanse sop met rissies en tortilla skyfies

Hierdie Mexikaanse gemengde bone en rissiesop met tortilla tjips het behoorlik winterstewels aan. In die styl van chilli con carne sit jy dit voor met goed beleë cheddar, tamatie- en koljander salsa, gebreekte tortilla tjips vir kraak en suurroom vir lafenis. 

45 ml olyfolie

350 g beesvleis, in blokkies gesny

2 uie, fyn gekap

2 knoffelhuisies, fyn gekap

2 vars groen brandrissies, fyn gesny

5 ml rooipeper

10 ml gemaalde komyn

2 lourierblare

1 blik gekapte tamaties

900 ml goeie biefaftreksel

2 x blikkies gemengde bone

Bossie vars koljanderblare

Sout en vars gemaalde swartpeper

Tortilla skyfies, gerasperde kaas en suurroom vir opdiening

Metode:

Verhit die olie in ‘n groot kastrol en braai die beesvleis tot goudbruin.

Voeg die uie, knoffel en rissies by en braai vir nog 5 minute.

Voeg die rooipeper en komyn by en braai vir nog ‘n paar minute.

Gooi die aftreksel, lourierblare en blik tamaties by, prut vir ongeveer 1 uur tot die vleis baie sag is.

Voeg die bone by en prut vir nog 30 minute.

Roer die vars koljander by net voor opdiening en sit voor met tortilla skyfies, gerasperde kaas en suurroom.

Marokkaanse hoendersop met chermoula-gebotterde krummels. Bedien met suurlemoenskyfies.

Marokkaanse Hoendersop met Chermoula gebotterde krummels

Die Marokkaanse harissa-gegeurde hoendersop maak mens eintlik vir die halsbandjie: pikante chermoulabotter met broodkrummels, gegeur met koljander, knoffel, komyn, paprika, rissie, saffraan en skil van 1 groot suurlemoen, word oor die sop gestrooi. 

50 g botter

450 g hoenderborsies in repies gesny

1 ui fyngekap

2 knoffelhuisies gekneus

7,5 ml meelblom

15 ml harissa

1 liter hoenderaftreksel

400 g tamaties fyngekap

400 g blik kekerertjies,  afgespoel (jy kan ook botterbone byvoeg, soos ek gedoen het vir die sop op die foto)

Sout en varsgemaalde swartpeper

Suurlemoenskyfies vir opdiening

Chermoula:

50 g gesoute botter by kamertemperatuur

30 ml vars koljander, fyngekap

2 knoffelhuisies, fyngekap

5 ml gemaalde komyn

1 rooi rissie ontpit en fyngekap

‘n knippie saffraan

Gerasperde skil van ‘n halwe suurlemoen

5 ml paprika

1 koppie droë broodkrummels

Metode:

1. Smelt die botter in ‘n groot swaarboom pan. Voeg die hoenderrepies by

en braai vir 5 – 6 minute. Roer met ‘n houtspaan tot dit begin bruin word.

Verwyder die hoender met ‘n gaatjieslepel en laat staan eenkant.

2. Voeg die uie en knoffel in die pan en kook stadig vir 4 – 5 minute , tot sag maar nie bruin nie.

3. Roer die meelblom by en roer aanhoudend tot die mengsel begin bruin word.

4 Roer die harissa by en kook vir nog 1 minuut. Voeg die hoenderaftreksel geleidelik by

en kook vir nog 2 – 3 minute en die sop effens dikker word.Roer die tamaties by.

5. Voeg nou die hoender en die kekerertjies by. Plaas die deksel op en kook oor lae hitte vir nog 20 minute. Geur met sout en varsgemaalde peper.

6. Maak intussen die Chermoula botter. Plaas die botter in ‘n bakkie en klop die koljander, knoffel, rooirissie, komyn, safraan, suurlemoenskil en paprika by. Sodra die mengsel goed gemeng is word die broodkrummels bygeroer.

7. Skep die sop in warmgemaakte sopbakkies.Skep ‘n klein skeppie Chermoula botter-krummels bo-op en laat staan vir ‘n paar minute. Bedien met suurlemoenskyfies.

Marleen se Gemmer, Klappermelk- en Mosselsop

10 g Fyn gesnyde knoffel

70 g Fyn gerasperde vars gemmer

2 uie grof gekap

250 g botter

250 ml meel

6 blikkies klappermelk

500 ml melk

500 ml Durbanville Hills Sauvignon Blanc

1 kg mossels sonder skulp

1 kg mossels met halwe skulp

4 opgesnyde preie

Sout en peper na smaak

Braai knoffel, gemmer en uie in die botter tot deurskynend en roer dan die meel by.Voeg die klappermelk, melk en wyn by en laat dit kook.Voeg al die mossels by en kook 5 minute of tot gaar.

Braai 4 opgesnyde preie eenkant en voeg dan by die sopmengsel

Porcinisop

Bedien met Diemersdal Merlot

(Bedien 4)

2 groot uie, gekap

1 knoffelhuisie, gekneus

3-4 vars tiemietakkies

250 g bruin sampioene

50 g porcini*

1 k room

1 k rooiwyn

sout, peper, neutmuskaat & suurlemoen na smaak

Braai gekapte ui, knoffel en tiemie tot goudbruin. Voeg sampioene by en geur met sout en peper om ‘n aftreksel te vorm (die sout trek vloeistof uit die sampioene). Voeg room en rooiwyn by en kook 5 minute. Verpulp en gooi terug in die pot. Indien die sop te dik is, voeg nog room of melk by of meng ‘n eetlepel koekmeel met ‘n bietjie rooiwyn by die mengsel om dit dikker te kry. Proe en voeg suurlemoen en swartpeper by indien nodig. Sluit af met neutmuskaat. Bedien met vars brood.

*Indien jy nie vars porcini sampioene kry nie, kan jy dit vervang met ander wilde sampioensoorte (byvoorbeeld shiitake of oestersampioene), vertel Ladine Louw van Diemersdal. Of gebruik gedroogde porcini wat jy vir ‘n rukkie in kookwater week.

Lamskenkel, keker-ertjie en lensiesop

Die ideale maat vir De Grendel Merlot. 

2 koppies keker-ertjies (chickpeas)

2 koppies rooi lensies

1 kg lambskenkels

1,5 l water

10 ml sout

2,5 ml swartpeper

45 ml olyfolie

1 groot ui, gekap

2 knoffelhuisies, fyngekap

4 koppies spinasie, gekap

¼ koppie suurlemoensap

Soteer die uie, knoffel en lamskenkels tot die uie deurskynend is. Voeg water, lensies, kekerertjies en geurmiddels by. Prut sowat 2½ uur tot die skenkel van die bene afval. Voeg die spinasie by en kook 15 minute. Voeg suurlemoensap by. Geur na smaak. Bedien met die lamskenkel aan die kant of opgesny in die sop. Bedien met Marokkaanse platbrood.

Die chermoula gebotterde krummels van die Marokkaanse hoendersop resep is ook heerlik bo-oor hierdie sop.

{SOP, SIP EN BROODFEES, 2 en 3 Junie}

Weer die koue af saam met die wynplase in die Durbanville Wynvallei wat vanjaar die wynroete se vierde ‘Sop, Sip en Brood’ naweek aanbied. Elke wynplaas skep unieke sop-, brood- en wynervarings vir ‘n onvergeetlike besoek aan die vallei.

Vir nadere besonderhede oor Durbanville Wynvallei se Sop, Sip en Brood – wintergeleentheid, besoek www.durbanvillewine.co.za of skakel 083 310 1228 of epos info@durbanvillewine.co.za. Bespreek by die onderskeie plase

%d bloggers like this: