Tag Archives: Boston Coffee

Koffiekultuur met mieliemeel-, swart-olyf-en-roosmarynkoek

30 Jan

 

Die Italianers het so ‘n lekker uitdrukking dolce far niente – die soetheid van niksdoen. Dis wat koffie drink so ‘n lekker ritueel maak. Om sommer net te sit en aan niks te dink nie, of om koppie in die hand te klets met die aroma van vars gebroude koffie in die lug.

Pieter Smit, koffie-artisan en bebaarde barista van Boston Coffee verstaan die rituele van koffie. Hy is een van die nuwe-generasie koffiedissipels wat hul vakmanskap beoefen in espresso-kroeë, artisan cafés, ‘bean bars’ en roosterhuise deur die land. ‘”Die koppie koffie is net die begin om aan iets dieper te bou. Ons bring mense bymekaar om gesellig te wees en bou aan die gemeenskap.

Pieter Smit maak koue drup-koffie met ‘n proses wat 6-8 ure neem.

Die wir -wir van die koffierooster digby die ingang meng met die langsame drup van koffie en die sisklanke van stomende melk. Uit pure gewoonte het ek met my eerste besoek Americano, ‘n ryk espresso met warm water by bestel; my man gaan vir ‘n flat white, die koffie op almal se lippe wat die Australiërs bygedra het tot die internasionale koffiekultuur.

Die baristas van Boston is nie ouens vir foefies soos  laventel-lattés en ‘goth’ koffie met swart koffieskuim nie.  Hulle stel ons eerder bekend aan koffie wat op alternatiewe maniere gebrou word met brouapparate wat tuis hoort in ‘n Jules Verne-avontuur of ‘n Victoriaanse laboratorium.

Hier wys barista  Yusri Abrahams hoe die sifon-metode werk.


Wie kan die Wimpy-advertensie vergeet van die vryer wat koffieterme in sy meisie se oor fluister en sy fladderoog antwoord: “Ag, Henry, I love it when you talk foreign.”  Wel, ou Henry sal sederdien sy
woordeskat verder moet uitbrei as net macchiato (espresso met ‘n leksel melkskuim) en cafe latté (een deel espresso en vier dele warm melk), want nou gaan dit oor koue drup en pour-overs:

  • Koue drup (cold drip): My absolute gunsteling! Die koffie word oor ‘n periode van 6 – 8 uur deur ‘n druptoring onttrek en die konsentraat oor ys bedien. Manjifiek. Sag, skoon en supersmaaklik.
  • Aeropress: Varsgemaalde koffie en kookwater word met ‘n pers-aksie deur papierfilters direk in die koppie gedruk vir sterk, volronde koffie.
  • Chemex: My nuutste begeerte is hierdie glasfles met sy uurglasvorm, ‘n ikoniese ontwerp wat in die Museum of Modern Art in New York uitgestal word. Koffie drup deur ‘n spesiale koffiefilter en skakel onwenslike bitter komponente en sediment uit.
  • Syphon: Die sifon-metode gebruik dampdruk vir ‘n styl van koffiemaak uit die 1830’s. Koffie word afgetap in ‘n vakuumfles.
  • ‘Pour Over’: Die water word stadig met die hand oor varsgemaalde koffiebone geskink waarna dit deur die filtreerpapier direk tot in die koppie drup. Die water het langer kontak met die bone vir ‘n vrugtige, volronde smaak.

Koffie kry ‘n pasmaat 

Kos en wynpasmaats is meer bekende terrein as koffie-en-kos. So, hier lekker nuwe proe-avonture voor. Pieter reken dat koffie die ideale pasmaat vir soutige kos is (biltong en koffie is een van sy gunsteling kombinasies).

Mieliemeel, swart olyfkoek met roosmaryn

Die ongewone swartolyf- en-dennepit mieliemeelkoek uit my kookboek Huiskok Glanskok word warm in wiggies bedien met  lekker sterk koffie/espresso. Die sout stukkies swart olywe is net wat die koffie soek. Vermeerder die hoeveelheid heuning as jy die koek soeter verkies. (Foto deur Samarie Smith)

Lewer 10 wiggies

  • 2 groot eiers
  • 80 ml olyfolie
  • 30 ml heuning
  • 15 ml fyngekapte roosmaryn
  • 15 ml suurlemoenskil
  • 440 ml (1¾ k) meelblom
  • 190 ml (¾ k) fyn mieliemeel
  • 4 ml sout
  • 2,5 ml bakpoeier
  • 2,5 ml koeksoda.
  • 190 ml karringmelk of lae vet jogurt
  • 190 ml dennepitte (of vervang met amandelstukkies)
  • 190 ml swart olywe (in olie), ontpit en opgekap
  • 190 ml goue sultanas (30 minute vooraf in brandewyn geweek)

Verhit oond tot 190⁰C. Smeer 23 cm losboompan.

Klits eiers tot lig en gooi olyfolie, heuning, roosmaryn en suurlemoenskil by. In ‘n ander bak voeg meelblom, mieliemeel , sout, bakpoeier en koeksoda. Meng deur. Roer meelmengsel om die beurt met karringmelk of jogurt by die eiermensel. Roer tot glad. Voeg twee-derdes van die dennepitte en opgekapte ontpitte swart olywe by en roer deur. Roer geweekte sultanas by.

Skep mengsel in gesmeerde losboompan, maak gelyk en strooi oorblywende dennepitte en olywe oor. Bak 30 minute tot goudbruin en gaar. Haal uit die oond en laat 10 minute in die pan afkoel. Keer uit met olyf-en dennepitkant na bo. Sny in wiggies en bedien warm of teen kamertemperatuur. Sit dieselfde dag wat dit gebak is voor met espresso, wyn of bier.

NOG TAKTIEK VIR KOS-EN-WYN-PASMAATS

  • Soort soek soort: Kies koffie met dieselfde geure as die kos, soos om jou amandel-croissant vir ontbyt te geniet saam met ‘n koffie wat ‘n amandelrige geur het, soos koffie uit Costa Rica.
  • Teenoorgestelde trek mekaar aan: Hier soek jy vir geure wat in kontras met mekaar is, maar saam in harmonie kan wees.
  • Maak die familie bymekaar: Jy kan in die familiekring van geure rondloer, soos as ‘n koffie pekanneut-ondertone het kan jy dit paar met gebak wat met ander neute gemaak word.
  • Fokus op suur: Die roosterproses lig verskillende suur note van die koffieboon uit, soos sitrus, steenvrugsure of appels en pere.
  • Koffie-in-die-kos-taktiek: Gebruik dieselfde koffie wat jy wil bedien as ‘n bestanddeel in jou kos of gebak. Ek sal byvoorbeeld Francois Ferreira se skaapvleis, koffie-en-dadeltagine uit my boek Huiskok Glanskok maak met Arabica en dit met dieselfde koffie bedien.

Goed om te weet: ‘Single origin’ koffie waar die spesifieke geur-karaktertrekke uitblink is uitstekend vir kos-en-koffie paring.

ERKENNING

Spesiaal dankie aan Pieter Smit van Boston Coffee vir sy inspirasie en raad. Gaan loer in by die artisan koffieroosters op die hoek van Clevelandstraat en 12de Laan, Boston, Bellville. Ure: Maandag tot Saterdag van 7.30 vm. Hulle bied eersdaags tuisbrouwerkswinkels aan in alternatiewe metodes, asook koffieproeë (‘cupping’) . Navrae. info@bostoncoffee.co.za

Dankie ook my liewe man Ian wat altyd regstaan met die kamera.