Ek sê vanjaar tot siens vir gammon aan my Kerstafel – nie dat ek heeltemal van die vark afsien nie. Ek beplan om my familie te verras met gerafelde varkblad.

Wat? Gerafelde varkblad? Of jy wil praat van rafeltjievark, flentervark, gepluiste vark of pulled pork, hierdie manier van varkblad gaarmaak hou net lekker dinge in vir die vakansiekok. Hierdie gerafelde varkblad is my uitkyk op ‘pulled pork’ wat deesdae groot modenuus onder die foodies is. Dis baie tradisioneel in Noord-Carolina in die VSA, en ook gewild by die Italianers en in lande soos Thailand en Korea.
Nie dat die konsep van ‘pulled’ vleis iets uitlands nie – ons het rafeltjievleise in ons eie koskultuur , soos wildsvleis of ander beentjievleis wat stadig sag gekook word tot dit van die been afval. Ek maak ook graag skaapblad gaar dat ek dit met twee vurke uitmekaar uit kan pluis. Ons dink egter selde daaraan dat varkblad hiervoor ingespan kan word nie.
Dis ideale warm-weer, buite-op-die-stoep-eet tipe kos. Kersdag-kos.
Ek sal vir ‘n informele Kersete die gepluiste vark buffetstyl voorsit met ‘n fabelagtige tuisgemaakte taaivinger BBQ-sous, sprietuie-pannekoekies en ‘n verskeidenheid vulsels: cole slaw (koolslaai met mayonnaise), komkommer, tamatieskywe, slaaiblare, vars koljander, gerasperde wit cheddar. Selfs bietjie suurroom. Sagte broodrolletjies is my nommer een broodkeuse daarby, maar roosterkoeke, tacos of selfs pita is ook goeie keuse.

Buffet bo-aansig: ‘n lekker gesig. Hier bedien ek dit ook saam met avokado, radysies pleks van piekels, kruie- en slaaiblare, asook oondgeroosterde blomkool. Die BBQ-sous is natuurlik daar, asook ‘n Vietnamese doopsousie van soja en gemmer.
Dis min werk en jy kan die vleis al die vorige dag gaarmaak en pluis. Die varkblad (met die been aan vir ekstra geur) word met ‘n droë speserymengsel ingevryf en langsaam in die oond gaargemaak. Wat bydra tot die lekker is dat die vleissous deur die gerafelde vleis geroer word om dit verder klam te maak en elke stukkie geur te behou.

Soms sit ek dit met pannekoekies voor; ander kere weer met sagte broodrolletjies, kaas, radysie en ALTYD met die BBQ-sous.
Al het jy nie vanjaar baie mense aan jou Kerstafel nie, maak dit steeds, want dan het jy die heerlikste, veelsydige oorskiet wat tot ‘n week in die yskas hou. Maar belowe my jy sal die taaivinger BBQ-sousie maak om saam daarmee te eet. Die sous is so lekker dat ek dit altyd in die yskas het, want dit kikker enigiets op – van roereiers tot roerbraai.

Varkblad nog lekker warm en reg vir pluis.
.HUISKOK SE RAFELTJIE VARKBLAD MET BBQ-SOUS EN SPRIETUI-PANNEKOEKIES
Pulled pork’ is nou die groot kosnuus. Gebruik die ekonomiese varkblad wat met die lang, stadige klam hitte letterlik uitmekaar rafel. Bedien dit met die BBQ-sous.
Genoeg vir 10 ruim porsies
Bestanddele
1 Varkblad, met been in, vel en vetlaag afgesny (sowat 2,2 kg)
Invryfmengsel: meng saam
15 ml bruinsuiker
10 ml fyn komyn
10 ml paprika
7.5 ml droë mosterdpoeier
7.5 ml sout
5 ml peper
Vir braai: 15 ml olyfolie
Kook-vloeistof
2 wortels, geskil en grofgekap
2-3 uie, geskil en grofgekap
4 knoffeltoonjies, geskil en gekneus
1 blikkie bier, soos lager
1 blikkie gekapte tamatie
3 lourierblare (opsioneel)
Metode
Vryf die varkblad oral oor in met ‘n invryfmengsel van die suiker, komyn, paprika, mosterd, sout en peper. Laat rus 30 minute. Verhit olie in oondskottel oor medium-hoë hitte en verbruin die vleis sowat 3 minute per kant.
Haal vleis uit die skottel en hou eenkant. Voeg die wortels, uie, knoffel, bier, tamatie en lourierblare by. Kook liggies op en krap bruin stukkies kos van die bodem.
Plaas vleis terug, sit deksel op en stowe vir 3 ½ -4 uur by 160°C tot die vleis baie sag is en maklik van die been afkom. Haal vleis uit ( behou sous) en flenter met 2 vurke of met die hand. Die vleis rafel makliker terwyl dit nog warm is. Intussen kook die pansous af tot 2 koppies vloeistof oor is. Meng die vleissous deur die gepluiste vark. Hou in yskas indien volgende dag bedien word.
Opdiening: Bedien warm met tuisgemaakte BBQ-sous en sprietuie-pannekoek, roosterkoeke, sagte broodrolletjies, tacos, koolslaai, mayonnaise, piekels, komkommer, slaaiblare, vars koljander en gerasperde wit cheddar.
BBQ-sous (onmisbaar by ‘pulled pork’)
Bestanddele
300 ml tamatiesous (soos All Gold)
80 ml donker bruinsuiker
30 ml molasse
2 knoffeltoonjies, fyngemaal
60 ml appelasyn
30 ml Worcestershire sous
10 ml paprika
5 ml peper
5 ml mosterdpoeier
mespunt rooipeper
Skud of twee Tabasco
Maak so: Plaas die sousbestanddele in medium kastrol, roer deur en prut oor matige hitte vir sowat 12 minute tot dik en donker. Bedien in ‘n aparte bakke saam met die rafel-varkblad.
BYVOEGING TOT DIE ARTIKEL – RESEP VIR DIE SPRIETUI-PANNEKOEKIES
Daar was soveel navrae vir die resep van die sprietui-pannekoekies dat ek dit nou ook byvoeg. Ek gebruik die resep van Liam Tomlin uit sy boek TAPAS. Hou die pannekoekies klein, dan kan jy sowat 40 pannekoekies uitkry. Vir die doeleinde van ‘n Engelse leser wat ook die resep gevra het, gee ek dit in Engels:
Whisk 2 eggs, 375 ml milk, 40 g melted butter till foamy. In separate bowl sift together 125 g plain flour, 10 ml baking powder and 2.5 ml salt; form a hole in the centre of bowl and gradually add the egg mixture – stir just till lumpfree and smooth. Let the batter rest for 30 – 60 minutes. Tim and finely slice 3 spring onions and keep aside. Heat little bit of oil in smallish pan, add about 2 tablespoons of batter and tilt the pan (batter should form a thin layer – you don’t want think pancakes for this!). Cook the pancake till golden brown, sprinkle some spring onion over the uncooked side before turning over and cooking the other side for 30 seconds.
Like this:
Like Loading...
Tags: BBQ, braaisous, buffet, gammon, kersfees, Kerskos, oorskietvleis, pulled pork, vark, varkblad, varkvleis