‘n Brood en ‘n baie spesiale bord.
Die herdenkingsbord het ek in 1998 vir my Ma en pa Victor en Inez Espost laat maak vir hulle 50ste huweliksherdenking. Theo Kleynhans, die kunstenaar bekend vir sy sterk simboliese werk het 4 leliestingels op die bord geteken- een vir elke kind.
My man Ian (wat hierdie foto’s geneem het, het toe nog ‘n pottebakkersateljee gehad en die bord In sy kiln gebak.
Agterop is hierdie inskripsie.
Ek het my Ma aangemoedig om die bord te gebruik eerder as om dit net uit te stal of vir veilige bewaring In ‘n kas te bêre. Nou is dit in my sorg. Al is ma, pa en my ouboet Theo nie hier om die brood te geniet wat ek daarop voorsit nie, sny ek ekstra dik snye en dink aan hulle met ‘n warm hart.
Die brood met sy lieflike tekstuur en bros kors nie makliker of lekkerder nie. Geen geknie nie. Terwyl dit rys (dit rys twee keer), lees ‘n boek terwyl jy dink watter flessie konfyt jy gaan oopmaak.
Knievrye witbrood In ‘n ysterpan
1 pakkie (10 g) aktiewe droë gis
500 ml louwarm water
7,5 ml – 10 ml sout
515 g koekmeel (dis sowat 4 1/3 koppies meel – ek vervang 1 k met broodmeel) + ekstra vir strooi.
Oorstrooi: olyfolie, tiemie of roosmaryn en soutvlokkies (opsioneel)
Plaas die louwarm water en gis In ‘n groot mengbak. Gee dit ‘n roer en voeg dan 1 koppie van die meel by, gevolg deur die sout en roer met ‘n houtlepel tot gemeng.
Roer die orige meel ‘n koppie op ‘n slag by en roer tot heeltemal Ingemeng.
Bedek met kleefplastiek of ‘n deksel wat nie dit sluit nie (ek gebruik ‘n omgekeerde bord. Laat rys 1 uur op warm plek. Moenie die deeg affine nie.
Smeer die onderkant van ‘n gietysterpan liggies met olie (n 30 cm pan is ideaal). Besprinkel die bokant van die deeg behoorlik met meel; en meel jou hande (die deeg is klewerig. Lig die deeg uit en vorm ‘n ronde skyf. Plaas dit In die gietysterpan, bedek met ‘n vadoek en laat rys nog 30 minute.
Voorverhit die oond tot 200C. Bedruip met olyfolie en sny kepe in die deeg In ‘n kruisvorm. Strooi kruie en growwe sout oor. Bak tot mooi diepbruin en dit hol klink as jy daarop klop, 35 – 40 minute.
Foto’s Ian Du Toit