My sitrusliefde se wortels lê in die lemoenboorde van Clanwilliam waar my ouers verlief geraak en getrou het. Op die sepia-troufoto’s staan hulle ingehak voor lemoenbome op die wal van die Olifantsrivier. Daar’s lemoenbloeisels tussen die lelies in haar ruiker en in haar hare.
My emmerskoplysie is behoorlik deurdrenk van sitrus: ‘n wandeling deur Conca d’Oro, ‘n vallei naby Palermo bekend as die Kom van Goud vol geparfumeerde sitrusboorde. Ek sal ook my stapskoene opryg vir ‘n pelgrimsreis deur die straatjies van Seville bedwelm deur die geure van 13 000 bitterlemoenbome in blom.
Tot dan bak ek pan d’arancio ‘n lemoen-amandelkoek uit Sicilië. Een van my gunstelingdrankies – Lemoensap met die bitter aperitif Campari of Aperol spritz – word omskep in ‘n stroop daarby.
Anders as die metode om lemoene vir hierdie beroemde Siciliaanse koek ure lank te kook, word dit vinnig in die mikrogolf gaargemaak.
Wenk: As jy nie Campari of Aperol het nie, bedruip die afgekoelde koek met lemoen-drupversiersel (125 g gesifte versiersuiker aangemaak met 25 mℓ lemoensap).
Lemoenkoek met aperitif-stroop en amandelmelkroomys
Begin reeds die vorige dag. Maak die roomys eerste.
Koek:
3 bloedlemoene of lemoene
Plus skil en sap van 2 lemoene
250 g amandelvlokkies
3 gedroogte appelkose
295 g strooisuiker
5 eiers
5 mℓ bakpoeier
160 mℓ Campari of Aperol
2,5 m lemoenbloeiselwater (opsioneel)
Versiersuiker vir oorstrooi
Plaas 3 bloedlemoene of lemoene in ‘n ziplock-sakkie, moenie te styf toe maak nie, mikrogolf op hoog vir 12 minute. Versigtig, dis warm! Laat afkoel tot kamertemperatuur.
Voorverhit die oond tot 150°C, smeer en voer die bodem en kante van ‘n 22 cm klamp-koekpan met bakpapier. Maak die amandels fyn in ‘n voedselverwerker. Kap die gaar lemoene in stukke en voeg dit in die voedselwerker by die fyn amandel, voeg die appelkose by en 220 g (1 koppie) van die strooisuiker by. Verwerk tot glad. Voeg die eiers en bakpoeier by en verwerk vir 30 sekondes of deurgemeng. Giet dit in die koekpan en bak vir 1 uur 40 minute of tot toetspen skoon uitkom. Laat dit in die pan afkoel.
Stroop:
Voeg die skil, sap, Campari en die res van die strooisuiker (75g) in ‘n klein kastrol en roer oor matige hitte tot die suiker opgelos is. Vermeerder die hitte tot hoog en kook dit ⅔ af, sowat 15 minute. Verwyder van hitte, roer lemoenbloeiselwater by (indien gebruik) en laat afkoel.
Strooi versiersuiker oor die afgekoelde koek, bedruip met stroop en bedien met roomys.
Amandelmelkroomys
800 ml amandelmelk
395 g blik versoete kondensmelk
125 ml room
Gerasperde skil van 1 lemoen (opsioneel)
Plaas die bestanddele in ‘n ekstra-groot ziplock-sak; maak stewig toe en plaas dit plat neer op ‘n vlak skinkbord of bakplaat. Vries oornag.
Die volgende oggend, sny die bevrore mengsel in stukke en maak dit fyn in ‘n voedselverwerker. Giet die mengsel in ‘n plastiekhouer met digpassende deksel of ou roomysbak. Vries.
Foto’s: Ian en Errieda Du Toit
resepidee: Delicious Australië