Gee jouself tyd het om die koek langsaam te bak, langsaam af te koel en langsaam te geniet.
Oesfees kaaskoek met tipsy sultanas in die vulsel, haselneut op die kors en druiwe in heuning en verjuicestroop
Dis nou parstyd in die Durbanville Wynvallei waar ek woon. Dit gee my die idee om ‘n oesgebak te maak waar druiwe die kroon dra – ek doop dit Fees van die Druif Kaaskoek.
Die resep is ‘n aanpassing van die macadianeut- en heuningkaaskoek in my Huiskok Glanskok Kookboek. In hierdie oesweergawe kom allerhande dinge in wat van die wingerdstok af kom: In die romerige vulsel kom sultanas wat in verjuice gekook is. Dit verteenwoordig die vorige jaar se oes. Om hierdie jaar se oes te herdenk word die kaaskoek versier met druiwekorrels wat in heuning en verjuice karamelliseer – ‘n verwysing na die versengende hitte wat gewoonlik met parstyd te paard gaan. Verjuice is ook ‘n produk van die druif (die groen, ongefermenteerde sap net nadat dit gepars is). Die neute tussen die kors en vulsel sorg vir kraak en tekstuur.
OES-AF KAASKOEK MET VERSKROEIDE DRUIWE
Bestanddele
Kors:
20 ml strooisuiker
125 g gesoute botter
30 ml sonneblomolie
1 eier
500 ml koekmeel
10 ml bakpoeier
120 g geroosterde haselneute, grofgekap
30 ml heuning
Vulsel:
40 g sultanas
¼ k verjuice
375 ml strooisuiker
3 eiers
3 eiergele
750 g roomkaas of gladde maaskaas
100 ml mielieblom
45 ml suurlemoensap
375 ml vars room
‘Verskroeide druiwe’ versiering:
½ k heuning
¼ k verjuice
250 g pitlose rooi druiwe.
Metode
Kors:
Voorverhit die oond tot 150 °C. Smeer ’n diep ronde losboomkoekpan liggies. Room die suiker, botter en olie saam. Voeg die eier by en meng goed. Sif die meel en bakpoeier saam en voeg dit by die eiermengsel. Meng tot ‘n stywe deeg. Druk die deeg stewig teen die bodem van die voorbereide koekpan vas. Bak 5 min lank blind. Laat afkoel, sprinkel die gekapte neute oor die kors en drup die heuning oor.
Vulsel:
Kook die sultanas in die verjuice tot die vloeistof verdamp – so 5-6 minute. Hou eenkant.
Klits die suiker, eiers en eiergele saam tot dit dik en romerig is. Voeg die roomkaas, mielieblom en suurlemoensap by en meng goed. Voeg die gekookte sultanas en room by en klits liggies. Giet die mengsel versigtig op die gebakte kors. Bak 1 uur lank. Skakel die oond af, maak die oonddeur oop en laat die kaaskoek heeltemal afkoel. Bedek en plaas ten minste 2 ure, verkieslik oornag in die yskas.
Geskroeide druiwekorrels
Prut die heuning in ‘n pan oor matige hitte tot gekaramelliseer, terwyl jy die pan nou en dan swirl ( 3-4 minute), voeg die verjuice by en swirl om dit in te meng, gooi die druiwekorrels by en kook tot dit stroperig (5-7 minute). Giet dit oor die afgekoelde kaaskoek.
Algemene Kaaskoekwenke
Bring die room en kaas eers tot kamertemparatuur. Dit maak die mengslag makliker.
Bak kaaskoek in ’n waterbad en sit die oond af sodra die middel bykans geset is. Die kaaskoek moet stadig in die oond afkoel, met die oonddeur oop. Dan kraak dit nie sommer nie.
Daar bestaan nie iets soos ‘n kitskaaskoek nie. Sorg dat jy tyd het om die koek langsaam te bak, langsaam af te koel en langsaam te geniet
KAASKOEK WEETWAARDIGHEDE
Kaaskoek se roem strek so ver terug as 8000 vC na die antieke Griekse eiland Samos toe elke Griekse provinsie met sy eie kaaskoek resep gespog het. ‘n Resep uit hierdie era lui: “Neem kaas, stamp dit en sit in ‘n sif. Voeg heuning en meel by en verhit alles saam in een massa.”
Kaaskoek was die voorloper van die hedendaagse troukoek en Romeinse bruide het kaaskoek gebak vir die bruidegom se vriende.