Tag Archives: Kaapse kos

Groenboontjiebredie met herfskleure

18 Mar

image

Ou resep. Nuwe idee. Vandag gee ek groenboontjiebredie ‘n kinkel.” So verkondig ek die kosnuus aan my huismense dat die brediepot ‘n verrassing gaan inhou.

Maartmaand is dalk te vroeg vir ‘n bredie met Stadig as middelnaam en Stowe as van. Dit word gereken as winterkos. Die toegerankte muur by my kombuisvenster por my egter aan met sy herfskleure wat vanjaar vroeër as gewoonlik uitslaan met borriegeel en brandrissierooi blare tussen die roes. Dit maak my lus om die vaalgroen tradisionele groenboontjiebredie ‘n herfsblos te gee met Kerrie en ander geurige speserye.

Groenboonbredie se begin - die eerste tekens van speserye is daar.

Groenboonbredie se begin – die eerste tekens van speserye is daar.

‘Bring sexy back’, sing Justin Timberlake. Ek sê: ‘bring spices back.” ‘n Nuwe idee vir groenboontjiebredie is dit nie.

Bredies het ‘n wonderlike pad gevolg van die Arabiere via die Italianers na die Hollanders, maar veral ook deur die Franse Hugenote. Die Arabiese bredies het baie meer speserye gebruik as ons bredies vandag. Selfs die bredie-kuns wat die Franse Hugenote na die Kaap gebring het, het waarskynlik meer speserye bevat, wat met verloop van tyd onder die Britse invloed verskraal het tot bykans net sout en peper gebruik is. Die gebruik is ook destyds deur die Arabiere gevestig om die vleis halfpad gaar te maak voor die groente bygevoeg word. Toe al is baie min vloeistof gebruik om die vleis in te stowe. 

My idee om die bredie met gekapte neute af te rond is ook niks nuuts nie – amandels word tog dikwels met groenboontjies bedien en in die Indiese en Oosterse kookkuns is neuter soos kasjoes en grondbone ‘n alledaagsheid saam met groente.

Dis vir my heerlike ontspanning om te sit met 'n bak groenbone en dit op te kerf.

Dis vir my heerlike ontspanning om te sit met ‘n bak groenbone en dit op te kerf.

Ek is nie ‘n groenboonbredie-puris nie, maar op een ding staan ek vas – die groenbone moet fyn gekerf wees. My ma het ‘n Minora-lemmetjie gebruik; ek span my man Ian se knipmes in. Dit gee ‘n tikkie finesse aan die aardse bredie en kook ook baie makliker deur.

KERRIE-GROENBOONTJIEBREDIE MET NEUTE

Beide snybone en aartappels was in Van Riebeeck se dae aangeplant; speserye was beskikbaar, en dis waarop ek my groenbonebredie wiks met kerrie. Dit is nie modern nie, maar eerder outyds – eeue der eeue oud.  Eet dit met sousbone of kerriebone vir daardie heerlike soet-suur smaak waarvoor ons so lief is.

  •  1 kg lam-stowevleis (met been aan)
  • 30 ml ongesoute botter of sonneblomolie
  • 6 gekneusde kardomom-peule
  • 10 ml gestampte geskroeide koljandersade
  • 15 ml matige kerriepoeier
  • 5 ml borrie
  • 3 knoffelhuisies, fyngedruk met 5 ml sout
  • 20 ml fyngerasperde vars gemmer
  • 1-2 rooi of groen brandrissies, fyngesny (om hitte te temper, haal pitte en die membrane uit – die hitte is in die wit velletjies eerder as die pitte!)
  • Sout en peper
  • ½ koppie water of meer soos nodig
  • 900 g groenbone, punte afgesny en die res gekerf
  • 2 vars lourierblare
  • 2-3 groot aartappels, geskil en in blokkies opgesny (soos Peter dit beskryf: ‘Oorlangs gehalveer en elke helfte weer oorlangs gehalveer en alles dan in die breedte een keer deurgesny’).
  • Gerasperde skil en sap van 1 suurlemoen

Opdiening: Gestampte neute, soos amandel en groen amandel (pistasieneute) wat in die vroegste jare reeds aan die Kaap aangeplant was, of gesoute kasjoeneute wat baie lekker saam met kerriesmake is.

Metode:

  •  Braai die vleis in sarsies bruin in die botter. (Gooi van die oortollige vet af).
  • Gooi die uie, borrie, kardomom en kerrie by en braai tot geurig en uie begin verbruin.
  • Voeg knoffel, gemmer en brandrissie by en verbruin liggies.
  • Voeg nou ½ koppie water by en roer goed deur met ‘n houtlepel, veral om die bruin stukkies op die bodem los te krap. Kook 40 minute.
  • Voeg helfte van die groenbone, aartappel en lourierblare bly, stowe baie stadig sowat 40 minute, voeg die res van die groenbone by, kyk of nog water nodig is en stowe verder tot sag.
  • Voeg suurlemoensap en skil*by, geur met sout en peper en roer deur.
  •  Strooi die neute oor.

*Vir ietsie anders, roer blokkies ingelegde suurlemoen (‘preserved lemon’) deur die bredie of sprinkle bo-oor, geleen by die tagines van Noord-Afrika.

Bedien met warm sousboontjies, of selfs ‘n skeppie kerrieboontjies bo-op vir die geliefde soet-suur smaak. Om die toneel verder in te kleur, bedien met klein bakkies tamatie-en-uie sambal, komkommerslaai of beetslaai.

Stysel: gestoomde basmatirys, stampkoring of bruinrys. Of rys met lensies gemeng 2/3 rys en 1/3 lensies). Stampkoring sal ook lekker wees.

Wenk: Neutmuskaat; wonderpeper, fyn naeltjies, fyn gemmer en pypkaneel kan ook ingespan word, soos in Peter Veldsman se boek ‘Kos van die Eeu. Vir kruie: droë bonekruid of oreganum of marjolein. Surings vir surigheid.AAA top shot met tikkie rys

Bronne:

  • Kos van die Eeu: Peter Veldsman, HUman & Rousseau
  • Die Geskiedenis van Boerekos: HW Claassens
  • Kook Suid-Afrikaans: Magdaleen van Wyk, CNA Uitgewers
  • Gesprek met Sjef Johan Odendaal, Emily’s Bistro.

    Kollegas Gina en Anita toets-proe die kerrierige groenboontjiebredie bedien met sousboontjies en tamatiesambal

    Kollegas Gina en Anita toets-proe die kerrierige groenboontjiebredie bedien met sousboontjies en tamatiesambal

Peter Veldsman, tamatiebredie en die sin van die lewe

15 Feb
 “Ons tamatiebredieresep word met opset langdradig geskryf. Ietwat vasgevang in tyd in die hoop om tydloos te word.” (Peter Veldsman, Emily’s in Kloofstraat)
Peter Veldsman, raconteur, restaurateur. Foto: Samarie Smith

Peter Veldsman, raconteur, restaurateur.
Foto: Samarie Smith

Met my onlangse besoek saam met die kos- en wynskrywer Samarie Smith aan die ‘nuwe-era’ Emily’s in Kloofstraat vra ek my Facebook-vriende: ‘Wat sou jý vir Peter Veldsman vra aan tafel?  Uit Ierland kom die eerste vraag – wanneer verskyn die volgende kookboek? Peter kyk na Sjef Johan se kant toe. “Ek is uitgeskryf aan kos; dis nou die jonger geslag se beurt.”

Eet jy afval?: Ek eet dit elke moontlike manier – vaal, gekerrie, Italiaanse afval, Normandiese afval met Calvados, room, preie en appels. Skaapkop nie soseer nie, behalwe natuurlik die tongetjie en sagte vleisie agter die oor. Die oog, nee.”

Op ‘n vraag oor sy gunsteling kos: “wat ek vandag op my tafel kon hê. Om te eet is ’n voorreg.” Uit Gauteng wil Veralda weet wat is die nuwe smaakkombinasie-van-die-oomblik? “Soetpatat en lietsjie”, antwoord Peter tong-in-die-kies, gedagtig aan die ongewone geurkombinasie van Sjef Johan Odendaal se sop waaroor ons gejuig het.

Ons pols Peter oor die betekenis van die lewe:

“’n Glas Bubbly eerste ding in die oggend, rooibos en rooiboluskoekies vir teetyd. Iets vars uit die see vir middagete (met ongehoute Chardonnay). Dan ’n goeie Spaanse siësta. Begin die aand met Campari en soda; dan goed-verouderde vleis met ‘n klassieke sous; gevolg deur uitmuntende kaas en dekselse goeie brandewyn uit Ladismith. Dan gaan sit jy op die patio en kyk na die sterre. Voor jy sentimenteel raak, gaan slaap jy.”

“Vra hom die resep vir sy tamatiebredie” smeek Mynhardt en Wynand op my Faceboek-blad.

Peter se geskrewe resep ‘n paar dae later is ’n rare meesterklas eerder as resep.  In sy eie woorde verduidelik hy hulle tamatiebredieresep word met opset langdradig geskryf. “Ietwat vasgevang in tyd in die hoop om tydloos te word.” Van die slagskaap (of liefs boerbok as Peter sy sin kry) tot beskrywing van snitte en hitte kry aandag met die presisie van ‘n vakman en die passie van ‘n skilder. Hy vertel van streeksgebruike rondom tamatiebredie of tamatiekos; en gebruik ‘n lieflike term  ‘skudbraai’ om die speserye droog te rooster; gee gou ‘n kookles in die kleine oor ‘smoor’ (met die deksel op); bring tussendeur verrassings in soos steranys en ’n tikkie laventel.

Dis ‘n resep vir mense wat kortribbetjies en nekskywe geduldig met asynlappies afvee en spesiaal die speserymalers uithaal vir die geleentheid. Jou beloning is die onmiskenbare tamatie-sitrusgeure van Emily’s se kenteken-bredie. Jy kan die ware jakob self by Emily’s gaan proe tydens die familie-uur wanneer daar boerekos gemaak word. Of as jy jou verbind tot kos wat liefde, tyd en iets van jouself vra, kan jy verder lees vir Emily’s se Tamatiebredie-resep. Geen jota of titel is verander nie, dis nooit nodig met ’n meesterstuk nie. Lees, leer en geniet.

Peter Veldsman skryf oor Tamatiebredie

 “Wynand en Mynhart is op soek na my tamatiebredieresep.’n Streeksgebruik is ook om hierna as tamatiekos te verwys. Ek gee graag my nuutste weergawe soos ons dit in Emily’s kook. Ietwat baie, kleiner gesinne moet maar twee dae lank eet.

Ek is van mening dat dit in ieder geval effe beter is op die tweede dag, maar dan moet jy dit “lewensessens” (nou nie die soort uit ‘n botteltjie nie) gee. Hierdie resep wat hier volg word met opset langdradig geskryf. Ietwat vasgevang in tyd in die hoop om tydloos te word.
Die agtergrond van bredie is eenvoudig. Wanneer daar van ouds geslag is, is die vleis vir ‘n kort tyd gehang omdat daar nie koelkaste was nie. Gevolglik sou dit taai wees en moes daar na klam-hitte kookmetodes gegryp word.

Onthou ‘n slagskaap was minder kosbaar as ‘n hoender. Voordat ek te verlore raak in die ou manier, moet ons maar na deesdae se metodes kyk. So ‘n slagskaap of tweetand boerbok (my keuse) word verdeel in droë-hiite en klam-hitte snitte. Vir my bredie gebruik ek beide. Ek haal aan uit Kos van die Eeu:

Kortribbetjies, mooi gesaag en alle beenweefsel skoon afgevee met ‘n asynlappie,  Nek in skywe gesaag en skoonafgevee, ontbeende blad in blokkies gesny – altesame 5 kg. (Lewer 18 porsies)

Pan op die stoof oor medium hitte. Voeg ‘n handjievol (30 ml) vinkelsaad by, 30 ml swart peperkorrels, 15 ml wonderpeper, 1 grof gekapte neutmuskaat en skudbraai totdat ‘n hemelse geur in die lug hang. Verwyder die pan dadelik en strooi die inhoud op ‘n groot bord om af te koel. Skep in ‘n speserymeul en pols totdat dit vermeng, maar nog effe growwerig is. Vryf in die vleis in. Bedek vleis met kleefplastiek en plaas oornag in koelkas.

Volgende dag: Halveer 6-8 uie (afhangende van grootte) oorlangs en trek skille af. Sny in skywe en kap grofweg op. Gebruik ‘n speserymeul en maal ‘n steranys fyn. Meng met 4 fyngekapte brandrissies (pitte en al). Voeg 10 ml borrie by. Voeg by die uie en meng deur. Bedek en plaas in koelkas.

Skil 6 aartappels, sny in blokkies. Blansjeer 5 kg ryp tamaties in kookwater, verfris in yswater en trek skille af. Ek druk dan die pitte uit, maar jy kan dit behou. Kap in blokkies.

Nou kan ons begin kook.

Gebruik ‘n groot pan en braai een of twee vetsterte uit oor lae hitte. Sny die kaiings af en hou eenkant. Gebruik die vet en vul aan met olie om 125 ml te lewer. Hou eenkant.

Braai die ribbetjies nou , bietjie vir bietjie, tot goudbruin. Skep in ‘n groot oondpan. Braai die nek ook bietjie vir bietjie en skep by die ribbetjies. Gebruik deurgaans die vet/olie. Waak teen aanbrand. Ons poog om ‘n marmite in die pan te skep.

Nou kom die blad aan die beurt. En die sout? Die word nou oorgestrooi en die vleise word met jou hande mooi vermeng. Skep ‘n koppie koue water in die pan en gebruik ‘n houtspaan en trek al die vleisstukkies en pansappe af. Jy kan ook ‘n bietjie droë wit wyn pleks van water gebruik. Vul aan met water/wyn om 250 ml te lewer. Giet af en hou eenkant.

Gebruik jou laaste bietjie vet en smoor die uie oor lae hitte. Om te smoor beteken met die deksel op. Moenie braai nie. Die uie moet sag wees. Voeg die aartappels by en roerbraai totdat die aartappels so effe meer as halfpad gaar is. Skep oor die vleis en meng deur.

Nou kom die tamaties na die pan – die keer oor hoë hitte en roerbraai terwyl jy helfte van die vloeistof wat vorm indamp. Voeg 15 ml suiker by asook 50 ml tamatiepasta. Meng en giet oor die vleis. Meng deur. Giet die aftreksel oor. Steek 12 suurlemoenblare verspreid in die vleis. Bedek met aluminiumfoelie, blinkkant na onder, en plaas in ‘n voorverhitte oond by hoë hitte vir 20 minute. Verminder hitte na 120-150°C en bak vier ure lank.*

Loer en toets ‘n stukkie vleis vir gaarheid. Voeg ‘n bietjie ekstra water by indien dit nog langer moet bak. Proe ook vir sout. Die bredie moet na vleis smaak wat ‘n tamatie-sitrus geur openbaar. Roer die kaiings by. Gebruik so 12 basiliekruidblare, breek in repies en roer by. Sit voor met met rys. *

Ek bak die bredie gewoonlik oornag by 100°C. Soms voeg ek 10 ml gekapte laventelblare aan die einde by.

Die verhouding vleis tot tamaties is 50-50. Jy kan die vleis meer maak as jy ‘n meer vleiserige bredie verkies.” ( Peter Veldsman, Februarie, 2014)

Besonderhede

Peter Veldsman en Johan Odendaal

Emily’s Bistro en Kroeg

Tel 021 424 0882

Kloofstraat 55, skuins oorkant die Lifestyle Centre.

Facebook: Emily Kloof

Ure:  Daagliks 10h00 tot 10h00. Sondae gesluit

10h00 – 17h00 Dag-kos

17h00 – 19h00 Gesinskos, boerekosete

19h00 – 22h00 A la carte

LEES IN DIE NAWEEK-AFDELING IN BURGER, BEELD en VOLKSBLAD  van 15 FEB. HOE SAMARIE SMITH, KOS-EN-WYNSKRYWER DIE BESOEK ERVAAR HET.

%d bloggers like this: