Tag Archives: Karoolam

Ribbetjie uit die Karoo

15 Nov

Glo my, Karoo-lam gaan die vleis van die dekade wees, die trend der trends, die hartsmaak van almal wat vir hierdie deel van die land ‘n bekoring het. Hoe bly maak dit my hart dat Karoo lam nou beskerming geniet – nuwe wetgewing in die Staatskoerant (wat wag vir kommentaar) maak dit nou verpligtend dat net lamsvleis wat aan spesifieke standaarde voorsien as Karoo Lam van Oorsprong genoem mag word. Herdie resepte is die eerste in ‘n reeks wat ek die lof van Karoolam besing as  ‘n kontrei-eg kultuur- en smaakskat van ons mooiste land.

KLEWERIGE LAMSRIB

Ek het ‘n resep gesoek vir lamsrib op die kole, met ‘n klewerige sousie wat jou lank na die etery nog laat vingers aflek. Hierdie resep is geskoei op Arina Joubert van Landbouweekblad Boerekos s’n.  Dis ‘n lekker manier om ekstra smaak aan lamsvleis te geur wat nie so geseend is om met ‘n Karoo-opvoeding te spog nie.

1 lamsrib, in ribstukkies gesny

Marinade:

1 koppie sojasous

30 ml olyfolie

60 ml soet rissiesous

1 koppie heuning

15 ml geroosterde, heel komynsade

5 cm stuk gemmer, fyngerasper

1 knoffeltoontjie, fyngerasper

Meng al die bestanddele, giet oor ribstukke en laat oornag marineer. Jy moet dit in ‘n bak marineer wat nie sal reageer nie, so ek gebruik plastiek, of ‘n emaljeskottel. Dan word dit oor medium kole gebraai tot gaar.

SOUTRIBBETJIE

Dit vat bietjie meer lêtyd – so begin 2 dae voor jy die groot lus vir soutribbetjie oor die kole kry.  Ek het die resep in ‘n 1980’s boek van Dine van Zyl opgespoor: Woman’s Value Book of Traditional South African Cooking.

As jy hiervoor gesertifiseerde Karoolam kan kry, is jy en jou mede-eters in die Sewende Hemel.

Jy’t nodig:

Skaapribbetjies.

rfyfmengsel genoeg vir 1 ribbetjie: ½ k sout, 1 E bruinsuiker, ½ t salpeter, bietjie gemaalde swartpeper, 1 Eetlepel geroosterde fyngemaalde  koljandersade (my ma het altyd van geskroeide koljander gepraat)

Die ribbene word los van mekaar gesny  en die vetterige vleisdeel in blokkies gekeep, maar die rib word nie deurgesny nie. Vryf die ribstukke goed in met die mengsel. Los vir 2 dae in ‘n emlajeskottel en draai dit soggens en saans om. Dan hang jy dit op in ‘n koel plek in ‘n trek om winddroog te word, maar nie TE droog nie. Nou kook jy die rib in kookwater tot dit sag is – sowat 2 ure. Kry die kole reg en braai.

Huiskok  Wenk: Ek bedien ribbetjie met niks meer as ‘n paar druppels goeie asyn nie. Die asyn wat ek het is 30 jaar-oue sjerrieasyn wat ek in Prins Albert gekoop het – asyn met ‘n storie, maar dis vir annerdag.

%d bloggers like this: