Die pannekoek waaraan ek jou nou gaan bekendstel is nie een vir winter of gure weer nie. Dis ‘n pofpannekoek met ‘n somerrok aan.
Ontmoet die Dutch baby. Maar moenie dat die naam jou mislei nie – dis nie Hollands nie en dis ook nie ‘n baba nie. Hierdie spoggerige ontbytgereg is eerder die liefdeskind van ‘n adelike pof-omelet en ‘n vryerige werkersklas-pannekoek. Die oondgebakte pannekoek is so groot soos ‘n ‘hub cap’ wat met ‘n swierige rolkraag uit die oond kom en dan platval in die middel. Hierdie krater, omring met die bros, bruingebakte kraag, bied lêplek vir vars bessies, suurlemoensap en ‘n sifsel versiersuiker – die tradisionele manier om dit te eet.
Dutch babies het nie ‘n Hollandse oorsprong nie, maar wel Germaans. Dit was Duitse immigrante na Amerika wat hulle in plekke soos Pennsylvania gevestig het en dit gewild gemaak het. So het die verdraaiing van Deutsch na Dutch gebeur. In Amerikaanse stede soos Portland en Seattle het die Dutch baby ‘n instelling geword waar dit met gekarameliseerde appels bedien word.
Met hierdie gereg sit ek my huidige obsessie met pofgeregte voort. Al wat jy nodig het om kuiermense hierdie vakansie te laat ooh en aah is ‘n goedgeklitse dun beslag van melk, meel en eiers, sissende botter, ‘n gietyster- of oondvaste swaarboompan …. en ‘n baie warm oond. Die resultaat is die bymekaarkom van wetenskap en verwondering. Die vloeistof in die dun beslag word omskep in stoom, wat dit laat uitrys.
Dis ‘n dramatiese omskakeling, want een deel vloeistof word omskep in 1 600 dele stoom! Soos die stoom gevorm word strek die eier-proteïene soos ‘n lugballon. Die dele teen die kant vorm ‘n pofkraag, terwyl die middel insak om ‘n heerlike vlaerige bodem te vorm. DUTCH BABY PANNEKOEK
Die ideale gereg om vir ontbyt of nagereg aan mekaar te slaan. Ekonomies en beeldskoon. Ek bedien dit met aarbeie, crème fraiche of suurroom, versiersuiker en suurlemoensap. ‘n Sprinkel varsgekraakte witpeper doen ook wondere.
Bedien 4
125 ml koekmeel
125 ml melk
3 groot eiers, liggies geklits
Knippie elk sout en neutmuskaat
60 ml botter
Vir opdiening: versiersuiker, opgesnyde aarbeie of ander bessies, suurlemoenwiggies, Griekse jogurt of crème fraiche of suurroom.
Voorverhit oond tot 220°C. Plaas ‘n oondvaste swaarboom of gietyster-pan van 24 cm op ‘n laer rak in die oond vir sowat 8 minute om baie warm te word.
In ‘n medium-grootte mengbak klits die meel, melk, eiers, neutmuskaat en sout saam tot net gemeng OF blits die bestanddele vinnig in ‘n versapper of voedselverwerker saam tot skuimerig (moenie oormeng nie).
Smelt die botter versigtig in die warm pan, kantel om die bodem goed te bedek en giet die beslag in. Bak in die oond tot die opgepofte kante lekker goed bruin is en die middel goudbruin (18 – 25 minute). Moet glad nie die oond oopmaak gedurende die baktyd nie. Haal uit die oond, druk bietjie suurlemoensap oor, skep die bessies in en sif versiersuiker oor. Sny in wiggies.
- Errieda du Toit is die inhoudsvervaardiger van Kokkedoor en Koekedoor, en bied Woensdagoggende om 9h30 as RSG Huiskok die rubriek ‘Die kos wat ons ken’ aan.