{‘n Deel van die blog-inskrywing verskyn vandag in die Naweek-bylaag van Beeld/Die Burger – as ‘Roosterkoek setees’. Ekstra resepte vir kortpad-roosterkoeke en ander bykosse onderaan die blog}
So skop ‘n Engelsman my nou die dag stof in die oë by ‘n roosterkoek-kompetisie op Nitida. Sien, ek’s die huiskok van die RSG-radiopraatjie en vir dertien jaar kook ek en my Glanskok pel, sjef Francois Ferreira saam op lug. “Daar waar jy gaan sal ek gaan”. Toe hy my aanpor om deel te neem aan Nitida se eerste Roosterkoek-kompetisie waar hy as demonstreerder en beoordelaar optree, dink ek nie twee keer nie.
- My Huiskok Glanskok pel sjef Francois Ferreira – heer en meester by Nitida se eerste Roosterkoek kompetisie
Dit was met net te veel selfvertroue dat ek daai dag die roosterkoek-deeg getakel het; op eie risiko die deeg te kort geknie het. Jy moet dit immers knie tot jou hande vanself skoon kom en niks meer deeg vasklou aan palm of skottel nie. Roosterkoek vra ‘n rustige gemoed en ‘n 10-minute knie.
Of dalk was dit omdat ek nie my eie deegkombers oor die rysende deeg gegooi het nie; nie geduldig genoeg was met die rysslag nie. Dalk was die deeg te pap, te styf. Of die braaikole onder beheer van my braaimaat Catherine Eybers te warm of te koud. Daar’s soveel dinge wat met roosterkoek kan verkeerd gaan dat ek baie verskonings kan aanhaal hoekom ‘n Engelse boertjie my laat les opsê het. Roosterkoek bewys hom aan my as fyngebak eerder as grofgebak.
Bietjie bek-af wens ek die paartjie Steve en Liezel Fountain geluk et hul sukses langs Nitida se vreugdevure. Ek het intussen my wonde gelek op die maat van die roosterkoek-setees (met komplimente van YouTube) en berusting gevind in ‘n hap weergemaakte roosterkoek – met deeg wat onder my eie deegkombers gerys het.

Huiskok en kookmaat Catherine se roosterkoek met groente-relish reg vir beoordeling – heerlik maar geweeg en te lig gevind vir ‘n oorwinning.
Francois se Roosterkoek
1 pakkie kitsgis
250 g Eureka koekmeel*
250 g Eureka broodmeel
1 eier
25 g sagte botter
2 eetlepels suiker
7.5 ml sout
Genoeg water om ‘n sagte deeg te maak
Plaas die meel en die gis in ‘n bak. Meng met die vingers en voeg die suiker en sout by. ( Moet nooit die gis direk met die suiker en sout in aanraking laat kom nie. Meng die gis vooraf eers met die meel.) Vryf die sagte botter en en voeg die eier en louwarm water by om ‘n sagte deeg te vorm. Knie die deeg vir ongeveer 10 minute tot glad, blink en elasties. Plaas die deeg in ‘n skoon kom en bedek met ‘n teedoek. Laat dit in ‘n warm plek rys tot dubbeld die grootte – so 35-40 minute. Knie die deeg af, druk dit plat en sny in vierkante. Bestryk dit liggies met meel sodat dit nie aan die rooster vassit nie. Rooster dit oor medium kole. Dit is reg wanneer dit hol klink as jy daarop klop.
*Die Eureka broodmeel is op tradisionele wyse met stene gemaal en kom uit die Overberg-gebied in Heidelberg en Swellendam se kontrei. Dis beskikbaar by landbou-koöperasies, delis en goeie supermarkte.
Die groente-relish-in-wording aan’t pekel in die sout en die mos.
Die kraakvars relish is verbasend lekker saam met die roosterkoek.
Mos en groente-relish
Hierdie relish van Francois word nie gekook nie, maar die suur in die wynmos – of die suurlemoensap – versag die rougeit.
Die pikante, krakerigheid van die groente is deksels lekker saam met die warm roosterkoek, en iets vars om saam met ‘n vetterige tjoppie of boerewors te gedien. As jy wil kan jy die relish verder opdolla met murgpampoentjies, rooikool en varsgekapte kruie. Ek het ook gevind dat ‘n bietjie bruinsuiker lekker werk om die sout en suur te balanseer. Voeg dit liefs aan die einde by nadat die groente reeds vir ‘n ruk in die sout en suurlemoensap (of mos) gelê het.
Genoeg vir 4 mense
1 rooi soetrissie, fyngekap
1 medium ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
1 rooi brandrissie, fyngekap en pitte verwyder
¼ kopkool, fyn gekerf
15 ml sout
100 ml wynmos of die sap van 4 suurlemoene.
Meng al die groente saam in ‘n mengbak. Voeg die sout by en werk dit met jou hande deur die groente.
Om die piekel proses te begin moet die groente en sout baie goed gemeng word. Laat staan die relish vir 30 minute in ‘n koel plek. Geniet saam met roosterkoek.
- Deelnemers se groente-dip in verskillende stadiums van gaarword oor die kole.
Mos doopsous
Breek weg van tradisie en bedien jou roosterkoeke met ‘n ongewone, maar heerlike doopsous wat in ‘n ysterpan oor die kole gaargemaak word terwyl die deeg rys. FRancois gebruik wynmosin hierdie resep, maar as jy dit nie in die hande kan kry nie, vervang dit met witwyn of witwyn-asyn. Bruinsuiker kan dan na smaak bygevoeg word.
4 porsies
1 rooi soetrissie fyngekap
1 medium ui fyngekap
2 knoffelhuisies fyngekap
1 rooi brandrissie fyngekap en pitte verwyder
30 ml olie
250 ml wynmos
Sout en peper na smaak.
Soteer die groente in die olie in ‘n pan oor warm kole tot sag en die uie deurskynend is.
Voeg die wyn en die mos by en verhit tot kookpunt.
Verwyder die pan van die vuur en laat die sous afkoel. Voeg sout en peper na smaak by en bedien saam met die roosterkoek.
{Dankie aan my kookmaak Catherine Eybers wat die kompetisie saam met my aangedurf het – asook Janine Eybers en my man Ian wat sulke ordentlike teenstanders was! En vir Nitida wat met die fantastiese inisiatief gekom het om ‘n jaarlikse roosterkoek-kompetisie te begin. }
Roosterkoek met auberginedip
Hierdie resep het ek op die webwerf njam.tv raakgeloop en dit het my Afrika-hart warm laat klop dat ‘n ikoniese broodjie uit ons land in Europa erken word. Die resep hou ek net zo in Vlaams!
bereiden:
Voor de broodjes:
500 g bloem
15 g bakpoeder
2 g xout
150 ml melk
1 ei, losgeklopt
Voor de dip
500 g aubergines
1 teenje knoflook, uitgeperst
2 el yoghurt
1 tl gedroogde munt
2 el limoensap
Versgemalen peper – zout
maak de broodjes:
Meng de droge ingrediënten. Maak een kuiltje in het midden en voeg de melk en losgeklopt ei toe. Kneed goed door, zorg ervoor dat het deeg niet te nat is.
Neem een eetlepel deeg en rol hiervan een balletje. Leg de broodballetjes op een rooster en plaats boven de BBQ. Bak ze aan de ene kant tot ze knapperig zijn, draai om en bak aan de andere kant. Ga zo door tot ze hol klinken als je erop tikt.
maak de auberginedip:
Verwarm de oven voor op 240 ºC. Prik de aubergines enkele malen met een vork, leg ze op een bakplaat en bak 30 minuten in de oven tot ze zacht zijn.
Laat de aubergines iets afkoelen en snijd ze in de lengte doormidden. Schep het vruchtvlees met behulp van een lepel uit de schil en prak dit in een kom tot moes. Giet het limoensap over de aubergines en voeg er de yoghurt, munt en knoflook bij.
Breng op smaak met versgemalen peper en zout. (Als de dip niet smeuïg genoeg is, kan je er wat olijfolie aan toevoegen.)
serveren:
Serveer de versgebakken broodjes samen met de auberginedip.
voor 15 broodjes

Volstruisburger met ‘n mozzarella hart op roosterkoek – opgewoema met mango salsa (of ouma se kerrieperskes)
Volstruis en mozzarella burger op roosterkoek
Dis hoeka nou KKNK en hoekom nie ‘n volstruisburger maak om gees te vang nie. Jy druk mozzarella in die middel van die burger-pattie: so fusion van ouvrou-onder-die-kombers en hamburger! Die gesmelte kaas gee ‘n weelderigheid aan die burger; heerlik saam met die rokerigheid en krakerige kors van die roosterkoek. Die burger word dan met ‘n mango-salsa bedien (ek sien Woolies het heerlike mangoes op die oomblik of anders gebruik sommer mango in ‘n blik). As mango-salsa te eksoties is vir jou smaak vandag, bedien dit gerus saam met ouma se kerrie-perskes as jy nog ‘n flessie in die spens het. Anders maak ‘n draai by ‘n padstal!
Gebruik Francois se Roosterkoekresep hierbo vir die burger ‘buns’ en maak die res so:
Vir die patties
500 g volstruismaalvleis
1 klein ui, fyngekap
15 ml fyngekapte vars kruisement
30 ml fyngekapte pietersielie
Sout en peper
115 g Simonsberg mozzarella (dit smelt baie lekker)
Mango salsa
115 g vars of geblikte mango, in blokkies
10 ml heuning
5 ml balsamiese asyn
30 ml fyngekapte vars kruisement
Sout en peper
Maak so
Meng volstruis, uie, kruisement en pietersielie saam tot goed gemeng, geur met sout en peper. Verdeel in 8 patties – druk dit plat met die hand en vorm dan mooi rond. Sny die mozzarella in 4 blokkies en sit ‘n blokkie kaas op 4 van die patties. Plaas nou die ander pattie bo-op en druk dit vas om die kaas behoorlik te verseël. Braai oor medium kole (oppas vir te gaar, want volstruis is ‘’n maer vleis en kan gou droog proe). Jy kan ook ’n riffelpan gebruik – bestryk dan die patties eers met ‘’n bietjie olie.
Meng die salsa-bestandele saam. Bedien op warm roosterkoek met die salsa.
(Foto: Simonsberg)