Tag Archives: mieliemeel

Beesstertbredie met mieliemeelkors; pikdonker sjokoladepiesangbroodjie met grondboontjiebotter roomys vir Vadersdag

13 Jun

Die Amerikaner Sonora Smart Dodd se naam is dalk onbekend, maar haar nagedagtes leef voort in elke viering van Vadersdag.

Sonora, die dogter van ‘n wewenaar wat sy ses kinders alleen grootgemaak het, het in 1909 tydens ‘n kerkdiens op Moedersdag die idee gekry om haar pa te eer vir die toewyding tot sy kinders. Sy het ‘n petisie opgestel dat Spokane, haar geboortestad, ‘n bepaalde Sondag elke Junie aan vaders wy: ‘n eenvoudige maar treffende gebaar waar dogters in die kerkdiens ‘n rooi roos vr hul pa’s gee; of wit rose dra vir pa’s wat nie meer daar is nie.

In die Du Toit-huishouding kry Ian nie rooi rose nie, maar wel sjokolade. Ian is MAL oor sjokolade, hoe donkerder hoe beter. Hier is ‘n sout en soet manier om sjokolade te gebruik – ‘n Spaanse beesstertbredie en ‘n pikdonker sjokolade piesangbroodjie wat met volgraanmeel gemaak word.

BEESSTERT BREDIE MET MIELIEMEELKORS

Hierdie resep is ‘n ou gunsteling uit my en Francois se kookboek Huiskok Glanskok. Die Spanjaarde gebruik al donkiejare sjokolade in hul kos. Die bietjie donkersjokolade in die sous verryk die sous, sonder om dit soet te maak. Ek voeg graag lemoenskil by wat ‘n goeie pasmaat is vir die speserye en sjokolade. Terwyl die pot stadig prut, kan jy aangaan met jou ander dinge, soos om die tafel mooi te dek.

Die resep klink dalk omslagtig, maar vir ’n spesiale bederf is dit absoluut die moeite werd. Moeilik is dit egter nie. En as jy nie die mieliemeelkors wil maak nie, is die vleis heerlik net so – moenie dan lol om die vleis van die bene te pluis nie en bedien dit soos ’n bredie.

Maak 6 – 8 porsies

30 ml olyfolie

  • 1 groot beesstert (2.5 kg). Vra jou slagter om dit in 3 cm stukke te saag
  • 1 groot ui, gekap
  • 2 wortels, opgekap
  • 3 knoffelhuisies, fyngekap
  • 7,5 ml fyn kaneel
  • knippie fyn naeltjies
  • skil en sap van 1 lemoen
  • 10 ml fyn komyn
  • 750 ml rooiwyn
  • 1 blik gekapte tamaties
  • 1.5 l beesaftreksel
  • 30 ml gerasperde donker sjokolade

Mieliemeelkors

  • 250 ml (125g) meelblom
  • 250 ml (150 g) fyn mieliemeel of polenta
  • 5 ml sout
  • 90 g botter, gevries
  • 60 – 70 ml yswater
  • 1 eier, liggies geklits met 10 ml water

Verhit olie in groot kastrol en verbruin beessterttukke sowart 4 minute aan elke kant. Haal uit en hou eenkant. Stel hitte laer en voeg uie en wortels by, kook vir 15 minute tot goudbruin. Voeg knoffel en speserye by en kook vir 1 minuut. Gooi wyn, aftreksel, tamatie, lemoensap en skil by. Sit vleis terug in die pot en bring tot kookpunt. Verminder hitte en stowe vir 4 1/2 ure, of tot vleis baie sag is.

Skep nou en dan die skuimerigheid af en enige oortollige vet. Skep die beesstert uit en laat afkoel. Laat intussen die sous in die kastrol oor ‘n hoër hitte kook tot dit dikker word, sowat 5 minute. Pluis al die vleis van die bene af en roer by die sous in. Geur en laat afkoel. (Die sjokolade word eers later bygeroer.)

Maak intussen die mieliemeelkors:

Voeg die meel, mieliemeel en sout in ‘n bak.  Rasper die bevrore botter bo-oor en vryf met die vingerpunte in tot die mengsel soos broodkrummels lyk. Maak ‘n holte en gooi die meeste van die water in. Meng met ‘n platlemmes tot die deeg bolletjies vorm, voeg nog water by indien nodig. Vorm die deeg in ‘n plat bal. Dit sal effe klewerig wees, maar die klammigheid sal geabsorbeer word. Bedek met kleefplastiek en verkoel vir 1 uur.

Voorverhit die oond to 190⁰C. Roer die gerasperde sjokolade deur die vleismengsel en gooi uit in ‘n diep 2.5 l kapasiteit keramiek oondbak.

Rol die deeg uit tussen twee velle bakpapier tot 3 mm dik. Trek boonste papier af en plaas deeg bo-op die pasteivleis. Verwyder laaste vel papier. Druk deeg vas aan die kante sodat dit nie sal oplig wanneer dit bak nie. Sny die kante netjies. Smeer met geklitse eier. Prik die kors op ‘n paar plekke met ‘n skerp messie. Bak 1 uur. Die vulsel moet deurwarm wees en die kors goudbruin. Bedien met stampkoring of tiemiegegeurde polenta en vars slaai.

(Foto Samarie Smith, Huiskok Glanskok)

 

PIKDONKER ‘BLACKOUT’ SJOKOLADE-PIESANGBROODJIE

Saam met hierdie koekbroodjie van Bon Appetit brou jy vir Pa ‘n sterk pot Arabica-koffie. Dis donker en diepbehaaglik, nie te soet nie en met ‘n besondere tekstuur van die volgraanmeel. Ek gebruik enjgiets tussen 70% en 85% donkersjokolade hiervoor, maar gebruik gerus Bournville se donkersjokolade.

  • 190 ml koekmeel
  • 125 ml volgraanmeel
  • 90 ml kakaopoeier
  • 7 ml koeksoda
  • 4 ml bakpoeier
  • 5 ml sout
  • 5 groot baie ryp piesangs, verdeel
  • 280 ml ligbruin suiker
  • 80 ml botter, kamertemperatuur
  • 2 groot eiers
  • 90 ml suurroom
  • 5 ml vanielje-ekstrak
  • 110 g donkersjokolade, gekap
  • 15 ml donker bruinsuiker

Voorverhit oond na 180°C. Spuit ‘n 24 cm x 11 cm broodpannetjie uit met kleefvrye kossproei. Voer die bodem uit met bakpapier met ‘n ruim oorhang aan die lang kante.

Klits koekmeel, volgraanmeel, kakaopoeier, koeksoda, bakpoeier en sout in ‘n medium bak.

Maak 4 piesangs fyn met vurk of aartappeldrukker.

In ‘n groot mengbak klits die bruinsuiker en botter saam op matig-hoë spoed tot lig en donsig, sowat 4-5 minute. Klits die eiers een vir een by tot goed gemeng, terwyl jy dan en wan die kante skraap. Verminder die spoed en klits die suurroom, vanielje-ekstrak en piesangmoes by. Moenie skrik as die mengsel op hierdie stadium geskif lyk nie.

Verminder die spoed en meng die droë bestanddele geleidelik by tot net deurgemeng. As jy te veel meng sal die koek taai wees. Vou die sjokoladebrokkies in.

Skep die beslag in die voorbereide pan en maak bo-op gelyk. Sny die piesang in die lengte in 3 ewe dik snye. Plaas die piesangskywe bo-op met snykante na bo. Sprinkel die demararasuiker op die beslag, probeer die piesangs vermy.

Bak koekbroodjie sowat 65-75 minute tot ‘n toetspen wat jy in die middel druk, skoon uitkom; daar mag dalk gesmelte sjokolade vaskleef. Plaas die pan op ‘n draadrak en laat heeltemal afkoel voordat jy die piesangbrood aan die papieroorhang uitlig.

Die smaak ontwikkel as die koek oornag staan.

GRONDBOONTJIEBOTTER-ROOMYS        

Hierdie ongewone roomys van Mari-Louis Guy en Callie Maritz kan by die sjokolade-piesangbrood vir nagereg voorgesit word. As jy ekstra toegewyd is, maak die grondboontjiebotter self.

  • 500 mℓ volroommelk
  • 125 mℓ room
  • 5 mℓ vanielje-essens
  • 200 g strooisuiker
  • 90 mℓ grondboontjiebotter (gekoop of tuisgemaak volgens resep verskaf)

Meng die melk, room, vanielje-essens en suiker saam tot die suiker opgelos is. Voeg die grondboontjiebotter by en plaas in roomysmasjien en karring tot gestol. Bêre in vrieskas tot heeltemal gestol.

Tuisgemaakte Grondboontjiebotter

  • 1 ½ k ( 180 g) ongesoute, geroosterde grondboontjies
  • 1 E ( 15 ml) grondboontjie-olie

Meng albei bestanddele saam in ‘n voedselverwerker tot glad. (Jy gaan nie alles gebruik vir die roomys nie.)

Foto’s van sjokoladepiesangbroodjie: Ian Du Toit

Dalk die beste mieliebroodjie op aarde – Erfenismaand-resep

2 Sep

Ek hou nie van hiperboliese resepte wat verklaar dis ‘die beste in die wêreld’ nie, maar daar’s ‘n goeie rede hoekom ek altyd twee van hierdie brode bak. Ons eet dit met tamatiesmoor by braaivleis, met heuning as knuskos, of saam met tamatie-frikkadelletjies in die middel van die week.

IMG_3504

MIELIEBROODJIE MANJIFIEK

  • 250 mℓ mieliemeel
  • 375 mℓ volgraanmeel
  • 10 mℓ bakpoeier
  • ¼ t koeksoda
  • 5 mℓ sout
  • 190 mℓ mieliepitte (as jy nie vars kan kry nie, gebruik bevrore-en-ontdooi, of geblik)
  • 62,5 mℓ heuning
  • 250 mℓ karringmelk of jogurt
  • 62,5 mℓ suurroom
  • 2 groot eiers
  • 62,5 mℓ gesmelte botter

Voorverhit oond tot 200º C. Voer ‘n 20cm broodpan met foelie en smeer liggies (ek voer dit net met een lang strook oor die breedte).

  1. Roer die meel, mieliemeel, bakpoeier, koeksoda en sout in ‘n groot mengbak goed deur.
  2. Plaas die mieliepitte en heuning in ‘n voedselverwerker en pols ‘n paar keer tot goed gemeng, maar nog effe ‘chunky’. Voeg die karringmelk, suurroom en eiers by en pols ‘n paar keer tot goed gemeng.
  3. Maak ‘n holte in die middel van die droë bestanddele en giet die nat mengsel daarin. Vou die mengsel ‘n paar keer versigtig in tot glad. Vou die gesmelte botter in.
  4. Sprei die mengsel egalig in die broodpan. Sny mieliepitte in stroke van die stronk af en lê bo-op neer. Bak 20 – 25 minute of tot toetspen skoon uitkom. Koel die broodjie af op ‘n draadrakkie en sny in blokke.

Wenk: ek bedien dit met frikkadelletjies in tamatiesmoor of met heuning terwyl die brood nog warm is.

BRAAIBROODJIE VAN PAP

Hierdie mieliepap-roosterbroodjie is ‘n vermenging van Kaapse pap (tamatie en kaas-braaibroodjies van wit winkelbrood) en die Noorde se geliefde pap en sous.

  • 750 ml water
  • 250 ml (170g) kits mieliemeel
  • 60 g botter opgesny
  • 125 ml (40g) gerasperde parmesaankaas
  • seesout en varsgemaalde peper
  • 125 ml basielkruid blare
  • 500 ml (200g) gerasperde mozzarella
  • olyfolie
  1. Plaas die water in kastol en bring tot kookpunt. Klits die mieliemeel geleidelik by oor matige hitte en roer 2 – 3 minute tot dik. Roer botter, parmesaankaas, sout en peper by.
  2. Gooi die helfte van die pap in ‘n 20cm vierkantige bak met bakpapier uitgevoer. Maak gelyk, strooi basielkruid en mozzarella oor, gevolg deur die oorblywende pap.
  3. Verkoel vir 45 minute tot gestol. Sny in vierkante en borsel met olyfolie. Verhit ‘n riffelpan of braai oor ‘n hoë hitte vir  3 – 4 minute aan ‘n kant tot goudbruin en die kaas gesmelt is. Bedien met tamatiestoor.

Italiaans-Afrikaans

My titsel Italiaanse bloed van vaderskant gee my ‘n sagte plekkie vir polenta. Dis die stapelstysel bo pasta in die noordelike dele van Italië en ‘n belangrike deel van die land se cucina povera-skatkis (kookkuns van die armes).

Daarom praat my mieliepap-geregte gereeld met ‘n Italiaanse aksent, soos hier:

Verhit 20 g botter in ‘n kastrol oor matige hitte. Voeg 2 gekneusde knoffelhuisies en 10 ml tiemie by en kook vir ‘n minuut.

Voeg 375 ml aftreksel by en verhit tot kookpunt. Klits 125 ml kitsmieliemeel geleidelik by en roer ‘n paar minute tot dit dik word. Verwyder van die plaat en roer 90 ml mascarpone, sout en peper by.

Smulpa(a)p-stories 

Annette Anderson: “My pa het ons bederf met boeliebiefbredie op mieliepap. Die mieliemeel is eers drie keer afgewas het om van die “rafels en doppe” ontslae te raak, dan stadig gestoom. Na al die gewas van die meel was die pap so lig soos ‘n veertjie.”

Johan Jacobs : “My Vrystaatste ouma sit haar meel 10 minute in ‘n wit winkelsak in die mikrogolfoond. Dit beteken jou meel is gaar. Vandaar reguit in die swartpot met kookwater, oond toe en vergeet ‘n uur daarvan. Die lekkerste, met die kante bietjie aangebrand.”

Leana Smith: “Ek maak ‘n mieliemeel-kondensmelkkonkoksie. Bring 2 liter water met 2 t sout tot kookpunt. Klits 2 k mieliemeel by en prut dit 20 minute. Roer 250 g botter by en 1 hele blik kondensmelk. Vir ekstra lekker roer ‘n blik geroomde mielies by. Eet die oorskiet (as daar is) vir ontbyt met melk.

Valerie Slabbert van Northcliff vertel: “My ‘papadelle’ kry meer aftrek by ‘n braai as die vleis. Dis soos frikkadelle van pap. Mieliepap kry suikermielies by, word in bondeltjies geskep op ‘n bakplaat en kry dan tamatie, uie en kruiesmoor bo-oor, gevolg deur ‘n bietjie kaas en 15 minute gebak.

My kosstories verskyn Woensdae in Die Burger Versnit. Leeskuier op my blog Huiskok.com of volg my op twitter @Huiskok of op Instagram.

 

%d bloggers like this: