Tag Archives: mielies

Dalk die beste mieliebroodjie op aarde – Erfenismaand-resep

2 Sep

Ek hou nie van hiperboliese resepte wat verklaar dis ‘die beste in die wêreld’ nie, maar daar’s ‘n goeie rede hoekom ek altyd twee van hierdie brode bak. Ons eet dit met tamatiesmoor by braaivleis, met heuning as knuskos, of saam met tamatie-frikkadelletjies in die middel van die week.

IMG_3504

MIELIEBROODJIE MANJIFIEK

  • 250 mℓ mieliemeel
  • 375 mℓ volgraanmeel
  • 10 mℓ bakpoeier
  • ¼ t koeksoda
  • 5 mℓ sout
  • 190 mℓ mieliepitte (as jy nie vars kan kry nie, gebruik bevrore-en-ontdooi, of geblik)
  • 62,5 mℓ heuning
  • 250 mℓ karringmelk of jogurt
  • 62,5 mℓ suurroom
  • 2 groot eiers
  • 62,5 mℓ gesmelte botter

Voorverhit oond tot 200º C. Voer ‘n 20cm broodpan met foelie en smeer liggies (ek voer dit net met een lang strook oor die breedte).

  1. Roer die meel, mieliemeel, bakpoeier, koeksoda en sout in ‘n groot mengbak goed deur.
  2. Plaas die mieliepitte en heuning in ‘n voedselverwerker en pols ‘n paar keer tot goed gemeng, maar nog effe ‘chunky’. Voeg die karringmelk, suurroom en eiers by en pols ‘n paar keer tot goed gemeng.
  3. Maak ‘n holte in die middel van die droë bestanddele en giet die nat mengsel daarin. Vou die mengsel ‘n paar keer versigtig in tot glad. Vou die gesmelte botter in.
  4. Sprei die mengsel egalig in die broodpan. Sny mieliepitte in stroke van die stronk af en lê bo-op neer. Bak 20 – 25 minute of tot toetspen skoon uitkom. Koel die broodjie af op ‘n draadrakkie en sny in blokke.

Wenk: ek bedien dit met frikkadelletjies in tamatiesmoor of met heuning terwyl die brood nog warm is.

BRAAIBROODJIE VAN PAP

Hierdie mieliepap-roosterbroodjie is ‘n vermenging van Kaapse pap (tamatie en kaas-braaibroodjies van wit winkelbrood) en die Noorde se geliefde pap en sous.

  • 750 ml water
  • 250 ml (170g) kits mieliemeel
  • 60 g botter opgesny
  • 125 ml (40g) gerasperde parmesaankaas
  • seesout en varsgemaalde peper
  • 125 ml basielkruid blare
  • 500 ml (200g) gerasperde mozzarella
  • olyfolie
  1. Plaas die water in kastol en bring tot kookpunt. Klits die mieliemeel geleidelik by oor matige hitte en roer 2 – 3 minute tot dik. Roer botter, parmesaankaas, sout en peper by.
  2. Gooi die helfte van die pap in ‘n 20cm vierkantige bak met bakpapier uitgevoer. Maak gelyk, strooi basielkruid en mozzarella oor, gevolg deur die oorblywende pap.
  3. Verkoel vir 45 minute tot gestol. Sny in vierkante en borsel met olyfolie. Verhit ‘n riffelpan of braai oor ‘n hoë hitte vir  3 – 4 minute aan ‘n kant tot goudbruin en die kaas gesmelt is. Bedien met tamatiestoor.

Italiaans-Afrikaans

My titsel Italiaanse bloed van vaderskant gee my ‘n sagte plekkie vir polenta. Dis die stapelstysel bo pasta in die noordelike dele van Italië en ‘n belangrike deel van die land se cucina povera-skatkis (kookkuns van die armes).

Daarom praat my mieliepap-geregte gereeld met ‘n Italiaanse aksent, soos hier:

Verhit 20 g botter in ‘n kastrol oor matige hitte. Voeg 2 gekneusde knoffelhuisies en 10 ml tiemie by en kook vir ‘n minuut.

Voeg 375 ml aftreksel by en verhit tot kookpunt. Klits 125 ml kitsmieliemeel geleidelik by en roer ‘n paar minute tot dit dik word. Verwyder van die plaat en roer 90 ml mascarpone, sout en peper by.

Smulpa(a)p-stories 

Annette Anderson: “My pa het ons bederf met boeliebiefbredie op mieliepap. Die mieliemeel is eers drie keer afgewas het om van die “rafels en doppe” ontslae te raak, dan stadig gestoom. Na al die gewas van die meel was die pap so lig soos ‘n veertjie.”

Johan Jacobs : “My Vrystaatste ouma sit haar meel 10 minute in ‘n wit winkelsak in die mikrogolfoond. Dit beteken jou meel is gaar. Vandaar reguit in die swartpot met kookwater, oond toe en vergeet ‘n uur daarvan. Die lekkerste, met die kante bietjie aangebrand.”

Leana Smith: “Ek maak ‘n mieliemeel-kondensmelkkonkoksie. Bring 2 liter water met 2 t sout tot kookpunt. Klits 2 k mieliemeel by en prut dit 20 minute. Roer 250 g botter by en 1 hele blik kondensmelk. Vir ekstra lekker roer ‘n blik geroomde mielies by. Eet die oorskiet (as daar is) vir ontbyt met melk.

Valerie Slabbert van Northcliff vertel: “My ‘papadelle’ kry meer aftrek by ‘n braai as die vleis. Dis soos frikkadelle van pap. Mieliepap kry suikermielies by, word in bondeltjies geskep op ‘n bakplaat en kry dan tamatie, uie en kruiesmoor bo-oor, gevolg deur ‘n bietjie kaas en 15 minute gebak.

My kosstories verskyn Woensdae in Die Burger Versnit. Leeskuier op my blog Huiskok.com of volg my op twitter @Huiskok of op Instagram.

 

Mieliekoekies met stroopspek ‘n pittige kosplesier

18 Feb

Om ‘n mielie van ‘n stronk af te eet is ‘n genot wat net deur een ding oortref word – om dit gerooster van die kole af, bedruip met botter van die stronk af te eet. mielies in mandjie

Maar wat as jy nie vars mielies het nie. Dan is mieliekoekies die troos, ‘n onderskatte eetplesier wat jou na wonderlike smaakbestemmings kan neem. Maar kom ons staan net vir ‘n oomblik stil by die naam mielie.  Die Amerikaners praat van corn, ons praat van mielies – ‘n naam wat ver terug uit die Middelnederlandse woord ‘mili’ kom, wat weer van die Portugees milho, afkom. Dit weer kom waarskynlik van die  Latynse mille, meervoud mil(l)ia, “duisend(e)”, na aanleiding van die duisende saadkorreltjies in ’n aar van ‘n graangewas. Van Riebeeck het dit milie of mily gespel wanneer hy oor mielies geskryf het.

Stapel die mieliekoekies op vir flair.

Stapel die mieliekoekies op vir flair.

Mieliekoekie-stapel met stroopspek

Hierdie mieliekoekie is soos ‘n Vrystater en Meksikaan wat saamkuier. As jy’n Thailander ook wil nooi, maak die maklike soet-rissie-doopsous daarby.

  • 1 blikkie geroomde soetmielies
  • 1 blikkie  mieliepitte of 1 koppie vars mieliepitte
  • 2 eiers, liggies geklits
  • 1 salot of ½ ui, fyngekap (opsioneel)
  • Bruismeel, sowat 250 ml
  • Sout, peper
  • Groot knypie rooipeper (cayenne)
  • 2,5 ml fyn koljander
  • 2, 5 ml fyn komyn
  • Olie vir braai.
  • 12 stroke ontbytspek, in helfte gesny
  • goue stroop, moskonfyt of esdoringstroop

Metode: Roer alles saam, moenie oormeng nie.  Gooi nog bietjie bruismeel by as die mengsel te slap is. Verhit net genoeg olie in pan  om vlak lagie te vorm. Braai koekies aan elke kant goudbruin en dreineer op kombuispapier.

Stroop-spek: rangskik spekstroke in die pan en gooi bietjie water (ja water) oor. Laat die water wegkook en die spek  stadigaan bruin word. Wanneer dit beide kante goudbruin is, gooi ‘n eetlepel goue stroop, moskonfyt  of esdoringstroop by en laat oor lae hitte braai tot goed verglans en bros.  Vir ekstra Meksikaanse byt sit ‘n mespunt rissievlokkies by die stroop.

Opdiening:  Stapel hopies van 2 of drie opmekaar. Tussen die lagies plaas die vulsel van jou keuse sit, soos gerasperde kaas en die stroopspek. Ook lekker daarby is gekerfte tamatie, fyngemaakte avokado en peperige rocketblare.

Selfgemaakte soet rissie doopsous

As jy dit voorsit met die soet rissie doopsous, voeg kruie by die mieliekoekie-beslag: 2  fyngekapte sprietuie en 45 mℓ vars, gekapte pietersielie en of vars koljander.

  • 3 groot rooi chilies, fyngekap
  • 250 ml rysasyn (of 1/2 k appelasyn verdun met 1/2 k water)
  • 2 t sout
  • 190 g suiker (omtrent driekwart koppie
  • 1 groot knoffelhuisie, gekap

Gooi in kastrolletjie, roer oor lae hitte tot suiker gesmelt is.  Kook dan vir 5 minute  of tot dit ‘n ligte stropie vorm. Haal van die hitte af en laat afkoel.

Mielies van Verlange

Mielies het so ‘n diep invloed op ons koskultuur. Hou hierdie spasie dop, want ek gaan vir die volgende paar weke die mieliekultuur uit alle hoeke bekyk. Ek sit byvoorbeeld my soektog voort na ‘n resep vir mieliebrood in ‘canned fruit’ blikkies gebak, nav hierdie briefie van my kosvriendin Zahn Puren Cilliers:

Hi, Errieda, ek kom van Kroonstad af. My oorlede moeder, Elza, het altyd ‘n streepsak propvol groenmielies van die boere present gekry. Ek onthou dat my ma die heerlikste mieliebroodjies in “canned fruit” blikkies gebak het. Sulke ronde broodjies wat sy weer in haar Northern stoompotjies warm gestoom het en met botter en “Golden Lion” gouestroop vir ons op ‘n Sondagaand, nadat sy as orreliste in die NG kerk op die dorp orrel gespeel het, vir aandete voorgesit het. Ek smag na daai mieliebrood! Het jy nie dalk ‘n resep daarvoor nie?”

So, as jy ‘n resep het – e-pos vir my by errieda@edtpr.co.za.

Dankie dat jy kom inloer het. Volg gerus ook my Huiskok radiopraatjies Woensdagoggende op RSG om 9h30.

Groete

Errieda du Toit

 

%d bloggers like this: