Die herfsdae kan mens se seisoenklok deurmekaar gooi. Dit kon gister net sowel ‘n lentedag gewees het in ons tuin. In hierdie brugseisoen – nog nie koud, maar nie meer warm nie – maak ons graag macaroni en kaas. Vir hierdie besonderse kykie na ‘n ou trooskos-gunsteling trek ek drie kase nader … en ‘n koekpan vir ‘n macaroni- en-kaas-koek. ‘n Nuwe ervaring vir my. My man was so nuuskierig dat hy self ook ingespring het om dit te maak. Die ricotta speel ‘n hoofrol in die mac-en-kaaskoek, wat ‘n goeie aansporing was om my eie ricotta te maak. Saam met die parmesaan en fontinakaas vul tuinertjies, piepklein blokkies ham, hope kruisement, pietersielie en rocket die geure verder aan.
Die hipnotiese geure van smeltende kaas en die vrag vars kruie is klaar genoeg rede om dit te maak, om verder betower te raak deur die blobs suurlemoen-ricotta uit jou eie hand.
MACARONI- EN KAASKOEK Bedien 6
- ¼ k (60 ml) botter en ekstra om die koekpan te smeer
- 1/3 k PLUS 1 ½ k gerasperde parmesaan
- ¼ k koekmeel
- 4 k volroommelk
- 1 k gerasperde fontina kaas (kan ook cheddar of gouda gebruik)
- 1 groot eier
- Sout en peper
- 600 g penne pasta (rigato – wat beteken dis gerib met strepies wat meer sous opvang)
- 1 k ertjies (vars of bevrore)
- 2 k rocket, grof gekap (kan met jong spinasieblare vervang word)
- 1 k pietersielie, grofgekap PLUS 2 E ekstra vir oorgooi
- ½ k vars kruisement, grofgekap PLUS 2 E ekstra vir oorgooi
- 1 k ricotta gegeur met skil van ½ suurlemoen, indien jy gekoopte ricotta gebruik
- 200 g ham, klein blokkies gesny (sowat .5 cn x .5 cm)
(resep vir tuisgemaakte ricotta volg onder)
Metode
Berei die koekpan voor. Smeer ‘n 20 cm losboomkoekpan se kante en bodem met botter en bestrooi met 1/3 k parmesaan.
Maak die kaassous: In ‘n groot kastrol, smelt ¼ k botter in kastrol oor matige hitte, voeg die meel by en roer vir 2 minute. Klits die melk geleidelik by en kook tot dit begin prut (terwyl jy roer). Verlaag die hitte en laat sowat 20 minute stadig koek tot dit begin verdik (dis egter nie op hierdie punt ‘n dik sous nie). Haal van die hitte af en roer die fontinakaas en 1 k parmesaan by. Geur met sout en peper, bedek en hou eenkant.
Plaas die oondrak in die derde boonste helfte van die oondpan en voorverhit oond na 190°C. Kook die pasta in ‘n groot kastrol in goed-gesoute water, roer net nou en dan tot amper gaar (dit kook verder in die oond gaar). Gooi die ertjies by en roer net een keer deur. Gooi die pasta en ertjies deur ‘n vergiettes en gooi terug in die pan. Roer die witsous by, al die rocket, 1 k pietersielie en ½ k kruisement. Roer tot net goed gemeng. Pas geursel aan.
Skep die helfte van die pasta-mengsel in die voorbereide koekpan. Strooi helfte van die ricotta in lepelstjievol oor en die helfte van die hamblokkies. Skep die res van die pastamengsel bo-oor. Skep lepeltjies van die laaste ricotta oor en bedek met ¼ k parmesaan. Bak 30 minute, sprinkel die laaste ham en ¼ k parmesaan oor en bak nog 10 minute tot goudbruin. Laat rus in die pan vir sowat 30 minute en maak dan die kante los. Strooi 2 E elk van die pietersielie en kruisement oor..
Bedien in wiggies met ‘n eenvoudige blaarslaai en gekapte kersietamaties. Tamatiesous ‘n moet!.
Wenk: die gereg kan in ‘n gewone oondbak gaargemaak word, dan is dit egter nie nodig om 30 minute te wag vir opdiening nie.
Bron: Die resep is aangepas uit Bon Appetit. TUISGEMAAKTE RICOTTA Puriste sal dit moontlik nie as ware Italiaanse ricotta beskou nie, maar ek kan jou waarborg dat dit steeds ligjare beter is as die winkel-kaas wat as ricotta verkoop word. Vir ekstra rykheid kan dubbelroom bygevoeg word, alhoewel so ‘n ryk kaas nie nodig is vir die mac-en kaaskoek nie.
Bestanddele
- 4 k (1 l) vars volroommelk (nie langlewe-melk nie)
- ¼ k (60 ml) wit wynasyn – kan ook vars suurlemoensap gebruik
- ½ tot 1 t fyn sout (opsioneel)
- Skil van 1 klein suurlemoen
Verhit die melk oor medium-lae hitte tot 80°C. Voeg die asyn en die sout by en kook terwyl jy roer tot 85°C. Haal van die plaat af en laat staan eenkant tot die wrongel vorm. Indien nodig kan jy nog ‘n bietjie asyn of suurlemoensap bysit om die wrongel aan te help. Gooi dit deur ‘n moeseliendoek en laat afdrup. Hoe langer dit hang, hoe droeër sal die ricotta wees. Behou die wei, wat in gebak, slaaisouse en vele ander dinge wat ons nog saam kan uitdink. Wenk: die ricotta is baie veelsydig. Dis veral lekker met heuning, vye, gestoofde vrugte. WENKL vir ‘n baie omvattende blogstorie oor macaroni en kaas, en hordes idees en resepte besoek my ander storie by hierdie skakel https://huiskok.com/2014/04/30/macaroni-en-kaas-een-van-die-wereld-se-7-koswonders/