Tag Archives: onthoukos

Die misterie van malvapoeding

16 Aug

Ons poedingskatkis loop oor van warm bruinpoedings met stroopsoetigheid wat die eter in ’n suiker-beswyming laat. Wat die eetbare erfstukke te kort skiet aan skoonheid, vergoed hulle voor met beskrywende name soos fluweelpoeding, skrikkeljaar-poeding en kabinetspoeding. Maar die gesalfde van die bruinpoedings is malvapoeding – almal se gunsteling en ons land se simbool van soetigheid.

Malvapoeding soos dit pronk in die kookboek Kokkedoor (Human & Rousseau)

Malvapoeding soos dit pronk in die kookboek Kokkedoor (Human & Rousseau)

Met die onlangse besoek van pres. Barack Obama van Amerika is die staatsbanket afgesluit met malvapoeding, vla en vrugte.  Selfs Oprah Winfrey se persoonlike sjef het sy eie weergawe.

Wêreldroem ten spyt is die oorsprong van malvapoeding vol intrige en misterie;  ’n kulinêre geheim waaroor kenners uiteenlopende menings het. Verwys die naam dalk na die sponserige, malvalekkeragtige tekstuur? Na ’n soetwyn van die jaar toet? Na ’n inheemse surrogaat vir rooswater? Is dit ’n kinkelpoeding uit die jare van hipsters, klokbroeke of byekorfhaarstyle?

Malva-Sherlock

Die koskenner Hetta van Deventer se belangstelling in die malvapoeding-raaisel is opnuut geprikkel tydens haar voorbereiding vir die onthoukos-reeks Kokkedoor: “Wat my opgeval het, is die afwesigheid van resepte vir malvapoeding in die ouer tradisionele resepteboeke.”

Die malva-onthoupoeding wat sy ken, is ’n ryk bruinpoeding met appelkooskonfyt, ’n eetlepel asyn en koeksoda in die beslag en ’n weelderige roomsous (met ’n stywe knerts brandewyn of sjerrie) wat oorgegiet word sodra die poeding uit die oond kom.

Soos ’n gastronomiese Sherlock Holmes bespied sy ou Suid-Afrikaanse kookboeke van die laat 1880’s. Nie eens Hildagonda Duckitt se boeke van die eeuwisseling verwys na malvapoeding nie. ’n Poeding-opus met meer as 60 poedingresepte en vele bruinpoeding-variasies – Di Afrikaanse koek en poeding boek deur “ ’n Frystaatse dame” van 1914 – swyg ook. S. van Tulleken en mev. Slade is ook stil.

In ’n 1912-resepteboekie deur mev. P.W. de Klerk spoor Hetta die eerste verwysing na malvapoeding op.

Hierdie uitgawe en sy Afrikaanse opvolger van 1924 – Suid-Afrikaanse kookkuns vereenvoudigd – noem dit malvapoeding, maar dit bevat geen sjerrie, brandewyn, wyn of appelkooskonfyt nie. Daar is ook geen spoor van roos-pelargonium (“malva”) as geurmiddel nie en die sous word apart bedien. Steeds nie ons moderne malva nie.

Rooswater of soetwyn

Terug na die stapeltjie betroubare ou boeke: In C. Louis Leipoldt se Kos vir die kenner (1933) word malvapoeding steeds vermis.

Hetta spoor ook niks op in S.J.A. de Villiers se Kook en geniet van 1951 nie. Elke poedingmaker maak die poedingsous apart, eerder as om dit oor die warm poeding te giet. (My ma se ou 1950’s Kook en Geniet het ook nie die resep in en ; en my uitgawe van 1978 swyg ook oor malvapoeding).

’n Onlangse gesaghebbende bron, Die groot Boerekosboek (2012) deur Dine van Zyl, verklaar die malva-naam aan die hand van “malvesy”, ’n gewilde, geurige, gefortifiseerde soetwyn van die Middeleeue. Volgens Dine is dit as bestanddeel in ’n poedingsous gebruik. Die poeding is “malvesypoeding” genoem en later verkort na malvapoeding.

Hetta het gaan kers opsteek by die bekende wynmaker Danie de Wet van Dewetshof wat bevestig dat malvesy vroeër jare ’n bekende soetwyn aan die Kaap was.

Dr. Hettie Claassens, kosnavorser en skrywer van Die geskiedenis van Boerekos – bekend om haar vlymskerp vermoë om kosraaisels uit te pluis – meen die “malvezij” het nie ’n rol gespeel nie, maar eerder die destydse gebruik om kos met rooswater te geur.

Omdat nie alle Kaapse kokke toegang tot rose gehad het nie, het hulle die welriekende blare van die Kaapse roos-pelargonium (verkeerdelik na die Europese malva genoem) ingespan.

Lanzerac se kombuis en tuin

Die gerekende koskenner Peter Veldsman staan ’n ander verklaring voor: Hy meen die oorsprong lê by die Lanzerac-hotel in Stellenbosch.

Op ’n dag iewers in die 1950’s gee die eienaar, David Rawdon, die bruinpoeding vir die buffettafel een kyk en vaar die tuin in vir malvablare om die poeding mooi te maak. Van toe af sou dié poeding bekend staan as malvapoeding.

“Gereken Peter se koservaring en kennis lyk dit na ’n moontlikheid,” meen Hetta. “Die tydlyn lyk ook reg.”

Malvapoeding met ‘n ma en ‘n peetpa

Daar is nog vingerafdrukke op die malvapoeding. Die koskenner en restaurateur Michael Olivier, wat as die peetpa van malvapoeding bekend staan, voel baie sterk daaroor dat David Rawdon van Lanzerac nie blare bo-op ‘n malvapoeding sou sit en aan gaste voorsit nie. Hy wat Michael is het ‘n baie nou verhouding met die malvapoeding, want dit was in sy tyd as hotelbestuurder van Boschendal wat die poeding sy beroemdheid gekry het. Maggie Pepler het  in 1979 die oorspronklike resep na Boschendal gebring het terwyl sy daar as sjef uitgehelp het.  (Tannie Maggie is die moeder van Dave Pepler, aanbieder van die program ‘Groen’).

Meer as drie dekades later verskyn malvapoeding steeds op Boschendal se buffettafel en beskryf hy Maggie as “die malvapoeding-voorsiener vir die nasie”.

Dit laat my wonder: Maggie Pepler was vroeër jare betrokke by die Lanzerac-hotel. Dalk is “Mev. Ellis se lekker poeding” met sy ryk roomsous (wat in Februarie 1973 in die Foto-Rapport-bylae verskyn het) ’n variasie van ’n heerlike poeding wat hulle dalk by die Lanzerac geëet het?

Het ‘n malvablaar-versierde bruinpoeding sy weg dalk via Maggie na die Boschendal-buffet gevind?

Die vrae weeg swaarder as die antwoorde.

Nog Suid-Afrikaanser malvapoeding

Hierdie resep verskyn in die kookboek Kokkedoor, wat volgende maand op die rakke beland. Die kinkelkok Rendil Pietersen het rooibostee by die tradisionele sous gevoeg om dit nog meer Suid-Afrikaans te maak. 

(my nota: Die brandewyn kan met soetwyn of sjerrie vervang word. Dit kan ook uitgelos word, maar na my mening is dit malvapoeding se nefie Jan Ellis wat dan aan tafel kom kuier.)

Jy het nodig:

Malvapoeding

  • 2 eiers
  • 180 ml (¾ k) suiker
  • 375 ml (1½ k) koekmeel, gesif
  • 7,5 ml (1½ t) bakpoeier
  • 7,5 ml (1½ t) koeksoda
  • knippie sout
  • 40 ml fyn appelkooskonfyt
  • 45 ml (3 e) asyn
  • 180 ml (¾ k) melk

Rendil se rooibostee-en-brandewynsous

  • 375 ml (1½ k) melk
  • 180 ml (¾ k) suiker
  • 170 g botter
  • 90 ml hanepoot-brandewyn
  • 90 ml sterk rooibostee
  • 15 ml (1 e) vanieljegeursel

Só maak ’n mens:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n oondvaste bak.
  2. Klits die eiers en die suiker saam tot lig en skuimerig. Voeg die meel, bakpoeier, koeksoda, sout, appelkooskonfyt en asyn by en meng goed.
  3. Voeg die melk by en klits tot die mengsel glad is.
  4. Giet die mengsel in die voorbereide bak.

Bak 35 tot 40 minute lank tot gaar.

Rooibostee-en-brandewynsous

  1. Verhit al die sousbestanddele saam en kook vyf minute lank.
  2. Giet die warm sous oor die warm poeding.

 * Hierdie is ‘n weergawe van my artikel wat in Beeld Pols en Die Burger Naweek verskyn.

Asynhoender met spek + uitjies & korrelkonfyt- en gemmer asynpoeding

19 Jul

 

 

Asyn is vir kos wat ‘n uitroepteken vir leestekens is, glo ek. Goeie asyn maak sy punt met een ! Goedkoop asyn skree kliphard met hordes  !!!!!!!!! (Terloops. ek het ‘n broertjie dood aan die obsessiewe gebruik van uitroeptekens in sosiale media!).

Asynhoender gemaak soos die peasant van Lyon. Ian het die foto geneem.

Asynhoender gemaak soos die peasant van Lyon. Ian het die foto geneem.

 

Asyn dra deesdae ‘n trend-etiket; Hoogmode en bo-aan foodie-hipsters se lieflys. Vir my is asyn meer van ‘n hartsding as ‘n mode-artikel. Dis gewoonlik die asynerige, souterige, peperige slaaisappies van die eenvoudige tamatie en uie slaai; of die sweempie van asyn in my ma se hoenderpastei wat my week laat.

Asyn + sout: Dis hoe ek  die somer aan my vingerpunte kan proe wanneer ons vis en slaptjips by Snoekies in Houtbaai gaan eet…. Die tjibbe met groot skudde sout geseën, slopperig  van al die die asyn wat dit opgemop het. 

Met my geringe sakgeld as kind was die lekker der lekkerste  die sout en asyn chips (crisps) by die skool snoepwinkel. Die pakkie was blou as ek reg onthou. Dit het my kiewe laat saamtrek, en vandag is een bros, krakerige hap is genoeg om my weer skoolkind te maak met ‘n bottelgroen skooljurk aan.

My ma het net twee bottels asyn aangehou – wit asyn en bruin asyn. Sy’t daarmee piekels gemaak, slaphakskeentjies en sommer gebruik as algemene huisskoonmaakmiddel ook. Geen ag geslaan op die adelstand of boerestand van asyn nie. Ek wil glo dat sy, wat met tuisgemaakte asyn grootgeword het, nie werklik ooit besef het dat daar swak asyn bestaan nie – die soort waarmee jy die stortgordyn afvee om die skimmel weg te hou.

Nie dat ek ‘n asynsnob is nie, maar daar is tog ‘n saak uit te maak vir goeie asyn. Ek sit met ‘n spensrak vol asyne van oor die wêreld – swart asyn uit China en ryswynasyn uit Japan, sjerrie-asyn uit Spanje, 30-jaar oue asyn uit Prins Albert (ek bewaar die paar bottels wat ek by die Du Toits gekoop het met my lewe en is baie suinig daarmee). Appelasyn en sjampanje-asyn. Bruin en wit balsamiese asyn ook, maar ai, oppas vir misplaaste entoesiasme om dit oor als te drizzle en te splash.

Asyn word wel oor my lensiesop gesprinkel, oor bros soutribbetjie en bredies wat bietjie opvars soek. En as die asyn te gespierd is, verdun sy krag met bietjie water. Ek maak ook ‘n verfrissende kweper- en steranys asynstroop wat met sodawater ‘n verkwikkende lang drankie vir grootmense is.

Asyn + soet in shrubs + sharbats + shiraabs

Asyn-cocktails is ook besig om opspraak te maak, veral saam met vars vrugte. (Die asyn vervang die gebruik van suurlemoen- of lemmetjiesap. Probeer dit in een van New York se swanky eetplekke en bars as jy ‘n wêreldreisiger is). Dit was eintlik ‘n baie ou gebruik voor die dae van verkoeling om vrugte in ‘n mengsel van suiker en asyn te bewaar, en sommer met ‘n skoot alkohol om die bewaring verder te vat en die koeldrank se onskuld weg te neem.

Drink-asyne is veral in die Ooste baie gewild waar dit as ‘n gesondheidsdrankie gesien word. In Amerika word die drankies van asyn, vrugte en suiker ‘shrubs’ genoem – ‘n heerlike storie vir ‘n ander dag. Siende dat die oorsprong van die woord shrub in die Arabiese shiraab (drankie) gewortel is, kom die gebruik baie verder terug as wat die hipsters ons wil laat glo.

Sharbat, ‘n Iranese drankie van asyn, stroop, vars kruisement en komkommer met baie ys klink na net die ding vir ‘n warm dag in die Karoo.

My luukse peasant gereg op my nuwe emaljebord wat ek by die Karoo Handelspos

My luukse peasant gereg op my nuwe emaljebord wat ek by die Karoo Handelspos

Hoender en asyn saam in die pot

‘n Robuuste heerlikheid is die Franse gebruik uit die Lyon distrik om hoender in ‘n asynsous te bedien. ‘n Eenvoudige resep vir asynhoender uit Harry’s Bar in Venesië verskyn in ons kookboek Huiskok Glanskok.

Die asyn sny deur die vetterigheid en is ‘n ideale balanspunt vir die hoender. Dit verfris die tong en stimuleer die hongerte. Na asynhoender voel ek nooit asof ek my in ‘n beswyming in vervreet het nie.

Die hoofbestandele wat in hierdie landelike gereg kom - vervang die pancetta met ontbytspek en gebruik goeie asyn.

Die hoofbestandele wat in hierdie landelike gereg kom – vervang die pancetta met ontbytspek en gebruik goeie asyn.

ASYNHOENDER MET SPEK, UITJIES EN KNOPIESAMPIOENE

Ons dink nie twee keer om hoender in wyn te kook nie; hoekom nie ook asyn as die held te gebruik nie. Asynhoender, ‘n ‘peasant gereg’ uit Frankryk is een van Paul Bocuse se gunsteling-geregte – en Raymond Blanc is net so dol daaroor. Hulle maak dit ook op ‘n Franse ouma-manier, eerder as op ‘n restaurant manier. Daarin lê die sjarme. Die gebruik van pancetta maak dit natuurlik meer van ‘n luukse, maar ‘n paar repies ontbytspek doen ook die ding. Dit vra wel ‘n goeie organiese hoender vir die gewete en goeie asyn om hierdie landelike gereg te laat sing.

12 klein uitjies (die soort wat vir piekels gebruik word)

45 ml olyfolie

60 g pancetta of ontbytspek, in blokkies gesny

1 pakkie knopiesampioene, afgevee

3 knoffelhuisies, fyngekap

1 hoender, in 8 stukke opgesny (of braaipak met dye en hoenderboudjies)

190 ml balsamiek asyn

190 ml rooiwynasyn

500 ml hoenderaftreksel

3 lourierblare (vars of gedroog)

Fyngekapte pietersielie vir garnering

Bediening: met rys of fettucini

Metode: Kook die uitjies skil en al in gesoute water tot die skille net begin loskom, dreineer en verwyder die skille. Hou uie  eenkant. Verhit olie in ‘n groot swaarboompan en braai die spek of pancetta tot goudbruin. Haal uit met gaatjieslepel en hou eenkant.

Soteer die sampioene tot bruin en voeg die gaar uitjies en knoffel by. Soteer vir verdere 4-5 minute. Maak seker dat die knoffel nie brand nie en die uie heel bly. Haal uit met gaatjieslepel en hou eenkant.

Geur die hoenderstukke met sout en peper en braai in dieselfde pan sowat 10 minute aan ‘n kant. Voeg die balsamiese asyn, rooiwynasyn, sampioene, lourierblare, spek of pancetta, uie- en knoffel,  en hoenderaftreksel by. Prut tot die hoender net-net van die been af loskook. Proe en geur met sout en peper. Skep saam met al die sous in ‘n warm opdienbak en strooi pietersielie oor.

Sit eenvoudig voor met rys en 'n warm slaai soos murgpampoenrepe op die riffelpan gaargemaak met ligte slaaisous oor.

Sit eenvoudig voor met rys en ‘n warm slaai soos murgpampoenrepe op die riffelpan gaargemaak met ligte slaaisous oor.

KORRELKONFYT EN GEMMER-ASYNPOEDING

Soos met sagopoeding is dit een van ons tradisionele poedings wat sy volgelinge en sy vyande het. Ag jouself gealf as jou smaakbekers volwasse genoeg is vir die ‘tart’ smaak van hierdie outydse bruinpoeding. Ek gee dit ‘n kinkel met  korrelkonfyt en vars gemmer. (Heimlik hou ek van dit ongekinkel. Vir ‘n meer tradisionele smaak, gebruik appelkooskonfyt pleks van korrelkonfyt en laat die vars gemmer uit).

Bestanddele

Sous:

500 ml kookwater

300 g (375 ml) bruinsuiker

125 ml bruinasyn

3 cm knobbel vars gemmer, in skyfies

Beslag: 

30 ml botter

100 g bruinsuiker

30 ml korrelkonfyt

2 groot eiers, geklits

180 g (320 ml) koekmeel

5 ml koeksoda

2 ml sout

10 ml fyn gemmer

5 cm stuk vars gemmer, fyn gerasper

50 ml melk

 Opdiening: Vla of roomys met gemmerstukkies in stroop.

Metode

Verhit oond tot 180 ˚C. 

Maak die sous: Gooi die sousbestanddele in ‘n middelslag kastrol en prut sowat 8 minute. Giet sous in oondvaste bak en laat afkoel. Verwyder gemmerstukke.

Maak die beslag: Room die botter en suiker tot romerig. Voeg die eiers, konfyt en vars gemmer by en roer goed deur. Sif meel, koeksoda, gemmer en sout saam en klop by die bottermengsel in. Skep die beslag bo-op die stroop. Bak vir 35 minute tot gaar. Bedien die poeding warm met vla of roomys – en opsioneel met stukkies gemmer in stroop vir ekstra gemmer-skop.

.

Sousmaats vir gestoofde kwepers – zabaglione en sagte nougat

12 Apr

Die storie van souse is ‘n ware ‘lelike-eendjie tot swaan’ sage vandat die Romeine dit gebruik om die natuurlike smaak van kos te verskans en walmpies te verskuil. Vandag is souse die opperheersers van die  smaakwêreld.

a gestoofde kwepers met sagte nougat  Beeld IMG_6396

‘n Lekker sous is egter nie net die domein van glanskokke nie. Op ons eie kulinêre kultuurwerf is daar self ‘n klomp souse wat koning kraai. Ook soet souse. Tog jammer dat die era van plastiekkos en die bokskultuur sy merk gelaat het; maar ek is nie op ‘n oorlogspad teen die pakkie-souse en gebokste vla nie. Elke kombuis het sy eie werklikheid, ritme en kosetiek. My pleidooi is wel om ‘n bietjie avonturier te speel – soos hier met ‘n paar eiers en ‘n paar ander alledaagse bestanddele in die rugsak.

My avontuur het ‘n draai gaan maak by die Italianers. Ek begin met ‘n sagte, loperige Italiaanse meringue sousie wat eintlik nougat in sousvorm is. Dan oor na zabaglione, ‘n sous wat deur die eeue gemaak is net met drie bestanddele: suiker (of heuning), wyn en eiergele.

Maak beide souse vir gestoofde kwepers, gestoofde pruime, gestoofde enigiets; maar ook vir vars vrugte – want die surigheid van vrugte is net waarvoor die soet sousies soek.

SAGTE NOUGAT MET GESTOOFDE KWEPERS EN STERANYS

Die soet sous – half-Italiaanse meringue en half-nougat – bedien Nic van Wyk, Kokkedoor-beoordelaar met gestoofde vrugte by Diemersdal. Temper die soet met ‘n paar skyfies Simonzola of ander sagte bloukaas. Ook baie lekker met gestoofde koejawels.

Maak 6-8 porsies

Nougat:

Bestanddele

3 eierwitte

125 g suiker

50 ml water

25g glukose (beskikbaar in poeiervorm by apteke)

225 g heuning

Metode

In ‘n menger, klits die eierwitte tot dit sagte pieke vorm en hou eenkant. Plaas die water, suiker en glukose in ‘n kastrol en kook tot die sagte bal stadium (112°C op suikertermometer). In ‘n aparte kastrol, kook die heuning ook tot sagte bal stadium (tussen 112-115°C op suikertermometer). Terwyl die menger loop, gooi die suikerstroop en die heuning by die eierwitte. Wees versigtig om die mengsel nie te oorklits nie. Die finale mengsel sal sag en skuimerig wees en sy vorm behou. Die mengsel verdik ietwat as dit afgekoel het.

Wenk: indien die mengsel na jou sin te loperig is week 10 ml gelatien in 20ml warm water; gooi eers ‘n paar lepels meringue-mengsel by die gelatien en meng dit dan by die meringue-mengsel.  Laat afkoel.

Wenk: Indien jy nie ‘n suiker-termometer (candy thermometer) het nie, gooi ‘n teelepel suikerstroop in ‘n glas koue water. Haal die suikerbal uit die water en druk tussen duim en voorvinger. Die balletjie moet sag en taaierig wees en maklik plat gedruk word.

Oondgestoofde kwepers met steranys

Bedien 6-8

Bestanddele

5 groot (7 klein) kwepers, geskil, gehalveer of in skywe, pitte en klokhuis verwyder

1 L water

1 kg suiker

4 steranys peule

Sap van een suurlemoen (opsioneel)

Metode

Voorverhit die oond na 160ºC. Plaas suiker, steranys en water in ‘n kastrol en bring tot kookpunt. Roer suurlemoensap by. Plaas die kwepers in ‘n oondvaste bak, bedek met suikerstroop (hou steranys in) en bedek met foelie. Bak sowat 2 ure tot die kwepers pienk word en sag is. Haal uit die oond en laat die kwepers afkoel in die stroop. Bedien. Die kwepers kan in gesteriliseerde flesse geplaas word; bedek met suikerstroop en seël.

Wenk: Die kwepers kan ook op die plaat gekook word: pleks van dit in die oond te bak, prut dit in die suikerstroop vir sowat 45-60 minute tot pienk en sag. Jy kan ook die kweperhelftes stowe en daarna in netjiese skywe sny.

a warm zabaglione met kwepers en bevrore frambose Beeld IMG_6469

PORT EIERSKUIMSOUS (ZABAGLIONE)

Ons begin by die uitspraak: Zah-bahl-YOH-nay. 

Die soet sussie van Hollandaise, noem Martha Holmberg, skrywer van Modern Sauces, hierdie Italiaanse sousie wat maklik en vinnig is om te maak. Dit bevat egter nie botter nie, bloot net eiergeel, suiker en soetwyn. Hier bedien ek dit warm met ingelegde kwepers en bevrore frambose. Bedien die sous ook op sy eie, oor roomys, of met savoiardi, oor vars vye – terwyl dit not warm is.

ZABAGLIONE

 Maak 300 ml (4-6 porsies)

 Bestanddele

4 eiergele

65 g suiker

75 ml soet gefortifiseerde wyn soos Marsala, Madeira of port

Voeg water 3 tot 5 cm diep in ‘n medium kastrol en plaas oor medium hitte. Plaas ‘n hittebestande glas-mengbak of vlekvrye staalbak in die kastrol sonder dat die bodem aan die water raak. Plaas eiergele en suiker in die bak en klits met ‘n handklitser (whisk) of elektriese handklitser teen medium-hoë spoed vir 1 minuut. Gooi die wyn by terwyl jy aanhou klits. Klits nou vinnig en verwyder enige van die eiergeel wat teen die kant van die bak vorm met ‘n rubber-spatula. Klits 4-5 minute met elektriese handklitser en 8-10 minute met handklitser.

Sodra die eiermengsel ‘n dik lint vorm aan die onderpunt van die klitser is dit reg. Haal van die kastrol af en klits 30 sekondes om die skuim te stabiliseer. Laat afkoel of bedien warm. Bedien verkieslik onmiddellik.

Wenk: die sous kan, indien dit werklik moet, sowat 30 minute teen baie lae hitte oor die kastrol water gehou word.

Foto’s en stilering: Errieda en Ian du Toit

 

Waterblommetjies uit die vlei

10 Sep

Terwyl ek die eerste bondeltjie waterblommetjies van die seisoen onder die lopende kraan afwas, hang Sonja Herholdt se stemmetjie soos soet stoom in my kombuis.

Ek neurie saam maar kom nie verder as die eerste versie nie:

Waterblommetjies in die Boland

Waterblommetjies van die Kaap

Maak die bredie net soos in die wynland

En  sê jy is baie lief vir my, voor jy gaan slaap.’

Daar’s soveel meer aan Anton Goosen se lirieke as net die bittersoet deuntjie, dat ek dit eers móés gaan google voor ek kon verder kook. Ek lees van ‘drie skepsels wat by Dassiepunt na die ster gekyk en teen die wind in voet geslaan het; hoe hulle op Duiwelspiek vir die engel gewaai het. En die engel wat trane uit sy gevee het, want daar’s waterblommetjies in die Boland …..’ (volledige lirieke reg onderaan).

So mooi, hierdie eg-Kaapse vleibloeisel wat haar groen stingels van laat-winter tot mid-somer staan maak in die stil water van poele en damme. Sy het ‘n deftige doopnaam: Aponogeton distachyos en as iemand praat van wateruintjies, kan jy maar weet dis die einste waterblommetjie.

My waterblommetjiebredie kook ek lankal nie meer met ‘n resep nie, want hoe eenvoudiger hoe beter. Dis letterlik ‘n geval van ‘don’t gild the lily’. Net die waterblommetjies, ‘n paar stukkies vet ribbetjie (of skaapnek en selfs skenkeltjies) sout en witpeper; en ja, ‘n paar huisies knoffel vir volledigheid. Dan die smaak wat waterblommetjies op haar toontjies laat staan – ‘n surigheid om die vettige skaapvleisie te tem, soos die geelblom langsteel-suring as my geluk in is; anders suurlemoen of selfs ‘n bietjie tamaryn.

Stillewe met waterblommetjies en skaapstertjies

Waterblommetjiebredie is so ‘n heerlike ‘automatic pilot’ kosmaak-ritueel – daai gevoel van jou hand weet vanself hoe om die knippies en die knypies raak te vat, die kelkie dit en die skeppie se regte maattes te vind. Die uie weet instinktief wanneer dit genoeg ge-goudbruin is, die roomwit aartappels ‘n aanvoeling het dat hulle stukkend genoeg moet kook om die sousie te verdik. My hand glip vanself verby die swart peperkorrels na die getjipte peperpotjie met die fyn wit peper. Die waterblommetjies gee hul vrywillig oor  aan die lang prutproses, maar hou hul waaier-kuiwe steeds naby aan hul lyf.

Hierdie keer is die waterblommetjie-seremonie anders, want ek het skaapstertjies raakgeloop toe ons die seisoen-lekkerny by AffiePlaas padstal duskant Robertson gaan koop het.  Ek moes net weer vir ‘n slag besin of ek iets nuuts wou probeer en het gaan snuffel hoe ander kokke hierdie vleibloeisel  benader.

  • As Michael Olivier (wat voorheen groot naam gemaak het by Paddagang, Tulbagh)waterblommetjiebredie maak, voeg hy geurmiddels by soos brandrissies, allspace, naeltjies en neutmuskaat, en gebruik rooiwyn saam met biefaftreksel. Klink heerlik.
  • Tannie SJA van Kook en Geniet faam se eenvoudige bredie vra vir skaaptjops of dikrib, en min ander smaakfieterjasies naas sout en peper– selfs nie eers knoffel nie. Baba-aartappels opsioneel.
  • In Kook Suid-Afrikaans gebruik Magdaleen van Wyk skaap- of lamsrib, knoffel met ‘n ligte hand, droë wit wyn en water pleks van aftreksel en beveel ook groen appel aan as ‘n bossie suring ontbreek. Voor opdiening word neutmuskaat oor gerasper en peper gestrooi.
  • In die Pasella-kookboek word die tradisionele bredie gemaak met ‘n gerasperde Granny Smith appel vir ‘n kenmerkende suur noot, saam met skaapnek, uie,  droë witwyn en heelwat knoffel gebruik. Geen verwysing na suring nie – dis waarvoor die appel instaan.
  • In Francois Ferreira se splinternuwe kookboek Okkasies sit hy gestoomde waterblommetjies voor met ‘n bronkors-Bearnaisesous: ‘n verfrissende manier om die waterblommetjie-seisoen ten volle te benut, maar bietjie uitgekuier is aan tradisionele waterblommetjiebredie. Hy gebruik ook graag waterblommetjies in roerbraai-geregte.
  • Die AffiePlaas padstal duskant Robertson maak die lekkerste waterblommetjie- en feta pasteie.
  • Byderwets met waterblommetjies: In die dae wat ek nog nou betrokke was by komitee-werksaamhede vir Slow Food se Kaapstad convivium, het ons ‘n opwindende ete saam met Letitia Prinsloo en die student van die ICA gedoen. Waterblommetjies het ‘n modern baadjie aangetrek:

Studente het gestoomde waterblommetjies met hollandaise sous voorgesit; waterblommetjie en asjovis gratin met ‘n vonkelwyn veloute; waterblommetjieparmesaan crème brulee met skaakbord sashimi en oestersap, asook ‘n dekonstruktiewe waterblommetjie bredie – beskryf as ‘n duet van terriens met aartappel-puree en breyani emulsie. Ferran Adria sou olé gese het vir waterblommetjies se future-forward hantering.  (Pasella het die geregte in ‘n program met ‘n Seisoen-tema uitgesaai en die resepte ook in die kookboek Pasella 1 opgeneem.)

My manier: Waterblommetjiebredie met skaapstertjies-as-jy-wil

Hierdie resep is wat my hand gevind het om te doen en is in die tradisionele styl, ter ere van die Klein Karoo waar die skaapstertjies vandaan gekom het. Hanteer die skaapstertjies net soos enige lamsvleis – Dis ‘n cute vleisie, en heelwat minder intimiderend as beesstert waaraan jy maklik weglê. 

Waterblommetjies, skaapstertjies pruttend op pad na bredie-nirvana

4-6 porsie

1 kg lamskenkel (opgesny)

en/of

4-6 skaapstertjies, oortollige vet afgesny maar darem nog ietsie aan

2-3 knoffelhuisies

2 bondels waterblommetjies

2 E botter + 1 E sonneblomolie

1 vol glas droë witwyn

1 koppie goeie afreksel

Sout en fyn witpeper

Skil en sap van 1 groot suurlemoen (moenie diep rasper nie)

6 medium aartappels, geskil en in dik skywe gesny

Vir opdiening: gremolata (opsioneel)

Laat week die waterblommetjies vir 30 minute in goed-gesoute water. Spoel af onder lopende water.

Geur vleis met sout en peper. Verhit botter met die olie in ‘n kastrol, verbruin die vleis. Skep uit en hou eenkant.

Aartappels en  Sauvignon Blanc gaan ook pot toe

Geur skenkels en skaapstertjies en braai in beurte goudbruin. Haal ui en hou eenkant. Soteer die uie en knoffel in dieselde kastrol tot goudbruin, sowat  8 minute. Sit die vleis , waterblommetjies by, gooi suurlemoenskil, sap, wyn en aftreksel by en roer deur.  Prut met deksel op vir 50-60 minute. Indien nog vloeistof nodig is, voeg bietjie kookwater by. Op hierdie punt haal ek ‘n paar waterblommetjies uit wat al dente gekook is en hou eenkant (dit word aan die einde bo-op die gaar bredie gesit, en gee lekker tekstuur).

Haal halfpad deur die prut ‘n klompie al dente blommetjies uit om voor opdiening by te sit vir tekstuur

Plaas die aartappels bo-op, geur met nog ‘n bietjie sout en peper ‘ en neutmuskaat.  Prut tot die aartappels sag is en die vleis van die bene loskom. Roer gremolata by Om geure op te vars.

Skep waterblommetjies in opdienbak, plaas die al dente waterblommetjies wat vroeër eenkant gehou is bo-op. Bedien met wit rys.

Wenke:

  • Weerstaan die versoeking om die pot te veel te roer, anders tas jy die waterblommetjies se waardigheid aan en eindig met ‘n pappery wat soos damslyk lyk.
  • As jy vermoed jou gaste gaan neus optrek by gedagte aan skaapstertjies, pos hulle stert(loos) tussen die bene huis toe. Ag, nie rêrig nie – laat ons gasvry wees en pluis die gaar vleis van die beentjies af vir die fiemies-eters.

Maak die tafel mooi.

  • Freesias – my lente-gunsteling – laat my dink aan waterblommetjies. Ek dek my tafel eenvoudig met ‘n bos goudgeel freesias en ‘n bak suurlemoene as ons waterblommetjies eet.

Freesias en suurlemoene altyd op die tafel as daar waterblommetjies ge-eet word

  • Vars waterblommetjies is self  ‘n pragtige blom om as tafelversiering te gebruik. Hierdie idee het ek by Letitia Prinsloo, prinsipaal van die ICA gekry toe ons die Slow Food-shoot vir Pasella gedoen het in haar pragtige Banhoek-huis.

Lirieke: Waterblommetjie

Anton Goosen se lirieke gee mens hoendervleis.

Waterblommetjies in die Boland.
Waterblommetjies van die Kaap.
Maak die bredie net soos, in die wynland.
En sê jy is baie lief vir my, voor jy gaan slaap.

Daardie wind waai weer, by my voordeur in.
Hy maak my hart weer, lekker sing.
Dit is gaaf, om die kaap weer dag te sê.
En ek vat jou saam, na die koringland.
Wie ry saam, as my hart so brand.
Dit is lekker om die Boland lief te hê.

Van Hunks het al sy pyp gestop.
Tafelberg se hoed is op.
En die bergies begin al huis se kant toe staan.
Groenpunttoring knip sy oog.
Die Suidoos maak so ’n wye boog.
En die waalpad help jou, as jy huis toe gaan.

Oh, die luggie hier is vry waar my hart heeltyd wil bly.
En ek wil my langs Oumies Victoria neer gaan vly.
Laat ons deur die tuine loop.
By die parade, iets gaan koop.
As die wind so koud waai.
Laat ek eers gou jou jas vasknoop.

Want daar is.
Waterblommetjies in die Boland.
Waterblommetjies van die Kaap.
Maak die bredie net soos, in die wynland.
En sê jy is baie lief vir my, voor jy gaan slaap.

O, Kaap, o Kaap, o, mooiste Kaap.
Jy maak my hart weer baie seer.
Jou Ghantang, kom mos altyd weer en weer.
Die Mayflower het uitgevaar.
En gaan snoek haal daar by Houtbaai, waar Karbonkelberg die stormsee gewaar.

Drie skepsels, het by Dassiepunt, na die ster gekyk,
en teen die wind in voet geslaan, en die stralekrans aangegee.
Hulle het teruggekeer na Tafelbaai.
En op Duiwelspiek vir die engel gewaai.
En die engel het trane uit sy oë gevee.

Want daar is.
Waterblommetjies in die Boland.
Waterblommetjies van die Kaap.
Maak die bredie net soos, in die wynland.
En sê jy is baie lief vir my, voor jy gaan slaap.

(bron Liriekfabriek.co.za)

%d bloggers like this: