Dis tyd dat trifle sy soet sandaaltjies uitskop en die stoute skoene aantrek …. sommer haai-polfaai Louboutins.
Ek is lus om vanjaar se Kersete af te skaf en net een gang te bedien. Poeding. En nie sommer net so ‘n poeding nie, maar ‘n hele tafel vol koekstruif (is die meervoud koekstruiwe?) Maar hoekom wag vir Kersfees? Ek vervang sommer my verjaarsdagkoek volgende week met ‘n très chic koekstruif.
Trifle (die woord koekstruif hak bietjie aan die tong vas) is ongelukkig ‘n seisoenpoeding wat selde buite die Kersseisoen op die tafel verskyn. Maar kyk, ‘n trifle soos my Tannie Mercia Coetzee dit gemaak het, was beslis ‘n ‘Christmas Only’ poeding – dit was die mees getrifle-de poeding wat ek ooit geproe het. Ek dink vandag daaraan as die Duisend-En-Een Trifle: dis net die Kersboom wat sy nie daar ingesit het nie. Ek onthou dat saam met die ‘usual suspects’ soos die sponskoek (gewoonlik rolkoek), die jellie, vla, room en neute was daar ook gekookte kondensmelk en Flakes. Baie Flakes. Van alles was daar baie in. Ek het so verby 999 lekkerhede gedelf om by die Flake en die karamel-kondensmelk uit te kom. My poedingbak het binne sekondes soos ‘n Slagveld van Soet gelyk. Toe al wou ek op Kersdag eerste die poeding eet.
Die eerste resep vir ‘n trifle in sy moderne gelaagde vorm het die eerste keer in 1755 in ‘n Britse resepteboek verskyn. Sy historiese wortels lê in syllabub (‘n versoete room-en wynpoeding), asook vrugte fool (verpulpte vrugte en dik room). Volgens Helen Saberi, ‘n skrywer van kosgeskiedenis, was daar selfs ‘n vroeëre trifle resep wat net bestaan het uit room, gegeur met suiker, gemmer en rooswater. Deur die jare, ook hier by ons, het trifle nou nie juis sterstatus op die poedingtrollies van deftige restaurante beklee nie, alhoewel dit altyd ‘n treffer was by die kerk-basaar se poedingtafel. Met die herlewing van nostalgiese geregte en behoefte aan trooskos, beleef trifle ‘n renaissance.

My man Ian maak die toffieskerwe en omdat hy vir my die mooi skilderytjie een jaar vir my verjaarsdag gegee het, maak ek hierdie trifle as my verjaarsdagkoek!
PIESANG-KARAMEL BANOFFEE EN TOFFIEGLAS TRIFLE
My ma Inez het in die sewentigerjare ‘n yskastert van gekookte kondensmelk, vars piesangs, koekiekrummel-kors en geklitste room gemaak wat ek later jare eers sou uitvind word Banoffee-tert genoem (banana + toffie = banoffie).
My man Ian gee deesdae hand om van die retro gunsteling ‘n feestelike koekstruif te maak – hy maak tuisgemaakte toffieskerwe vir versiering. Met die skerwe wat soos brandskilderglas lyk word die banoffee-yskastert (‘banana + toffie) word sommer in ‘n japtrap dramaties en modern.
Banoffee- en toffieglas trifle
Genoeg vir 4-6 mense
Trifle
- 90 ml (6 E) botter, gesmelt
- 4 piesangs, in skyfies
- Omtrent 10 sjokolade of karamel gedoopte “digestive biscuits”
- 375 ml (1½ houers) vars room, verkoel en geklits
- 1 blik karamel kondensmelk
Smelt botter en laat afkoel. Rol beskuitjies fyn en voeg by die gesmelte botter. Die trifle kan in een groot glasbak of in individuele bakkies voorgesit word. Pak ‘n laag krummels, gesnyde piesang, karamel en endig met styfgeklopte room. Steek die skerwe toffieglas deur die roomlaag.
Toffieglas
- 125 ml (110g) strooisuiker
- 30 ml Demarara-suiker*
Verhit oond tot 180⁰C. Om die toffieglas te maak, sprinkel strooisuiker op ‘n bakplaat uitgevoer met kleefvrye bakpapier. Sprinkel die Demararasuiker bo-oor en bak vir 25-30 minute of tot die suiker gesmelt het. Laat afkoel. Breek in skerwe.
* Demararasuiker is goudkleurige suiker met ‘n ryk molasse geur. Gebruik enige geelsuiker of bruinsuiker.
TE MOOI VIR WOORDE KOEKSTRUIF

Over the top trifle – sjampanje, aarbeie, room, meringue en roosjellie: koekstruif met Louboutins aan.
Die feestelikste koekstruif ooit pryk in ons Huiskok Glanskok kookboek: OTTT: ‘over The Top Trifle’.
Sjampanje, aarbeie en room! Drie stappe tot ‘n sjiek koekstruif met Louboutin ontwerperskoene – dis ‘girly’ genoeg vir ‘n verlowingspartyjie en indrukwekkend genoeg vir die Nuwe Jaar-opskop. Jy kan dit voorsit aan manne in aandpakke en vroue in ‘n vintage Errol Arendz. Die x-faktor van hierdie fantasie-trifle is die sensuele roosjellie gemaak met pienk vonkelwyn en rosé. Vir ‘n eksotiese noot is Turkish Delight sjokolade by die room geklits om ‘n sweempie roosgeur aan die pienk fantasie te gee.
Aarbei-room- vonkelwyn trifle
- 1 sponskoek
- 500 ml vars room
- 500g Mascarpone
- Sjerrie na smaak
- 2 pakke vars aarbeie gewas en halveer, hou ‘n paar heel aarbeie eenkant
- Paar druppels rooswater* (kan vervang deur Turkish delight sjokolade by die room/mascarpone te klits)
- Meringue vormpies
Rosé-vonkelwyn- jellie
- 800 ml vonkelwyn
- 400 ml rosé wyn
- 3 eetlepels gelatien
- 1 ½ koppie suiker
Maak die jellie die vorige aand. Verhit rosé wyn en suiker in ‘n klein kastrol tot suiker opgelos het. Verwyder van hitte en laat staan vir 5 minute. Los die gelatien in ‘n bietjie warm wyn op. Meng die opgeloste gelatien mengsel met die res van die rosé en voeg die vonkelwyn by. Plaas in die yskas om te stol en sny in blokkies.
Sny die sponskoek in skywe, plaas in die bodem van glasbak en besprinkel met sjerrie. Pak ‘n laag aarbeie oor die koek en volg met ‘n laag jellie. Klits die mascarpone met ‘n paar druppels rooswater (of Turkish delight sjokoladestafie) en 250 ml room. Skep ‘n lagie mascarpone- room oor die jellie. Herhaal die proses. Klits die res van die room styf en skep bo-op die trifle. Plaas meringue vormpies bo-op die room saam met heel aarbeie. Besprinkel met ‘n bietjie versiersuiker.
Trifle wenke
- Los die klaargemaakte trifle sowat 5 uur in die yskas voor opdiening. Dit laat die smake ontwikkel en die lae stol.
- Boudoir beskuitjies (ladyfingers) is ‘n goeie plaasvervanger vir sponskoek, want dit absorbeer die sjerrie of likeur baie goed en het ‘n neutrale smaak wat nie bots met die ander geure nie. Oorweeg ook amarettie, muffins vir die sponslaag.
- Die finale laag van enige trifle is gewoonlik room. Maak jou eie syllabub-room deur ‘n bietjie suurlemoensap en skil, ‘n skeutjie brandwyn en wyn, asook suiker saam te klits.
Haal so die beste uit room
- Klits room in ‘n koue mengbak en klits dit stadig. Die room moet styf genoeg geklop wees om in sagte pieke te kan staan, maar dun genoeg om maklik van die lepel af te gly.
- Die sogenaamde pouring cream of lae-vet room se vetinhoud is te laag om goed styf te klits. Die hoeveelheid bottervet in room bepaal hoe goed dit sal klop en hoe stabiel die room sal wees.
- Slagroom met ‘n hoër vetinhoud klop maklik, verdubbel bykans in volume en behou die vorm. Dit het ook ‘n ryker tekstuur en lekkerder smaak. Dit skif ook nie so gou as dit vir kookdoeleindes gebruik word nie. Dubbel room (double thick cream) is nie geskik vir klits nie en is sommer een-twee-drie botter.
PENNIE IN DIE POEDING
Puriste sal dalk protesteer: ‘n trifle sonder jellie is nie trifle nie; terwyl ‘n ander reken vla en stukkies waatlemoenkonfyt hoort ook daar. My vriendin Anita Franken, ma van drie en ouma van vier, is ‘n groot voorstander van die trifle in die tradisie van Kook- en-Geniet. “Kerstyd is ‘n tyd vir kinderverwondering. Ek het groot geword met trifle waarin sikspense weggesteek is. Hierdie Kersfees gaan my kinders en kleinkinders verkies dat ek by tradisie hou, eerder as om met ons gebruiklike Kers-koekstruif te eksperimenteer. Alles bly dus dieselfde – veral ook die munstukke.
Anita se Pennie-trifle
- 1 Switserse rolkoek
- 1 liter vla
- Ingelegde waatlemoenkonfyt in stukkies gekap
- Sjerrie
- 1 pakkie rooi jellie, aangemaak vlgs instruksies
- 1 pakkie groen jellie, aangemaak vlgs instruksies
- 3 eetlepels gekapte pekanneute
- 2 eetlepels gekapte geglasuurde kersies
- 3 x 250 ml vars room, geklop
- Hundreds & thousands vir versiering
- Soveel R2-stukke soos die aantal gaste*
Groot ronde glasbak
Pak rolkoek skywe onder in die bak en sprinkel sjerrie bo-oor. Die res van die bestanddele word laag vir laag gepak. Herhaal tot alles opgebruik is en eindig met ‘n lekker dik laag room, versier met hundreds & thousands.
Wenk:
– laat die munstukke 24 uur in Jik en seepwater lê, skrop goed en spoel baie goed af in kookwater)
– lig gaste in van die munstukke, dat hulle versigtig kan hap.
KERSIE OP DIE KOEK -KOEKSTRUIF
Swartwoudkoek is dalk algemeen in Duitsland, maar koekstruif glad nie. Wat gebeur as mens smake uit die een vermeng met die idee van die ander? Jy Kry Swartwoud-koekstruif
Pleks van sjerrie gebruik jy dan schnapps. Die lae vla en geklopte room word vervang met ‘n mengsel van room, mascarpone en maaskaas. Hierdie mengsel verteenwoordig die vars kaas quark (amper iets soos fromage frais wat in Duitsland gebruik word.
Swartwoud trifle
- 1 sjokolade sponskoek
- 2 blikke ontpitte swartkersies
- 6 eetlepels Kirschwasser (kersieschnapps)
- 250g mascarpone
- 125 ml vars room
- 250g laevet maaskaas
- 2 eetlepels vanielje suiker
- 100g sjokolade sprinkels
Dreineer die kersies, bedek met die kirschwasser en laat staan vir 1 uur. Sny die sponskoek in stukkies. Meng die mascarpone en die maaskaas goed. Voeg die vanieljesuiker by en klits.
Klits die helfte van die room by die mascarpone mengsel. Pak ‘n laag van die koek in ‘n glasbak of glase en bedek met ‘n laag kersies. Skep ‘n laag van die mascarpone mengsel oor die kersies.
Skep nog ‘n paar kersies bo-op die room mengsel en versier met sjokolade sprinkels.
Foto’s: Samarie Smith