Die skilder Cezanne was heel profeties toe hy gesê het: “Die dag gaan kom wat ‘n enkele, geelwortel die geboorte van ‘n revolusie gaan inlei.”
Ek en Ian (slaafkok soos hy homself noem) is op ‘n kosavontuur om te kyk hoe weelderig en opwindend ons gesond-eet kan maak. Toe ons gister deur die rakke van Woolies stap kon ek my verkyk aan die groenterak, want al die groente is nog behoorlik in hul babaskoene – van vinkelbolle tot eiervrug; van preie tot pragtige klein worteltjies, pronkerig met stronk en al. Waar’s die dae wat al miniatuurgroente baba-aartappeltjies en petit pois was … en dalk nog ‘n mieliestronkie.
Ja, dis so, die groentebedding is deesdae die in-ding op die kosfront en die wêreld deur is sjefs besig om groot naam te maak met hul groente-skeppings. Daar voor die winkelrak het ek my so vergaap aan die babas van die groenteryk dat ons daar en dan besluit het die beplande bouillabaisse, ‘n Provençaalse vissop word ‘n Niqoise-styl groente sop-cum-stowegereg. Geen vis nie, net die mooiste, lekkerste babagroentes in die heerlikse saffraan-en spesery gegeurde bad. En so koop ek sommer twee mooi blou sopbakkies, so blou soos die lug in die Provence van my verbeelding.
{Terloops die woord bouillabaisse kom van die werkwoorde bolhi (om te kook) en abaissar (om hitte verminder, dus prut) en dis die proses wat ook met hierdie groente-weergawe gevolg word. As jy wil kan jy wel aan die einde stukkies gaar vis in die pot sit, maar dan is die groentetjies nie meer koning nie.}
En natuurlik, dis nie Provençaals sonder die rouille-bedekte skyfies geroosterde baguette nie. Rouille is die Franse woord vir ‘roes’, wat ‘n baie goeie beskrywing is vir die kleur wat die speserye aan die sous gee. Jy kan seker mayo koop, knoffel en rooipeper bysit en dit rouille noem, maar dis om jouself te ontneem van die beste. En hoe sê daai L’Oreal advertensie …. ‘because I’m worth it.’
Provençaalse babagroente stowegereg met rouille (‘spicy’ knoffelmayo)
Vir groentestowe:
60 ml olyfolie
12 baba-aartappels in die helfte gesny (nie geskil)
6 baba-uitjies, geskil en in kwarte gesny
4 jong preie, punte afgesny, goed gewas en in ringe gesny
2 vet knoffelhuisies, gekneus
1 rooi brandrissie, pitte verwyder en opgekap of 3 ml droë rissievlokkies
5 ml kerriepoeier
750 ml goeie hoender- of groenteaftreksel
Stewige knypie saffraandrade
3 stroke lemoenskil
4 takkies tiemie
Sout en peper
3-4 klein vinkelbolle, in lengte gesny
8 klein tamaties, soos Rosa-tamaties, in kwarte
Om te bedien: snytjies geroosterde baguette
Verhit olie in pan en soteer die aartappels, uie en preie vir 15 minute. Skud die pan nou en dan dat die groente nie vassit nie. Voeg kerriepoeier, knoffel en rissie by en soteer nog ‘n minuut of wat. Voeg 500 ml van die aftreksel by. Gooi die saffraan, lemoenskil, tiemie, orige aftreksel, sout en peper by en laat prut vir nog 10 minute of tot aartappeltjies sag is, maar nie stukkend gekook nie. Voeg die vinkel en tamatie by en prut nog 10 minute. Nou’s die sop reg.
Vir die rouille:
Bietjie growwe sout
2-3 knoffelhuisies, grof gekap
2 eiergele
150 ml olyfolie
10 ml tamatiepasta
Suurlemoensap na smaak
2,5 ml rooipeper (cayenne pepper)
Maal knoffel en sout saam in stamper en vysel. Meng die eiergele by en dan begin die sports: terwyl jy die heeltyd meng met ‘n whisk of ‘n elektriese handklitser voeg die olie DRUPPEL vir DRUPPEL by en klein bietjie sout en peper. Die mengsel sal nou verdik. Maar ernstig nou: moenie nog olie bysit voor elke drupel olie behoorlik ingemeng is nie. Sodra al die olie by is en die mengsel lekker dik is, roer die tamatiepasta, rooipeper, suurlemoensap en sout+peper na smaak by. As jy wil kan die fyn gerasperde skil van 1 lemoen ook bygeroer word.
Om te bedien: Verdeel die groentestowe in 4 sopbakkies en plaas ‘n geroosterde snytjie baguette met ‘n stewige skeppie van die rouille bo-op. Speel mooi Franse straatkafee-musiek en verbeel jou jy is in Provence!
*Die resep is aangepas uit Diana Henry se “Food from Plenty,” een van die allergunstelinge in my kookboekversameling.