Sagopoeding. Die woord gaan een van twee dinge doen:
-of jy gaan hand op die hart verlang na jou ouma en jou ouma se ouma; na die goeie ou dae en blommerige poedingbakkies;
-of al daai nare herinneringe van jou koshuisdae gaan oor jou spoel met die sjarme van die skool-boelie.
Gelukkig val my sago-ervaring in die aangename nostalgie-kamp, selfs al het my ouer broers my probeer treiter met hul krete: “Padda-eiers, Piekies eet padda-eiers!” (my familie noem my steeds op my Piekies-bynaam). Hierdie strategie om my uit te gross het nooit gewerk nie, en het my – die suikerbekkie van die gesin – eerder harder laat klou aan my poedingporsie.
Met goeie rede, want sagopoeding soos my ma dit gemaak het was iets wat uit die winterhemele neergesak het. Die meringue bolaag was die sneeu uit een van my Europese kinderboeke.
Wat vir my broers soos paddaeiers gelyk het, het vir my nes pêrels gelyk. Dan die sweempies kaneel en soet-surerige appelkooskonfyt.
As jy dink sagopoeding is ‘n kook-rompslomp; dat die sago oornag geweek moet word; dat die melk maklik aanbrand en en en…. ontspan. Dis ‘n eenvoudige poeding, selfs ‘n kind kan dit doen. Nooi hulle kombuis toe en laat hulle ook verwonderd staan terwyl die wit korrels miniatuur deurskynende albastertjies raak, met hier en daar ‘n korrel wat dwars trek en ‘n stippeltjie wit in die middel behou.
Jy hoef ook nie skeppend te raak met dinge soos klappermelk en ander eksotiese bestanddele nie; die ou manier van doen is perfek. As jy soos ek steranys by alles wil gooi, doen dit. Jy kan dit in individuele koppies bak (soos ek met die karringmelk-poeding gemaak het). Of bedien dit met allerhande eksotiese strope en rome (sien onder vir ‘n paar idees). Of volstaan met die oumense se manier van doen.
Sagopoeding-maak is okkasie genoeg om ‘n blom-geborduurde lap van my ouma uit die linnekas te gaan haal. Ouma Gerrieda het blommetjierokke gedra, mooi ou borsspelde met pêreltjies en kantsakdoekies voor by haar boesem ingedruk.
Dis een van daai poedings wat ‘n instelling is – die jaar mag nie verbygaan sonder sagopoeding nie. Vanjaar het die dag gekom op ‘n Sondag in die vroeë lente. Ek het oranje ranonkels, perses, bottergeel freesias en fyn loof in eierkelkies gerangskik en saam op die poedingtafel uitgestal. Elkeen skep self op.
Terwyl ek met die skeplepel staan verwag ek enige oomblik dat een van my broers om die hoek van die eetkamer op my gaan afpyl….”Piekies eet padda-eiers, Piekies eet padda-eiers!”

“Piekies eet paddaeiers”, het my broers gejil in ons jongdae om my af te sit sodat hulle meer sagopoeding het om te eet.
Fritz se Gunsteling – Sagopoeding met Steranys
Oorgenoeg vir 4 porsies en seconds ook. Maar hoekom ‘Fritz se Gunsteling’? Wel, ek het dit in drie kleiner bakkies gebak – een was bedoel vir die bure wat toe nie die dag by die huis was nie. Toe nooi ons vir Fritz Brand, die man agter http://www.realmencancook.co.za om vir hom ‘n bak soet poeding te kom haal. Ons raak aan die kuier om daai sago en kort voor lank word ‘n diep band gesmee; sommer so half taai van die appelkoosjam. “Sommige breek brood; ons breek sagopoeding.” sê ek.
1 k sago (die klein korreltjies, nie tapioka nie – dit maak dalk die kinders bang)
Kaneelstokkie
3 kardomonpeule, opsioneel
2 steranys, opsioneel
4 koppies volroommelk (afgeroomde melk ook okay)
125 ml suiker (bruinsuiker kan ook interessant wees)
30 ml botter
Knippie sout
3 eiergele, liggies geklits
2 eierwitte, styfgeklits tot dit puntjies vorm
Appelkooskonfyt om te stip
Fyn kaneel (opsioneel)
Vir meringue
5 eierwitte
160 ml strooisuiker
Knippie sout
Metode
Verhit die oond tot 180°C. Kook die sago, melk en speserye saam oor lae hitte terwyl jy roer tot die korrels deurskynend is. Verwyder die speserye. Roer suiker, botter en knippie sout by. Roer ‘n paar lepels van die warm mengsel by die geklitste eiergele (dit voorkom ‘scramble’ eiers!). Haal kastrol van die hitte af en roer die eiergeelmengsel by. Vou nou die styfgeklitste eierwit by die mengsel in (nie almal doen dit so nie – ek verkies dit om die mengsel minder ‘taai’ en meer pofferig te maak).
Skep in ‘n gesmeerde bak. Stippel met appelkooskonfyt. Strooi kaneel oor.
Maak die meringue: Klits eierwit tot dit puntjies vorm, klits suiker bietjie vir bietjie by en knippie sout. Stapel meringue bo-op die sago en bak sowat 25 minute tot die vla gestol is en die meringue goudbruin is
Die poeding kan ook koud bedien word. Dan is dit baie lekker met ‘n vrugtestroop of coulis.
Wegbreek van tradisie

Koue somer-Sagopoeding van ‘n Finse webwerf. – ek hou van die inmaakflessie. http://www.dinmat.no
Alhoewel ek van my sagopoeding ou-skool hou, het ons soveel makliker toegang tot ‘n verskeidenheid bestanddele dat mens die geleentheid moet gebruik om ons kostradisie te verryk en rond te speel met smake.
- Bedien met gestoofde gemengde droëvrugte (ook lekker koud)
- Wissel die speserye af met Chinese 5-speserymengsel.
- Drup gemmerstroop oor voor die meringue-laag opgesit word.
- Wissel die appelkooskonfyt af met frambooskonfyt, suurlemoenmarmalade of appelliefiekonfyt (iets suurs is die lekkerste).
- Kook gedroogte nartjieskil saam met die sago en die melk – veral lekker in die winter.
- Kook sultanas saam met die melk en die sago; bestrooi met gekapte kasjoeneute of geroosterde amandelvlokkies of pistasieneute.
- Lente-idee: Vir ‘n Persiese noot, roer ‘n paar druppels rooswater of lemoenekstrak by die melkmengsel (gebruik spaarsamig anders kan dit oorweldigend wees); dien op met versuikerde roosblare.
- Somer-idee: skep die koue sagovlamengsel versigtig in klein Consul-glasflessies om individuele poedings te maak, giet ‘n lagie gesmelte bessiekonfyt oor en bedek met Italiaanse meringue. As jy ‘n blaasvlam het, verbruin die meringue daarmee.
- As jy jou sagopoeding modepop wil maak bak dit in cupcake vormpies – goeie idee van Huisgenoot.