Tag Archives: soetgoed

Pavlova Kerskrans

19 Dec

Hierdie nagereg gaan die ‘oo’s en die ah’s uitlok by enige geleentheid, maar veral as pronkstuk op die poedingtafel In Feestyd. Ek het dit verlede jaar gemaak vir ‘n vroeë familie-Kersete. (My bydrae op Kersdag self was ‘n perske-trifle-pavlova wat soveel meer werk was as hierdie eenvoudige pavlova-krans.) Ek het dit afgerond met roosknoppies tot Ma Inez se groot genot. Rose was haar ding! As jy die Kersversiering ‘n stappe verder wil neem, strooi eetbare silwer balletjies op.

 

Party mense is banger vir meringue-maak as vir Brolloks en Bittergal. Dis totaal onnodig, want makliker kan dit nie. Volg die resep noukeurig en wees maar net versigtig om nie enige eiergeel In die eierwit te kry nie (enige vetterigheid veroorsaak dat die eierwit nie styf gaan klits met goeie volume nie). Die suiker moet ook behoorlik opgelos world, maar volg net die instruksies en jy’s veilig.

As jy naby die see is, of daar’s baie vog in die lug kan meringue bietjie nukkerig wees.

PavlovaKerskrans

Witte van 6 groot eiers, kamertemperatuur

7,5 ml wit asyn

330 g (375 ml) strooisuiker

10 ml mielieblom

Versiering: vrugte na keuse, soos vars ontpitte kersies, frambose of aarbeie.

250 ml room, styfgeklits 

Eetbare silwerballetjies of eetbare glansstof

Voorverhit oond na 150°C. Trek ‘n 22cm sirkel op bakpapier en plaas dit op ‘n bakplaat met die potloodkant na onder. 

Plaas die eierwitte in die mengbak van jou staanmenger en klits teen vinnige spoed tot stywe punte vorm. Voeg nou die strooisuiker lepel vir lepel met 30 sekonde tussenposes by terwyl jy aanhou klits tot blink en styf. Skraap die kante en klits tot styf en blink, sowat 6 minute. Voeg die asyn en mielieblom by en klits nog 2 minute. 

Skep die meringue in 12 hopies aan die binnekant van die bakpapiersirkel om die krans te vorm. Verminder die oondhitte tot 120°C en bak sowat 1 uur tot bros buite. Draai die oond af en laat die pavlova afkoel in die oond met die oonddeur toe. 

Plaas die pavlova-krans op die dienbord, skep styfgeklopte room op, versier met vrugte en rond af met silwerballetjies indien gebruik.

Sjokolade, lemoen, lostrek bierbroodjie VADERSDAG

17 Jun

Na jare se waarneming weet ek dat enigiets met donker sjokolade my man se “lekker-verby-sirene” laat lui. Belgiese sjokolade + Belgiese bier + brood = Liefde.

IMG_1224

In teenstelling met vinnige bierbroodjies van bruismeel gemaak word, laat die kitsgis die ontbytbroodjie tot ekstra lekkerte rys en dit bly ook langer vars.

IMG_1222

Staan vir Vadersdag bietjie vroeër op, of maak dit halfpad klaar die vorige dag. Ook heerlik saam met namiddagkoffie.

IMG_1225 Sjokolade en lemoen lostrek-bierbroodjie

  • 320g koekmeel
  • 60 ml + 15 ml witsuiker, verdeel
  • 1 pakkie kitsgis
  • 190 ml bier (Belgiese ale is besonder lekker)
  • 2,5 ml vanielje
  • 3 groot eiergele
  • 60 ml dik room (kamertemperatuur)
  • 5 ml sout
  • 45 ml sagte botter
  • 15 ml kaneel
  • 100g donker sjokolade, fyngekap
  • Skil van 1 lemoen, fyngerasper
  • Versiersuiker (opsioneel)

Voeg die meel, 60 ml suiker en gis in die mengbak van ‘n staanmenger met deeghak.

Maak die bier warm tot 46 °C, gooi by die meelmengsel en meng tot amper al die meel klam is. Voeg vanielje en dan die eiergele beurtelings by. Voeg room en sout by. Klop mengsel op hoë spoed tot deeg aan die haak vaskleef. Die deeg is baie slap. Plaas deeg in ‘n liggies geoliede bak, bedek en laat rys op ‘n lekker warm plek tot verdubbel, 1 uur.

Plaas die deeg op ‘n meelbestrooide oppervlak en rol uit in 45 x 60cm reghoek. Meng botter, kaneel en orige 15 ml suiker in ‘n bakkie en smeer oor die deeg. Sny deeg in stroke sowat 7cm wyd.. Sny elke reep in 4 tot 5 reghoeke (maak tussen 12 en 15 stukke) Sprinkel sjokolade en lemoenskil oor en plaas die reghoeke bo-op mekaar in ‘n stapel. Plaas die stapel in ‘n broodpan.

Indien jy die brood die vorige aand maak – bedek en laat dit in die yskas vir 12 ure uitrys. Verhit die oond tot 180°C, laat die brood kamertemperatuur bereik terwyl die oond verhit. Bak dan vir 22-30 minute tot deurgaar.

Indien jy dit dieselfde dag maak – voorverhit die oond tot 180°C terwyl die deeg teen kamertemperatuur in volume verdubbel, sowat 20 minute. Bak 22-30 minute tot deurgaar en goudbruin. Sit foelie oor as dit te bruin begin raak.

Haal die brood uit die pan en strooi ekstra lemoenskil oor, sprinkel versiersuiker oor net voor bediening.

IMG_1223

  • Foto-kopiereg: Ian du Toit
  • Resep en stilering: Errieda du Toit

Meer oor Errieda du Toit (HUISKOK) is ‘n kosskrywer met 8 kookboeke uit haar pen. TUISTAFEL is reeds op die rak, terwyl Kokkedoortjie se kookboek van 19 Julie 2017 te koop is. Sy is ook rubriekskrywer vir Die Burger Versnit, en die inhoudsvervaardiger: kos vir die Kokkedoor/ Koekedoor/Kokkedoortjie-reekse.

 

 

Christine Capendale se Gerookte Snoektert (uit Bak vir Pret en Profyt)

27 May

Dis selde dat daar ‘n bakboek uitgereik word wat die Suid-Afrikaanse bakker, en spesifiek ook die Afrikaanse huisbakster so goed verstaan soos Christine Capendale se Bak vir Pret en Profyt. (Bake for Pleasure and Profit).

Christine Capendale by die foto-ateljee van Myburgh Du Plessis. (Foto Errieda)

Christine Capendale by die foto-ateljee van Myburgh Du Plessis. (Foto Errieda)

Soveel van ons bak deesdae ‘uit’, vir tuisnywerhede, koeke vir verjaarsdae, troukoeke, selfs vir plaasmarkies. En almal moet soms bak vir die basaar of die kinders se fondsinsameling by die skool. Om vir die lekker te bak, ja, maar ook vir die geld. Ons het ondernemingsgees en met hierdie nuutgevonde entreneursgees skep mense ook klein besighede met bak – daarvoor het jy ‘n sakeplan nodig. Om die prys van jou produk te bepaal moet jy die basis van kosteberekening ook verstaan.  Sy deel wenke oor lisensies en permitte – het jy geweet jy moet selfs na jou plafonne kyk vir krakies waar kieme dalk kan skuil?

Niks vreet so aan profyt soos ‘n flop nie – en enige bakboek wat sys out werd is, se resepte moet werk – die eerste keer. Dit doen Christine se resepte by uitstek. Dis getoets. En goed getoets!

Christine gee ook idees hoe die basies resep verder opgetert kan word om nog meer aanloklik te lyk vir die koper en die eter.

Die inhoudsopgaaf stel jou aan klaar gerus dat jy hier met ‘n goeie bakmaat te doen het.  Resepte vir Koeke, teetydbrode, kolwynjties, die fraaiste kleinkoekies, stafies en blokkies – en lekkergoed. Daar is ‘n hoofstuk afgestaan aan  tradisionele gebak – ja die melktert, koeksister en  ander ikone.  Pasteie, quiches en southappies, soet terte, spesiale brode, beskuit en muffins.

Die troefkaarte is ook daar – die meer moeite, tydrowende maar beelskone begeerlikhede, met onmiskenbare Franse flair – roompoffertjies, makrolletjies, Croquembouche  en die allerpragtigste petit fours denkbaar. Dis vir die groot spesiaal.

Christine saam met my in die RSG ateljee met 'n bordjie soet en bordjie sout: heerlike gerookte snoektert en samosas ; asook fudge, skuimpies, macarons, miljoenerbrosbrood en malvalekkers in geroosterde klapper.

Christine saam met my in die RSG ateljee met ‘n bordjie soet en bordjie sout: heerlike gerookte snoektert en samosas ; asook fudge, skuimpies, macarons, miljoenerbrosbrood en malvalekkers in geroosterde klapper.

Oor Christine Capendale: 

Ek ken vir Christine uit skooldae uit, die jong sussie van my vriend Neels Kriek, wat met my beste skoolmaat Hille van Schalkwyk getrou het. Christine was altyd mooi en slim – soos al die Krieke.  Dalk is dit die terapie van bak wat haar so jonk laat lyk, want dis asof die tyd stilgestaan het en ons almal om haar raak ouer!

Ons paaie sou werklik eers weer kruis met die skiet van die Kokkedoor kookboek en daarna ook Koekedoor se bakboek. So het ons die vriendskapsbande weer opgetel. Haar bakvernuf, en veral hoe lieflik sy bak, maak haar vir my – en almal wat al by haar klas geloop het of van haar smulkos gesien en geproe het – ‘n rolmodel.  Dis haar warm, gulhartige persoonlikheid wat ek in haar bakwerk sien – daar is nie nog ‘n mens wat so maklik en gretig bak soos sy nie – sy soek behoorlik verskonings om te bak, en deel net so graag uit.

Christine het ‘n seun en ook die twee mooiste dogsters wat ook bak – Robyn en Amy.  Christine het lank in Langebaan gebly, en pendel nou tussen Gauteng en Kaapstad.   Sy sien haarself steeds as Die Weskusmeisie.

Bordjie soet, bordjie sout  

Ek het grootgeword met hierdie manier van saamkom vir ‘n teepartytjie, of iets by die kerk – almal dra iets by.  Die soet kant was altyd ‘n fees, maar ek was dikwels teleurgesteld met dieselfde souttert en worsrolletjies. Christine se  idees soos Vlegselhoenderpastei, gerooktesnoektert, individuele kerriemaalvleispasteie, Quiche Lorraine en ander mini quiches, spek- en kaaswiele, empanadas, snoeksamoesas en okkerneut- en roosmaryn kaasbeskuitjies beteken dat geen bordjie sout ooit weer verbeeldingloos te wees nie.

ek hou boek vas

GEROOKTE SNOEKTERT  

Lewer 1 groot tert / Genoeg vir 8

  • 1 rol (400g) klaarbereide winkelskilferkorsdeeg of tuisgemaakte blaardeeg
  • 10 ml olyfolie
  • 1 groot ui, gekap
  • 1 klein groen soetrissie, gekap
  • Sout en swartpeper
  • 250 ml (100g) gerasperde Cheddarkaas
  • 400 ml (300 g) gevlokte, gerookte snoek
  • 4 eiers
  • 50 ml melk
  • 250 ml room

Metode  

  • Voorverhit die oond tot 180C. Smeer mediumgrootte tertbord.
  • Rol die deeg uit en voer die bereide tertbord daarmee.
  • Verhit die olyfolie in ‘n pan oor matige hitte en soteer die ui en groenrissie daarin tot sag. Geur na smaak.
  • Skep die uiemengsel, kaas en gerookte snoek in die gevoerde tertbord.
  • Klits die eiers, melk en room saam, geur na smaak en giet oor die vulsel.
  • Bak vir sowat 30 minute tot goudbruin.

Verkoop meer!  

  • Sit ontpitte kalamatatert voor jy dit begin bak.
  • Maak individuele tertjies en bak sowat 15 minute.

Kan bedien word met Korrelrige mosterdsous:  

Meng 30 ml heelkorrelmosterd, 15 ml Engelse mosterd, 100 ml mayonnaise van goeie gehalte, 50 ml heuning en mosterdslaaisous en 2 knoffelhuisies, fyngedruk, alles saam. Geur na smaak met sout en peper.

OP MY BAKLYSIE

Net so met die eerste deurblaai, het ek al begin notas maak van items wat ek eerste wil bak:

  • Sitrusbrood met gekaramelliseerde clementines en marmalade
  • Banoffee-kolwyntjies
  • Reusesjokolade splinterkoekies
  • Kobbelblokkies (Rocky Roads)
  • Grondboontjiebotter- en brandrissiefudge
  • Sjokolade- en hawermoutklontjies (wat ek poefkoekies noem)
  • Pekanneut- en gemmertert
  • Peer- en pralienkaaskoek
  • Petit Fours

Boekbesonderhede: voorblad afr  

Bak vir Pret en Profyt is ook in Engels beskikbaar as Baking for Pleasure and Profit. Dit word deur Human & Rousseau uitgegee. Volbladfoto’s deur Myburgh Du Plessis illustreer elke resep, met stilering wat goeie inspirasie is hoe om gebak mooi voor te sit.

*Die boek is ook ‘n puik geskenk – lekker om te gee en lekker om te ontvang.

Doilies en gebakte gemmerpoeding.

3 Jun

Wys my ‘n huis met ‘n doilie en ek wys jou ‘n huis met warm gebakte poedings in die winter.

opening duo

My Ma Inez is seker die mees ondersteunende mens wat daar is. Sy moedig my deur my lewe aan, behalwe as dit by my hekelwerk kom. Soos laas Sondag weer toe ons by haar in haar gesellige huisie gaan eet in die aftreeoord. Terwyl Annamie (haar wonderlike inwoon-verpleegster / versorger / geselsmaat)  kosmaak, sit ek en Ma in ‘n sonkolletjie. Ma se  vingers en hande is nooit stil nie. As sy nie orrel speel nie, hekel sy. Haar rooi mus en rooi trui het sy gehekel, so ook die kniekombersie oor haar bene, die kussingslope, die doilies onder elke blompot, die tafeldoek, plekmatjies, deurstopper, alles.

Terwyl die geure van die Sondagkos en die warm gemmer-belofte van gebakte poeding tot by ons dwarrel probeer ek ook my hand aan hekelgare  slaan. “Nee, my kind, jy hekel darem te lelik met jou hotklou. Los liewers.”

Ma Inez, haar hekelwek en haar musiek.

Ma Inez, haar hekelwek en haar musiek.

Ek lag en ploeter voort met wol en hekelpen wat mekaar nie wil vind nie. My linkerhand en regterwysvinger wou net nooit saamwerk nie. Gelukkig het haar kooklesse meer vrugte afgewerp. Telefoonpoeding, asynpoeding, Jan Ellispoeding, gemmerpoeding, die hele gebakte boksemdaais. Vir een skep jy die beslag in ‘n stroopbad, vir ‘n ander gooi jy die stropie bo-oor. Soms kry die stroop room en/of brandewyn ook in (soos met malvapoeding), soms weer nie. Almal is soet en sussend.

Ek kan dalk nie hekel nie, maar ‘n fyn oog vir ‘n lekker poeding het ek.  Die resepte dra ek dan soos ‘n kraai terug nes toe, soos met die gemmerpoeding wat ons Sondag aan my ma se tafel geniet het. Gemmerpoeding reflekteer my ma se uitkyk dat ‘meer’ beter is. Haar ‘meer’ het te doen het met  meer liefde, om meer vir ander doen, meer kleur, meer blomme, meer hekelgoed, meer musiek.

Gemmerpoeding bak in sy eie stroopbad.

Gemmerpoeding bak in sy eie stroopbad.

My ma sal ‘n mooi dinge vat en dit nog mooier maak, soos om ‘n gehekelde trui, plekmatjie of doilie verder op te dolla met geborduurde blomme of nog ‘n kartelrand. Ma het selfs al  ‘n stillewe-skildery in ons huis bygekom en self ekstra blomme ingeverf – sy het gereken die kunstenaar was te suinig met die blomme! Meer is beter. Soeter is soeter.

GEBAKTE GEMMERPOEDING

Die kosmaakkolle op die blad van ‘n ou resepteboek waaruit Annamie die gemmerpoeding gemaak het wys hoe graag haar ma dit gebak het. Dis heerlik gemmerig want daar kom gemmer in die beslag en in die stroop. Daarin proe ek iets van my eie ma – dat ‘te veel ‘nie altyd ‘n slegte ding is nie. Dit maak ‘n groot poeding, sekerlik genoeg vir 6 mense. (Die resepteboekie kort sy voorblad, maar ons lei af dis in die sestigerjare deur Old Mutual uitgegee en bevat resepte van huiskokke reg deur die land, soos hierdie een deur ene Mev Henna Visagie van Bloemfontein).

Bestanddele

1½ koppie meelblom

1 koppie melk

1 eier

1 eetlepel fyn gemmer

1 koppie suiker

½ koppie sagte botter

1 teelepel koeksoda, gelykvol

2 eetlepels fyn appelkooskonfyt, fyn

Stroop:

1 koppie suiker

2 koppies kookwater

1 t fyn gemmer

Metode

Voorverhit die oond tot 180 C. In ‘n mengbak room die botter en suiker. In ‘n aparte bak, sif meel, koeksoda en gemmer saam. Klop meelmengsel by die geroomde botter-en-suiker in. In ‘n aparte bakkie, klits eers die eier, melk en appelkooskonfyt saam en klits dit dan in by meelmengsel in om loperige beslag te vorm.

Gooi die beslag in ‘n groot bakskottel skottel waarin die volgende stroop aangemaak is:

Stroop

In die bakskottel waarin die poeding gebak gaan word, roer die suiker, kookwater en fyn gemmer  tot die suiker opgelos is. Skep die beslag bo-op die vuurwarm stroop, maar moenie deurroer of meng nie. Bak tot gaar,  35-40 minute.  Toets met ‘n toetspennetjie. Die poeding sal bo-op die stroopmengsel dryf. Bedien warm of koud in die stroop, met vla of room daarby.

resep van mev Henna Visagie

GEMMERPOEDING MET ‘N SITRUSGEURTJIE

Die gemmerpoeding van my ma kruis paaie met my liefde vir ‘n sitrusrige stroopsmakie, warm speserye en vars gemmer. Die gevolg is ‘n poeding met baie van my ma en iets van my. Dit kruis ook lyne met ‘n telefoonpoeding.

Beslag

1 k (250 ml) bruismeel

1 t (5 ml) fyn gemmer (verkieslik self fyngestamp, soos  Leipoldt van praat)

½ t (2,5 ml) fyn kaneel (opsioneel)

Knypie (1 ml) fyn naeltjies (opsioneel)

Sout

1 E (15 ml) botter

2 dessertlepels (25 ml) appelkooskonfyt

1 t (5 ml)  koeksoda

½ k (125 ml) melk

15 ml suurlemoensap of asyn (opsioneel)

Stroop

2 k (500 ml) water (of 1 koppie lemoensap en 1 koppie water)

1 k (250 ml) suike

3 cm knobbel vars gemmer, fyngerasper (indien nie  beskikbaar, gebruik 1 t fyn gemmer)

5 ml gerasperde lemoen- of suurlemoenskil

Metode:

  • Sif meel, sout en fyn gemmer (plus  kaneel en naeltjies indien gebruik) saam.
  • Vryf die botter in,  voeg die konfyt by en meng.
  • In ‘n bekertjie meng die koeksoda met die melk (en suurlemoensap indien gebruik). Voeg dit by die meelmengsel. Die beslag moet taamlik styf wees.
  • Intussen maak die stroop deur die water,  suiker, en skil vir 5 minute te kook en die vars gerasoerde gemmer by te roer.
  • Giet die kokende stroop in ‘n bakskottel en skep lepelsvol van die beslag in die stroop. Bak 30-35 minute teen 180°C.
  • Bedien met vla, room of crème fraiche, Dis ook lekker met ingelegde kwepers, gestoofde perskes of gestoofde pere.

LEIPOLDT SE GEMMERPOEDING

In ons haastig-haastig era is ‘n resep vir gemmerpoeding wat  3 ure stoom of kook sekerlik meer akademies van aard as prakties. Dit beteken nie ons kan nie iets by die kenners in ons kosverlede leer nie. Louis Leipoldt  (Kos vir die Kenner) inspireer  my om:

  • gemmer self te stamp en fyn te maak vir my gemmerpoeding (kyk uit vir die gedroogte gemmerstukkies) eerder as om dit te koop;
  • om ‘n slag kaneelpoeding te maak – volg presies dieselfde resep maar vervang die gemmer met ‘n eetlepel kaneel.

Hier is sy bondige aanwysings: Kap op 125 g hardevet en meng dit met ‘n grypie sout, ‘n halfpond (250g) fynmeel (koekmeel), 150 g gesifte wit suiker en ‘n eetlepel vol gestampte gemmer (of kaneel of kassia). Klop goed deurmekaar, sit die mengsel in ‘n gesmeerde vorm en stoom of kook vir drie ure. Bedien met ‘n wynsous.

Leipoldt gee ook ‘n resep vir ‘Gekonfyte gemmerpoeding’, wat met ingelegde gemmerstukke, gemmerstroop en gemmerbrandewyn gemaak word. Wonderlike idees. Die winter is gelukkig nog lank. Waar is daai bottel gemmerbrandewyn en my hekelpen?

duo beige doilies met teepot

Luister saam:Errieda du Toit gesels elke Woensdagoggend om 9h30 op RSG in haar rubriek ‘Die Kos wat ons Ken.’ Die aanbieders is Martelize Brink en Johan Rademan.

 

 

Blikkie kondensmelk die poort na ewige jeug

7 May

In my huis, soos sekerlik in ander huise deur die land, word ‘n oop blikkie kondensmelk of melkkaramel se lewensverwagting in skrale minute gemeet.

Ian en die gekookte kondensmelk

Ian en die gekookte kondensmelk

Die ander aand sien ek weer  hoe die vlak van die flessie pas-gekookte melkkonfyt letterlik voor my oë daal elke keer as ek die yskasdeur oopmaak. Ek herken egter my soettand man Ian se lepelstrepe in die karamel.  Die lekker  is juis om ongesiens die lepel deur te trek.  Net toe ek hom weer vang (voor hy my uitvang) nooi ek my Facebook-vriende: “Vertel my jou kondensmelk-geheime, staaltjies, herinneringe, en die lekkerste manier om dit te eet.”

‘n Vloedgolf van soet spoel vir dae daarna nog  oor my tydslyn. Dit neem ons almal terug na ‘n tyd en plek waar twee gaatjies in ‘n blik se deksel die poort was na ewige jeug.

{Gedeelde soet }

Een van die mooiste vertellinge kom van Danita Blignaut van der Mescht: “ Ek het van 1983-1985 skool gehou by die Voorbereidende Skool Beaufort-Wes. Die skoolhoof Mnr Senekal  het in sy onderste laai ‘n blik kondensmelk gehad.  Daar was  twee gaatjies  ingepons en duidelik gemerk:  myne/juffrouens. As jy gevoel het jy kort bietjie “soet krag” kon jy gou ‘n slukkie gaan kry.”

Vir Facebook-maat Anna Visagie was kondensmelk die beloning na harde werk om sakgeld bymekaar te maak vir ‘n blikkie. “Ons het op ‘n plaas groot geword waar daar ‘n plaaswinkel was – ons het bene opgetel en dit aan die tannie by die winkel verkoop  (hulle het dit weer vir beenmeel verkoop).  Daarvan het ons ‘n klein blikkie kondensmelk en pakkie koekies gekoop. Met ‘n skerp klip het ons twee gaatjies ingekap – so met koekies en kondensmelk het ons al langs die rivier afgestap.”

Mariette van der Merwe het ook ‘n mooi kondensmelk-deelstorie:  “My man het as kind altyd ‘n blik kondensmelk met sy beste vriend gedeel. As een van hulle ‘n blikkie kon kry het hy die blikkie halfpad uitgedrink en dan in sy vriend se posbus gebêre na skool om dit klaar te drink. So het hulle beurte gemaak. Vriendskap gedeel met ‘n blik kondensmelk.”

diptic verskillende blikke

 

{Vir jonk en oud}

Ja, kondensmelk smaak na die ‘goeie ou dae’, na kaalvoet loop, soet rooibostee uit outydse koppies,  kondensmelk vir die aartappelslaai se sous, kondensmelk vir die Cremoratert en  die suurlemoen-meringuetert.  Die sonderlinge plaasheerlikheid van koue kondensmelk oor granaatpitte gedrup is skoon skandalig van begeerlikheid.

Party onthou vir Pikkie en ander vir Dirkie. Een van die jonger garde wat met die Dirkie-buisie kondensmelk grootgeword het is Herman Lensing, Sarie se kosredakteur. Sy ma het dit vir hom onder sy kopkussing gelos.

Kos-stilis Caro Alberts onthou kondensmelk koffie vroegoggend op jagtogte in Thabazimbi. “My oupa sou ons uit ons kamers uit jaag vir inspeksie, maar by die vuur het Ouma se anysbeskuit gewag  ek bak dit nou nog – ook met kondensmelk) en moerkoffie met kondensmelk. Verder onthou ek my ma se kondensmelk, marshmallow en pynappelpoering en as die lus te groot was en die winkel te ver dan het ons vars suurlemoene van die plaasbome gaan pluk en in espressokoppies kondensmelk met suurlemoensap gemeng.”

Begeerlike karamellooppoeding en alfojores-broskoekies

Begeerlike karamellooppoeding en alfojores-broskoekies

{Gekookte kondensmelk vir drama }

Om voor die dae van gekoopte ‘caramel treat’ die liggeel kondensmelk te omskep in ‘n dik bruin melkkonfyt moes die blik eers gekook word in ‘n drukkoker (of presto soos almal dit genoem het). As dit droog gekook het, of te gou oopgemaak is, het die spulletjie ontplof en  saam met die blik se binnegoed teen die plafon beland. Vra maar vir Veralda Schmidt, Kokkedoor-deelnemer. Sy vertel haar ma het beet saam met die blikkie kondensmelk in die stoompot gekook, tot haar boetie een dag uit ongeduld die deksel te vroeg oopgemaak het en die hele kombuis vol pers beetblertse en kondensmelk gelaat het. “So tussen die skoonmakery het sy boude gebrand.”

Dis juis hierdie drama – om te leef op die punt van die mes – wat gekookte kondensmelk steeds een van my gunstelingsmake maak.  Ek kon ook nooit wag vir die blikkies om af te koel nie. Uiteindelik sou dit in die piesang-karameltert beland wat my ma gemaak het – met Orley-Whip bo-op. Dit was die wag werd.

{Eet dit sommer net so}

Wynmaker Elzette bieg sy het ken nie ophou as dit by kondensmelk kom nie. “Ek eet dit enige manier, heeltyd, sonder ophou asof daar nie ‘n môre is nie.”  Skrywer en joernalis Elize Parker eet dit op Mariebeskuitjies, in koffie, in die bad met ‘n soplepel uit die blik; met plaatkoekies en met piesangtert.  Susan eet dit enige manier, solank dit yskoud is. “As jy dit met ‘n teelepel uit die blik eet, en jy skep, dan moet daar sommer ‘n hele bol aan die lepel sit, so koud moet dit wees.”

 {Ouma spring self in}

Sanette Henning vertel dat haar ouma self kondensmelk gekook het.  “Met oorvloed melk op die plaas was dit weekliks gekook en gebottel. Dan het ons ons in stronkekas tuis gemaak en ouma dop gehou hoe sy kondensmelk geduldig staan en roer tot dit dik genoeg gekook was. Ons was nie so geduldig nie, want dit was n laaaang wag voor kondensmelk oor gegooi is in botteltjies. Gewapen met teelepeltjies het ons gewag vir die groot oomblik, as ouma daai pot staanmaak op stronke. Dan kon ons teelepels vol kondensmelk skep –  hemelse genot vir ‘n kind.  Ook as ouma die dag koejawels ingelê het, was die aand se nagereg koejawels met dik stroop en kondensmelk. “

{Boereraat}

En as jy swak spysvertering het? Meng een blikkie kondensmelk met ‘n botteltjie Lennon’s Turlington laat weet Carina Louwrens Nel. Suig kort-kort half teelepel (uurliks) vir die eerste voormiddag en daarna 4-6 keer per dag. Vir hoesgoed meng jy kondensmelk met borsdruppels!

{Almal se gunsteling}   

Kondensmelk is  ‘n ouderwetse smaak waarna mens nie juis na verwys het in hogere koskringe nie.  Nou dat oudedoosgeit weer cool is, maak kondensmelk oral sy verskyning; selfs by ‘n funky pop-up ete wat ek onlangs bygewoon het.  So gewild is kondensmelk dat daar pas ‘n kookboek oor die onderwerp verskyn het met meer as 100 resepte:  Kondensmelk, almal se gunsteling, deur Cleta Joannou.

Almal se gunsteling, inderdaad. My groot swak lê by gekookte kondensmelk – of kom ons noem dit melkkonfyt a.k.a melkkaramel;  ‘n goue stroopdraad wat deur die wêreld loop:

  • Dulce de leche is die Argentyne se nasionale soet.
  • Vanielje-gegeurde confiture de lait is die Franse se soet swakte.
  • Colombië en Venezuela se arequipe  word tot in hul tradisionele brood gestop  vir Roscón de Arequipe.
  • Doce de leite maak van almal soettande in Brasilië en Portugal.
  • Cajeta de leche in Mexico word tradisioneel van bokmelk gemaak.
  • Die Noorweërs se HaPå word op brood gesmeer soos grondboontjiebotter.
  • In ander lande soos Puorto Rico en Thailand word dit met klappermelk gemaak.

Alhoewel bykans elke Suid-Amerikaanse land hul kleim afsteek as die skeppers van dulce de leche, is dit die Argentyne wat hart en siel glo. Dit  was in Buenos Aires waar ek my grootmens-hart van vooraf op melkkonfyt verloor het. Daar het ons dit van vroeg tot laataand verslind, saam met Franse roosterbrood, in croissants of sommer net so uit die blik uit. Die heerlike broskoekies alfajores toegeplak met dik lagies melkkonfyt was ook orals. Karen Berman skryf in Land of Milk and Honey tereg, “Argentina has absorbed dulce de leche into its culinary soul.”aa nougat-koekies met melkjamvulsel

{Die legende}

Dis onwaarskynlik dat dit in Suid-Amerika ontstaan het. Die metode om melk en suiker te kook tot dit karameliseer is volgens kosgeskiedkundiges eerder deur die koloniste van Portugal en Spanje na die Nuwe Wereld gebring as ‘n manier om melk te preserveer.

Die Argentyne skop vas en het ‘n hele legende rondom hul erf-soet gebou: In die 18de eeu het ‘n huishulp van ‘n Argentynse politikus, Juan Manel de Rosas, die gebruiklike winterdrankie van versoete melk op die stoof gekook, toe daar ’n klop aan die voordeur was. Teen die tyd dat sy weer by die stoof gekom het, het die melk en suikermengsel in ’n stroperige bruin konfyt verander. Mettertyd het dulce de leche ’n algemene metode geword om melk te preserveer.

Tuisgekookte melkjam. Foto: Ian du Toit

 

Tuisgemaakte melkkonfyt – gekookte kondensmelk – prutpotmetode (‘slow cooker’) MY KEUSE

My skoonma Bettie se bruin vintage prutpot uit die sewentigerjare word ingespan om my eie melkkonfyt te maak. Ek begin egter met ‘n blikkie gekoopte kondensmelk, so dis eintlik net half-tuisgemaak! Ek koop egter nooit die geblikte karamel nie, want hierdie metode is die maklikste ooit. Daar is geen gevaar van die blik deur die plafon nie, daar is geen geroer nie, dit is maklik om te sien of die karamel reg is, dit lyk lieflik in die glas-inlêflessies en jy hoef ook nie te wag tot dit afkoel om die eerste happie te skep nie.  “You will never look back.”

Maak so:

  1. Gooi die geblikte kondensmelk oor in skoon glasflessies, draai die deksel stewig toe, sit dit in die prutpot, gooi warm water oor tot by die dekselvlak, sit die prutpot op hoog* en vergeet daarvan vir die volgende 8 ure.
  2. Haal dit met ‘n knyptangetjie uit en laat afkoel.  Dit sal ‘n maand in die yskas hou (ja, ek lag ook – dit sal baie gouer verslind wees).

*Nuwerwetse prutpotte se hoog-verstelling is dalk warmer as my vintage-pot, en ek raai aan probeer dit die eerste keer op laag. As dit na 8 ure nie karamel is nie, sit dan  op hoog.

Melkkonfyt – ‘gebakte’ kondensmelk – oondmetode

As jy nie ‘n prutpot het nie, en soos ek nie die drukpot wil inspan nie, is die oondmetode perfek.  Jy hoef nie te roer nie, gedurende die bruinword nie, maar klits verwoed aan die einde. Dit kook in ‘n waterbad, so wees versigtig met die kookwater!

  1.  Voorverhit oond tot 220°C. Gooi twee blikkies kondensmelk in ‘n Pyrex-tipe oondvaste bak, roer ‘n knippie sout by en bedek dit goed met foelie. Plaas die bak in ‘n roosterpan. Gooi kookwater in die roosterpan tot die bak kondensmelk tot dit halfpad in die water staan.
  2. Bedek met foelie en bak sowat 2 ure. Indien jy dit donker verkies, bak vir 3 ure.  Laat afkoel voordat jy die foelie afhaal. Klits goed tot glad.

Smaakwenke:

  • Ek geur my kondensmelk met een van die volgende geure: koffie-ekstrak, vanielje-ekstrak, kardomom, Earl Grey tee.
  • Verhit die flessie as jy die melkkonfyt meer vloeibaar wil maak as sous  oor roomys.
  • Dis wonderlik oor Franse roosterbrood.
  • Roer dit by roomys in – hoekom so duur betaal vir Haagen Daz se dulche de leche roomys?
  • Melkkonfyt se soet word getemper met gevlokte seesout, asook deur dit te bedien saam met ietwat suur vrugte soos granaat, koejawel en pynappel.
  • Bedien melkkonfyt met pere gestowe in kaneel, pienk peperkorrels en vanielje. Sprinkel pimperneute oor vir tekstuur.
  • Bedien melkkonfyt met vars bokmelkkaas (chevre), pekanneute en broskoekies.

Doen-dit-self kondensmelk – op die stoofmetode

Maak dit gerus een keer en waardeer dan weer die gerief om net ‘n blikkie oop te maak. As jy egter jou eie koei het, veral, is dit lekker om die melk so te verwerk. Geduld is die wagwoord om dit nie te brand nie. Die doel is om die waterinhoud van die melk met sowat die helfte te verminder.

1 liter volroommelk

300 g strooisuiker

2,5 ml sout

2,5 ml koeksoda

5 ml vanielje-ekstrak (opsioneel)

Plaas die melk in ‘n dikboomkastrol of pan; hoe groter die oppervlak van die kastrol is hoe gouer sal die melk kan verdamp. Roer die suiker by en voeg dan die sout koeksoda en vanielje by. Plaas oor medium-lae hitte en bring stadig tot kookpunt, maar moenie roer nie.  Die oomblik as die melk begin opkook draai die hitte tot baie laag. Laat dit so vir 2 tot 3 ure baie stadig sonder deksel net-net prut en gee dit elke 10 minute of so ‘n goeie roer. Skep enige skuim wat vorm af. Sodra dit dik is, gooi in gesteriliseerde flesse.  Laat afkoel voor gebruik.  Die sous sal verder verdik as dit afgekoel het.

Wenk:

  • Jy kan die melk ook geur met kaneelstokkies of kardomompeule.
  • Vir ‘n suiwelvrye weergawevan melkkonfyt, gebruik klappermelk en bruinsuiker. Roer vir ure!
Donker klam gemmerkoek uit Cleta JOannou se nuwe kookboek 'Kondensmelk, Almal se Gunsteling'.

Donker klam gemmerkoek uit Cleta JOannou se nuwe kookboek ‘Kondensmelk, Almal se Gunsteling’.

Donker, klam gemmerkoek met kondensmelk bolaag

Ek kon nie verby hierdie resep blaai in Cleta Joannou se nuwe kookboek Kondensmelk, Almal se Gunsteling, nie. Moet maak, moet maak!

Lewer 2 klein koeke

Koek

625 ml koekmeel

10 ml koeksoda

2,5 ml  sout

2,5 ml fyn gemmer

5 ml fyn kaneel

1 ml fyn kruienaeltjies

1 ml gerasperde neutmuskaat

250 ml melasse

250 ml plantaardige olie

3 groot eiers, geklits

125 ml fyngerasperde of fyngedrukte vars gemmer

1 blikkie growwe appelkooskonfyt

Bolaag

1 blikkie (385 g) kondensmelk

125 ml melk

Koek

Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer en voer twee 20 cm-losboomkoekpanne. Sif die meel, koeksoda, sout en speserye saam in ’n groot bak. Gebruik ’n skoon bak en klits die melasse en olie saam. Voeg die eiers by en klits goed. Klits die vars gemmer en appelkooskonfyt saam en meng dit by die nat mengsel in. Voeg die melassemengsel by die droë bestanddele en meng deeglik. Verdeel die beslag gelykop tussen die twee koekpanne en bak vir 1 uur, of tot ’n toetspen skoon uitkom nadat jy dit in die middel van die koek gedruk het.

Bolaag

Meng die kondensmelk en melk, en giet dit oor die koeke sodra hulle uit die oond kom. Laat dit afkoel in die panne totdat al die vloeistof geabsorbeer is. Vir ekstra glans kan jy ’n bietjie appelkooskonfyt warm maak en soos glaseersel oor die bo en sykante van die koek smeer net voordat jy dit voorsit. Die koeke kan vir ’n paar maande in die vrieskas gehou word.

{Soet stout}

Die soet van kondensmelk is eintlik op sy lekkerste as die blikkie ‘sonder toestemming’ uit die koskas geskaai is. Rensia Bester vertel: “Die lekkerste was wanneer  jy die gesteel het en twee gaatjies in die blikkie gemaak het en so skelm gaan uitsuig het. My boetie het dit baie goed gedoen, die blikkie op die rak in die kruidenierskas gelos en my Ma het dan gewoonlik die blikkie leeg ontdek.”

Ja, die gesteelde blik met die twee gaatjies… “hy word onder die bed weggesteek en as jy van die skool af kom staan die blik op jou spieëltafel. Dit was die lekkerste kondensmelk op die aarde en volgende maand steel jy maar net weer een,” korswel Janita Russouw uit Mosselbaai.

Ek onthou self die groot drama toe my ma ‘n blikkie half-geëete kondensmelk swart van die miere in die tuin ontdek het, en die verkeerde broer ‘n pak slae gekry het. My broer Charles was altyd so stroopsoet dat my ma net aanvaar het dis my waaglustige oudste broer Theo wat weer vol kattekwaad was. Dis eers na Theo  ‘n wiks gekry het – ten spyte van sy verweer dat hy onskuldig is – dat Charlie met sy stert tussen die bene gebieg het.

Nou wonder ek saam met Marina le Roux of die kondensmelk van vandag so soet is soos die gegapste kondensmelk van destyds?

{Jy gaan dit nie glo nie}

Piesang, caramel en pietersielie

Piesang, caramel en pietersielie

[Blikkie kondensmelk vir die smart}

Gail Borden is die vader van kondensmelk.

Gail Borden is die vader van kondensmelk.

Die eerste patent vir kondensmelk is in 1856 toegestaan aan die Amerikaanse kospionier Gail Borden. Dit het maklik vervoer en as dit verdun was tot die konsistensie van vars melk, was dit selfs goedkoper as melk. Wanneer die blikkie oopgemaak is het die melk langer gehou as vars melk, weens die suikerinhoud.

Al word die soet van kondensmelk nie sommer met swaarkry verbind nie, het dit ‘n skakel met oorlogtye en swaarkry. Gail Borden se kondensmelk het bv. soldate gevoed in die Amerikaanse Burgeroorlog en in ons land was dit ook deel van die karige rantsoene in die konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog.

Ek lees die aangrypende artikel in Die Beeld (23 Augustus 2013) oor die konstrasiekamp by Norvalspoort: “Daar is honderde klipstapeltjies van bakoondjies wat neffens die Bell-tente gestaan het. Honderde “vloere” van geroeste kondensmelkblikkies is oral sigbaar. Die vroue het die leë blikkies binne die vyf-treë-by-vyf-treë-tent as ’n vloer gepak. Daar het tot 12 mense in so ’n tent gebly.

en

“Die rantsoene was skraps. Elke vrou het ’n twaalfde blikkie kondensmelk vir haar en haar gesin gekry. Ook 1 oz sout en 1 oz suiker. “Die Tommies het ’n hele blikkie kondensmelk per dag gekry.”

Soberend.

Bronne:

  • Land of Milk and Sugar (Sept. 2007), Karen Berman, Saveur.
  • David Lebovitz, The perfect scoop
  • Kondensmelk, almal se gunsteling (2014), Cleta Joannou, Human en Rousseau.
  • Facebook-gesprekke, Mei 2014
  • http://farmette.ie/
  • ‘Kamp van smart, koue en honger. Pieter Steyn, Beeld, 23 Augustus 2013. (artikel oor die konsentrasiekampdae van ouma Susanna Elena (Sannie) Bloem, op Norvalspont tydens die Anglo-Boereoorlog.
%d bloggers like this: