Tag Archives: sop

‘Baby, it’s cold outside’ geregte: kerrie-en-klappermelk ertjiesop met geroosterde blomkool; kortrib-, bier en boonbredie; boereworsfrikkadelle in sticky tamatiesous

7 Aug

Winter, bly tog ‘n bietjie langer … daar’s koue-weer geregte wat ek nog wil maak.

Die meer tradisionele wintergeregte en hartskosse waarmee die Kaap van Storms aangedurf word, soos die kerries, wildspasteie, lensiesop met murgbene en plaaskombuis-groentesoppe met kluitjies het klaaar gesig gewys in my kombuis.

Ek het midwinter al cassoulet, die legendariese wintershuiskos uit die suidweste van Frankryk gemaak, (‘n liefdestaak wat tyd, vleis en hul erfenisboon coco-tarbais vra), my kosbare slopie heerbone deurgewerk en ‘n paar keer outydse boontjiesop met dobberende blokkies spek gemaak. Steeds is ek nie reg vir groet nie; my spensrakke vol rantsoene teen die koue oorlog ook nie.

Daarom maak ek ‘n lysie “Baby, it’s cold outside”-geregte wat die winter verlei om nog bietjie langer te bly, tot die opgaardamme én my eie gees voel  ons is reg vir lente se groener weivelde.

Hier is drie resepte bly-nog-vir-eers wintergeregte. Die klem is op gedroogte bone en erte, vir my die simbool van winter op sy grouste. Ertjiesop, ‘n bekende in winterkringe word opgeknap met kerrie en klappermelk, en die lojale driemanskap van vleis, bier en bone vat die koue aan. As dit te koud is vir boerewors oor die kole, bak dit dan saam met bone.

KERRIE-EN-KLAPPERMELK GEROOSTERDE BLOMKOOL ERTJIESOP

Geniet dit met roti of vetkoek.

6  porsies

  • 1 medium kop blomkool, opgekap
  • 15 ml kerriepoeier
  • 10 ml garam masala
  • 45 ml olyfolie + ekstra vir braai
  • 1 ui, gekap
  • 3 knoffelhuisies, gemaal
  • 15 ml vars gemmer, fyn
  • 15 ml fyn komyn
  • 10 ml fyn koljander
  • 2,5 ml borrie
  • 250 ml droë ertjies, afgespoel
  • 1 l groenteaftreksel
  • 250 ml klappermelk
  • Gerookte varkworsies of 2 varkpootjies
  • Garnering: kerrie-olie* (opsioneel), jogurt, geroosterde blomkool-takkie

Voorverhit oond tot 180°. Voer oondpan uit met foelie en pak blomkool uit. Meng die olie met kerriepoeier en garam masala en bedek die blomkool met die olie. Rooster vir 30 minute.

.Verhit ‘n bietjie olie in ‘n groot kastrol, voeg die uie, knoffel en gemmer by, braai tot die uie sag en deurskynend is, voeg die komyn, koljander en borrie by en braai tot geurig, sowat 2 minute.

Voeg ertjies, aftreksel en worsies of varkpootjies by en prut tot die ertjies sag is en begin opbreek, Voeg klappermelk by en prut 10 minute. Voeg geroosterde blomkool by, hou stukkies terug vir garnering. Maak die sop fyn met ‘n staafmenger of aartappeldrukker tot verlangde tekstuur. Skep in bakkies en garneer. Eet met roti of vetkoek.

*Kerrie-olie: smelt 45 ml botter, roer 15 ml kerriepoeier by en drup lepeltjievol oor die sop.

BONE EN BOEREWORS-FRIKkADELLE IN PIKANTE TAMATIESOUS

6 porsies

  • 250g  Imbo rooi spikkelbone of nierbone
  • 400 g boerewors
  • 30 ml olie vir braai,
  • 1 groot ui, gekap
  • 2 knoffelhuisies, gemaal
  • 5 ml paprika
  • 50 g tamatiepasta
  • 2 x 410g blikke gekapte tamatie
  • 15 ml worcestersous
  • 10 ml suiker
  • Sout en peper
  • 5 ml asyn
  • Gekapte kruie

Spoel die bone af, plaas in groot kastrol, bedek met koue water, bring tot kookpunt en kook 5 minute. Verwyder van die hitte, bedek en week 1 uur.

Dreineer bone en plaas terug in die kastrol, voeg genoeg kookwater by om te bedek, bring tot kookpunt en prut dan met die deksel gekantel tot sag,45 – 60 minute (nierbone kook 90 minute).

Maak intussen die frikkadelle en tamatiesous: Druk die worsvleis uit die omhulsel en vorm klein balletjies. Verhit olie ‘n pan oor matige hitte en braai die frikadelle goudbruin,  skuif dit na die kant van die pan.

Vul olie aan indien nodig, voeg uie by en soteer 5 minute, roer die knoffel by, dan die tamatiepasta en paprika, laat 1 minuut braai en voeg die gekookte bone, worcestersous, suiker, asyn en geurmiddels by. Prut tot verdik, sowat 15 minute. Proe en pas smaak aan.  Druk van die bone met die agterkant van die houtlepel fyn as jy sous wil verdik.

Sprinkel kruie oor.

KORTRIB EN BONE IN BIER MET AMASI-BONEKAPOK

Die bone-tema word na die bykos deurgetrek met boonkapok ( fyngestampte bone wat romerig gemaak is met amasi.)

  • 500 g Imbo nierboontjies, geweek
  • 500 g – 750 g kortrib, in korter stukkies gesny of ander biefstowevleis
  • Sout en peper
  • Olie vir braai
  • 2 groot uie, grofgekap
  • 3 knoffelhuisies, gekap
  • 4 wortels, opgesny
  • 2 steranys
  • 500 ml biefaftreksel + ekstra soos nodig
  • 1 x 330 ml blikkie bier (of vervang met aftreksel)
  • 30 ml asyn
  • Tiemie, vars of droog
  • 125 ml maas (amasi)
  • 60 ml botter

Spoel die bone af, plaas in groot kastrol, bedek met koue water, bring tot kookpunt en kook 5 minute. Verwyder van die hitte, bedek en week 1 uur.

Dreineer bone en plaas terug in die kastrol, voeg genoeg kookwater by om te bedek, bring tot kookpunt en prut met die deksel gekantel vir 60 minute (bone nou halfgaar.) Skep die helfte van die bone met ‘n gaatjieslepel uit en hou eenkant om later by vleis te voeg. Kook die orige bone vir nog 30 – 40 minute tot sag (dit word vir die boonkapok gebruik).

Voorverhit oond na 160°C. Geur vleis goed met sout en peper. Verhit olie in oondvaste pot en verbruin vleis in sarsies. Skuif vleis na die kant, soteer uie vir 4 minute, voeg wortels en knoffel by en braai liggies vir nog 4 minute. Roer die vleis en groente deur, voeg vloeistof by, bedek en stowe 90 minute in die oond.

Voeg halfgaar bone, tiemie, asyn en nog biefafstrek by indien nodig (die bone soek vog om sag te word). Bedek en bak nog 90 minute tot die bone sag is en vleis van die bene afval. Druk van die bone fyn om die sous te verdik. Geur.

Boonkapok: verhit die orige gaar bone met 60 ml amasi, vars of droë tiemie en botter. Maak dit fyn en voeg nog amasi by. Geur.

  • Errieda Du Toit kook Saterdag 10 Augustus saam met Daleen van der Merwe ‘n uitsonderlike viergang winterspyskaart by die Karoo Art Hotel op Barrydale. Peter Veldman gesels saam. R500 met De Grendel wyne ingesluit. Bespreek by reservations@karooarthotel.

Ezo se bruidsop: rooilensiesop

25 Apr

5F68E38E-96D7-4627-A768-24EB6AD618D8.jpeg
Ezo se Bruidsop van rooilensies

Sop vir ontbyt is deesdae ‘n groot ding. In lande soos Turkeye, Viëtnam, Korea tot en Columbië is dit al ‘n eeue-oue gebruik. Pho, ramen, om ‘n paar te noem. My ontdekking is ‘n Turkse sop met die mooiste storie.

Ezogelin, ‘n verleidend-lekker rooilensiesop, vernoem na ‘n jong Persiese bruid Ezo, ‘n pragtige vrou wat nou al ‘n legende in Turkeye geword het. Die man op wie sy verlief was het haar gevfa om te trou, maar met een voorwaarde – sy moes eers sy ma ontmoet … en Skoonma was maar ‘n baie moeilike mens. Sy het hierdie rooilensiesop gemaak om in haar goeie boekies te kom. Wel, sy en haar man het later 9 kinders gehad, so Skoonma was sekerlik baie beïndruk.

Die sop, wat uit die suid-oostelike deel van Anatolië kom, word nou oral in Turkeye geëet, veral vir ontbyt. Die rooi lensies kook baie vinnig en hoef glad nie vooraf geweek te word nie. Dit is voedsaam met hoë vlakke van minerale soos yster. Die smaak is subtiel en die lensie kook heeltemal sag. Die geure van die droë kruisement saam met lensies is ‘n heerlike nuwe ontdekking.

Die burgul is ‘n gestampte koring wat effens verwerk en halfgaar gemaak is. Rys kan ook gebruik word. Ment paai die senuwees en verskerp die sintuie.

Ezo se bruidsop

1 knoffelhuisie, fyn gekap
1 ui, fyn gekap
Bietjie Olie of botter vir braai
5 ml komyn
45 ml tamatiepasta
5 ml soet paprika
200 g (opgehoopte koppie) rooi lensies, afgespoel red lentils,
45 ml bulgur koring, afgespoel (opsioneel) of 125 ml rys
1.5 liter hoender- of groenteaftreksel
Sout en peper

Bediening:
15 ml droë kruisement, net so of gemeng met sagte botter.
rissievlokkies, suurlemoensap

Braai die knoffel en uie liggies tot sag en deurskynend, voeg die tamatiepasta, paprika en komyn by en kook 2 minute terwyl jy roer.
Voeg die lensies, burgulkoring (of rys) en aftreksel by. Bring tot kookpunt en prut dan sowat 30 minute terwyl jou nou en dan roer om te keer dat dit vassit. Sodra die lensies sag is blits die sop met ‘n handstaafmenger tot redelik glad. Proe en pas na smaak met sout en peper.

Skep in sopbakkies, sprinkel droë ment oor of bedien met ‘n klontjie botter, rissievlokkies as jy wil en ‘n drupsel suurlemoensap.

 

Lamsvleis lieslapsop met gebraaide tortillarepe

26 Apr

Nee, nie loslappie nie…Lieslappie!

Lieslap is nie juis ‘n poëtiese naam vir ‘n lamsvleissnit nie. Onder aanmoediging van die bedagsame, geduldige huiskok is lieslap tot baie in staat is – sommige sal glo dit oortref duurder, deftiger snitte.

lieslap sop Edit-1305

“Ek moet bieg, ek staan altyd weerloos, skaamteloos en roekeloos voor ‘n stukkie lieslap” vertel Diana Ferreira, pottebakker en entoesiastiese eter.

Haar kommentaar som die reaksie op van my kosvriende se lieslappraatjies op Facebook. Deur hulle win ek meer as veertig maniere om dit gaar te maak.

Lieslap laat baie dinge met hom doen: in blokkies gesny en uitgebraai tot kaiings om saam met varsgebakte brood en appelkooskonfyt te eet. Of om soos staanrib of skaapstertjies langsaam bros-kraak gebraai te word by die braaikole, net met sout, peper en suurlemoen. Koljander en Worcestershiresous opsioneel.

Wat sê ander lieslappers:

Al hoe meer gerekende stemme uit kulinêre kringe sien lamslieslap as die nuwe ‘pork belly’. (Pork belly is juis varklies- en ribbetjie in Afrikaans).

Sjef Almay Jordaan laat weet uit Melbourne dat sy blokkies lieslap stadig kook in ‘n soetsuur tamatiesous. “Met gnocchi en parmesaan daarby is dit die beste naweek-aand aan-die-slaapraak maaltyd.” Haar raad egter:  laat staan die lieslap bredie oornag sodat die meeste vet afgeskep (gebruik vet vir ‘n ander dis, natuurlik) , anders is dit ‘n gal-aanval wat wag.”

Ook die epikuur Marlene van der Westhuizen, aanbieder van ‘Van Skaapstert tot Camembert’ praat saam. Sy Sit die lieslap heel in ‘n pot met witwyn. Daarby gekapte ui, sout en witpeper. Ook hoenderaftreksel, gekapte groenbone en klein aartappeltjies. Wanneer die lappie murgsag is word dit in happies gesny en teruggeroer in die bredie. “Salig met ‘n glas Pinot noir.”

(Proe aan nog lieslapper-idees onder toe)

LAPSOP  (Lieslap-lensiesop met gebraaide tortillarepe)

Die ding van lieslap is dat dit met geduld van jou kant af rafelsag kook vir bredie of sop. Die bindweefsel smelt behoorlik saam met die vetjies en transformeer die aftreksel in ‘n diep-behaaglike brousel.

Vandat vriendin Nelia Viviers na lieslap as soplap verwys het, bly ‘n lapsop by my spook. Toe ek onlangs vir Piet Marais en Frik Oosthuizen van Santa Anna’s-faam ontmoet en die manne se tortillas proe kom die antwoord: Tortillasop met gepluiste lieslap eerder as gepluiste hoender soos die Mexikane dit maak.

  • 45 ml olyfolie
  • 1 lieslap, in 4 kleiner stukke gesny
  • 2 medium uie, fyn gekap
  • 2 knoffelhuisies, fyn gekap
  • 2 vars brandrissies, fyn gesny
  • 5 ml rooipeper
  • 10 ml gemaalde komyn
  • 2 lourierblare
  • 1 blik gekapte tamaties
  • 1 liter vleisaftreksel
  • 1 blik rooi nierbone, afgespoel
  • 375 ml gaar lensies
  • Sout en peper
  • 1 bossie vars koljander, gekap
  • Gebraaide tortillarepe
  • Verskeidenheid smaaktooisels soos gerasperde kaas, suurroom, vars koljanderblare, tamatie- en uie-salsa, avokado.

Verhit olie in ‘n sopkastrol en braai vleis goudbruin. Voeg uie, knoffel, rissies, rooipeper en komyn by en soteer.

Gooi aftreksel, lourierblare en tamaties by, prut tot vleis baie sag is. Maak intussen die gebraaide tortillarepe.) Voeg die gekookte lensies en nierbone by, prut nog 30 minute. Pluis liesvleis en gooi terug in die sop. Proe en geur. (Maak intussen die gebraaide tortilla-repies).

Roer vars koljander by, skep in bakkies, plaas gebraaide tortillarepe en smaaktooisels bo-op.

Gebraaide tortilla-repe

  • 15 ml kookolie
  • 2 tot 3 sagte tortillas, verkieslik Santa Anna’s

Sny tortillas in dun stroke. Verhit olie in ‘n pannetjie oor matig-hoë hitte en braai stroke in enkellaag. Draai om na 30 sekondes en braai ander kant. (Dit word bros wanneer dit afkoel). Dreineer op kombuispapier.

Kookkos-ikoon Tannie Poppie Coetzer sny dit op en kook dit met stampmielies tot papsag. en eet dit met braaikool.

Mede-lapliefhebbers Christo de Beer tru eers ‘n stap terug voor hy dit oond toe vat. Hy vee dit met asyn af, strooi growwe sout oor en laat dit eers ‘n week onder ‘n net in ‘n koel plek hang.

‘Hoekom nie lieslap kombineer met bacon nie, siende dat die Hollanders na bacon verwys as speklappies, stel Pieter du Toit van Cederberg Wyne voor.

Ander weer bak dit oornag in ‘n oondpan met dik uieskywe, knoffel, olyfolie en bietjie growwesout en swartpeper, toegemaak met foelie. Oond so 90°C.

Met slappap, uiekonfyt en tamatieslaai is dit Ena Bester Posthumus se koningskos. “Sny dit in klein blokkies, vryf in met asyn, koljander, fyn naeltjies, sout en growwe peper, pak in oondbak met ‘n klein bietjie water. Bak met die deksel op tot sag. Strooi bietjie bruinsuiker oor en bak sonder deksel tot kraakbruin en vog weggekook is.

  • Kyk uit vir my volgende kosstorie waar ek die resep gee vir gestoofde lieslappies opgerol in Medittereense smake. 
  • Besoek www.delico.co.za vir Delico se aanlynbestellings en afsetpunte in Riebeek-Kasteel en Klapmuts.
  • Resepte en foto’s: Errieda en Ian du Toit

Babagroente stowe sop met rouille op roosterbrood

12 Jul

Die skilder Cezanne was heel profeties toe hy gesê het: “Die dag gaan kom wat ‘n enkele, geelwortel die geboorte van ‘n revolusie gaan inlei.”aaa compilation

Ek en Ian (slaafkok soos hy homself noem) is op ‘n kosavontuur om te kyk hoe weelderig en opwindend ons gesond-eet kan maak. Toe ons gister deur die rakke van Woolies stap kon ek my verkyk aan die groenterak, want al die groente is nog behoorlik in hul babaskoene – van vinkelbolle tot eiervrug; van preie tot pragtige klein worteltjies, pronkerig met stronk en al. Waar’s die dae wat al miniatuurgroente baba-aartappeltjies en petit pois was … en dalk nog ‘n mieliestronkie.

Ja, dis so, die groentebedding is deesdae die in-ding op die kosfront en die wêreld deur is sjefs besig om groot naam te maak met hul groente-skeppings. Daar voor die winkelrak het ek my so vergaap aan die babas van die groenteryk dat ons daar en dan besluit het die beplande bouillabaisse, ‘n Provençaalse vissop word ‘n Niqoise-styl groente sop-cum-stowegereg. Geen vis nie, net die mooiste, lekkerste babagroentes in die heerlikse saffraan-en spesery gegeurde bad. En so koop ek sommer twee mooi blou sopbakkies, so blou soos die lug in die Provence van my verbeelding.

spesial blou bordjies vir 'n spesiale gereg.

spesiale blou bordjies vir ‘n spesiale gereg.

 {Terloops die woord bouillabaisse kom van die werkwoorde bolhi (om te kook) en abaissar (om hitte verminder, dus prut) en dis die proses wat ook met hierdie groente-weergawe gevolg word. As jy wil kan jy wel aan die einde stukkies gaar vis in die pot sit, maar dan is die groentetjies nie meer koning nie.}

 En natuurlik, dis nie Provençaals sonder die rouille-bedekte skyfies geroosterde baguette nie. Rouille is die Franse woord  vir ‘roes’, wat ‘n baie goeie beskrywing is vir die kleur wat die speserye aan die sous gee. Jy kan seker mayo koop, knoffel en rooipeper bysit en dit rouille noem, maar dis om jouself te ontneem van die beste. En hoe sê daai L’Oreal advertensie …. ‘because I’m worth it.’  

ai die babas is mooi!

ai die babas is mooi!

Provençaalse babagroente stowegereg met rouille (‘spicy’ knoffelmayo)

 Vir groentestowe:

60 ml olyfolie

12 baba-aartappels in die helfte gesny (nie geskil)

6 baba-uitjies, geskil en in kwarte gesny

4 jong preie, punte afgesny, goed gewas en in ringe gesny

2 vet knoffelhuisies, gekneus

1 rooi brandrissie, pitte verwyder en opgekap of 3 ml droë rissievlokkies

5 ml kerriepoeier

750 ml goeie hoender- of groenteaftreksel

Stewige knypie saffraandrade

3 stroke lemoenskil

4 takkies tiemie

Sout en peper

3-4 klein vinkelbolle, in lengte gesny

8 klein tamaties, soos Rosa-tamaties, in kwarte

Om te bedien: snytjies geroosterde baguette

 Verhit olie in pan en soteer die aartappels, uie en preie vir 15 minute. Skud die pan nou en dan dat die groente nie vassit nie. Voeg kerriepoeier, knoffel en rissie by en soteer nog ‘n minuut of wat. Voeg 500 ml van die aftreksel by. Gooi die saffraan, lemoenskil, tiemie, orige aftreksel, sout en peper by en laat prut vir nog  10 minute of tot aartappeltjies sag is, maar nie stukkend gekook nie. Voeg die vinkel en tamatie by en prut nog 10 minute. Nou’s die sop reg.

Die naam Rouille is afglei van die Franse woord vir 'roes', soos die kleur van die sous.

Die naam Rouille is afgelei van die Franse woord vir ‘roes’, soos die kleur van die sous.

 Vir die rouille:

 Bietjie growwe sout

2-3 knoffelhuisies, grof gekap

2 eiergele

150 ml olyfolie

10 ml tamatiepasta

Suurlemoensap na smaak

2,5 ml rooipeper (cayenne pepper)

Maal knoffel en sout saam in stamper en vysel. Meng die eiergele by en dan begin die sports: terwyl jy die heeltyd meng met ‘n whisk of ‘n elektriese handklitser voeg die olie DRUPPEL vir DRUPPEL by en klein bietjie sout en peper. Die mengsel sal nou verdik. Maar ernstig nou: moenie nog olie bysit voor elke drupel olie behoorlik ingemeng is nie. Sodra al die olie by is en die mengsel lekker dik is, roer die tamatiepasta, rooipeper, suurlemoensap en sout+peper na smaak by. As jy wil kan die fyn gerasperde skil van 1 lemoen ook bygeroer word.

Om te bedien: Verdeel die groentestowe in 4 sopbakkies en plaas ‘n geroosterde snytjie baguette met ‘n stewige skeppie van die rouille bo-op. Speel mooi Franse straatkafee-musiek en verbeel jou jy is in Provence!

 *Die resep is aangepas uit Diana Henry se “Food from Plenty,” een van die allergunstelinge in my kookboekversameling.

 

Sop soos mense

31 May

Sop is soos mense.

Warm, uitbundige sop dra hul gesellige geure op hul mou in  groothartige porsies. Dan’s daar die stille waters, diepe grond soppe wat met elke hap nog ‘n smaak openbaar of ‘n aangename verrassing onder in die sopbakkie onthul.

Die stylvolles en flambojantes is daar ook: sop wat jy altyd deur ‘n ring kan trek en met groot flair uit ‘n tureen met kartelrante in deftige Limoge bakkies wil skep. Kreatiewe soppe wys hul kunssinnigheid met strepe, kolle en kleurkontraste. Die bielie-van-‘n-sop se kragspiere laat verkoues wyk. En soos goed-berese mense is daar soppe wat wonderlike stories kan vertel van avonture in verre lande.

My oupa Boy Möller was ‘n sopman, vandaar my ma se sopgene.  Ons raak ewe nostalgies oor sop, soos haar gediggie getuig:

Sop in die Aand

‘n Pot wat prut met been se lym

‘n warm vuur vir samesyn

groente se geur en kruie vermeng

word die aand se ure verleng

liefde en sop saam in die pot

word wintermaal se pure genot

Inez Espost

My kosheld, skrywer Nigel Slater pak op Oujaar spens reg en maak dan lensiesop met byt op Nuwejaarsdag.  Ek wag ook vir ‘n koue dag vir die groot spensskrop en maak dan ‘n hitsige harissa lensiesop wat, soos Nigel se sop, terselfdertyd sweepslag én soen is.

My spensskrop-lensiesop is een van daai dinge wat ek nie met  maatlepels of te veel voorafbeplanning aanpak nie, want die spens sal wel sorg.  Sopvleis is egter ‘n moet. Gebruik enige lensies, rooi of bruin, afhangende wat die spensskrop oplewer. Kook met ‘n takkie tiemie of marjolein in water (sonder sout) tot sag vir omtrent 40 minute.

Verbruin intussen bees-sopvleis in  bietjie botter en olyfolie in ‘n diep kastrol. Voeg  gekapte uie, speserye soos kerrie, ‘n paar  naeltjies, bietjie komyn en steranys by.  Roer ‘n paar lepels harissa* (Marokkaanse speserysmeer) daarby. Gooi opgekapte wortels by en ‘n tamatie vir die vog. Soteer stadig. As jy bang is dit brand aan, voeg ‘n klein bietjie hoenderaftreksel by.

Wanneer die wortels en uie glanserig en sag is, voeg 1,5 l hoenderaftreksel by. Prut tot die stoofvleis van die been afval. Voeg die gaar lensies by sop en laat ongestoord verder prut vir ‘n rukkie.  Loer en proe nou en dan. Skep sop in bakkies, rond af met ‘n lepel crème fraiche, suurroom of dik bulgaarse jogurt en rasper suurlemoenskil of lemoenskil bo-oor.

Wenk: koop klaargemaakte harissa of as dit nie anders kan nie, vervang dit met ‘n teelepel paprika en ‘n paar knippies rooipeper.

*Hierdie storie oor sop het ek geskryf vir ons kookboek Huiskok Glanskok.

Soppot – bymekaarkomplek van alle dinge

18 May

‘n Amerikaanse rubriekskrywer van ouds, Judith Martin, het só oor sop gepeins: “Is daar ’n gawer, meer aanpasbare vriend as sop? Is daar enigiemand wat verder uit sy pad sal gaan sodat jy heilsaam kan eet, maar ook op die oorvloedigste tafel sy man sal staan en die punteneurigste gas tevrede stel?”

Sop doen altyd sy lojaalste bes, dit maak nie saak watter onwaardige bestanddele jy daarop afdwing nie. En dan vra sy tereg: “het ‘n steak al ooit aan jou deur kom klop as jy platsak is of siek in die kooi lê?”

Harissagegeurde hoendersop met chermoulagebotterde krummels in my ouma se borde. Dis nou wel nie die tradisionele hoendersop van ons jeug nie, maar ‘n antidote teen winter-blues en koudkry soos min. Indrukwekkend.

Op ‘n druppend-koue wintersdag sorg ek dat die brood warm uit die oond kom en die wynglase vol bly. En dat daar ‘n mega-pot vol sop is as trooster, warmwatersak vir die siel en almal se vriend.

As ek aan sop dink, draai my gedagtes altyd by my vriend  en kunstenaar Theo Kleynhans, sopmaker extraordinaire.  “Sop is een van daai oergoed van die wêreld,” vertel hy. “Iets wat aan jou binnewand en aan jou genetika krap. As mens goeie sop eet, is dit soos om te onthou waar jy vandaan kom.”

Oor ‘n skeppie wortel, preie en aartappelsop -met ‘n sprinkel gekapte haselneut – vertel hy my, “met sop is daar nie wegkruipplek nie – as dit afskeep is word jy uitgevang.  Vir iets soos sop wat allerweë as sussende trooster gesien word, is sop eintlik nie vergewingsgesind nie.”

Sop dra ‘n groot verantwoorderlikheid, as ek die filosowe reg lees. Sop is waar alle dinge byeenkom – die omnium gatherum, volgens Marthinus Versfeld, ons  land se eie Sokrates. Hy skryf in ‘The Philosopher Cookbook’ dat jou eie wêreld in geen van jou ander potte met soveel harmonie bymekaar kom as juis in die soppot nie.

Wat van fyn kookkuns-sop? Ag nee wat, maak Theo beswaar. En hy kan van fyn kook. In sy jong dae het hy by die Groot Sjef Garth Stroebel sop se gastronomiese kant  goed leer ken. “As ‘n sop eers deur ‘n moeseliendoek gedruk moet word; of sop so deursigtig is dat dit met die lepel weg van jou af geëeet moet word, laat dit my koud en kriewelrig.”

Dus: ongekunstelde sop is sop vir kuier. Hy maak ‘n broccolisop met twee tots brandewyn en ‘n tot old brown sherrie wat jou drie dae laat huil as dit op is. Dan gooi hy geroosterde neute ook oor wat jou nog meer laat snik van verlange as die soppot sy bodem wys. ‘n Resep kan hy my nie gee nie, dit word soos sy kuns met geïnspireerde hale van die kwas gemaak, nie met soveel lepels dit en koppiesvol dat nie.

Ek hou van hitsige soppe uit die warm lande – Mexico en Noord-Afrika. Soppe wat stewig genoeg staan vir die winter se wyne:  Merlot, Pinotage, Cabernet. So ook romerige soppe, seekossoppe met gemmer gegeur, ander met vars sampioene geskep. Kortom, enige sop wat uit die kok se hart eerder as uit blikke kom, is welkom in my sopkommetjie.

Hier is ‘n paar resepte wat ek die afgelope winters bymekaar gemaak het. Doen moeite daarmee – onthou sop wat afgeskeep is, blaker dit uit aan die wêreld en sy maat.

Kyk uit: Volgende week vertel ek van brode wat geestesgenote vir sop is.

Meksikaanse ‘hiert jou rissipit sop’ met tortillas en sterk cheddar. Suurroom staan in om te lawe. Ag ek speel, dis nie so chili nie – jy’s in beheer van die byt.

Mexikaanse sop met rissies en tortilla skyfies

Hierdie Mexikaanse gemengde bone en rissiesop met tortilla tjips het behoorlik winterstewels aan. In die styl van chilli con carne sit jy dit voor met goed beleë cheddar, tamatie- en koljander salsa, gebreekte tortilla tjips vir kraak en suurroom vir lafenis. 

45 ml olyfolie

350 g beesvleis, in blokkies gesny

2 uie, fyn gekap

2 knoffelhuisies, fyn gekap

2 vars groen brandrissies, fyn gesny

5 ml rooipeper

10 ml gemaalde komyn

2 lourierblare

1 blik gekapte tamaties

900 ml goeie biefaftreksel

2 x blikkies gemengde bone

Bossie vars koljanderblare

Sout en vars gemaalde swartpeper

Tortilla skyfies, gerasperde kaas en suurroom vir opdiening

Metode:

Verhit die olie in ‘n groot kastrol en braai die beesvleis tot goudbruin.

Voeg die uie, knoffel en rissies by en braai vir nog 5 minute.

Voeg die rooipeper en komyn by en braai vir nog ‘n paar minute.

Gooi die aftreksel, lourierblare en blik tamaties by, prut vir ongeveer 1 uur tot die vleis baie sag is.

Voeg die bone by en prut vir nog 30 minute.

Roer die vars koljander by net voor opdiening en sit voor met tortilla skyfies, gerasperde kaas en suurroom.

Marokkaanse hoendersop met chermoula-gebotterde krummels. Bedien met suurlemoenskyfies.

Marokkaanse Hoendersop met Chermoula gebotterde krummels

Die Marokkaanse harissa-gegeurde hoendersop maak mens eintlik vir die halsbandjie: pikante chermoulabotter met broodkrummels, gegeur met koljander, knoffel, komyn, paprika, rissie, saffraan en skil van 1 groot suurlemoen, word oor die sop gestrooi. 

50 g botter

450 g hoenderborsies in repies gesny

1 ui fyngekap

2 knoffelhuisies gekneus

7,5 ml meelblom

15 ml harissa

1 liter hoenderaftreksel

400 g tamaties fyngekap

400 g blik kekerertjies,  afgespoel (jy kan ook botterbone byvoeg, soos ek gedoen het vir die sop op die foto)

Sout en varsgemaalde swartpeper

Suurlemoenskyfies vir opdiening

Chermoula:

50 g gesoute botter by kamertemperatuur

30 ml vars koljander, fyngekap

2 knoffelhuisies, fyngekap

5 ml gemaalde komyn

1 rooi rissie ontpit en fyngekap

‘n knippie saffraan

Gerasperde skil van ‘n halwe suurlemoen

5 ml paprika

1 koppie droë broodkrummels

Metode:

1. Smelt die botter in ‘n groot swaarboom pan. Voeg die hoenderrepies by

en braai vir 5 – 6 minute. Roer met ‘n houtspaan tot dit begin bruin word.

Verwyder die hoender met ‘n gaatjieslepel en laat staan eenkant.

2. Voeg die uie en knoffel in die pan en kook stadig vir 4 – 5 minute , tot sag maar nie bruin nie.

3. Roer die meelblom by en roer aanhoudend tot die mengsel begin bruin word.

4 Roer die harissa by en kook vir nog 1 minuut. Voeg die hoenderaftreksel geleidelik by

en kook vir nog 2 – 3 minute en die sop effens dikker word.Roer die tamaties by.

5. Voeg nou die hoender en die kekerertjies by. Plaas die deksel op en kook oor lae hitte vir nog 20 minute. Geur met sout en varsgemaalde peper.

6. Maak intussen die Chermoula botter. Plaas die botter in ‘n bakkie en klop die koljander, knoffel, rooirissie, komyn, safraan, suurlemoenskil en paprika by. Sodra die mengsel goed gemeng is word die broodkrummels bygeroer.

7. Skep die sop in warmgemaakte sopbakkies.Skep ‘n klein skeppie Chermoula botter-krummels bo-op en laat staan vir ‘n paar minute. Bedien met suurlemoenskyfies.

Marleen se Gemmer, Klappermelk- en Mosselsop

10 g Fyn gesnyde knoffel

70 g Fyn gerasperde vars gemmer

2 uie grof gekap

250 g botter

250 ml meel

6 blikkies klappermelk

500 ml melk

500 ml Durbanville Hills Sauvignon Blanc

1 kg mossels sonder skulp

1 kg mossels met halwe skulp

4 opgesnyde preie

Sout en peper na smaak

Braai knoffel, gemmer en uie in die botter tot deurskynend en roer dan die meel by.Voeg die klappermelk, melk en wyn by en laat dit kook.Voeg al die mossels by en kook 5 minute of tot gaar.

Braai 4 opgesnyde preie eenkant en voeg dan by die sopmengsel

Porcinisop

Bedien met Diemersdal Merlot

(Bedien 4)

2 groot uie, gekap

1 knoffelhuisie, gekneus

3-4 vars tiemietakkies

250 g bruin sampioene

50 g porcini*

1 k room

1 k rooiwyn

sout, peper, neutmuskaat & suurlemoen na smaak

Braai gekapte ui, knoffel en tiemie tot goudbruin. Voeg sampioene by en geur met sout en peper om ‘n aftreksel te vorm (die sout trek vloeistof uit die sampioene). Voeg room en rooiwyn by en kook 5 minute. Verpulp en gooi terug in die pot. Indien die sop te dik is, voeg nog room of melk by of meng ‘n eetlepel koekmeel met ‘n bietjie rooiwyn by die mengsel om dit dikker te kry. Proe en voeg suurlemoen en swartpeper by indien nodig. Sluit af met neutmuskaat. Bedien met vars brood.

*Indien jy nie vars porcini sampioene kry nie, kan jy dit vervang met ander wilde sampioensoorte (byvoorbeeld shiitake of oestersampioene), vertel Ladine Louw van Diemersdal. Of gebruik gedroogde porcini wat jy vir ‘n rukkie in kookwater week.

Lamskenkel, keker-ertjie en lensiesop

Die ideale maat vir De Grendel Merlot. 

2 koppies keker-ertjies (chickpeas)

2 koppies rooi lensies

1 kg lambskenkels

1,5 l water

10 ml sout

2,5 ml swartpeper

45 ml olyfolie

1 groot ui, gekap

2 knoffelhuisies, fyngekap

4 koppies spinasie, gekap

¼ koppie suurlemoensap

Soteer die uie, knoffel en lamskenkels tot die uie deurskynend is. Voeg water, lensies, kekerertjies en geurmiddels by. Prut sowat 2½ uur tot die skenkel van die bene afval. Voeg die spinasie by en kook 15 minute. Voeg suurlemoensap by. Geur na smaak. Bedien met die lamskenkel aan die kant of opgesny in die sop. Bedien met Marokkaanse platbrood.

Die chermoula gebotterde krummels van die Marokkaanse hoendersop resep is ook heerlik bo-oor hierdie sop.

{SOP, SIP EN BROODFEES, 2 en 3 Junie}

Weer die koue af saam met die wynplase in die Durbanville Wynvallei wat vanjaar die wynroete se vierde ‘Sop, Sip en Brood’ naweek aanbied. Elke wynplaas skep unieke sop-, brood- en wynervarings vir ‘n onvergeetlike besoek aan die vallei.

Vir nadere besonderhede oor Durbanville Wynvallei se Sop, Sip en Brood – wintergeleentheid, besoek www.durbanvillewine.co.za of skakel 083 310 1228 of epos info@durbanvillewine.co.za. Bespreek by die onderskeie plase

%d bloggers like this: