Tag Archives: tert

Mrs J se Marvellous Melktert

27 Feb

Die son begin sak oor Melktertdag 2020 en gooi lang skaduwees oor Ruiterbos, die denkbeeldige voorstad van die geliefde sepie Suidooster. Maar voor die dag om is deel Mrs J, matriarg van Ruiterbos die resep vir haar Marvellous Melktert. Dis so heerlik dat ek dit ingesluit het in die boek Suidooster Kombuis wat ek saam met haar, Stefan en Mymoena geskryf het.

Die mense van Ruiterbos vertel my dat as Mrs J sien jy’s bedruk, vra sy nie eers of jy ’n snytjie melktert wil hê nie, sy sny sommer klaar twee stukke.

Ek het haar uitgevra oor haar melktertresep en sy vertel: “Ek reël al jare die kerkbasaar se koek-en-terttafel. Mense kom vra altyd of daar nog van my marvellous melkterte oor is, maar dis altyd eerste uitverkoop, selfs voor my vriendin Mavis s’n. Ek weet nie hoekom ander bakkers hul resepte so teen die bors hou nie, want ek deel dit eerder uit. Dis mos die spirit.”

En wat haar resep anders maak? Dis maklik – net die kors gaan oond toe. Die vulsel word op die stoof gemaak en gaar ingeskep. Heerlik.” 

Mrs J se Marvellous Melktert 

Kors:

60 g botter, teen kamertemperatuur

60 ml strooisuiker

1 eier

250 ml koekmeel

5 ml bakpoeier

’n knippie sout

Vulsel:

600 ml melk

90 g botter

160 ml suiker

50 ml mielieblom

40 ml water

2 eiers, geskei

5 ml vanielje-, amandel-  of suurlemoengeursel

’n knippie sout

fyn kaneel

 Voorverhit die oond tot 200 °C. Smeer ’n 22 cm-tertpan.

Kors: 

Verroom die botter en strooisuiker saam. Voeg die eier by en klits tot gemeng.

Sif die meel, bakpoeier en sout saam. Voeg dit by die bottermengsel en meng tot ’n stywe deeg. Druk die deeg vas op die boom en kante van die tertpan.

Prik die boom van die kors oral liggies met ’n vurk. Plaas bakpapier oor die deeg en vul met droë bone, rys of bakballetjies. Bak die deeg blind vir 15 minute. Verwyder die bakpapier met droë bone, rys of bakballetjies. Verlaag die die oondtemperatuur na 180 °C en bak vir nog 15–20 minute tot die deeg bros en bruin is. 

Vulsel: 

Verhit die melk, botter en suiker oor matige hitte tot kookpunt. Verwyder van die hitte. Klits die mielieblom, water en eiergele saam in ’n klein mengbak. Voeg 250 ml van die warm melkmengsel by die eiergeelmengsel en meng baie goed.

Giet dan alles terug in die kastrol en roer vinnig met ’n houtlepel om goed te meng. Plaas die kastrol weer oor matige hitte en kook tot dik, roer gereeld om te voorkom dat dit vasbrand. Verwyder van die hitte en roer die geursel by.

Klits die eierwitte en sout tot stywe punte vorm. Vou dit by die vulsel in. Gooi in die gebakte kors en strooi kaneel mildelik oor.

 *Suidooster Kombuis is geskryf deur Errieda du Toit en uitgegee vir #kykNet deur Human & Rousseau.  Pragfoto’s deur Henk Hattingh.

Melktert op haar mooiste

27 Feb

Melktert, jou mooi ding.

img_8710

‘n Outydse melktert sal die supermodel Kate Moss haar woorde laat sluk dat niks so goed kan smaak soos dit voel om maer te wees nie. Sy het nog nie ’n melktert uit die oond gehaal wat haar eie maaksel is nie.

Melktert is die soet simbool van ons kultuurskat. Ons eet melktert as ons gelukkig is en as ons treur. Groot mans huil in hul harde baarde as die troostende geure hul terugvat na die duimvashou as kind dat daar genoeg vlapap in die kastrol sal oorbly om uit te eet.

By teepartytjies troon die melktert uit tussen koeksisters, konfyttertjies en haar ander soet gesante, en by kerkbasaars skouer gemeentelede mekaar om eerste by die melkterttafel uit te kom.

Melktert is ’n monument vir die selfbemagtiging van die tannies nommer sewe wat met die inkomste van hul tuisnywerheidmelkterte hul kinders geleer kry. So ’n tert verdien ’n nasionale dag.

’n Kykie terug
Melktert se stamboomwortels strek terug tot by die Romeine, pioniers van die eiervla. In die Middeleeue moes vindingryke kokke maniere bekook om die streng kerkreëls wat suiwelprodukte op vasdae verbied het, te omseil. Só het amandelpap, van amandelmelk, met gemmer en kaneel gegeur, ontwikkel, vertel die koshistorikus Hetta van Deventer-Terblanche.

Met die verslapping van die vasreëls het eiervla weer sy buiging gemaak, dié keer in ’n triomfantelike skilfer- of broskors. Selfs die tradisie om kaneel of kaneelsuiker oor te strooi, kom uit dié era.

Niggies en nefies van ons melktert kan steeds geproe word in Portugese vlatertjies, pastéis de nata, die Griekse galaktoboureko filo-vlatert, Frans-Baskiese amandel- en vlatert, Britse vlaterte, Filippynse vlagebak en Amiese vlapasteie in Noord-Amerika. Die Spanjaarde met hul flans, crema catalane en leche frita (gebraaide vla) is ook vlameesters, en die Italianers is verlief op torta di nonna met dennepit-vla en pasta ciotti – amandelgegeurde hand-vlatertjies.

Suid-Afrikaanse aksent
Al praat die melktert baie wêreldtale, proe jy die eg Suid-Afrikaanse aksent in die ligte amandel- en kaneelgeure in die ryk eiervla, nog effe drillerig in ’n goudbruin vlokkerige kors.
In my eie poging om melktert-fiks te raak het ek my eie melktert-drilkamp gehou, kenners geraadpleeg en selfs ook, soos my ouma, een oggend vieruur al in die kombuis gestaan om voor sonsopkoms te bak.

Vir Ouma sonder yskas was dit al manier om die veerligte lagies in die deeg te kry.

Maak jou melktert self of koop dit. Gaan korsloos; gebruik jou eie skilfer- of smeerkors of koop dit klaar. Strooi kaneel of kaneelsuiker oor, of hou dit naak. Al pleidooi is dat jy die dag ingaan met minstens twee terte; ’n ekstra een vir die nuwe buurvrou, jou tannie in die ouetehuis of jou tuinmaker.

Wie kan nou ’n outydse melktert soos dié weerstaan?

img_8705
Outydse melktert
As deel van my melktert-dissipelskap het ek ’n resep van Kokkedoor se Theresa de Vries as basis gebruik. Dis die toewyding dubbel en dwars werd. Solank jy vinnig werk en sorg dat die botter yskoud is, liefs gevries, flop dit nie. Dis ook heerlike ontvlugtingsterapie om die deeg 100 keer te gooi.

Maak 2  terte

Vir die skilferkorsdeeg
500g botter
500g (4k) meel
5ml (1t) sout
2 eiergele
300ml yswater
20ml (4t) suurlemoensap of brandewyn
ekstra eierwit, vir oorverf
Vir die vulsel
750ml (3k) volroom-melk
sowat 6 perskeblare of 2,5ml (½ t) amandelgeursel
75ml (5e) suiker
2 stukke pypkaneel
37,5ml (2½e) meel
37,5ml (2½ e) mielieblom
5ml (1t) sout
3 eiers, geskei

Begin met die skilferkorsdeeg:
1. Deel die botter in drie gelyke dele en hou dit in die vrieskas.
2. Sif die meel en sout saam in ’n mengbak.
3. Klits die eiergele, yswater en suurlemoensap of brandewyn saam. Voeg dit by die meel en meng totdat ’n stywe deeg vorm.
4. Knie die deeg tot glad en elasties – sowat 5 minute lank. Laat val die deeg 100 keer op ’n meelbestrooide werkoppervlak.
5. Rol die deeg in ’n vierkant van 35cm x 35cm en rasper ’n derde van die yskoue botter oor die deeg. Vou die deeg na die middel, sye bo-oor en koppe oormekaar. (Soos ’n mens ’n laken opvou.)
6. Rol weer uit, rasper nog ’n derde van die botter oor die deeg en vou weer soos beskryf. Herhaal nog een keer om die laaste botter te gebruik. Plaas die deeg oornag in ’n plastieksakkie in die yskas.
7. Rol die deeg uit en voer twee blikborde met die deeg uit. Verf bodem liggies met eierwit.
Nou is jy gereed om die vulsel te maak:
8. Voorverhit die oond tot 200°C.
9. Verhit die melk, die perskeblare of amandelgeursel, die helfte van die suiker en pypkaneel in ’n kastrol oor matige hitte. Verhit tot kookpunt.
10. Meng die res van die bestanddele, behalwe die eierwitte, saam met nog ’n bietjie melk en roer vinnig by die melkmengsel sodra dit begin kook. Kook totdat die mengsel dik is. Roer aanhoudend. Verwyder van die hitte.
11. Klits die eierwitte tot styf en vou dit by die melkpap in. Skep in die voorbereide deegkors. Bak 30 minute lank totdat bruin vlekke bo-op begin vorm. Eet louwarm.
Melktertwenke
* Gebruik perskeblare, pypkaneel, nartjieskil, vanielje of kardemom as geurmiddel.Wees spaarsamig met die amandelgeursel en gebruik ’n bietjie vanielje daarmee saam.
* Volgens Peter Veldsman kan drie of vier appelkoospitte saam met die melk gekook word vir ’n amandelgeur.
* Die koskenner Lochner de Kock sprinkel gemmer oor die deegkors voordat die melktertpap ingegooi word.
* As die eiers bleek is, gebruik ’n mespunt borrie om die vlapap se kleur te verdiep.
* Gebruik ’n plat bord met ’n oorhangrand, soos ’n blikbord, wat die hitte goed versprei. As die blikbord baie dun is, gebruik twee borde opmekaar.
* Rol deeg altyd net in een rigting–weg van jou af. Moenie die deeg rek nie,anders krimp dit met mening terug.
* Vir selfs swieriger pof, plaas ’n ekstra strook deeg, sowat 4cm breed, om die rand van die tertbord (direk op die bord, of bo-oor die deegvoering). Verf yswater op sodat die deeglae kan kleef.
* Moet liefs nie die uitgerolde deeg in borde in die yskas sit nie, want dit kan die kors aan die onderkant laat taai bak.
* Gooi die vulsel kokend op die uitgerolde deeg om te keer dat die kors taai word.img_8684

Beste Melktertboek ooit! 

Die soet ikoon van ons bakkultuur word nou gedenk met ‘n hip en heerlike kookboek. Mari-Louis Guy en haar broer Callie Maritz se opus Suid-Afrikaanse Melktertversameling het pas verskyn. Dit wys die mooie melktert in al haar gedaantes, met genoeg idees om haar op outydse, moderne, maklike en eksotiese maniere te geniet. Dit word deur NB Uitgewers uitgegee in hardeband. Dis ook in Engels beskikbaar. Elke kombuis verdien een.

Huiskok se vrugteslaaipaai – Aarbei, bessie en basiliekruidpastei

28 Jan

As die lewe jou vrugte gee, maak vrugteslaai, of beter selfs – ‘n landelike vrugteslaaipaai. ‘n Paai met ‘n bedwelmende parfuum en surrealisties mooi.

skreeupienk mooi

Somer is juis so ‘n seisoen van oorvloed. Aangevuur deur my huidige bakobsessie wil ek net van alles iets maak wat kan oond toe. Ek stuur my nie aan die hitte nie; trek net die kombuisskuifdeure wyd oop sodat die briesie my kan afkoel. ‘n Resep vir ‘n gebakte aarbei-pastei trek my aandag. In my yskas is daar juis vars aarbeie, bloubessies en klein swart vytjies wat ek vir ontbyt aanhou. In die vrugtebak op die eetkamertafel is daar ‘n paar ryp pruime en nektariens wat ook deel van die slaai-paai kan word.surreal vragte in bak

In ritme met die somer vra vars vrugte die groen smaak van vars kruie, eerder as die hartliker, warmer speseryegeure van kaneel en naeltjies. Om by die idee van die vrugteslaai-paai te bly word basielkruid, balsemiek-asyn en swartpeper die geurmiddels. Basielkruid is veral lief vir perskes, appelkose, bloubessies. Ander kruie en vrugte wat dik pelle is: druiwe of aarbeie met roosmaryn; kruisement met frambose; tiemie met perske. surreal pastei half close up top shot

AARBEI, BLOUBESSIE EN BASIELKRUIDPASTEI

Deeg:

1k (225g) yskoue ongesoute botter in klein blokkies gesny

½ k (125 ml) volroommelk, gemeng met 1 E appelasyn (koud) + ekstra 15 -20 ml indien nodig

3 k (340g) meel (koud)

1 E mielieblom

2 E (30 ml) suiker

1 ½ t sout

Sif die meel, mielieblom, suiker en sout saam in ‘n koue bak, voeg die koue blokkies botter by en sny dit by die meel in tot dit soos ertjies lyk. Ek gebruik eerder ‘n deegsnyer as my vingerpunte wat die botter sal laat smelt. Sprinkel net genoeg van die melk-met-asyn oor die meel om dit aan te klam. (As die deeg nog te droog is, voeg nog vloeistof lepel op ‘n slag by tot die konsistensie reg is. Druk dit met ‘n vurk aanmekaar MAAR MOENIE dit knie nie. Vou in kleefplastiek toe en laat rus in die yskas (minstens 1 uur).

*Die deeg kan ook in ‘n voedselverwerker gemaak word.

Voorverhit die oond tot 220C en rol solank die een helfte van die deeg in ‘n sirkel uit sowat 28 cm deursnit, voer die tertpan uit en plaas in die yskas. , bedek met kleefplastiek.

Nou maak jy die ‘slaai’ vir die vulsel:

In ‘n mengbak meng sowat 7 koppies vrugte soos aarbeie, bloubessies, vye, nektariens of pruime, opgesny, en gooi 12 opgekapte basielkruidblare, 3 E balsemiekasyn en skil van 1 suurlemoen.

In ‘n aparte bak meng ¾ k suiker, ¼ k mielieblom, 1 t varsgemaalde swartpeper en ‘n ¼ t sout.  Net voor jy die vulsel in die tertpan skep, tip die vrugte daarby in en meng sommer met die hande deur.

Smeer die rand van die kors met ‘n eierwas (1 eier gemeng met  ¼ k water) of met melk.  Skep die vulsel in. Rol nou die ander helfte van die deeg uit op ‘n meelgestrooide oppervlakte en sny in 6 breë stroke, plaas dit in ‘n weefpatroon (of hoe jy verkies) oor die vrugtevulsel.

Vou die oorhang deegstukke om, en crimp ‘n mooi sierrand. Bestryk nou die deeg met eierwas, strooi bruinsuiker oor.  Sit die tertbak op ‘n oondrak wat enige souse wat uitborrel kan opvang. Bak die eerste 30 minute by 220C, verminder die hitte na 180C en bak ‘n verdere 30 tot 40 minute tot die kors goudbruin is en deurgebak wees; en die sous verdik het. ‘n Goeie aanduiding is dat die stroop in die middel sal borrel, dan’s dit reg.

Laat afkoel vir minstens ‘n uur. Dit kan teen kamertemperatuur of effe louwarm geniet word. Dit hou ‘n week in die yskas of tot 2 maande in die vrieskas.

Up close and personal met 'n vrugteslaaipaai

Up close and personal met ‘n vrugteslaaipaai

 Vir inspirasie, lees First Prize Pies, deur Allison Kave wat ‘n ‘pie-shop’ het in New York.

%d bloggers like this: