Tag Archives: verkoue

Ian se Huweliksformulier Hoendersop

3 Jun

n Storie van griep, liefde en ‘ in-siekte-en-gesondheid’ hoendersop

Ine een van ons troufotos is geraam nie, maar die huweliksformulier-hoendersop kry 'n raam om.

Nie een van ons troufotos is geraam nie, maar Ian se huweliksformulier-hoendersop kry ‘n ereraam.

 Dis winter, en die mense word een na die ander platgetrek deur ‘n nare griep. Ek is die eerste pasiënt in ons huishouding. So ellendig en jammer vir myself, dat my man Ian besef hy sal moet inspring en die TLC mildelik uitdeel saam met die bruistablette en arsenaal ander medisyne.

Hy het selfs gaan inkopies doen (sy pet-hate), nie net vir Vicks en sneesdoekies nie, maar vir alles wat hy sou nodig kry om ‘n behoorlike ‘penisillien-hoendersop’ te maak. Hy’t selfs ons volgraan-vrybrood gebak wat 35 jaar gelede die liefde tussen ons beklink het. Die hele Saterdagmiddag wat ek onder dik komberse koud, dan warm kry, hoor ek die kookklanke uit die kombuis uit. Ek weet nie wat daar gaan uitkom nie, want hy het nog nooit self sop gemaak nie, wat nog te praat van sop vir ‘n kranke. Later die middag word die sop aangedra. Terwyl ons eet is die kontras tussen ons groot: hy die toonbeeld van sterkte en gesondheid in sy mooi grys trui; ek met rooi neus en flannel pajamas. Ek sê: ‘die toneeltjie is nou so uit ons huweliksgebooie… In sickness and health.’ ‘Staan dit daar?’, vra hy. Ek lag tussen die kug deur. Al onthou hy nie woorde van die huweliksformulier nie, leef hy elke komma en punt van sy ‘I do’ met sop en brood uit.

Ian doen voorbereidings vir die tweede hot & sour variasie

Ian doen voorbereidings vir die tweede hot & sour variasie

Ian se Huweliksformulier Hoendersop Ian het sy  resep dikteer vir hierdie storie, ek het neergeskryf… ‘n heerlike eerste in ons huwelik.  Bestanddele  

  • 1 medium na kleinerige heel hoender
  • Bietjie olie (so ‘n glug-glug sê hy)
  • 2 groot of 3 medium uie, opgekap
  • 2 preie, goed gewas en in ringe gesny
  • 125 g sampioene, afgevee en in skyfies  gesny
  • 3 vet knoffelhuisies, gerasper
  • Stuk gemmer so groot soos jou duim, in vuurhoutjies gesny
  • 1-2 rooi brandrissies, ontpit en opgekap (as jy dit baie warm soek, hou meer van die saadhuis in)
  • Groot bos sopseldery, gekap (hou 1/4 hiervan  apart)
  • 1 bossie sprietuie (sowat 5 stingels) in ringetjies gesny
  • Sout en witpeper
  • Bossie  pietersielie, gekap (hou 1/4 apart)
  • 2 groot geelwortels, geskil en in vuurhoutjies of ringetjies gesny
  • 2 hoender blokkies, opgelos in 250 ml kookwater
  • 2.5 l kookwater
  • 15 ml heuning
  • 30 ml sojasous
  • 10 ml borriepoeier of duimgrootte vars borrie, geskil én gerasper
  • 4 eetlepels rysasyn (kan met sap van 1 suurlemoen vervang word)

Metode Verhit olie in groot kastrol. Verbruin hoender beide kante. Voeg uie, preie, sprietuie en sampioene by en braai sowat 5 minute saam. Voeg rissie en knoffel by en braai 1 minuut.  Voeg wortels, ¾  van die pietersielie en ¾ van die sopseldery by.  Bedek met die kookwater, gooi aangemaakte hoenderaftreksel by, plaas deksel op en prut minstens 60 minute tot hoender afval van die been (draai 2 keer om tydens die kookproses). Haal hoender uit, pluis van die been af en voeg die vel ook by. Verwyder alle bene en oppas vir fyn beentjies. Sny groter stukke vleis in kleiner happiegrootte en plaas die vleis terug in die kastrol. Voeg heuning, sojasou, borrie en rysasyn by, prut nog 20 minute. Proe en geur na smaak. Roer die orige pietersielie en sopseldery by.

Hitsig en in harmonie met die suur - die bekende hoendersop raak onder Ian se hand liefdesdoepa.

Hitsig en in harmonie met die suur – die bekende hoendersop raak onder Ian se hand liefdesdoepa.

Voetnota: Ian maal altyd peperkorrel self in ‘n stamper en ‘n vysel. Dit laat hom vir hierdie sop waarlik soos ‘n apteker voel. Die medisinale waarde van hoendersop blyk nie net ‘n duisende jare ouvroustorie en kwaksalwery te wees nie. Navorsers neem die onderwerp al hoe ernstiger op, met studies wat aandui dat hoendersop wel verligting van verkouesimptome teweeg bring. Dit werk klaarblyklik in op die neus, wat kongestie verlig. Dit aktiveer selfs die fyn haartjies in die neus wat daartoe bydra dat mens tot ‘n halfuur na ‘n hoendersopmaaltyd verligting van toe-neus en gebloktheid kan ervaar. En dan voel jy sommer beter. Daarmee saam kry mens ook vloeistof in, en meer voedingstowwe. Ek eet beslis eerder ‘n bakkie hoendersop voordat ek neussproei gebruik. Veral as dit Ian se sop is.

%d bloggers like this: