Tag Archives: winterkos

Gebakte sjokolade-koffiepoeding met sy eie sous

18 Jun

B4527C5A-3C87-48DB-A896-9B19C1AFBFF5
Het iemand iets gesê van morsig, modderig, sjokoladerig, koffierig, souserig, poedingrig én sjokoladekoekerig?

Gebakte sjokolade-koffiepoeding met sy eie sous
Bedien 6

250 ml (150 g) bruismeel
60 ml kakaopoeier (Nomu s’n baie lekker)
Goeie knippie sout
125 ml (100 g) strooisuiker
125 ml melk
1 eier
70 g botter, gesmelt + ekstra gesmelt om poedingbak te smeer
80 g (125 ml liggies gepak) bruinsuiker
375 ml kookwater
15 ml kitskoffie-korrels of –poeier
Vir bediening: geklopte room of vanielje-roomys

· Voorverhit oond na 180°C. Smeer 1.5 l oondvaste bak met gesmelte botter, plaas op ‘n bakplaat vir ingeval dit poeding oorloop.
· Sif die meel, 30 ml kakao en sout saam in ‘n bak. Roer die strooisuiker by.
· Klop die melk, eier en gesmelte botter in beker tot goed gemeng. Voeg dit by die meelmengsel en roer met ‘n houtlepel tot glad. Skep dit uit in die gesmeerde oondbak. Maak die oppervlakte gelyk met die agterkant van ‘n lepel.
· Plaas die bruinsuiker in ‘n bak, sif die oorblywende kakao oor die suiker en meng saam. Sprinkel die kakao-suikermengsel eweredig oor die poeding .
· Meng die kookwater en koffie in ‘n beker en giet dit geleidelik oor die agterkant van ‘n groot lepel oor die poeding (die lepel verhoed dat die vloeistof ‘n gaatjie in die deeg maak as jy dit ingooi).
· Bak 40 minute of tot die bokant soos koek begin lyk en ‘n toetspen wat halfpad in die middel ingedruk is, skoon uitkom. (Moenie tot onder indruk nie, anders sal die sous aan die pen kleef).
· Laat staan 5 minute sodat die sous onder die koeklaag effe kan verdik. Bedien warm, sodat die koek nie te veel van die sous absorbeer van lank staan nie.

Bedien met room of roomys. (Resepbron: Taste Australia)

 

Wild en wyn: koedoe sirloin en rooiwynsous / koedoe ossobuco met lensies en origano

5 Jun

9FD91CD8-84DA-406B-92B6-B183C0F5E52FMy pa was nie ‘n jagter nie. Was dit nie vir die groothartigheid van ooms, neefs en vrygewige vriende van die familie wat wel gejag het nie, het ek nooit my tande gesny op wildsvleis nie.

My ma het ook haar ruilhandel-vernuf ingespan – ‘n blik vol van haar beroemde soetsuurdeeg-boerbeskuit vir ‘n Springbokboud. Sy het die vleis sorgsaam gelardeer, in karringmelk laat lê vir dae en ewe tydsaam gaargemaak. Was haar meevallertjie ‘n wildsbladjie is dit ook eers gemarineer, aangevul met skaapskenkels en gekook tot dit in rafeltjies gepluis kon word vir pastei met ‘n suurroomkors of ‘n loopdegie. Die stampkoring, gestoofde perskes of kweperjellie daarby is diep ge-ets in my smaak-geheuebank.

83CB8E3C-DFF3-4325-B4DF-EB83D2E8E9A0Wildsvleis is deesdae makliker en deur die jaar beskikbaar. Om my repertoire uit te brei raadpleeg ek die wildsvleiskenner en verskaffer Hennie Blom van Cape Venison Company ‘n klipgooi van my huis.

Uit die wye keuse van springbok, koedoe, eland, gemsbok, impala, blesbok, blouwildebees, selfs bosvark en ‘wild boar’ is dit die imposante koedoesnitte wat my oog vang vir die geregte wat ek in gedagte het: skenkel vir die stadige wyngestoofde ossobuco en ‘n lieflike bielie van ‘n koedoe-kruisstuk (sirloin) wat smeek vir ‘n shiraz-sous en vinnige gaarmaak. Geen gemarineerdery vir dae of gevorderde larderingstegnieke met hierdie twee resepte nie.

A4814B7E-A826-4ED5-89C8-2B0AAF409926B233FF18-B1D3-4505-82E6-A9B6D73787A903807D6E-B31A-45D1-854B-96EF2773F75FKOEDOE-KRUIS (SIRLOIN) MET SHIRAZ-SOUS

Die murgsagte kruissnit (sirloin) is ‘n goeie ewewig vir die donker, volronde dimensies van die shiraz. Die gemoute melkpoeier Horlicks is ‘n verrassende byvoeging tot die invryfmengsel en help met karamelisering, volgens Saveur. Die wyn in die sous en glas: Jordan The Prospector Syrah 2015.

Bedien 4 – 6

30 ml gemoute melkpoeier (Horlicks, Ovaltine of Malty)
30 ml poppiesaad
10 ml gedroogte tiemie
7,5 ml vars gemaalde swartpeper
10 ml fyn sout plus ekstra na smaak
90 m botter
1,2 kg heel wildkruis, verdeel in 2 om in pan te pas
4 salotte of 1 ui, in dun snytjies
3 takkies vars tiemie
2 heel naeltjies
125 ml Shiraz
170 ml wild- of hoenderaftreksel

Voorverhit die oond na 205°C.
Vir die invryfmengsel meng die gemoute melkpoeier, poppiesaad, gedroogte tiemie, sout en swartpeper saam in ‘n bakkie. Strooi die invryfmengsel op die bodem van ‘n bord en rol die vleis in die mengsel, druk dit liggies met die hand sodat die mengsel goed vassit. Laat rus teen kamertemperatuur vir 10 minute.

Smelt 60 ml botter in ‘n groot oondvaste pan oor matige hitte. Sodra die botter sis, voeg die vleis by en verminder die hitte effens. Braai die vleis 3 minute op die een kant, draai op die een sy en braai nog 3 minute, dan op die derde kant vir 3 minute. Die vleis is nou op net drie kante gebraai. Voeg die uie, tiemie, heel naeltjies in die pan en roer liggies deur die botter. Plaas nou die ongebraaide kant na onder en braai 2 minute.

Plaas die pan in die oond en rooster 5-8 minute sodat dit nog pienk in die middel is (interne temperatuur 52°C). Haal uit die pan en laat rus terwyl jy die sous maak.

Sous: plaas die pan oor matig-hoë hitte, voeg rooiwyn by en laat opkook tot die helfte gereduseer. Voeg die hoenderaftreksel by en kook sowat 3 minute. Voeg 30 ml botter by, roer nou en dan tot gesmelt en sous soos dik room is. Roer vleissappe uit die vleisbord by. Proe en geur. Giet die sous deur ‘n sif direk in die opdienbord.
Sny die vleis in 2,5 cm dik medaljes en plaas bo-op die sous. Bedien dadelik.

32C71374-24AB-4EC8-8D35-1857B8EC0814D204B7BA-691D-4452-A71D-B452A396EE3BKOEDOE OSSO BUCO MET LENSIES EN ORIGANO

Hartlike osso buco, tradisioneel met kalfsvleis en witwyn gemaak slaan hier ‘n nuwe rigting in met koedoe, lensies en shiraz. Lemoen-origano gremolata kikker dit op. Strandveld Wineries First Sightings Shiraz 2015 met sy kenmerkende witpepergeure is saam pot en wynglas toe.

Bedien 6

125 ml koekmeel
2 kg koedoe-skenkel, opgesny vir osso buco in redelike dik stukke*
4 skaapstertjies (opsioneel)
1 groot prei, gekap
2 wortels, gekap
2 selderystingels, gekap
375g bruinlensies
250 g sampioene
500 ml shiraz
500 ml lemoensap
2 liter goeie beesaftreksel
6 lourierblare
Blaartjies van halwe bossie oregano

Lemoen- en oregano gremolata:

125 ml olyfolie
fyngekapte blaartjies van 1 bossie origanum en 1 bossie pietersielie,
fyngerasperde skil en sap van 1 lemoen en 1 klein suurlemoen, en 1 gerasperde knoffelhuisie (opsioneel)

Voorverhit oond na 160°C. Geur meel met 2,5 ml elk sout en peper. Rol vleis in meel en skud oortollige meel af. Verwerk die prei, wortel en seldery saam in ‘n voedselverwerker tot fyn. Verhit 80 ml olie in ‘n groot swaarboom-kasserolbak oor hoë hitte, verbruin vleis in 2 sarsies 3-4 minute aan ‘n kant. Haal vleis uit en hou eenkant, gooi oortollige olie af.

Voeg preimengsel en 80 ml olie in die pot, braai 6-8 minute tot sag en dit begin vang op die bodem. Voeg lensies en sampioene by en roer deur. Voeg wyn en lemoensap by en bring tot kookpunt, verminder hitte, skraap bodem met ‘n houtlepel en prut tot vloeistof geabsorbeer is, sowat 5 minute.

Voeg aftreksel, lourierblare, oregano en vleis by, bring tot kookpunt, plaas deksel op en stowe in die oond tot vleis van die bene loskom, 2 ½ – 3 ure of langer. Bak nog 30 minute sonder deksel by 200°C.

Meng die gremolata-bestanddele saam in ‘n bakkie. Skep osso buco in diep borde, strooi gremolata oor en bedien met fyngerasperde wortel- en lemoenslaai.
*wenk: bind kombuistou om elke stuk, dan hou die vleis sy vorm en kook eweredig.
75F8DFEE-D935-4F87-908F-97531892D68E1C23CF7F-A503-4105-94D4-66AEE99B31F2

* Vier die uitstekende verhouding tussen wildsvleis en wyn tydens Sewe Dae met Wild & Shiraz wat 11 tot 17 Junie gevier word op 30 wynplase. Besoek http://www.shirazsa.co.za vir volledige program.
* Cape Venison slaghuis en delikatesse is geleë in die Welgelegen Sentrum, Malmesbury-weg, Welgelegen. Tel. 021 558 9005

Fotografie: Ian Du Toit

Stilering: Errieda Du Toit

 

 

Lamsnek in die stowepot

31 May

Ek probeer die reëngode lok met hartlike winterkos.

IMG_0951

Net vir ingeval hulle uitgeëet is aan Kaapse bredies, word die kasserolbakke uitgehaal vir twee Franse stowegeregte. Ek gee die reënmakers ‘n omkoopkeuse tussen:

(a) lamsnek navarin, ‘n ligter stowepot van jong, babasoet groente, altyd rape (‘navare’),  altyd witwyn.

IMG_0944

EN

(b) lamsnek bourguignon, donker en dramaties van al die rooiwyn, bruin sampioene en blokkies gerookte varkspek.

Sulke stowepotte is maklik om te maak, met die bedwelmende aromas van stowevleisvleis, vars groente en kruie (eerders as speserye) om die hardnekkigste reënmaker uit sy wegkruipplek te lok.

, wat die Franse die kraag of nek noem (‘collet’ of collier) is ‘n gesogte snit vir stowegeregte. Julia Child prys die gelatien in die nek om diepte aan die sous te gee, terwyl Raymond Blanc ‘n voorstander is om vleis op die been, soos skywe lamsnek gaar te maak om rykheid aan ‘n ongekompliseerde gereg te gee.

Ek het beginsels uit die twee legendariese kenners van die Franse kookkuns se navarin-resepte geneem vir my Kaaps-Franse weergawe van die delikate lamstowegereg met jong wortels, rape, radyse, jong aartappeltjies en ertjies, gewoonlik ook groenbone.

Dit word tradisioneel, veral in skaapwei-streke soos Normandië, in lamseisoen gemaak wanneer die lentegroente nog piepklein was. Met ons tusseninweer, is dit heerlik lig, maar tog vullend as die kwik  sak.

IMG_0942

Vir die bourguignon het ek Julia Child se metode uit Mastering the Art of French Cooking net gevluglees, want ‘n drie-bladsy-resep is selfs vir my wat nie omgee vir tydrowende geregte nie, net te pedanties!

My weergawe is aansienlik vereenvoudig, met baie goeie resultate. Ons sal maar moet sien of die reëngode saamstem.

LAMSNEK NAVARIN

Met witwyn en jong groente vir die tussenin dae wat die winter soos lente voel.

Maak 6 – 8 porsies

  • 2 lamsnekke, in lengte gehalveer, en elke helfte in 2 stukke te sny (of  ‘n mengsel van lamsnitte soos kortribbetjies, opgesnyde skenkels of bladtjops)
  • Olyfolie of varkvet
  • Sout
  • 2 uie, gekap
  • 2 medium geelwortels, in blokkies
  • 1 selderystingel, opgekap
  • 4 knoffelhuisies, gekneus
  • 250 ml witwyn (soos ‘n droë Chardonnay)
  • 6 peperkorrels
  • 1 kruieruikertjie (2 lourierblare, 5 takke pietersielietakke, 1 tak roosmaryn, 4 tiemietakkies)
  • 2 ryp tamaties, in blokkies
  • 6 jong rape, geskil en in helfte gesny
  • 6 radyse, gewas, behou stukkie stingel en stertjie
  • 12 jong wortels, met stukkies groen stam, hou heel
  • 12 jong aartappeltjies, ongeskil
  • 4-6 babavinkel, gehalveer (opsioneel)
  • 250 ml bevrore ertjies
  • Klont sagte botter

Metode:

Voorverhit die oond na 160°. Druk die vleis droog en sout goed.

Verhit die olie in ‘n groot, hittebestande kasserolbak en verbruin  die nekstukke. Skep uit.

In dieselfde bak, soteer die uie, knoffel, wortelblokkies en seldery. Roer tamatie by en braai ‘n minuut of so.

Plaas die vleis terug in die pan met die kruieruikertjie en peperkorrels. Gooi die wyn by en bedek met genoeg koue water om die vleis te bedek. Laat dit net liggies opkook en skep die skuim af van die oppervlakte.

Plaas deksel op, plaas in die oond en bak sowat 90 minute. Intussen, berei die jong groente voor en vroeg by (behalwe ertjies). Bak tot die vleis loskom van die bene en die groente vurksag. Gooi ertjies by.

Verwyder die kruieruikertjie. Geur met sout en peper na smaak, roer die sagte botter by.

Plaas die oondbak op die tafel en skep uit in diep borde. Sit voor met Franse brood of ‘n sourdough-tipe brood.

Nou die ander keuse:

LAMSNEK BOURGUIGNON 

Bedien 4

  • 1,2 kg lamsnek, in skywe gesny (of  ‘n mengsel van lamsnitte soos kortribbetjies, opgesnyde skenkels of bladtjops)
  • 12 pereluitjies, geskil
  • 60 ml koekmeel
  • 15 ml olyfolie
  • 20 g botter
  • 6 stroke ontbytspek sonder swoerd, opgesny
  • 250 g sampioene
  • 2 knoffelhuisies, gekneus
  • Kruieruikertjie (1 lourierblaar, 2 pietersielietakke, 1 roosmaryntak vasgebind met kombuistou)
  • 250 ml rooiwyn
  • 250 ml goeie beesvleisaftreksel
  • 15 ml ligte bruinsuiker
  • 30 ml tamatiesmeer

Metode:

Voorverhit die oond tot 180°C. Skil die uitjies.

Maak ‘n snit deur die vetstrook van die vleis, wat keer dat die vleis opkrul. Geur die vleis goed met sout en bestrooi liggies met die meel.

Verhit die olie in ‘n kasserolbak en verbruin die vleis aan albei kante. Verwyder en hou eenkant.

Smelt die botter in dieselfde bak, voeg die uie, sampioene en spek by. Laat liggies braai tot goudbruin terwyl jy roer. Roer die tamatiesmeer en bruinsuiker by. Plaas die vleis terug in die bak saam met die kruieruiker. Giet die wyn en aftreksel oor.

Bak met die deksel op vir 90 minute, haal die deksel af en bak nog sowat 30 minute tot die vleis sag is. Plaas kasserolbak op die tafel en bedien met Franse brood, of kapokaartappel, heerbone of gort.

Notas:

Gebruik ‘n mengsel van lamsnitte soos kortribbetjies, opgesnyde skenkels of bladtjops.

Die smaak is op sy beste die volgende dag.

Vir ‘n amber sous, strooi ‘n bietjie suiker oor die vleis, braai en roer 3 minute oor hoë hitte tot die suiker gekaramelliseer het.

Wissel die navarin-groente af met enige gaar bone of lensies (voeg in die laaste 30 minute van die kooktyd by).

  • Deli-Co het die lamsnekke vir die geregte verskaf. Die plaasstyl-slagters lewer by sentrale punte af in die Noordelike Voorstede. Besoek www.delico.co.za of loer in by Deli-Co se vleis-en plaasstal by Potbelly in Klapmuts.
  • Die kos en stilering is gedoen deur Errieda du Toit en die foto’s deur Ian du Toit.

Lamsvleis lieslapsop met gebraaide tortillarepe

26 Apr

Nee, nie loslappie nie…Lieslappie!

Lieslap is nie juis ‘n poëtiese naam vir ‘n lamsvleissnit nie. Onder aanmoediging van die bedagsame, geduldige huiskok is lieslap tot baie in staat is – sommige sal glo dit oortref duurder, deftiger snitte.

lieslap sop Edit-1305

“Ek moet bieg, ek staan altyd weerloos, skaamteloos en roekeloos voor ‘n stukkie lieslap” vertel Diana Ferreira, pottebakker en entoesiastiese eter.

Haar kommentaar som die reaksie op van my kosvriende se lieslappraatjies op Facebook. Deur hulle win ek meer as veertig maniere om dit gaar te maak.

Lieslap laat baie dinge met hom doen: in blokkies gesny en uitgebraai tot kaiings om saam met varsgebakte brood en appelkooskonfyt te eet. Of om soos staanrib of skaapstertjies langsaam bros-kraak gebraai te word by die braaikole, net met sout, peper en suurlemoen. Koljander en Worcestershiresous opsioneel.

Wat sê ander lieslappers:

Al hoe meer gerekende stemme uit kulinêre kringe sien lamslieslap as die nuwe ‘pork belly’. (Pork belly is juis varklies- en ribbetjie in Afrikaans).

Sjef Almay Jordaan laat weet uit Melbourne dat sy blokkies lieslap stadig kook in ‘n soetsuur tamatiesous. “Met gnocchi en parmesaan daarby is dit die beste naweek-aand aan-die-slaapraak maaltyd.” Haar raad egter:  laat staan die lieslap bredie oornag sodat die meeste vet afgeskep (gebruik vet vir ‘n ander dis, natuurlik) , anders is dit ‘n gal-aanval wat wag.”

Ook die epikuur Marlene van der Westhuizen, aanbieder van ‘Van Skaapstert tot Camembert’ praat saam. Sy Sit die lieslap heel in ‘n pot met witwyn. Daarby gekapte ui, sout en witpeper. Ook hoenderaftreksel, gekapte groenbone en klein aartappeltjies. Wanneer die lappie murgsag is word dit in happies gesny en teruggeroer in die bredie. “Salig met ‘n glas Pinot noir.”

(Proe aan nog lieslapper-idees onder toe)

LAPSOP  (Lieslap-lensiesop met gebraaide tortillarepe)

Die ding van lieslap is dat dit met geduld van jou kant af rafelsag kook vir bredie of sop. Die bindweefsel smelt behoorlik saam met die vetjies en transformeer die aftreksel in ‘n diep-behaaglike brousel.

Vandat vriendin Nelia Viviers na lieslap as soplap verwys het, bly ‘n lapsop by my spook. Toe ek onlangs vir Piet Marais en Frik Oosthuizen van Santa Anna’s-faam ontmoet en die manne se tortillas proe kom die antwoord: Tortillasop met gepluiste lieslap eerder as gepluiste hoender soos die Mexikane dit maak.

  • 45 ml olyfolie
  • 1 lieslap, in 4 kleiner stukke gesny
  • 2 medium uie, fyn gekap
  • 2 knoffelhuisies, fyn gekap
  • 2 vars brandrissies, fyn gesny
  • 5 ml rooipeper
  • 10 ml gemaalde komyn
  • 2 lourierblare
  • 1 blik gekapte tamaties
  • 1 liter vleisaftreksel
  • 1 blik rooi nierbone, afgespoel
  • 375 ml gaar lensies
  • Sout en peper
  • 1 bossie vars koljander, gekap
  • Gebraaide tortillarepe
  • Verskeidenheid smaaktooisels soos gerasperde kaas, suurroom, vars koljanderblare, tamatie- en uie-salsa, avokado.

Verhit olie in ‘n sopkastrol en braai vleis goudbruin. Voeg uie, knoffel, rissies, rooipeper en komyn by en soteer.

Gooi aftreksel, lourierblare en tamaties by, prut tot vleis baie sag is. Maak intussen die gebraaide tortillarepe.) Voeg die gekookte lensies en nierbone by, prut nog 30 minute. Pluis liesvleis en gooi terug in die sop. Proe en geur. (Maak intussen die gebraaide tortilla-repies).

Roer vars koljander by, skep in bakkies, plaas gebraaide tortillarepe en smaaktooisels bo-op.

Gebraaide tortilla-repe

  • 15 ml kookolie
  • 2 tot 3 sagte tortillas, verkieslik Santa Anna’s

Sny tortillas in dun stroke. Verhit olie in ‘n pannetjie oor matig-hoë hitte en braai stroke in enkellaag. Draai om na 30 sekondes en braai ander kant. (Dit word bros wanneer dit afkoel). Dreineer op kombuispapier.

Kookkos-ikoon Tannie Poppie Coetzer sny dit op en kook dit met stampmielies tot papsag. en eet dit met braaikool.

Mede-lapliefhebbers Christo de Beer tru eers ‘n stap terug voor hy dit oond toe vat. Hy vee dit met asyn af, strooi growwe sout oor en laat dit eers ‘n week onder ‘n net in ‘n koel plek hang.

‘Hoekom nie lieslap kombineer met bacon nie, siende dat die Hollanders na bacon verwys as speklappies, stel Pieter du Toit van Cederberg Wyne voor.

Ander weer bak dit oornag in ‘n oondpan met dik uieskywe, knoffel, olyfolie en bietjie growwesout en swartpeper, toegemaak met foelie. Oond so 90°C.

Met slappap, uiekonfyt en tamatieslaai is dit Ena Bester Posthumus se koningskos. “Sny dit in klein blokkies, vryf in met asyn, koljander, fyn naeltjies, sout en growwe peper, pak in oondbak met ‘n klein bietjie water. Bak met die deksel op tot sag. Strooi bietjie bruinsuiker oor en bak sonder deksel tot kraakbruin en vog weggekook is.

  • Kyk uit vir my volgende kosstorie waar ek die resep gee vir gestoofde lieslappies opgerol in Medittereense smake. 
  • Besoek www.delico.co.za vir Delico se aanlynbestellings en afsetpunte in Riebeek-Kasteel en Klapmuts.
  • Resepte en foto’s: Errieda en Ian du Toit

Oud en nuut in die koekieblik: internetkoekies, outydse soetkoekies en gemmer-kaneelkoekies met witsjokolade

10 Jun

’n Vol koekblik is ’n wonderlike ding. Dis bêreplek vir ouma se koekies, vakansiekoekies en dominee-kom-kuierkoekies. Selfs al is die blik leeg, dra dit die herinneringe van bruinsuiker en goue stroop, van gemmerkoekies, rotskoekies, anyskoekies, soentjies en skurwejantjies.

Ek bak graag  in die winter gemmerkoekies, gedruk in witsjokolade, vir die koekieblik.

Ek bak graag in die winter gemmerkoekies, gedruk in witsjokolade, vir die koekieblik.

Koekies het hul eie magic. Mens hoef net ‘n soetkoekie in ‘n glas melk te druk om weer kind te voel, of ‘n gemmerkoekie in warm tee te doop om gekoester te voel. ‘n Ou vriend van my, Coenie Meyer (bless his soul, het my die grootmenslekkerte geleer om Gingersnaps in goeie whisky te doop – ‘n uitstekende warmwatersak as die winterkoue jou vingers laat krom trek en die wind jou tande laat klap.

Dis egter nie net ou familiegunstelinge wat die koekblikke vol maak nie; nuwerwetse weergawes wat ‘n spieël van ons tyd is, soos die internetkoekie, maak ook sy buiging.

Mareli Visser, Koekedoor-wenner is van Douglas met haar koekblik op die Koekedoorstel.

Mareli Visser, Koekedoor-wenner is van Douglas met haar koekblik op die Koekedoorstel.

{Die hede}

INTERNETKOEKIES

Internetkoekies was een van die nuwe-generasie kleinkoekies wat sy verskyning op Koekedoor, die Afrikaanse bakkompetisie gemaak het. Mareli Visser, Koekedoor-wenner het hierdie koekie gebak in die episode “See toe.”  Dis só ‘n lekker kleinkoekie, met só ‘n lekker storie dat dit in die Koekedoor Bakboek** opgeneem is om die bakkompetisie te herdenk.

Die internetkoekie het sy naam te danke aan ‘n metro-mite wat jare al op sosiale media gesirkuleer word om wraak te neem op Neiman Marcus, ‘n luukse afdelingswinkel in die VSA wat kwansuis ‘n fortuin gevra het vir die resep.

Die storie loop so: Iemand se tannie het iewers by ‘n deftige eetplek koek geëet wat so lekker was dat sy die resep gevra het. Dit kos haar toe ‘n yslike klomp geld en nou neem sy wraak deur die resep met die hele wêreld te deel. Al word dit nou die internetkoekie genoem, word ‘n soortgelyke storie al sedert 1948 oorvertel. Toe was dit kwansuis ‘n rooifluweel-fudgekoek se resep waarvoor die Waldorf Astoria Hotel ‘n absurde bedrag gevra het.

Mareli se weergawe van die mitiese koekies is taaierig binne en bros buite.

Die resep vir Internetkoekies is in die aanlyn-era net 'n muiskliek weg - gratis op die internet. Hierdie een is egter deeglik getoets in die bakstryd wat van Mareli Visser 'n wenner gemaak het.

Die resep vir Internetkoekies is in die aanlyn-era net ‘n muiskliek weg – gratis op die internet. Hierdie een is egter deeglik getoets in die bakstryd wat van Mareli Visser ‘n wenner gemaak het.

RESEP: MARELI SE INTERNETKOEKIES

Lewer sowat 40 koekies.

Bestanddele:

  • 150 g hawermout
  • 250 g botter
  • 225 g witsuiker
  • 225 g bruinsuiker
  • 2 eiers
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 295 g koekmeelblom
  • 5 ml koeksoda
  • 2.5 ml sout
  • 5 ml bakpoeier
  • 250 g sjokolade, gerasper
  • 340 g sjokoladesplinters
  • 200 g gekapte neute

Metode:

  • Voorverhit oond tot 180°C. Voer ‘n bakplaat met bakpapier uit.
  • Kap die hawermout fyn in ‘n voedselverwerker tot ‘n fyn poeier.
  • Room die botter en beide suikers.
  • Voeg eiers en vanieljegeursel by, meng met die meel, fyngekapte hawer, sout, bakpoeier en koeksoda.
  • Voeg die sjokoladesplinters, gerasperde sjokolade en neute by.
  • Rol in balletjies en plaas sowat 5 cm uitmekaar op ‘n bakplaat met bakpapier.
  • Bak vir 10 minute teen 180° C.

    Gemmer-kaneelkoekies in witjsokolade gedoop vul die huis met warm geure.

    Gemmer-kaneelkoekies in witjsokolade gedoop vul die huis met warm geure.

{My gunsteling-winterkoekies}

GEMMER-KANEELKOEKIES MET WITSJOKOLADE

Ek het voorheen oor hierdie koekies geskryf – maar as jy weet dat dit naas madeleines my gunsteling koekies is om te bak, en hoe die speserygeure die koue uit ‘n winterhuis verdryf sal jy verstaan hoekom ek weer die resep deel.  Dis ‘n welkome ritueel – koekiedeeg aanmaak, dan bolletjies rol in die palm van die hand, die rol in die suiker en die platdruk met die vurk. Die koekiegeure is terapie gehul in troostende kaneel en gemmer. Net bietjie geduld tot dit afkoel dan word dit in die gesmelte sjokolade gedoop.

RESEP: GEMMER-KANEELKOEKIES IN WITSJOKOLADE GEDOOP

Maak 60 koekies

Bestanddele

  • 2 k suiker
  • 1 1/2 k sonneblom- of canola olie
  • 2 eiers
  • 1/2 k molasse
  • 4  k koekmeel
  • 1 E fyn gemmer
  • 1/2 t varsgerasperde neutmuskaat
  • Mespunt fyn witpeper
  • 1 t sout
  • 4 t bakpoeier
  • 2 t fyn kaneel
  • Suiker, vir rol
  • Doopsel: genoeg om sowat 40 koekies halfpad te doop
  • 200 g witsjokolade, in stukkies
  • 1 E  smeer soos Holsum (nie botter of margarien nie)

Metode

  • Verhit oond tot 180°C. Voer bakplate met bakpapier uit. Meng die suiker en olie goed saam in ‘n groot mengbak. Voeg die eiers beurtelings by en meng goed deur na elke byvoegsel. Meng molasse by.
  • Gebruik ‘n aparte mengbak en sif die droë bestanddele saam; en meng dit geleidelik by die eier-suikermengsel in tot goed ingewerk.
  • Vorm okkerneut-grootte balletjies met die handpalm en rol dit in die suiker. Plaas op die bakplaat met 5 cm spasies tussenin. Bak sowat 12-15 min tot goudbruin. Die koekies moenie bleek wees nie. Dit sal nog sag wees wanneer dit uit die oond uitkom. Plaas op afkoelrak.
  • Doopsel: smelt sjokolade en die Holsum oor lae hitte in ‘n dubbelkoker. Moenie ‘n deksel opsit of stoom laat inkom nie. Roer deurentyd tot gesmelt. Doop die koekies halfpad in die sjokolade, laat oortollige sjokolade afdrup en plaas op afkoelrak of op waspapier tot sjokolade gestol het.

    Koekies bak is 'n strelende ritueel van aanmaak,rol, uitrol, platdruk, bak - dan geduld vir die afkoel. Daarna die lekker van die versiering.

    Koekies bak is ‘n strelende ritueel van aanmaak,rol, uitrol, platdruk, bak – dan geduld vir die afkoel. Daarna die lekker van die versiering.

 {Die verre verlede}

Outydse soetkoekies

Van al die kleinkoekies in ons gebak-skatkis, is die outydse soetkoekie die kosbaarste, Die ideale soetkoekie is ‘n verfynde dame, superdun en bros. ‘n Opregte outydse soetkoekie bevat speserye, varkvet, botter en soetwyn soos hanepoot, muskadel, jerepigo of port.  Die lekkerste was sekerlik my ouma Gerrieda s’n, die mooiste-en-lekkerste is gewis Hetta van Deventer-Terblanche s’n. Haar resep is ingesluit in die eerste Kokkedoor-resepteboek.

Bestanddele

  • 480 g (4 k) koekmeel
  • 2,5 ml ( ½ t) sout
  • 5 ml (1 t) fyn kaneel
  • 5 ml (1 t) kruienaeltjies
  • 5 ml (1t) fyn gemmer
  • 375 ml (1 ½ k) suiker
  • 230 g botter
  • 60 ml vet
  • 5 ml (1t) koeksoda
  • 15 ml (1 e) louwarm water
  • 30 ml (2 e) muskadel of soetwyn
  • 1 eier, geklits

Metode

  • Sif meel, sout en speserye saam en voeg die suiker by. Vryf die botter en met met die vingerpunte in die meelmengsel.
  • Los die koeksoda in die louwarm water op en roer die muskadel of soetwyn by. Voeg die koeksodamengsel by die geklitse eier.
  • Voeg die eiermengsel by die meelmengsel en meng tot ‘n stywe deeg vorm. Knie om goed te meng. Laat rus die deeg oornag in die yskas.
  • Voorverhit oond tot 200 °C. Smeer bakplate goed.
  • Rol die deeg tussen 2 lae plastiek tot ‘n dikte van 3-5 mm uit. Sny deeg in 8 cm-vierkante of druk vorms met ‘n koekiedrukker uit. Plaas dit op die bakplate en bak 10-15 minute.

**Koekedoor Bakboek

Ek is ‘n baie bevoorregte mens om deel van Koekedoor te wees as inhoudsvervaardiger: kos van die televisiereeks, en as skrywer van die Koekedoor Bakboek wat 20 Julie op die rak sal wees. Die boek bevat 80 resepte van die kompetisie se hoogtepunte met ‘n wye spektrum begeerlike kleingebak, groot koeke en brode. Jy gaan ver soek om nog so ‘n manjifieke versameling resepte elders te kry.

Human & Rousseau is die uitgewers, Die fotograaf is Myburgh Du Plessis, Caro Alberts het die smulmooi stilering gedoen en Christine Capendale (van ‘Bak vir Pret en Profyt’-faam) het gebak en resepte getoets. Die boek sal te koop wees teen R270.

Resep en foto van internetkoekie: Koekedoor Bak, Human & Rousseau. Fotograaf: Myburgh Du Plessis.

Resep: Outydse soetkoekies, Kokkedoor. Human & Rousseau.

Lamskerrie uit ‘n Karoo Kombuis – van een huiskok aan ‘n ander

6 Aug
Sydda en haar ma het deur 'n resep deur smake en geure ook deel van my kombuis geword.

Sydda en haar ma het met hul familieresep deel van my kombuis geword.

Die Karoo is ‘n mitiese plek. Vir baie mense is dit ‘n groot uitspansel van ‘n plat aarde, hier en daar ‘n koppie en verder net Karoobossies waardeur gereis  (gejaag) word van Johannesburg na Kaapstad. Jy stop vir petrol by een van die groot vulstasies, eet ‘n Wimpy-ontbyt of ‘n wegneem-garagepastei.

Reisigers wat oorslaap – iewers op Colesberg of Beaufort-West dalk – ervaar meer van die mense, die natuurskoon en die kos. Vir ander is die Groot Karoo hul tuiste. Dis ‘n heimat met ‘n droë, dors hart. Dis ‘n streek waar mense van oral hul vingerafdrukke laat op die kos en gebruike: nasate van die inheemse Khoisan, Xhosamense, Nederlanders, Britse en Franse Setlaars, slawe uit die Ooste, Grieke, Portugese, Indiërs en Jode het oor ‘n tydperk van 200 jaar hier ‘n lewe moes uitkalwe. Die een het by die ander geleer: van boer tot werker, boervrou tot bediende, bediende tot boervrou. Dis hierdie uitruiling van kos en gebruike tussen kultuurgroepe wat Sydda Essop op ‘n maande-lange ontdekkingsreis geneem het deur die streek waar sy grootgeword het. Van Britstown tot Beaufort-Wes. Van Carnavon tot Graaff-Reinet, Van Leeu-Gamka tot Loxton. Sutherland. Victoria-Wes. Hopetown. Klaarstroom.

“Kos bind ons. Dit is iets wat ons saamsnoer en aan die res van Afrika blootstel, iets wat ons toelaat om dit wat ons die beste ken uit te leef: Ubuntu”

So skryf Sydda in Karoo Kombuis, die boek waarin die onthoukos en onvertelde verhale uit die hartland aangeteken is. Wat sy ons deur die boek gee is nie soseer ‘n resepteboek as ‘n meelewende kultuurdokument nie. Ons leer ken vir Lena Oktober en haar gebakte rissel (ystervarkvel), kerriesult en rooikat. Anna Vermeulen van Victoria-Wes se outydse soetkoekies, karringmelkbeskuit en turksvystroop. Van ander se patattert, vaalvleissop en askoek, kaiings en Karoo-oesters, konynbredie en wildspastei. Francina se kombotiebier en vaalafval met dombeling (soortgelyk aan stoomkluitjies) is ook aangeteken. Ook Karel Benade van Graaff-Reinet se kambrokonfyt.

My vertlolking van Karoo-lamskerrie. Foto: Ian du Toit

My vertolking van Amina Essop van Beaufort-Wes se Karoo-lamskerrie. Foto: Ian du Toit

Ons leer ook van kneidlac (matsobolletjies) en hoendersop van Debbie Anstey van die Nelspoort distrik; en Griekse oondgeroosterde lamsboud van Elpida Lakovidis van Beaufort-Wes. Ook Horiay Mohamed se anjera (Somaliese pannekoek) en Somaliese lamslewer.

Die mededeelsaamheid van die gees van die Karoo en sy mense word veral gesien in hoe maklik mense met mekaar resepte deel en uitruil. Sydda laat ons besef dat as ‘n gemeenskaplike kosidentiteit kan ontwikkel in ‘n gebied soos die Karoo, ander verskille en skeidings ook oorbrug kan word. 

Ek het Sydda die eerste keer ontmoet by die Proe Mosselbaai-fees toe ek met haar ‘n ‘Ontmoet die Skrywer’-gespreksvoering gelei het. Haar sagte vertelling kon nie haar hartstog verdoesel vir die hartsland waar sy grootgeword het nie. Haar opofferings om haar navorsing moontlik te maak is my inspirasie om ook iets van waarde te doen om dinge aan te teken voor dit verlore gaan.

Toe ek die kans kry om Sydda weer te sien, en haar na die RSG-ateljee te nooi vir ‘n kospraatjie vir my rubriek ‘Die Kos wat ons Ken’, het ek weer haar boek Karoo Kombuis deurgelees. Die resep waarop ek besluit het om te maak as een wat Sydda na aan die hart sal lê: haar ma Amina Essop se Karoo-lamskerrie. Haar ma was ‘n 18-jarige bruid uit ‘n klein dorpie in Gujarat, Indië, toe sy met ‘n stoomskip in Durban aangekom het, die trein na Beaufort-Wes geneem het en nuwe wortels moes skiet. Hier het sy en haar man Solly hul entrepeneursgees uitgeleef en deur die realiteite van die politieke bestel ‘n lewe kon maak.

My lamskerrie volgens Amina Essop se aanwysings. Die eiervrug-jogurt is nie so mooi wit soos hare nie, want ek het nagelaat om die eiervrug te skil voor ek dit gaargemaak het.

My lamskerrie volgens Amina Essop se aanwysings. Die eiervrug-jogurt is nie so mooi wit soos hare nie, want ek het nagelaat om die eiervrug te skil voor ek dit gaargemaak het.

Dit was vir my ‘n voorreg om Amina se resep woord vir woord, spesery vir speserye te volg – om lamskerrie deur ‘n ander oog te ervaar. Die ooreenkomste tussen my ma se Kaapse kerrie was daar – die verskille ook.  Ma verbruin haar vleis; Amina nie. Ma gebruik matige Raja kerriepoeier,  borrie, ‘n paar naeltjies en lourierblare. Geelwortel ook. Vir  ‘n soetsurigheidjie bietjie asyn, ‘n paar appelkosies of appelkoosblatjang. Nooit vars koljander of brandrissie nie. Amina span meer speserye in om ‘n sluier van sagte geure oor die Kerrie te trek. Ek leer by haar om die ryp tamaties te rasper en later eers in die kookproses by te gooi tot dit weggekook is en die sous se borriegeel na warm bruin verander. Ek leer ook om ‘n skeppie garam masala by te gooi sowat 10 minute voor die laaste prut: Dit laat net weer die geure regop sit.

Die eindresultaat is een van die lekkerste kerries wat ek nog gemaak het; die bekendheid van my ma se subtiele Kerrie en saggekookte aartappeltjies, en die sjarme van Amina se speserye-hand. Dis nou my kerrie, en Sydda se kerrie, en Amina se kerrie. En as jy dit maak, raak dit ook jou kerrie. Maak gerus die eiervrug-jogurt en die komkommerslaai daarby.

KAROOLAMSKERRIE – Syda Essop

Onthou dis ‘n kuns om Kerrie te   maak – moenie van die stoof wegbeweeg nie! Hierdie Kerrie is baie lekker met komkommerslaai en fyngemaakte eiervrug-en-joghurt. Bron: Karoo Kombuis, uitgegee deur Quivertree.

Bestanddele

5 E sonneblomolie

2 uie, in dun ringe gesny

1 t sout

1 t vars knoffel, fyngemaak

1 t vars gemmerwortel, fyngekap

1 t vars of droë rooirissies (na smaak)

½ t borrie

1½ t fyn koljander

1 t fyn komyn

1 kg vars lamsvleis, deeglik afgewas in koue water (verkieslik ‘n mengsel van rib, dikrib en boudtjops met lekker murgbene)

3 K kookwater

2 rooiryp tamaties, fyngerasper

6 klein aartappels (of meer)

½ t Garam Masala

3 E vars koljanderblare. Fyngekap

Metode

Verhit olie in ‘n groot kastrol en braai die ui tot goudbruin. Gooi die sout, vars knoffel, gemmer en rissies en al die droë speserye (behalwe die garam masala) by.

Meng dit deeglik en braai die speserye vir omtrent 2 minute voor jy die vleis en een koppie water bygooi. Roer die mengsel goed, sit die deksel op en laat dit stadig prut totdat die vleis amper sag is.

Gooi die tamaties by en laat die Kerrie verder prut tot die tamaties amper nie meer sigbaar is nie. Proe vir sout. Gooi nou nog 2 koppies water en die aartappels by en laat kook tot die aartappels gaar is. Roer die garam masala en vars koljanderblare by en laat dit vir nog 10 minute prut.

As van die Kerrie in die olie bo begin dryf, is dit reg.

Die eiervrug-joghurt  was vir my 'n heerlike nuwe ontdekking; baie lekker saam met die Kerrie - en ook enige mezzebord, platbrood of sosaties. (Foto: Ek en my nuwe iPad wat 'Niggietjie' gedoop is).

Die eiervrug-joghurt was vir my ‘n heerlike nuwe ontdekking; baie lekker saam met die Kerrie – en ook enige mezzebord, platbrood of sosaties. (Foto: Ek en my nuwe iPad wat ‘Niggietjie’ gedoop is).

Eiervrug-en-joghurt

Bestanddele

2 groot eiervrugte, afgeskil en in 8 stukke elk gesny

½ t swartpeper

½ t sout (of na smaak)

½ t fyn komyn

½ t vars knoffel, fyngekap

2 K gewone joghurt

10 vars mentblare

5-6 takkies vars koljanderblare, fyngekap

1 groen brandrissie, fyngekap

Metode

Spoel die stukke eiervrug in koue water af. Gooi ‘n koppie kookwater in ‘n kastrol, sit die eiervrug  in en kook tot sag. Gooi die water af en sit die eiervrug in ‘n sif sodat dit kan droog drup.

Gooi die eiervrug in ‘n diep bak en druk dit met ‘n aartappeldrukker fyn. Meng die peper, sout, komyn en knoffel met die joghurt en roer die mengsel by die eiervrug in.

Meng dan die fyngekapte ment, koljander en rissie deur en hou dit in die yskas.

Komkommerslaai

 Bestanddele

1 komkommer afgeskil

¼ koppie witasyn

3 E suiker

½ t fyn komyn

Sout na smaak

¼ t swartpeper

¼ koppie water

Metode

Sny die komkommer in dun skywe. Meng al die bestanddele saam, gooi dit by die komkommer, meng dit goed, gooi dit in ‘n fles en hou dit in die yskas

Bron: Karoo Kombuis, Sydda Essop. Quivertree Uitgewers.

Koolfrikkadelle – Oumens onder die kombers kry ‘n rooi rok

14 May

As die koolkop ‘n kledingstuk was, was dit  ‘n praktiese huisjurk, ‘n voorskoot of ‘n ‘overall’, ‘n Croc-sandaal of ‘n deuglike plat skoen. Nie ‘n Louboutin-ontwerperskoen soos aspersies, artisjokke en mange-tout nie.

Ouvrou onder die kombers kry 'n rooi rok. 'n Soeterige-surerige paprika-en sultanasous word oorgegooi. (Foto Ian du Toit)

Ouvrou onder die kombers kry ‘n rooi rok. ‘n Soeterige-surerige paprika-en sultanasous word oorgegooi. (Foto Ian du Toit)

Ek reken koolfrikkadelle is  tevrede om ambassadeur vir huiskos te wees. Wys my ‘n land waar ‘n koolkop groei en ek wys jou ‘n tradisionele resep vir ‘n koolfrikkadel. Dit word oral gemaak, van die Midde-Ooste, Oos-Europa tot die Verre-Ooste; ander windrigtings ook. In Swede is daar selfs ‘n amptelike ’Dag van die Koolrolletjie’ wat deur die Vriende van die Koolrolletjie gereël word!   Koolfrikadelle tel selfs die Grieke se wingerdblaar-dolmades as agterkleinneef.

Ons staan bietjie stil by frikkadelle:

Die woord kom van die Franse “fricandeau” of “fricandel”, en aan die Kaap het die Hollanders van “vrikkendillen” en “frickedille”  gepraat.  De Verstandige Kock (1668) verwys na “frikedillen” wat met foelie en neutmuskaat gegeur is en toegevou is om spek, kruie en lemoenskil. Heel byderwets.

“Oumens onder die kombers”, ons onthoukos-frikkadel in koolblare, is in die vroëe dae aan die Kaap berei. Slaai- of wingerdblare is daardie tyd gebruik, wat iets vertel van sy antieke Griekse oorsprong.  Ek is veral dol oor die heerlike resep van Hetta van Deventer in Cape Winelands Cuisine wat frikkadelle in kropslaaiblare toedraai – so oud soos die berg en modieus genoeg om 21-eeuse smulpape kwylbek te laat.

Janap Isaacs en haar Ouvrou onder die Kombers-koolfrikkadelle uit "Bo-Kaap Kitchen" deur Quivertree Publishers. Fotograaf: Craig Fraser.

Janap Isaacs en haar Ouvrou onder die Kombers-koolfrikkadelle uit “Bo-Kaap Kitchen” deur Quivertree Publishers. Fotograaf: Craig Fraser.

OUMENS ONDER DIE KOMBERS

‘n Tradisionele resep van Janap Isaacs uit die Bo-Kaap vat die egte huiskos-karakter van kool en frikkadelle goed vas. Alhoewel ek haar nog nie ontmoet het nie, het ek haar leer ken deur die boek ‘Bo-Kaap Kitchen’ van Quivertree Uitgewers waarin sy een van vele Bo-Kaap kokke is wie se kosstories vertel word.   Ek het die resep nougeset gevolg en is van voor af verlief op hierdie erfeniskos – maak dit gerus (en kry die boek vir al die wonderlike stories en resepte.)  My ‘rooirok’-sousresep vir die oumens onder die kombers volg onder-aan.

Bestanddele

1 groot kopkool

2 groot uie, fyngekap

Kookolie

2 koppies water

Suiker, sout en peper na smaak

½ teelepel fyn neutmuskaat

Frikkadelle

500 g gemaalde beesvleis

4 snye dag-oud brood in melk geweek; melk uitgedruk

¼ teelepel fyngemaalde naeltjies

¼ teelepel fyngemaalde wonderpeper

2 teelepels fyngemaalde koljander

1 eier

1 teelepel elk sout en peper of na smaak.

2 knoffelhuisies, fyngekap (opsioneel, alhowel ek beveel dit aan)

1 klein ui, fyngekap

Metode

  • Sny die middelste harde gedeeltes uit die blare en stoom dit vir 5 – 10 minute tot sag, maar nie pap nie.
  • Meng die frikkaddelbestanddele alles saam in ’n mengbak en vorm klein frikkadelletjies. (Nota: Ek het dit in lang sigaarvorms gerol, alhoewel dit nie tradisioneel is nie)
  • Draai elke frikkaddel styf toe in ’n koolblaar. Gebruik ’n tandestokkie of gare om dit vas te maak.
  • Braai die uie tot goudbruin in ‘n kastrol in ’n bietjie olie.
  • Pak die koolpakkies styf teenmekaar in dieselfde kastrol. Voeg die water by en voeg die suiker, sout en peper na smaak by.
  • Prut stadig vir 20 minute, maak seker dat die water heeltyd die koolpakkies halfpad bedek.
  • Sprinkel neutmuskaat oor en prut vir nog 10 – 15 minute.

My byvoeging: ‘n Rooirok-paprikasous uit Hongarye

Ek wou graag vir die Oumens  onder die Kombers ‘n rooi rok aantrek. Die rede is dat my broer Theo vir my ‘n fles kosbare paprika uit Hongarye saamgebring het.

Bo-Kaapse ouvrou onder die kombers kry 'n strooisel kosbare Hongaarse paprika. Foto: Ian du Toit

Bo-Kaapse ouvrou onder die kombers kry ‘n strooisel kosbare Hongaarse paprika. Foto: Ian du Toit

Die Hongare maak ‘n heerlike soet-suur stroperige sous wat hulle saam met hulle tradisionele koolrolletjies holishkes bedien, net die ding om saam met die Bo-Kaap koolfrikkadelle te eet. Ons is  juis so life vir soetsuur-smake saam met sout.  (Terloops, paprika, een van die steunpilare van die Hongaarse kookkuns,  is in die 16de eeu tydens die Turke besetting aan die land bekend gestel.)

Ouvrou onder die kombers met 'n paprika-gekleurde onderlaken is 'n lekker winter voorgereg, reken ek. Foto: Ian du Toit.

My Lappieskombers koolfrikkadelle rus  hier op ‘n paprika-gekleurde onderlaken … so ‘n enkele rolletjie is ‘n lekker winter voorgereg, reken ek. Foto: Ian du Toit.

‘Rooi rok’ paprika-, sultana- en tamatiesous 

Bestanddele

2 E Canola of sonneblomolie

2 medium uie, fyngekap

1 T vinkelsade, fyngemaal

1 Opgehoopte eetlepel goeie soet paprika (nie die gerookte tipe nie)

Sout en peper

1 klein blikkie tamatiepasta

1-2 E heuning

1 Blik gekapte tamaties

½ koppie sultanas (rosyne kan ook gebruik word)

Sap van 1 suurlemoen

Beesvleisaftreksel (of van die sous waarin die koolfrikkadelle gekook het as jy Janap se basiese resep volg)- gebruik net genoeg om die sous te verdun indien dit te dik kook.

Metode

  • Verhit die olie en braai die uie tot goudbruin en sag, voeg vinkelsade, tamatiepasta en paprika by en prut 2 tot 3 minute – dit moet effe karamelliseer.
  • Voeg  die blikkie tamaties, sultanas, heuning en suurlemoensap by. Prut oor medium-lae hitte met die deksel halfpad op vir sowat 30 minute tot lekker dik. Die sous moet amper soos ‘n loperige blatjang wees. Bedien die sous oor die gaar koolfrikkadelle of apart. Dis heerlik met rys. Dit kan ook bedien word op blomkool-couscous.

    Vir hierdie variasie word die koolfrikkadelle bedek met die paprika-, sultana-tamatiesous en in die oond gebak. Foto: Ian du Toit

    Vir hierdie variasie word die koolfrikkadelle bedek met die paprika-, sultana-tamatiesous en in die oond gebak. Foto: Ian du Toit

Wenk: as jy verkies om jou koolfrikkadelle in die oond te bak, giet die sous oor, bedek met foelie of ‘n deksel en bak  vir 45 minute teen 180°C. Haal die deksel af en bak nog 10 minute vir die bo-laag om lekker ‘op te ferm’.

Wat sê die boeke verder:

Dine van Zyl gee in Die Groot Boerekos-boek ‘n resep vir koolfrikkadelle en reken die Kaapse koolfrikkadelle is die beste. Die frikkadelle word in die pan gepak op ‘n geurige mengsel van uie, tamatie en speserye soos kardomom en vars gemmer en dan met die deksel op gesmoor.

Die Kaaps-Maleise resep in Cass Abrahams Kook Kaaps-Maleis (1995) is volgens Cass ‘n weergawe van tradisionele Turkse dolmas.  Sy maak ‘n stoombad van uie, sopbene (skenkelvleis), naeltjie en peperkorrels waarin die koolfrikkadelle gepak word. Sy giet dan ‘n ¼ k sago wat in water geweek is oor die koolfrikkadelle, geur dit met neutmuskaat, sout en peper en stoom dit vir 30 minute. Die sopbene word verwyder en die koolfrikkadelle – en natuurlik die sousie – word op ‘n laag varsgekookte rys bedien.

Ek het ook gaan snuffel in ‘Mrs Slade’s South African Cookery Book’. Vir die ‘fricadelle’ word beesvleis met sout, peper, naeltjies en neutmuskaat gegeur. Die frikkadelle word eers in ‘n gietysterpan gebak in warm vet, dan in gekookte koolblare toegedraai, teruggeplaas in die pan, ‘n bietjie water bygevoeg en gestowe tot lekker bruin – af en toe word die pansous oor die koolfrikkadelle geskep.

Ek plaas die hele koolkop in 'n kastrol vol kokende water en stroop die blare af soos it loskom - dan skeur dit nie. Foto: Ian du Toit

Ek plaas die hele koolkop in ‘n kastrol vol kokende water en stroop die blare af soos it loskom – dan skeur dit nie. Foto: Ian du Toit

Mev SJA de Villiers se Kook en Geniet (1975) gee twee resepte:

1. ‘Tradisionele resepte’ –  die frikkadelle word met neutmuskaat gegeur en in meelblom gerol, en eers gebraai voordat dit in die koolblare gevou word. Dit word dan in ‘n vlak skottel gepak, die pansouse oorgegooi en dan in die oond verder gebak.

2. Vir die ander weergawe word tamatiesmoor saam met blatjang by die maalvleis gevoeg word. Die frikkadelle word nie gebraai nie – en in die oond gebak met ‘n bietjie water.  Dit klink heerlik, veral omdat dit so tipies van ons kookkuns is om soet, soet en sout te kombineer. Die weergawe is egter nie in die nuutste bygewerkte Kooke en Geniet nie. Gelukkig leef dit voort in Hetta se resep wat blatjangpiekel inkry.

Lam in die kool: In plekke soos Lebanon in die Middel-Ooste,  word koolfrikkadelle (mehshi malfouf) met lamsvleis gemaak om op feesdae en spesiale geleenthede voor te sit.  Die vulsel bevat rys en word gegeur met komyn, salie, pietersielie,en knoffel.  Die koolpakkies word in ‘n bak gepak en ‘n mengsel van vleisaftreksel en olyfolie bo-oor gegiet (1 ½ k aftreksel; ½ k olie). Dit word in lang sigaarvorms gedraai.

My Russiese duifie: In Rusland en Poland klink die naam vir koolfrikkadelle soos ‘n troetelnaam  – golbusty, wat klein duifies beteken. Die eenvoudige vleisvulsel bevat rys, tamatie, knoffel en wortel.   As jy soos ek met Heinz Konsalik boeke grootgeword het sal jy die liefdesterm ‘my duifie’ onthou (die heldin in die verhaal  was ‘my duifie’ en sy het op haar beurt weer die held  ‘my beer’ genoem.)  Die gereg het eers teen die 18de eeu deel van hulle kookkuns geword en verwys na die Franse gebruik om duiwe in koolblare toe te draai. (Golub = duif)

Sarmale vir ‘n Sigeuner (Gevulde Koolrolletjies van Romenië)

Bedien 8

Die tradisionele gereg kom uit die Balkan-gebied, met elemente wat ooreenstem met die Turkse sarmasi – soos die rys en tamatiepasta in die maalvleiss. Die toegedraaide frikkadelle word op gesnipperde kool gepak en met nog gesnipperde kool bedek. Geniet dit met suurroom en sauerkraut.

500 g gemaalde varkvleis

500 g gemaalde beesvleis

Sout en peper

2 eetlepels tamatiepasta

125 mℓ rou rys

2 uie fyngekerf

30 mℓ kookolie

30 mℓ paprika, soet of gerook

15 mℓ droë tiemie

15 mℓ vinkelsade, fyngemaal

1 groot vars kopkool

200 g ontbytspek, in stukkies gesny en gebraai

60 mℓ tamatiepasta

1 blik ingelegde tamatie, gekap

Vir bediening: suurroom en sauerkraut

Metode:

  1. Verwyder soveel moontlik van die groot koolblare van die koolkop versigtig sodat dit nie skeur nie. (Jy benodig sowat 10 groot blare) Week elke blaar sowat 1-2 minute in ‘n kastrol kokende water om die blaar te versag, sodat dit makliker kan vou. Sny die binneste harde naat van die kool uit en verdeel elke blaar in twee helftes. Kerf die oorblywende koolkop in dun repies en hou eenkant.
  2. Verhit kookolie in ‘n pan en braai die uie tot deurskynend. Strooi die paprika en rys oor en braai liggies vir nog ’n paar minute.
  3. Meng die gemaalde vark- en beesvleis met 2 eetlepels van die tamatiepasta, uie en rysmengsel, droë tiemie, sout en peper.WENK: Jy kan eers ‘n klein bietjie van die mengsel in ‘n pan braai om seker te maak dis goed genoeg geur. Plaas ‘n opgehoopte eetlepel van die vleismengsel op ‘n koolblaar en draai dit toe sodat die vleis heeltemal bedek is.
  4. Plaas die helfte van die gesnipperde kool onder in ‘n groot kastrol en pak die gevulde koolblare bo-op. Strooi die gebraaide spekstukkies bo-oor en bedek dan met die orige gesnipperde kool.
  5. Meng die orige tamatiepasta met 500 ml kookwater en gooi dit bo-oor die kool, sodat die vleisrolletjies gedeeltelik bedek is. Plaas ‘n deksel op en kook oor lae hitte vir 1 ½ uur. Haal die deksel af, gooi geblikte tamatie en ekstra paprika oor. Bak vir 30 minute in die oond by 180ºC.

Bronne:

  • Hetta van Deventer, Cape Winelands Cuisine, Human & Rousseau.
  • Bo-Kaap Kitchen, heritage recipes and true stories, Quivertree Publications. Fotograaf: Craig Fraser.
  • Ultimate Russian comfort food. Russia Beyond the Headlines, 28 Oktober 2009.
  • Katie Robbins, Season of Rejoicing, Saveur, Oktober 2011-uitgawe
  • Carolyn Bánfalvi, Rhapsody in Red, Saveur, Oktober 2013
  • Mrs Slade’s South African Cookery Book.
  • Kook en Geniet, SJA De Villiers, Human & Rousseau
  • Dine van Zyl, Die Groot Boerekos-boek
  • Kokkedoor Kookboek, saamgestel deur myself; uitgewer Human & Rousseau

 

 

 

 

 

%d bloggers like this: