Tag Archives: worsrolletjie

Toebroodjiebestemming 2: Choripán, die Argentynse worsrol

23 Oct

Argentinië is my gunsteling-reisbestemming, en Buenos Aires met sy vervalle glorie my spirituele tuiste. Die gevoel van bekendheid was daar die oomblik wat ek op die lughawe geland het.  Deju vu het my ingewag op elke straathoek en café. Dis ‘n land wat my steeds nie los nie.

choripan-bestanddele-rs

Die porteños, soos inwoners van die hawestad genoem, leef hartstogtelik met ‘n groot aptyt vir goeie kos, musiek, kuns en gesels. Ek het gou geleer om te sê: Me gusta carne… ek is mal oor rooivleis! Na ek kennis gemaak het met hul ‘boerewors-rolletjie’ (geroosterde chorizowors en chimichurri-sous op baguette) sê ek ook me gusta choripán!

Soos ons, is die Argentyne ‘n vurige braainasie, met hul trotse asado-tradisie. Waarskynlik het hierdie loop-en-eet-kos ontstaan rondom die braaivure, met almal wat rasend honger raak en vinnig ‘n stukkie wors van die rooster af in ‘n broodrolletjie druk.

 

Chori = wors. Pán = brood. Nes met ‘n worsrolletjie het jy nie ‘n resep nodig vir choripán nie, net rigtingwysers wat dit onderskei van ons boeries.

choripan-finaal-reg-vir-eet-rs

  • Rooster ‘n hele chorizo oor die kole of in ‘n riffelpan oor matige hitte tot dit net begin oopbars. Sny dit middeldeur in die lengte af en rooster aan die binnekant ook.
  • Sit die warm wors op ‘n sagte baguette (of hotdog-rolletjie) en bedruip kwistig met chimichurri, ‘n Latyns-Amerikaanse tafelsous van pietersielie en asyn.
  • Sny die baguette in stukke en bedien met koue bier. En báie servette.
  • Wenk: jy kan ook tamatie-salsa (fyngekapte tamatie, uie, sout en peper) by die chimichurri op die rolletjie skep. Botter is nie nodig nie, want daar is olyfolie in.

chimichurri-fles-rs

Chimichurri

Daar is nie ‘n tafel in Argentinië sonder hierdie vinaigrette-styl tafelsous van pietersielie en asyn nie. Ek het hierdie resep in gebroke Engels by ‘n straaibraaier gekry, en aangepas tot dit gesmaak het soos ek dit onthou. Moet jouself nie beperk tot choripán nie. Boereworsrolle, steak, gebraaide lamstops, ribbetjie en braaihoender baat by hierdie smaakmaker.

Maak 250 ml

  • 40 ml wit- of rooiwyn asyn
  • 60 ml olyfolie
  • 125 ml pietersielie, fyngekap
  • 15 ml origanum, fyngekap
  • 10 ml droë tiemie, fyngevryf tussen die vingers (opsioneel)
  •  3 vars knoffelhuisies, fyngekap
  • 10 ml paprika
  •  3 ml gedroogte rissievlokkies of 1 brandrissie, gekap
  • 4 ml sout
  • 2,5 ml peper

Meng goed saam. Laat verkieslik ‘n dag in die yskas staan vir smake om te ontwikkel.

img_5105

[Kyk van mid-November uit vir vir my nuwe kookboek TUISTAFEL, uitgegee deur Human & Rousseau]

Foto’s en stilering: Ian en Errieda du Toit

%d bloggers like this: