Tag Archives: Diemersdal

Somerkos saam met Sauvignon

4 Oct

Durbanville Wynvallei is die hartland van Sauvignon Blanc, ‘n witwyn wat so eie aan hierdie koue klimaat wynkontrei is, dat dit sy eie wynfees verdien – die Seisoen van Sauvignon wat vanjaar vir die 9de keer gehou word die eerste naweek van die maand.

aaa rose in reguit ry crop  RESIZED

(fotos: Roxy Laker)

Omdat dit een van die somer se mees kosvriendelike wyne is het stersjefs en wynmakers hulle koppe en palette bymekaar gesit om proe-gereggies te skep wat Sauvignon Blanc-wyne uit die vallei se karaktertrekke goed vlei.  Ian Bergh (De Grendel), Barend Gouws (Cassia op Nitida), Louisa Greeff (Durbanville Hills Restaurant) en Nic van Wyk (Diemersdal) is uitgedaag om happie-grootte geregte te skep wat die mineraliteit, appelliefiesmake, groen-appel varsheid en tropiese styl van die vallei se vlagskip-witwyn uitbeeld.

aaa groot kokkedore van Durbanville wynvallei RESIZED

Sjef Barend Gouws van Cassia op die Nitida Landgoed se uitdaging was om die aangename mineraliteit van die variëteit te beklemtoon. Hy het sy inspirasie gesoek in die 2013-oesjaar Sauvignon Blancs van Nitida, D’Aria en Bloemendal. Daar’s wyd gedink, van geregte soos Gravadlax gemarineer met Weskus-gerookte seesout, beet, Maltaise sous en geposjeerde kwartel eiers tot ‘n ‘Wellington’ van seisoengroente en gerookte olyfpesto.  Hy het ook ‘n dubbel-gebakte camembert soufflé, met parmesaan brosskyfie, bloukaas mousse en ingelegde groenvye as pasmaat vir die wyn geskep.

Cassia Restaurant op Nitida se Gravadlax proehappies

Cassia Restaurant op Nitida se Gravadlax proehappies

Wat ek hierdie somer gaan maak: Sjef Louisa Greeff se snoekpatee met appelliefie jellie

Wat ek hierdie somer gaan maak: Sjef Louisa Greeff se snoekpatee met appelliefie jellie

Sjef Louisa Greeff se kreatiwiteit is gestimuleer deur die appelliefie-note in die 2013 oesjaar Sauvignon Blancs van Durbanville Hills, Klein Roosboom en Hilllcrest. Beter vrymaats kon haar gerookte snoek patee met appelliefie-jellie nie kry nie (sien resep onder). So ook  Springbok sosatie met hollandaise; vanielje risotto met ‘n appelliefie- en peper concasse. As kaasgang-maat skep sy bros, krakerige een-hap pecorino mille feuille met eiervrug-piekel.

Sjef Nic van Wyk (Diemersdal) het kookinspirasie gevind in die vars groen appelsmake van die Sauvignon Blancs  uit die kelders van Diemersdal, Groot Phisantekraal en Meerendal. “Ek het dadelik aan koue somerslaaie vir hoofgereg gedink soos  appel-gemarineerde varklies-slaai met ‘n groen appel slaaisous, of ‘n ‘tartare’ van gerookte hoender, groen appel en jogurt met kruisement. En net om te wys dat jy aan tafel tot by die nagereg met Sauvignon Blanc kan kuier, het ek ‘n groen appel pannacotta, met appeljellie en ‘n droë appeltjip gemaak.

aaa gerookte hoender groep appel en jogurt

Die tropiese geure van De Grendel en Altydgedacht se 2013 Sauvignon Blancs is die inspirasie vir Sjef Ian Bergh van De Grendel Restaurant se muse. “Daar is sekerlik nie ‘n lekkerder wyn as  Sauvignon Blanc om as vertrekpunt te gebruik vir somerkosse soos spanspek gazpacho met De Grendel se Sauvignon Blanc of granadilla parfait met sorbet saam met Altydgedacht 2013 Sauvignon Blanc nie,” vertel Ian van die kookuitdaging. “As ek ‘n Sauvignon Blanc was sou ek die graagste wou afhak met ‘n slaai van gerookte forel, sitrusvrugte en ricotta …. ‘n ongekompliseerde slaai vir ‘n komplekse wyn.”

SJEF LOUISA GREEFF SE GEROOKTE SNOEKPATEE MET APPELLIEFIEKONFYT

4 voorgereg-porsies

1 heel gerookte snoek, grate verwyder en gevlok

½ ui, fyngekap

2 cm vars gemmer, fyngekap

5 ml elk vars dille, fyngekap

5 ml vars pietersielie

250 ml suurroom

Sout en peper na smaak

5 ml suurlemoensap

Appelliefie-konfyt:

1 bakkie appelliefies

80 ml suiker

80 ml water

Metode:

Voeg appelliefies, suiker en water in ‘n dubbelkastrol en kook 10 minute tot sag en stroperig. Laat afkoel.

Voeg die snoek en die res van die bestanddele in ‘n versapper en meng tot glad. Geur met sout en peper en suurlemoensap. Bedien in klein bakkies of glasies met ‘n lagie appelliefiekonfyt bo-op en rond af met ‘n broodstokkie of bruschetta.

Dis veral lekker met die volgende Sauvignon Blancs:

*Durbanville Hills Sauvignon Blanc 2013

*Klein Roosboom Sauvignon Blanc 2013

*Hillcrest Sauvignon Blanc 2013

Gerookte hoender en ‘tartare’ van groen appelslaai, kruisement-jogurt en okkerneute : Sjef Nic van Wyk, Diemersdal se ou stal

Genoeg vir 6 mense as voorgereg

Bedien met:

Diemersdal Sauvignon Blanc 2013

Meerendal  Sauvignon Blanc 2013

Groot Phesantekraal Sauvignon Blanc 2013

Bestanddele

300g gerookte hoender in klein blokkies gesny

500g Granny Smith appel, geskil, pitte verwyder en in klein blokkies gesny

20 geroosterde okkerneute, grofgekap

Slaaisous:

200ml natuurlike jogurt

Sap van een suurlemoen

12,5 ml kruisement jellie

20 vars kruisementblare

Meng die slaaisousbestanddele saam. Roer die hoender en appel by. Skep op in klein bakkies en strooi okkerneute oor.

Appel panna cotta met Appel jellie en appeltjips: Sjef Nic van Wyk, Diemersdal se ou stal 

Vir die appeljellie 

375 ml appelsap of Appletizer

2 gelatienvelle in water geweek

Maak die appelsap warm, meng die gelatien deur en gooi deur ‘n sif. Giet in klein bakkies en stol in die yskas.

Vir die panna cotta

300 ml room

300 ml melk

1 appel, gerasper

3 gelatienvelle, in water geweek

Meng die room en melk, voeg appel by en bring tot kookpunt. Verwyder van stoof en laat die appel in die mengsel trek. Gooi deur ‘n sif. Voeg die gelatien by en gooi weer deur ‘n sif.

Gooi die panna cotta mengsel oor die gestolde jellie.

Appeltjips:

Maak dit die vorige dag.

Maak ‘n suiker stroop mt 1 koppie water en 1 koppie suiker. Sny appel in papierdun skyfies, doop in die stroop en plaas op waspapier. Laat oornag uitdroog in ‘n l-oond of baie lae temperatuur.

Afronding: plaas ‘n appeltjip bo-op die panna cotta net voor opdiening.

Bedien met:

Diemersdal Sauvignon Blanc 2013

Meerendal  Sauvignon Blanc 2013

Groot Phesantekraal Sauvignon Blanc 2013

Grenadilla panna cotta – Sjef Ian Bergh

Bestanddele

Vir die Panna Cotta

3 koppies room

1 koppie melk

2/3 koppie strooisuiker

1 teelepel vanielje ekstrak

1 eetlepel gelatien poeier opgelos in ‘n ¼ koppie warm water

Die sap van 5 grenadillas, pitte uit

¼ koppie warm water

Voeg die suiker, room, melk en vanielje bymekaar in kastrolletjie. Roer dan goed tot opgelos oor lae hitte. Verhoog hitte totdat dit prut en verwyder van hitte, roer in die grenadillasap en gelatien mengsel. Gooi in vormpies en plaas in die vrieskas vir 2 uur.

Dien op met mascarpone-roomys en bros beskuitjies.

aaa granadilla 2013-09-04 at 14-30-46

Brandewyn in die ryspoeding en in die glas

10 May

 O, brandewyn, bly by my,’ is die deuntjie wat ywerige kokke neurie as die goue vog sy geurgeheime vrystel in die kombuis. Die aromas van brandewyn is meer verleidend as die duurste parfuum –  van blom- en vrugtegeure, tot die warm, diep skakerings van vanielje, sjokolade, sederhout en mokka.

Ou Kaapse brandewynpoeding nuutgeskep deur Richard Carstens (Tokara) saam met potketel brandewyn. Foto: Samarie Smith

Ou Kaapse brandewynpoeding nuutgeskep deur Richard Carstens (Tokara) saam met potketel brandewyn. Foto: Samarie Smith

Dis ‘n opwindende tyd vir brandewyn. Ek het die afgelope jare as skakelraadgewer vir die SA Brandewynstigting ontsettend waardering gekry vir die mense wat brandewyn maak en hul passie en kundigheid wat in die elikser ingaan. Dis wonderlik dat Suid-Afrikaanse brandewyne in die kollig geplaas by die Fine Brandy Fusion in Kaapstad (volgende maand in Sandton). Proe daar wêreldbekroonde potketelbrandewyne tot byderwetse brandewyn-skemerkelkies.

Brandewyn, ons goue ikoon.

Brandewyn, ons goue ikoon.

Maar voor ek verder van brandewyn vertel (heerlike verhaal oor ‘n kok wat brandewyn gestook het in die Kaapse hawe) – eers ’n poedingresep. Die lewe is immers onvoorspelbaar so jy eet maar liefs jou poeding eerste. Dan gaan ons aan met die wonderlike verhaal van brandewyn

08 Nic Risotto resized

Hierdie heerlike oud-en-nuut brandewynryspoeding van Nic van Wyk uit die boek Fire Water is heerlik. Die foto is deur Craig Fraser van Quivertree.

BRANDEWYN RYSPOEDING MET JONG EN OU DRUIWE

Die resep is deur Nic van Wyk van Diemersdal, Kokkedoor-beoordelaar en Brandewyn Gildelid. ‘n uithaler-idee van ‘n uithaler-sjef. Nic span vars druiwe en rosyntjies in om die edele proses van brandewyn-veroudering pittig voor te stel. 

Genoeg vir 4 mense

200 g pitlose rosyne

145 ml brandewyn

300 ml room

300 ml melk

1 vanieljeboontjie of 5 ml vanieljegeursel

150 g arborio rys

300 ml strooisuiker

6 eiergele

15 ml botter

200 g vars pitlose druiwe, gehalveer

 Metode

Week die rosyne oornag in 100 ml van die brandewyn.

Verhit die room, melk, vanieljeboontjie of vanielje in ‘n kastrol en bring dit tot kookpunt. As ‘n vanieljeboontjie gebruik word verwyder dit van die hitte, laat dit 15 minute staan en verwyder dan die boontjie. Andersins kan die rys dadelik by die melkmengsel geroer word. Prut dan oor lae hitte totdat amper al die vloeistof geabsorbeer is. Klits 240 ml van die strooisuiker en die eiegele tot romerig. Vou die eiermengsel by die rysmengsel en prut 5 minute tot die mengsel glad en blink is. Verhit die botter en die res van die strooisuiker in ‘n pan en soteer die druiwe tot gekarameliseerd. Voeg die res van die brandewyn en die geweekte rosyne by en maak deurwarm. Sit die rosyntjiemengsel appart saam met die ryspoeding voor of dit kan in die ryspoeding geroer word.

Resep uit Fire Water, uitgegee vir die SA Brandewynstigting deur Quivertree

Brandewyn se ‘back-story’

Ek is dol oor goeie ‘back stories’ en Suid-Afrikaanse brandewyn het die beste storie ooit: Kokke en brandewyn stap al sedert 1672 saam in Suid-Afrika , want dit was juis ‘n assistent-kok aan boord van ‘n Hollandse skip in Tafelbaai wat destyds ons land se eerste brandewyn van plaaslike wyn gestook het. Dié rowwe seeman se rowwe brousel was egter wêrelde verwyder van die uitstekende brandewyn wat kokke en fynproe-drinkers vandag kan geniet.

Brandewyn hip, trendy EN nostalgies

Retro-kos en die nostalgie-gier laat die belangstelling in ou Kaapse geregte met brandewyn herleef. Dis hoekom ek dankbaar is ek het die  Brandewyn-Gildelid Magdaleen van Wyk se boek ‘Kook met Brandewyn’ op my rak.Twee dekades na die boek die lig gesien het, laat dit steeds die lus om met brandewyn te kook vlamvat.  Sy moedig kokke aan om:

  •  carpaccio op te kikker met brandewyn, sojasous en olyfolie; 
  • lamsaal met ‘n glanslaag van brandewyn, heuning en appelliefie te bestryk;
  • Om Kaapse patats – gestoof in ‘n swartpot met botter, nartjieskil, kaneel, bruinsuiker en heuning – te bespat met brandewyn  net voor opdiening.  
  • Brandewyn-okkerneutroomys as smaakmaat vir die immergroen Kaapse brandewynpoeding.    

Soetsopies  

Die gasvrye ou Suid-Afrikaanse gebruik om ‘soetsopies’ met koffie voor te sit is iets om weer uit die kas uit te haal.  Vul jou spensrak aan met outydse boeremeisies (appelkose in brandewyn) tradisionele boerejongens (rosyne in brandewyn) of brandewyn-pruimedante te kry by plaasmarkte of maak jou eie. Bedien dit met koffie of sit dit voor saam met ‘n kaasbord.

Terloops, om ‘n tuisonthaal af te sluit is hierdie outydse lekkernye uitstekende pasmaats saam met bloukaas en brandewyn. Vir ‘n soeter noot is sjokolade, brandewyn en espresso ‘n wen-trio.   

 Brandewyn en kos

Om by die huis saam met vriende te kuier, is die ‘in’ ding. Rondspeel met kos en brandewyn-paring gee ’n nuwe angle aan in-eet. Om ‘n gereg met ‘n brandewyn te pas is makliker as wat jy dink. Werk met jou basisbestanddele soos byvoorbeeld die vleis en die sous; paar dit met die brandewyn en die res val in plek. Francois Ferreira (my Huiskok Glanskok partner) is ‘n lid van die SA Brandewyngilde en ken sy storie. Hy paar bv. ‘n mielie-en sampioen tarte tatin en uie-marmalade met Boplaas 8 Jaar oue potketel. Of vir iets meer avontuurliks bloukaas-roomys en droë perske salsa met ‘n glasie verkilde potketel brandewyn uit Ladismith.

Nic van Wyk, ook ‘n SA Brandewyn gildelid, bedien graag ‘n plaasstyl patee of dun snytjies salm (in brandewyn gekuur) op roosterbrood met kappertjiesade saam met solera brandewyn. Ook lekker met potketel- brandewyn is gestoofde vye in brandewynstroop met crème fraiche en biscotti; of – my gunsteling – sagopoeding met ‘n brandewyn- en vanieljeskuim.

Kitsgids vir brandewyn– en kosparing

Brandewyn pas goed by geregte wat:

–        ryk is in gewig, en met room of eiers gemaak is

–        ‘n inherente soetheid het, soos sekere kase, souse en nageregte

–        baie geurig is

  • Brandewyn is ‘n goeie alternatief tot wyn by kaas, soos:

–        ‘n elegante vrugtige potketelbrandewyn met bloukaas en groenvye

–        camembert of bokmelkkaas-souffle

–        sagte, romerige kaas soos mascarpone of ricotta

dsc_0844 Small

Kortpad klas in die glas 

Selfs diegene wie se kosmaakvaardighede aan die skraal kant is, kan hierdie winter hul hand waag aan ‘n brandewyn-skepping, soos om brandewyn warm met lemoenskil te bedien (eet donker sjokolade daarby) of ‘n warm sjokoladedrankie met brandrissie en brandewyn te geur.

{FINE BRANDY FUSION VIER VLOEIBARE GOUD IN KAAPSTAD} 

Fine Brandy Fusion is ’n luukse toonvenster van die land se beste brandewyne en die glansryke leefstyl wat daarmee saamkom, en vir sy Kaapse debuut spog die fees met die tema “Celebrate Liquid Gold”. Fine Brandy Fusion Sandton, wat vanjaar die 6de keer gehou word, word nog vanaand in die Kaapstad Konferenseiesentrum gehou en van 26-28 Junie 2013 weer in die Sandton-konferensiesentrum.

Daar sal heelwat te sien, doen, ruik en proe wees vir die jonges, byderwetses, gesofistikeerdes en fynproewers wat na dié glansryke vlagskip-geleentheid stroom om Suid-Afrika se internasionaal bekroonde brandewynbedryf van nader te leer ken. Fine Brandy Fusion is die volmaakte kruising tussen ‘n partytjie-animal en goeie leermeester en leerkurwe, en weerspieël brandewyn se prettige én verfynde kant met ’n eiesoortige mengsel van kulture en style.

Praktiese besonderhede

Fine Brandy Fusion, Kaapstad, 9-10 Mei, Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum

Tye: 17:30-21:30 (geen toegang ná 21:00)

Prys: R175 , wat ’n brandewyn-proeglas en ‘n boekie met drankie en koffie-koeponne insluit.

Kaartjies is beskikbaar by Computicket of by die deur.

Geen besoekers onder 18 jaar word toegelaat nie.

www.brandyfusion.co.za

Twitter: @BrandyFusion / #brandyfusion

Facebook: www.facebook.com/finebrandyfusion

Varktjops, getruffelde botterboonsous, caprese gortslaai vir le famiglia

30 Nov

Betekenisvolle toevalligheid. ‘n Paar dae na ek die wêreld se beste Italiaanse sjef Massimo Botturo van Modena by die Eat Out konferensie ontmoet, woon ek ‘n Italiaanse ete by waar die Italiaanse konsul – ‘n mooi jong mannetjie – ook uitgehang het.a pic van caprese in glasbakkie petunia foto

Kort voor lank praat ek Afrikaans met ‘n swaar Italiaanse aksent, want met ‘n Italiaanse oupa en nooiensvan is die land ‘n deeltjie van my hartklop. En of jou van Bottura, Pietrella, Espost, Louw, van Wyk, de Kock of Du Toit is, ons is tot in ons murg lief vir kos met ‘n storie en ‘n herkoms.

IMG_9689 S klaar dis

Voor: Porchetta-styl vinkel varktjoppies met getruffelde botterboonsous                                                            Agter: Caprese gortslaai (foto Manlief Ian)

Die kos- en wynaand is by die Italiaanse eetplek Zibaldone  by die Tyger Waterfront gehou om die tradisionele kookkuns van Umbrië en die wyne van Lungarotti te vier. Die eienaar-broers Roberto en Adriano Pietrella kom self van die gebied en kook die cucina de povera  wat hierdie eenvoudige kookkuns so hartverskeurend lekker maak.  As ons bymekaar kom, voel hulle soos familie. Le famiglia.

Toevallig (dog betekenisvol vir my) eet ek dieselfde middag by Diemersdal se nuwe eetplek wat die Louws saam met sjef Nic van Wyk in ‘n ou stal op die plaas oopgemaak het. Die geure is eg, aards, plattelands en elegant in sy eenvoud. Daar eet ek onder meer ‘n sous van witbone en truffel wat almal aan die tafel laat swymel. (Dit was bedien oor stadig-geroosterde, gepluiste skaapblad as deel van hul tapas-bord.)

Almal aan tafel voel soos Louw le famiglia, saamgebind deur ‘n liefde vir kos.  Hier, net soos by die Pietrellas van Zibaldone word tradisie lewend gehou deur ‘n kreatiewe vertolking van kos-tradisies en rituele uit die verlede.

By Zibaldone eet ek vir die eerste keer  die antieke graan farro (spelt in Engels); soortgelyk aan gort, maar meer neutering.  Dis in die gees van caprese gebruik saam met fyn gekapte tamatie, mozzarella, basielkruid en olyfolie. Heerlik verby. Eenvoudig soos dit hoort. Kleurvol soos die Italiaanse vlag.

Ek maak ook vir die eerste keer kennis met porchetta. Roberto maak vir ons (en die jong konsul) porchetta di pancetta alla Perugina – ‘n tradisionele manier om vark gaar te maak sodat die vetjies goudbros is en kraak onder die tande, die vleis doeksag en sappig; die geure van vinkel die groot geurmiddel. Ek moes dit weer proe.

a zilbadone se porchettaIMG_9525 S

Porchetta di pancetta alla Perugina soos Zibaldone dit voorgesit het. (Foto: Ian) 

Die smake van die dag met twee feeste spook so by my dat ek dit net weer moes proe, in my eie cucina. Dis hoe ek toe gister – op my verjaarsdag – in my kombuis staan en die geure probeer herroep en herskep om iets van die magiese dag weer te herleef.  Ek maal, roer en braai iets van ‘la vita e bella’ van die Pietrellas by die varktjops in;  ek probeer die botterbone geur met die gulhartigheid van die Louws en die mense van die Diemersdal eetplek waar ek soos familie voel.

Terug by die caprese gortslaai – my nuwe gunsteling.

a pic van caprese met gaar koring petunia

Caprese gortslaai

Hier is ‘n vars, nuwe manier om die klassieke Caprese slaai te geniet met die parfuum van basielkruid, wat saam met tamatie en mozzarella (ek gebruik fior de latte) die gort geur. En soos vir alles Italiaans trek ek die olyfolie nader. Dankie aan die broer Adriano en Roberto Pietrella van Zibaldone wat die inspirasie is.

1 bossie vars basielblare, gewas en in lang repies gesny

400 g kersietamaties, fyngekap

1 bol buffelsmelk mozzarella of fior de latte (kyk by Woolworths), in  klein blokkies gesny

60 ml ekstra fyn olyfolie

200 g gort (pearl barley) *

Sout en peper

Spatsel goeie wynasyn

Om die gort aan te maak volg jy die aanwysings op die pakkie, maar kook dit net al dente (die korrels moet nog byt hê en die korrels mooi los wees en nie aanmekaar vassit nie) Plaas in vergiettes en spoel onder lopende water af. Dreineer goed. Plaas in slaaibak en roer ‘n paar skeute olyfolie by sodat die korrels nie aanmekaar sit nie. Geur met sout en peper. Net voor opdiening, roer die gekapte tamatie, basielkruid en mozzarellablokkies bly. Nog olyfolie, ‘n spatsel asyn. Proe weer en geur. Sit voor.


klaar slaai IMG_9639 S

Vars. Heerlik. Maklik. Gesond.

Varktjops porchetta-styl met witbone- en sweempie truffelsous

Die varktjops, porchetta-styl, dra ek aan die broers Pietrella van Zibaldone en hul ma op. Die botterboon- en truffelsous aan die Diemersdallers, Nic van Wyk en sous chef Martin de Kock. Nou’s almal le famiglia in die een dis.

a pic van botterbone compilation van 4

Sous

2 blikkies botterbone, afgespoel en gedreineer

190 ml room

30 ml botter en 15 ml olyfolie

‘n Paar druppels truffelolie of  5ml truffelbotter (gebruik spaarsamig)

Melk  (sowat 125 ml, maar minder of meer kan nodig wees)

Verhit botter en olyfolie  in ‘n pan, soteer die bone, draai hitte laer en voeg die room en truffelbotter by. Geur met sout en peper.  Prut stadig vir 5 minute. Skep die helfte van die bone uit en verpulp met handzirtser tot baie fyn terwyl genoeg melk geleidelik bygevoeg word tot die sous net lekker vloeibaar is.

Skep die boontjiepulp terug in die pan en roer deur die heel bone. Hou warm, maar moenie opkook nie.

Tjops

a IMG_9619 S rou tjoppies

Die varktjoppies word ingesmeer met die geroosterde, fyngemaalde vinkel en olyfolie. Agterna gee die vars vinkel kleur en geur aan die gaar tjoppies.

4 groot varktjops, met vet aan, swoerd afgesny

Botter en olyfolie vir braai

30 ml olyfolie

30 ml vinkelsade

Sout en peper

15 g vinkeltakkies, fyngekap (fennel fronts)

Rooster die vinkelsade droog in ‘n pan tot die geure ontwikkel. Maak fyn in ‘n stamper en vysel (of koffiemaler) saam met growwe sout. Maak ‘n smeermengsel van die fyn vinkel en olyfolie en smeer elke tjop goed in. Laat staan minstens 15 minute of tot 2 ure. Braai in warm pan (vetrandjie eerste) met bietjie botter en olyfolie tot net gaar.

Opdiening: Skep die bone- en truffelsous oor. As jy sjeffie wil wees, trek ook ‘n streep met die sous (sonder heel bone) langs die vleis.  Strooi die fyngekapte vinkeltakkies kwistig oor. Bedien met fyngekookte spinasie eenvoudig net met sout en peper gegeur; asook die caprese-gortslaai.

Zibaldone: Tygervalley Waterfront. Tel 021 914 1771  

Diemersdal Ou Stal plaas-eetplek:   079 917 2797  /  Facebook: Diemersdal Farm Eatery

 

 

Twee manjifieke brode: Ciabatta sonder knie + soetpatatbrood

25 May

Maar as daar die middag vars brood onder die broodkombersie op die spenstafel staan, eet Pa vars brood en botter, vir hom die lekkerste kos. Hy sny vir hom ‘n knewel van ‘n sny brood, met die brood so skuins teen sy bors gehou, en smeer die sny dik van die botter.”  (Audrey Blignault)  

Met die knievrye metode, stadige rys, ysterpot en baie warm oond, is die kors krakerig en die brood geurig met groot rysgate ... asof dit uit 'n bakkery kom.

Met die knievrye metode, stadige rys, ysterpot en baie warm oond, is die kors krakerig en die brood geurig met groot rysgate … asof dit uit ‘n bakkery kom.

Dit sou gewis ‘n bielie van ‘n plaasbrood gewees het wat die skrywer se pa so teen sy bors gehou het. As hy hierdie ciabatta geproe het wat van New York bakker Jim Lahey ‘n ikoon van die artisinale broodbak-era gemaak het, sou hy hom ook so na aan die hart wou hou.  Hy sou dit kon waardeer dat die woord ciabatta  ‘pantoffel’ in Italiaans beteken. Hy sal hom dalk nie gesteur het aan die feit dat die brood oorspronklik van die Como Mere-distrik af kom nie – daar waar George Clooney nou sy villa het. Hierdie ‘geen-knie’ ciabatta-styl broodresep met sy  tipiese groot rysgate en krakerige kors is so spesiaal dat ek dit ook in ons kookboek Huiskok Glanskok ingesluit het in te sluit. Dit vra net ‘n bietjie geduld want die want die deeg rys en rus vir ‘n dag en ‘n nag. In ‘n japtrap maak jy dit toe-oë.

 CIABATTA SONDER KNIE 

Die resep wat in New York Times verskyn het, het Bakker Jim Lahey van die Sullivan Street Bakery oornag beroemd gemaak het. Hy het dit later in sy boek ‘My bread – the revolutionary no-work, no-knead method’ ingesluit. Dis maklik, en jy’t niks meer nodig as as ‘n platboom swartpot en sowat 18 ure vir rystyd nie. En selfs as jy nie ‘n ysterpot het nie, sal ‘n Pyrex skottel met ‘n deksel ook deug.

Maak 1 groot brood

Rystyd 18 tot 22 ure

750 ml witbroodmeel (ekstra vir oorsprinkel)

2 ml brouersgis

6 ml sout

375 ml kraanwater

Ekstra meel of semels vir vorm

Meng meel, gis en sout in ‘n groot mengbak. Voeg water by en roer met ‘n lepel tot goed gemeng. Die deeg sal baie klam en klewerig wees. Bedek die bak met kleefplastiek en laat deeg 14-18 ure rus by kamertemperatuur. Die deeg is reg as die oppervlak vol lugborrels is.

Plaas deeg op ‘n meelbestrooide oppervlak. Sprinkel nog meel oor die deeg en vou dit  2 keer. Bedek lossies met kleefplastiek en laat 15 minute rus.  Vorm die deeg in ‘n bal, gebruik net genoeg meel om te voorkom dat dit aan die vingers of die oppervlak kleef. Sprinkel heelwat semels of witbroodmeel oor ‘n katoenvadoek en plaas die bol deeg bo-op die meel of semels. Sprinkel nog meel of semels bo-oor. Bedek met nog ‘n katoenvadoek en laat 2 ure rys.

Die deeg sal omtrent in volume verdubbel. Voorverhit die oond tot 230°C ten minste 30 minute voordat die deeg reg is. Plaas ‘n  gesmeerde (5 – 7 liter) gietyster, enamel, Pyrex of keramiekpot, wat ‘n digpassende deksel het, in die oond terwyl dit voorverhit. Haal die pot versigtig uit die oond sodra die oond die regte temperatuur bereik het. Skuif die hande onder die vadoek met die deeg en keer dit versigtig om in die warm pot. Skud die pot 2 keer as die deeg oneweredig versprei is. Sit die pot se deksel op en bak 30 minute. Verwyder die deksel en bak nog 15 – 30 minute of tot die brood mooi bruin is. Laat die brood effens in die pot afkoel en keer dan op ‘n draadrak uit.

SOETPATATBROOD

Juanita Louw van Diemersdal se soetpatatbrood. Ek moes dit net eenvoudig in ons kookboek Huiskos Glanskok insluit. Samarie het die foto in ons tuin geneem en my kookmaat Francois Ferreira dra die mandjie. Die wit en rooi rysdoek is Daleen se ma s’n. Die mandjie is wel myne!

Audrey Blignaut en haar broodmal pa sou ook toustaan vir hierdie besonderse brood. Die geurige brood is stapelvoedsel vir die Louws van Diemersdal. Dis nie nodig om die suurdeeg aan die gang te kry met suiker nie, want die soetigheid in die patat sorg vir die soet.

Die resep maak 4 klein broodjies – daar’s dus genoeg om in die buurt ook uit te deel. As een van my allergunsteling-plase en brode, is dit ook in die Huiskok Glanskok kookboek ingesluit.

500 g gaar  soetpatat, fyngedruk

900 ml lou water

1.5 kg koekmeel

20 ml sout

1 1/2 pakkie kitssuurdeeg

Voorverhit oond tot 220⁰ C. Smeer twee bakplaatjies.

Meng gaar patats en lou water tot glad. Plaas al die ander bestandele in ‘n kommetjie en maak ‘n holte daarin.   Voeg soetpatat by en knie droë bestandele in tot die deeg glad en elasties is. Laat rys tot die deeg in volume verdubbel. Knie die deeg af en verdeel in vier ewe groot dele.  Plaas twee op elke bakplaat, sny kepe in en laat weer rys. Besprinkel met meel. Bak vir 15 minute by 220⁰C en verlaag hitte na 180⁰C  vir die laaste 30 minute.

%d bloggers like this: