Tag Archives: Food from my Kitchen. Kookboek. Struik

Vetkoekies met spesery-sjokoladesous so uit die boek uit

15 Jul

O glorie, hoe kan enigiets meer skatlik wees as hierdie diepgebraaide, doughnutterige lieflikhede van pofferige kussingrige vetkoekies? Dis hoe Sarah Graham, skrywer van die nuwe kookboekfonds Home. Food from my Kitchen, hierdie tradisionele heerlikheid beskryf.

Vetkoekies met sjokolade-doopsous (Foto's Warren Heath vir Struik Lifestyle)

Vetkoekies met sjokolade-doopsous (Foto’s Warren Heath vir Struik Lifestyle)

Dis nie soseer haar liriese beskrywing nie as die feit dat haar kinkel die vetkoek – een van die mees geliefkoosde kosse wat ons ken – na die poedingtafel toe bring. Nie net poedingtafel toe nie, maar ook sommer as middel van die middag-bederf. En hoekom nie ook soos die Spanjaard en Portugese maak nie, en dit in die oggend eet vir ‘n bederf-ontbyt nie. Hier volg die resep en daarna ‘n bespreking van die  boek.

VETKOEKIES MET ‘N SPESERY SJOKOLADEDOOPSOUS

Maak omtrent 20

Voorbereidingtyd: 10 minute Gaarmaaktyd: 10-15 minute

WAT JY NODIG HET

  • 2 k bruismeel, gesif
  • 1 t koeksoda
  • 1 t sout
  • 2 e suiker
  • 2 eiers, goed geklits
  • 1 koppie karringmelk
  • 2 e melk
  • 1 e gesmelte botter
  • Kookolie, vir diepbraai

Spesery-sjokolade doopsous

  • ½ k vars room
  • 1 kaneelstokkie
  • 2 kardomomsade, gekneus
  • ½ k sjokolade haselneutsmeer

Kaneelsuiker

  • 4 E strooisuiker
  • ½ t fyn kaneel

WAT OM TE DOEN

  1. Sif die meel en koeksoda saam in ‘n groot mengbak, voeg dan die sout en die suiker by. Meng die nat bestanddele in ‘n aparte bak, gooi dit by die droë bestanddele en roer tot dit ‘n gladde beslag vorm. Dit sal redelik dik wees.
  2. Gooi die olie omtrent 4 cm diep in ‘n groot kastrol en verhit. (As jy ‘n termometer gebruik, verhit tot 200°C of ‘n toetskrummel moet binne 30 sekondes goudbruin raak.) Drup eetlepelsvol van die beslag in die warm olie, een lepel op ‘n slag.
  3. Braai tot die goudkoekies alkant goudbruin is, draai hulle van tyd tot tyd om. Dit sal 3 – 4 minute neem. Dreineer op kombuispapier.
  4. Om die sous te maak: verhit die room en die speserye oor lae hitte in ‘n kastrolletjie tot die room saggies begin prut. Gooi deur ‘n sif en klits die sjokolade-haselneutsmeer by tot glad en blink. Indien nodig verdun effe met ‘n klein bietjie warm water, 1 E op ‘n slag.
  5. Meng die strooisuiker en kaneel saam en sprinkel oor die vetkoek. Bedien dadelik met die sjokoladedoopsous.

(Resep uittreksel uit Home. Food from my Kitchen deur Sarah Graham (Struik Lifestyle)

Sarah Graham - die x-factor van hierdie lekker kookboek

Sarah Graham – die x-factor van hierdie lekker kookboek

Meer oor Sarah Graham en haar boek: Home. Food from my Kitchen Home: Food from my Kitchen word uitgegee deur Penguin Random House/ Struik Lifestyle, en is soos die kookboeke uit hierdie stal ‘n knap stukkie werk. Waaroor dit boek gaan: Dis ‘n kookboek wat soos die naam aandui, handel oor huislike kos wat spreek van eenvoud. Dis gevul met resepte vir elke dag se familiemaaltye, maar ook vir ontspanne etes vir vriende wat kom kuier. Wie die skrywer is: Sarah Graham het bekendheid (en geliefdheid) verwerf as blogger – sy was die eerste Suid-Afrikaanse blogger wat ‘n kookboek utgegee het. Home. Food from my Kitchen is die derde in haar reeks, en volg op Bitten, en Smitten wat baie goed ontvang is – vandaar ‘n derde boek. Jy sal die pragtige Sarah ook herken van haar 13-episode televisiereeks Sarah Graham cooks Cape Town. Die formaat: Die indeling volg ‘n gerieflike standaard kookboekformaat ingedeel in afdelings soos Laatontbyt, slaaie, sop, peuselkos, vleis, hoender, pasta, seekos, nageregte en gebak. Die meeste resepte is toegelig met ‘n foto, sodat jy presies kan sien hoe die eindresultaat moet lyk. (Warren Heath het die foto’s geneem)

Waarvan ek baie hou:

  • Enige kookboekskrywer wat pampoenkoekies met gemmerroom vir laat-ontbyt voorstel is onmiddellik ‘n kosmaat van my!
  • Sarah is die boek se x-faktor: Neem vir Sarah Graham uit die boek uit, dan was dit steeds heel goed, maar MET haar is dit ‘n boek wat ek baie aanbeveel. Dis Sarah se entoesiasme, haar liefde vir kosmaak, haar warm persoonlikheid en gemaklike geselserigheid wat die boek onthoubaar maak. Die klein vertellings, die intrek in haar wêreld. Mens kan dit seker as ‘blog-styl’ beskryf, maar daar is niks van die hinderlike óórvertelling wat dikwels blogskrywers laat struikel nie.
  • Ek is ook nie altyd so ‘hot’ op boeke waarop die skrywer soos ‘n model op elke tweede blad ingewerk word nie. Hier, met Sarah se warm ‘girl-next-door’ sjarme en natuurlikheid verwelkom ek dit en voel of sy saam met my bak en kook uit haar boek uit.
  • Aanbieding: Die hardeband-omslag skep altyd ‘n gevoel van kwaliteit. Die boek doen hom egter nie voor anders as wat dit is nie – casual, elke dag se kos met ‘n hedendaagse aanslag. Die logiese indeling van resepte, die duidelike uitleg. Maar veral – die boek is ‘n vars briesie en lyk soos Sarah self, baie mooi maar sonder aansit, dubbellaag grimering of behang van bykomstighede nie. Die stilering is nie oordoen nie en die kos is op elke foto die held, nie die ‘props’ nie.

    Mieliebrood met gepopte tamaties

    Mieliebrood met gepopte tamaties

Resepte wat ek beslis daaruit sal maak: Ondersoeke toon dat mense selde meer as 1, selfs 2 dalk, resepte uit ‘n kookboek maak. Ek het klaar ‘n lot gemerk wat ek sommer in die volgende maand wil probeer soos:

  • Die soetmieliepotbrood met blistered tamaties (sien foto bo)
  • Die pampoenkoekies met gemmerroom
  • Die vurige lensie- en chorizosop
  • Sticky Asian ribs (ek’s ‘n sucker vir sticky Asian ribs! )
  • Cider, Clementine varklies met geroosterde wortel-mash.
  • Espresso pavlova met speserye-pere

Daar is ook allerhande interessante bygereggies, smere en dinge wat mens maklik lan meng en pas met kos uit jou eie repertoire.

Klip in die bos 

  • Vir  ‘n boek wat R260 kos, en hardeband is, sal die verwagting wees dat elke resep ‘n foto moet by hê, veral in ‘n blog-inslag-kookboek wat dikwels die beginner- of onervare kok moet lei.
  •  Min kwel my andersins aan die boek. Ek sou meer gebak wou sien. Die boek se naam is immers Home! en wat is ‘n huis sonder ‘n propperse sjokolade-laagkoek. Ek is seker agter die tyd, maar sjokolade-traybakes het net nie dieselfde gevoel van ‘hier is vandag sjokoladekoek gebak nie’. Is dit ‘n tekortkoming van die boek? Nee, net maar my eie gevoel dat elke huis en elke boek ‘n sjokoladekoek kort om volmaak te wees.

Op die punteskaal:

  • As ek nog Huishoudkunde-juffrou was het ek vir Sarah ‘n goue sterretjie gegee vir ‘a job well done’. In die genre van persoonlikheidsgedrewe kookboeke met ongekompliseerde kos kry dit ‘n oortuigende A. Met foto’s by elke resep sou dit A+ gewees het!

>Home. Food from my Kitchen kos R260.

%d bloggers like this: