O glorie, hoe kan enigiets meer skatlik wees as hierdie diepgebraaide, doughnutterige lieflikhede van pofferige kussingrige vetkoekies? Dis hoe Sarah Graham, skrywer van die nuwe kookboekfonds Home. Food from my Kitchen, hierdie tradisionele heerlikheid beskryf.
Dis nie soseer haar liriese beskrywing nie as die feit dat haar kinkel die vetkoek – een van die mees geliefkoosde kosse wat ons ken – na die poedingtafel toe bring. Nie net poedingtafel toe nie, maar ook sommer as middel van die middag-bederf. En hoekom nie ook soos die Spanjaard en Portugese maak nie, en dit in die oggend eet vir ‘n bederf-ontbyt nie. Hier volg die resep en daarna ‘n bespreking van die boek.
VETKOEKIES MET ‘N SPESERY SJOKOLADEDOOPSOUS
Maak omtrent 20
Voorbereidingtyd: 10 minute Gaarmaaktyd: 10-15 minute
WAT JY NODIG HET
- 2 k bruismeel, gesif
- 1 t koeksoda
- 1 t sout
- 2 e suiker
- 2 eiers, goed geklits
- 1 koppie karringmelk
- 2 e melk
- 1 e gesmelte botter
- Kookolie, vir diepbraai
Spesery-sjokolade doopsous
- ½ k vars room
- 1 kaneelstokkie
- 2 kardomomsade, gekneus
- ½ k sjokolade haselneutsmeer
Kaneelsuiker
- 4 E strooisuiker
- ½ t fyn kaneel
WAT OM TE DOEN
- Sif die meel en koeksoda saam in ‘n groot mengbak, voeg dan die sout en die suiker by. Meng die nat bestanddele in ‘n aparte bak, gooi dit by die droë bestanddele en roer tot dit ‘n gladde beslag vorm. Dit sal redelik dik wees.
- Gooi die olie omtrent 4 cm diep in ‘n groot kastrol en verhit. (As jy ‘n termometer gebruik, verhit tot 200°C of ‘n toetskrummel moet binne 30 sekondes goudbruin raak.) Drup eetlepelsvol van die beslag in die warm olie, een lepel op ‘n slag.
- Braai tot die goudkoekies alkant goudbruin is, draai hulle van tyd tot tyd om. Dit sal 3 – 4 minute neem. Dreineer op kombuispapier.
- Om die sous te maak: verhit die room en die speserye oor lae hitte in ‘n kastrolletjie tot die room saggies begin prut. Gooi deur ‘n sif en klits die sjokolade-haselneutsmeer by tot glad en blink. Indien nodig verdun effe met ‘n klein bietjie warm water, 1 E op ‘n slag.
- Meng die strooisuiker en kaneel saam en sprinkel oor die vetkoek. Bedien dadelik met die sjokoladedoopsous.
(Resep uittreksel uit Home. Food from my Kitchen deur Sarah Graham (Struik Lifestyle)
Meer oor Sarah Graham en haar boek: Home. Food from my Kitchen Home: Food from my Kitchen word uitgegee deur Penguin Random House/ Struik Lifestyle, en is soos die kookboeke uit hierdie stal ‘n knap stukkie werk. Waaroor dit boek gaan: Dis ‘n kookboek wat soos die naam aandui, handel oor huislike kos wat spreek van eenvoud. Dis gevul met resepte vir elke dag se familiemaaltye, maar ook vir ontspanne etes vir vriende wat kom kuier. Wie die skrywer is: Sarah Graham het bekendheid (en geliefdheid) verwerf as blogger – sy was die eerste Suid-Afrikaanse blogger wat ‘n kookboek utgegee het. Home. Food from my Kitchen is die derde in haar reeks, en volg op Bitten, en Smitten wat baie goed ontvang is – vandaar ‘n derde boek. Jy sal die pragtige Sarah ook herken van haar 13-episode televisiereeks Sarah Graham cooks Cape Town. Die formaat: Die indeling volg ‘n gerieflike standaard kookboekformaat ingedeel in afdelings soos Laatontbyt, slaaie, sop, peuselkos, vleis, hoender, pasta, seekos, nageregte en gebak. Die meeste resepte is toegelig met ‘n foto, sodat jy presies kan sien hoe die eindresultaat moet lyk. (Warren Heath het die foto’s geneem)
Waarvan ek baie hou:
- Enige kookboekskrywer wat pampoenkoekies met gemmerroom vir laat-ontbyt voorstel is onmiddellik ‘n kosmaat van my!
- Sarah is die boek se x-faktor: Neem vir Sarah Graham uit die boek uit, dan was dit steeds heel goed, maar MET haar is dit ‘n boek wat ek baie aanbeveel. Dis Sarah se entoesiasme, haar liefde vir kosmaak, haar warm persoonlikheid en gemaklike geselserigheid wat die boek onthoubaar maak. Die klein vertellings, die intrek in haar wêreld. Mens kan dit seker as ‘blog-styl’ beskryf, maar daar is niks van die hinderlike óórvertelling wat dikwels blogskrywers laat struikel nie.
- Ek is ook nie altyd so ‘hot’ op boeke waarop die skrywer soos ‘n model op elke tweede blad ingewerk word nie. Hier, met Sarah se warm ‘girl-next-door’ sjarme en natuurlikheid verwelkom ek dit en voel of sy saam met my bak en kook uit haar boek uit.
- Aanbieding: Die hardeband-omslag skep altyd ‘n gevoel van kwaliteit. Die boek doen hom egter nie voor anders as wat dit is nie – casual, elke dag se kos met ‘n hedendaagse aanslag. Die logiese indeling van resepte, die duidelike uitleg. Maar veral – die boek is ‘n vars briesie en lyk soos Sarah self, baie mooi maar sonder aansit, dubbellaag grimering of behang van bykomstighede nie. Die stilering is nie oordoen nie en die kos is op elke foto die held, nie die ‘props’ nie.
Resepte wat ek beslis daaruit sal maak: Ondersoeke toon dat mense selde meer as 1, selfs 2 dalk, resepte uit ‘n kookboek maak. Ek het klaar ‘n lot gemerk wat ek sommer in die volgende maand wil probeer soos:
- Die soetmieliepotbrood met blistered tamaties (sien foto bo)
- Die pampoenkoekies met gemmerroom
- Die vurige lensie- en chorizosop
- Sticky Asian ribs (ek’s ‘n sucker vir sticky Asian ribs! )
- Cider, Clementine varklies met geroosterde wortel-mash.
- Espresso pavlova met speserye-pere
Daar is ook allerhande interessante bygereggies, smere en dinge wat mens maklik lan meng en pas met kos uit jou eie repertoire.
Klip in die bos
- Vir ‘n boek wat R260 kos, en hardeband is, sal die verwagting wees dat elke resep ‘n foto moet by hê, veral in ‘n blog-inslag-kookboek wat dikwels die beginner- of onervare kok moet lei.
- Min kwel my andersins aan die boek. Ek sou meer gebak wou sien. Die boek se naam is immers Home! en wat is ‘n huis sonder ‘n propperse sjokolade-laagkoek. Ek is seker agter die tyd, maar sjokolade-traybakes het net nie dieselfde gevoel van ‘hier is vandag sjokoladekoek gebak nie’. Is dit ‘n tekortkoming van die boek? Nee, net maar my eie gevoel dat elke huis en elke boek ‘n sjokoladekoek kort om volmaak te wees.
Op die punteskaal:
- As ek nog Huishoudkunde-juffrou was het ek vir Sarah ‘n goue sterretjie gegee vir ‘a job well done’. In die genre van persoonlikheidsgedrewe kookboeke met ongekompliseerde kos kry dit ‘n oortuigende A. Met foto’s by elke resep sou dit A+ gewees het!
>Home. Food from my Kitchen kos R260.
Ek het met bakpoeier vetkoek grootgeword as ons nie brood in die huis gehad het nie. Hier in Douglas het ek leer suurdeeg vetkoek bak en eet. Hierdie resep is ‘n wenner. Ek weet nie of dit die koeksoda/bruismeel/karringmelk kombinasie is nie. Selfs nadat dit ‘n ruk gestaan het bly dit nog bros. Ek het dit ook ‘savoury’ gemaak gister en saam met sop bedien langs ‘n kampvuur.
Omdat ons so baie pampoenpoffers maak vir funksies het ek van die begin af my deeg in die olie gedrup met ‘n bolletjiemaker(soos roomys skepper). Nou het ons enige moontlike grootte bolletjies makers want ons gebruik dit vir frikkadelle ens. Maklik as jy alles ewe groot wil he.
Marieta Cillier (Mareli se Ma)
Hi Marieta, goed om kennis te maak! Ek dink ook die verkoekies is heerlik. Groete, Errieda
Ek het die eerste 2 boeke en sal graag die stel volledig wil hê…omdat ek ‘n boek vraat is. Ek gaan nou ‘n ou cliche aanhaal: “My ma het dit so gedoen en nou doen ek dit ook so….”… My ma het met ‘n vetkoek deeg wat met bakpoeier gemaak word met ‘n spuitsak en ‘n groot rondepunt neus sulke 5cm lang wurmpies in die kokende olie gespuit. As ek nou daaraan dink…dan is dit amper soos om churros en dauphines in olie te bak. Sy het dit dadelik in oorskiet koeksister stroop gesit en dan in klapper of strooisuiker gerol. Vandag vat ek dit met ‘n Twist verder en spuit ‘n romerige sjokolade en rissie mousse binne in vir ‘n smaak ontploffing soos min en gebruik ook die rissie vir garnering.
Heerlike Idees. Dankie.
Mmm….vetkoet vat my terug na my ou se dae, toe sy gestaan en knie het aan die deeg van die vetkoek…die reuk wat die hele huis vol is en aankondig dat iets spesiaals gemaak gaan word. Ek het gedink op ‘n twist sal ‘n red velvet vet koek met ‘n roomkaas mouse of ‘n suurlemoen smeer binne in heerlik wees met ‘n drupsel sjokolade ganache! Ek sal graag my ouma wil neersit en vir haar my variasie van haar soet vetkoek wil voorsit. Daai glimlag van haar sal moet jam kry!
Die rooifluweelvetkoek is interessant. Hoe dink jy Sal die diepvetbraai die kleur beinvloed? Ek’s nuuskierig.
Hi Elize, dis reeds reggestel. Dankie!