Tag Archives: francois ferreira

Kerrie, bhel poori en lensies laat die raj in genotsfloute

8 Jun

My ma maak kerkbasaar-kerrie … van daai met die bekende kerriepoeier wat uit die geel boksies kom: baie lekker maar bietjie te lig in die broek vir vandag se Kaapse koue. Jammer, Ma!

Bhel Poori bykos vir Korma

My kosvriend Francois weet dit nie, maar vanaand as hy kom kuier maak ek vir hom ‘n gereg uit sy eie repertoire – Korma en Bel Poori.

Ek kan my altyd verkyk aan hom as hy kerrie maak: hoe hy sy speserye, stamper en vysel nader trek en deur die wasigheid van stomende potte en sissende panne die verhaal skets van kos uit Indië se Imperiale kombuise en straatstalletjies. Hy’t my ook geleer van dhal en biryani, Punjabi tandooris en kormas uit Kashmir, selfs om my eie garam masala te maak wat my eie stempel dra.

Terloops: die woord kerrie is afgelei van die Tamil kari wat sous of groentegereg beteken.

O genade, wat maak ek vanaand?! Stapel boeke op my bedkassie gisteraand ge-Instagram.

Daar’s ‘n kerrie vir elke dag van die jaar, maar vanaand maak ek  Francois-korma uit ons eie boek Huiskok Glanskok.  Hy ken die  kuns om kerrie te maak met laag-op-laag geure.

Francois aan die korma kook vir ons boek Huiskok Glanskok

BIEF KORMA

Maak 4 porsies

800 g stowebeesvleis in blokkies gesny

150 ml natuurlike jogurt

15 ml gemaalde komyn

2,5 ml borrie

5 ml poppiesaad

5 ml rissiepoeier

2,5 ml gemaalde naeltjies

2,5 ml kardomom

15 ml gerasperde vars gemmer

3 knoffelhuisies fyngekap

Sout en peper

500 g uie in ringe gesny

60 ml olie

Plaas die beesvleis saam met al die bestanddele behalwe die uie en die olie in ‘n bak. Meng goed deur en plaas vir ten minste 3 ure in die yskas. Verhit die olie in ‘n pot en braai die uie tot sag, roer die vleismengsel by en verhit tot kookpunt. Plaas ‘n deksel op en prut vir 2 ure  tot die vleis murgsag is. Bedien met basmati rys (sien resep vir suurlemoenrys) en/of bhel poori.  Maak ‘n eenvoudige sambals.

BHEL POORI

Hierdie lekker aartappel bykos is ook altyd op die tafel as Francois kerrie maak. Dis ‘n gewilde straatkos in Moembaai waar dit as vulsel vir die Indiese brood poori gebruik word.  Blatjang is ‘n moet-bykossie.

Maak 4 porsies

1 kg aartappels, gekook en in groterige blokkies gesny

500g uie, gesny

30 ml olie

3 tamaties, vel afgetrek en grof gekap

200 ml jogurt

15 ml gemaalde komyn

5 ml borrie

2 knoffelhuisies, fyn gekap

30 ml gerasperde vars gemmer

1 groen brandrissie, ontpit en fyngekap

Sout en peper na smaak

Braai die uie in die olie en voeg die komyn, borrie, knoffel, gemmer en rissie by. Braai vir ‘n paar minute terwyl dit heeltyd geroer word. Voeg die tamaties by en prut vir 3-5 minute. Voeg die aartappels by en verhit saam met die res van die bestanddele. Verwyder van die stoof. Voeg die jogurt by, roer goed deur en laat afkoel tot kamer- temperatuur. Skep in klein bakkies. Bedien met poppadums of poori en twee soorte blatjang.

{Interessant}

Die Portugese het tamaties, aartappels en brandrissie aan Indië bekend gestel. Selfs die beroemde vuurwarm Indiese vindaloo het ‘n Portugese invloed.  “Ferreira” is hoeka Portugees, so Francois se voorsate het bygedra dat ons nou so lekker aan Indiense kerries smul.

Eiervrug dhal. Die dag wat ons hierdie foto vir Huiskok Glanskok geneem het, het Francois een van sy mooiste ou adellike borde uitgehaal. (Foto: Samarie Smith)

EIERVRUG- EN LENSIEKERRIE VIR MEATLESS MONDAY

Lensies, kos vir armes en koninklikes, word hier deel van eiervrug met sy adellike pers kleed.  Francois se dhal is so lekker dat ‘n raj hoogs tevrede sal wees.

Maak 4 porsies

100 g rooi lensies

150 g bruin lensies

60 ml olie

1 groot ui, in skywe gesny

15 ml garam masala

5 ml borrie

50 g grondboontjies, grof gekap

25 g droë klapper

30 ml blatjang

800 ml aftreksel

2 groot eiervrugte in blokkies gesny met die skil aan

15 ml suurlemoensap

Sout en peper

Plaas die lensies in ‘n kastrol en bedek met koue water. Verhit tot kookpunt en kook stadig vir 10 minute. Dreineer. Verhit die olie in ‘n braaipan en braai die uie tot sag.

Voeg die garam masala en borrie by. Kook vir 2 – 3 minute en roer aanhoudend. Voeg die eiervrug by en braai totdat die eiervrug begin kleur aanneem.  Voeg die lensies, grondboontjies, klapper, blatjang, suurlemoensap en aftreksel by. Verhit tot kookpunt en roer. Sit die deksel op en prut stadig vir 30 minute. Proe en voeg sout en peper by na smaak. Bedien warm met rys of roti.

{Interessant} Lensies, ook genoem dhal, en droë bone is so ‘n belangrike stapelvoedsel in Indië dat in die volksmonds gepraat word van ‘om jou dhal roti te verdien’ – soos ons sou praat van ‘om jou brood te verdien’.

SAMBALS

Geen kerrie-maaltyd is volledig sonder ten minste een tipe sambal nie, selfs al is dit net ‘n opgekapte rissie of vars ui.

Tamatie en uie Kachoomber

 Maak 6 porsies

3 groot tamaties in blokkies gesny

2 groot uie fyngekap

3 knoffelhuisies fyngekap

‘n handvol vars koljander (dhania) grof gekap

30 ml asyn

Sout en peper na smaak

Meng al die bestanddele saam en bedien saam met kerrie.

{Huiskok Glanskok op radio en boek}

Ons boek Huiskok Glanskok vier my en Francois se dekade-lange kosvriendskap op RSG. Human & Rousseau is die uitgewers en Samarie Smith het die pragtige foto’s geneem. Daleen van der Merwe was ons redakteur.

Huiskok Glanskok word Vrydag-oggende op RSG uitgesaai. Ons gesels oor kos en kombuisdinge met Martelize Brink.

Kwetter gerus ook saam met my op Twitter @huiskok

Roosterkoek

7 Apr

{‘n Deel van die blog-inskrywing verskyn vandag in die Naweek-bylaag van Beeld/Die Burger – as ‘Roosterkoek setees’. Ekstra resepte vir kortpad-roosterkoeke en ander bykosse onderaan die blog}

‘n Belgiese kyk na roosterkoek met aubergine dip op die Vlaamse Njam.tv (resep onder)

So skop ‘n Engelsman my nou die dag stof in die oë by ‘n roosterkoek-kompetisie op Nitida. Sien, ek’s die huiskok van die RSG-radiopraatjie en vir dertien jaar kook ek en my Glanskok pel, sjef Francois Ferreira saam op lug. “Daar waar jy gaan sal ek gaan”. Toe hy my aanpor om deel te neem aan Nitida se eerste Roosterkoek-kompetisie waar hy as demonstreerder en beoordelaar optree, dink ek nie twee keer nie.

My Huiskok Glanskok pel sjef Francois Ferreira – heer en meester by Nitida se eerste Roosterkoek kompetisie

Dit was met net te veel selfvertroue dat ek daai dag die roosterkoek-deeg getakel het; op eie risiko die deeg te kort geknie het. Jy moet dit immers knie tot jou hande vanself skoon kom en niks meer deeg vasklou aan palm of skottel nie. Roosterkoek vra ‘n rustige gemoed en ‘n 10-minute knie.

Of dalk was dit omdat ek nie my eie deegkombers oor die rysende deeg gegooi het nie; nie geduldig genoeg was met die rysslag nie. Dalk was die deeg te pap, te styf. Of die braaikole onder beheer van my braaimaat Catherine Eybers te warm of te koud. Daar’s soveel dinge wat met roosterkoek kan verkeerd gaan dat ek baie verskonings kan aanhaal hoekom ‘n Engelse boertjie my laat les opsê het.  Roosterkoek bewys hom aan my as fyngebak eerder as  grofgebak.

Bietjie bek-af wens ek die paartjie Steve en Liezel Fountain geluk et hul sukses langs Nitida se vreugdevure. Ek het intussen my wonde gelek op die maat van die roosterkoek-setees (met komplimente van YouTube) en berusting gevind in ‘n hap weergemaakte roosterkoek – met deeg wat onder my eie deegkombers gerys het.

Huiskok en kookmaat Catherine se roosterkoek met groente-relish reg vir beoordeling – heerlik maar geweeg en te lig gevind vir ‘n oorwinning.

Francois se Roosterkoek

1 pakkie kitsgis

250 g Eureka koekmeel*

250 g Eureka broodmeel

1 eier

25 g sagte botter

2 eetlepels suiker

7.5 ml sout

Genoeg water om ‘n sagte deeg te maak

Plaas die meel en die gis in ‘n bak. Meng met die vingers en voeg die suiker en sout by. ( Moet nooit die gis direk met die suiker en sout  in aanraking laat kom nie. Meng die gis vooraf eers met die meel.) Vryf die sagte botter en en voeg die eier en louwarm water by om ‘n sagte deeg te vorm. Knie die deeg vir ongeveer 10 minute tot glad, blink en elasties. Plaas die deeg in ‘n skoon kom en bedek met ‘n teedoek. Laat dit in ‘n warm plek rys tot dubbeld die grootte – so 35-40 minute.  Knie die deeg af, druk dit plat en sny in vierkante. Bestryk dit liggies met meel sodat dit nie aan die rooster vassit nie. Rooster dit oor medium kole. Dit is reg wanneer dit hol klink as jy daarop klop.

*Die Eureka broodmeel is op tradisionele wyse met stene gemaal en kom uit die Overberg-gebied in Heidelberg en Swellendam se kontrei. Dis beskikbaar by landbou-koöperasies, delis en goeie supermarkte.

Die groente-relish-in-wording aan’t pekel in die sout en die mos.

Die kraakvars relish is verbasend lekker saam met die roosterkoek.

Mos en groente-relish

Hierdie relish van Francois word nie gekook nie, maar die suur in die wynmos – of die suurlemoensap – versag die rougeit.

Die pikante, krakerigheid van die groente is deksels lekker saam met die warm roosterkoek, en iets vars om saam met ‘n vetterige tjoppie of boerewors te gedien. As jy wil kan jy die relish verder opdolla met  murgpampoentjies, rooikool en varsgekapte kruie.  Ek het ook gevind dat ‘n bietjie bruinsuiker lekker werk om die sout en suur te balanseer.  Voeg dit liefs aan die einde by nadat die groente reeds vir ‘n ruk in die sout en suurlemoensap (of mos) gelê het.

Genoeg vir 4 mense

1 rooi soetrissie, fyngekap

1 medium ui, fyngekap

2 knoffelhuisies, fyngekap

1 rooi brandrissie, fyngekap en pitte verwyder

¼ kopkool, fyn gekerf

15 ml sout

100 ml wynmos of die sap van 4 suurlemoene.

Meng al die groente saam in ‘n mengbak. Voeg die sout by en werk dit met jou hande deur die groente.

Om die piekel proses te begin moet die groente en sout baie goed gemeng word. Laat staan die relish vir 30 minute in ‘n koel plek. Geniet saam met roosterkoek.

Deelnemers se groente-dip in verskillende stadiums van gaarword oor die kole.

Mos doopsous

Breek weg van tradisie en bedien jou roosterkoeke met ‘n  ongewone, maar heerlike doopsous wat in ‘n ysterpan oor die kole gaargemaak word terwyl die deeg rys. FRancois gebruik wynmosin hierdie resep, maar as jy dit nie in die hande kan kry nie, vervang dit met witwyn of witwyn-asyn. Bruinsuiker kan dan na smaak bygevoeg word.

4 porsies

1 rooi soetrissie fyngekap

1 medium ui fyngekap

2 knoffelhuisies fyngekap

1 rooi brandrissie fyngekap en pitte verwyder

30 ml olie

250 ml wynmos

Sout en peper na smaak.

Soteer die groente in die olie in ‘n pan oor warm kole tot sag en die uie deurskynend is.

Voeg die wyn en die mos by en verhit tot kookpunt.

Verwyder die pan van die vuur en laat die sous afkoel. Voeg sout en peper na smaak by en bedien saam met die roosterkoek.

{Dankie aan my kookmaak Catherine Eybers wat die kompetisie saam met my aangedurf het – asook Janine Eybers en my man Ian wat sulke ordentlike teenstanders was! En vir Nitida wat met die fantastiese inisiatief gekom het om ‘n jaarlikse roosterkoek-kompetisie te begin. }

Roosterkoek met aubergine dip op Njam.tv

Roosterkoek met auberginedip 

Hierdie resep het ek op die webwerf njam.tv raakgeloop en dit het my Afrika-hart warm laat klop dat ‘n ikoniese broodjie uit ons land in Europa erken word. Die resep hou ek net zo in Vlaams!

bereiden:

Voor de broodjes:

500 g bloem

15 g bakpoeder

2 g xout

150 ml melk

1 ei, losgeklopt

Voor de dip

500 g aubergines

1 teenje knoflook, uitgeperst

2 el yoghurt

1 tl gedroogde munt

2 el limoensap

Versgemalen peper – zout

maak de broodjes:

Meng de droge ingrediënten. Maak een kuiltje in het midden en voeg de melk en losgeklopt ei toe. Kneed goed door, zorg ervoor dat het deeg niet te nat is.

Neem een eetlepel deeg en rol hiervan een balletje. Leg de broodballetjes op een rooster en plaats boven de BBQ. Bak ze aan de ene kant tot ze knapperig zijn, draai om en bak aan de andere kant. Ga zo door tot ze hol klinken als je erop tikt.

maak de auberginedip:

Verwarm de oven voor op 240 ºC. Prik de aubergines enkele malen met een vork, leg ze op een bakplaat en bak 30 minuten in de oven tot ze zacht zijn.

Laat de aubergines iets afkoelen en snijd ze in de lengte doormidden. Schep het vruchtvlees met behulp van een lepel uit de schil en prak dit in een kom tot moes. Giet het limoensap over de aubergines en voeg er de yoghurt, munt en knoflook bij.

Breng op smaak met versgemalen peper en zout. (Als de dip niet smeuïg genoeg is, kan je er wat olijfolie aan toevoegen.)

serveren:

Serveer de versgebakken broodjes samen met de auberginedip.

voor 15 broodjes

Volstruisburger met ‘n mozzarella hart op roosterkoek – opgewoema met mango salsa (of ouma se kerrieperskes)

Volstruis en mozzarella burger op roosterkoek 

Dis hoeka nou KKNK en hoekom nie ‘n volstruisburger maak om gees te vang nie. Jy druk mozzarella in die middel van die burger-pattie: so fusion van ouvrou-onder-die-kombers en hamburger! Die gesmelte kaas gee ‘n weelderigheid aan die burger; heerlik saam met die rokerigheid en krakerige kors van die roosterkoek. Die burger word dan met ‘n mango-salsa bedien (ek sien Woolies het heerlike mangoes op die oomblik of anders gebruik sommer mango in ‘n blik).  As mango-salsa te eksoties is vir jou smaak vandag, bedien dit gerus saam met ouma se kerrie-perskes as jy nog ‘n flessie in die spens het. Anders maak ‘n draai by ‘n padstal!

Gebruik Francois se Roosterkoekresep hierbo vir die burger ‘buns’ en maak die res so:

 Vir die patties

500 g volstruismaalvleis

1 klein ui, fyngekap

15 ml fyngekapte vars kruisement

30 ml fyngekapte pietersielie

Sout en peper

115 g Simonsberg mozzarella (dit smelt baie lekker)

Mango salsa

115 g vars of geblikte mango, in blokkies

10 ml heuning

5 ml balsamiese asyn

30 ml fyngekapte vars kruisement

Sout en peper

Maak so

Meng volstruis, uie, kruisement en pietersielie saam tot goed gemeng, geur met sout en peper. Verdeel in 8 patties – druk dit plat met die hand en vorm dan mooi rond. Sny die mozzarella in 4 blokkies en sit ‘n blokkie kaas op 4 van die patties. Plaas nou die ander pattie bo-op en druk dit vas om die kaas behoorlik te verseël. Braai oor medium kole (oppas vir te gaar, want volstruis is ‘’n maer vleis en kan gou droog proe). Jy kan ook ’n riffelpan gebruik – bestryk dan die patties eers met ‘’n bietjie olie.

Meng die salsa-bestandele saam. Bedien op warm roosterkoek met die salsa.

(Foto: Simonsberg)

%d bloggers like this: