Het iemand iets gesê van morsig, modderig, sjokoladerig, koffierig, souserig, poedingrig én sjokoladekoekerig?
Gebakte sjokolade-koffiepoeding met sy eie sous
Bedien 6
250 ml (150 g) bruismeel
60 ml kakaopoeier (Nomu s’n baie lekker)
Goeie knippie sout
125 ml (100 g) strooisuiker
125 ml melk
1 eier
70 g botter, gesmelt + ekstra gesmelt om poedingbak te smeer
80 g (125 ml liggies gepak) bruinsuiker
375 ml kookwater
15 ml kitskoffie-korrels of –poeier
Vir bediening: geklopte room of vanielje-roomys
· Voorverhit oond na 180°C. Smeer 1.5 l oondvaste bak met gesmelte botter, plaas op ‘n bakplaat vir ingeval dit poeding oorloop.
· Sif die meel, 30 ml kakao en sout saam in ‘n bak. Roer die strooisuiker by.
· Klop die melk, eier en gesmelte botter in beker tot goed gemeng. Voeg dit by die meelmengsel en roer met ‘n houtlepel tot glad. Skep dit uit in die gesmeerde oondbak. Maak die oppervlakte gelyk met die agterkant van ‘n lepel.
· Plaas die bruinsuiker in ‘n bak, sif die oorblywende kakao oor die suiker en meng saam. Sprinkel die kakao-suikermengsel eweredig oor die poeding .
· Meng die kookwater en koffie in ‘n beker en giet dit geleidelik oor die agterkant van ‘n groot lepel oor die poeding (die lepel verhoed dat die vloeistof ‘n gaatjie in die deeg maak as jy dit ingooi).
· Bak 40 minute of tot die bokant soos koek begin lyk en ‘n toetspen wat halfpad in die middel ingedruk is, skoon uitkom. (Moenie tot onder indruk nie, anders sal die sous aan die pen kleef).
· Laat staan 5 minute sodat die sous onder die koeklaag effe kan verdik. Bedien warm, sodat die koek nie te veel van die sous absorbeer van lank staan nie.
Bedien met room of roomys. (Resepbron: Taste Australia)
Te dikwels word ons ontmoedig om ‘n gesonde eetpatroon te volg oor die opvatting dat ons iets moet afstaan en prysgee. Die oplossing om goed en gesond te eet – volgens Iné Reynierse- lê egter nie in aftel, afweeg en ontneming nie, maar om ‘n nuwe manier terug te vind na ‘n oorvloed van voedsaamheid.
Skrywer en kunstenaar Inè Reynierse is ‘n sprankelende profeet vir die kosfilosofie dat goed eet sinoniem kan wees met lekker eet . Met haar eie leefwyse en resepteboeke ‘Low Carb is Lekker’ en ‘Eat lekker for goodness sake’ wat pas deur Quivertree vrygestel is, bewys sy dat heilsaam en heerlik in dieselfde sin hoort; dat gesond eet en met groot genot eet goeie vriende is.
As jy, soos ek, meer wil leer oor ‘n eet-leefstyl waarop jy kan floreer sonder om die vreugde van eet prys te gee, is Iné en haar goed-deurdagte, deeglik-nagevorste en duidelik-omskryfde aanbevelings ‘n goeie aanklopplek.
My lekker-smaak radar is egter fyn ingestel en om die belofte van lekkerte saam met die heilsaamsaamheid het ek die ou gesegde “the proof is in the pudding’ gevolg en deel twee van Iné se nageregte wat wonderlike soet ambassadeurs is vir die boek ‘Eat lekker for goodness sake’.
As jy erns het oor ‘n gesonde leefstyl en bereid is om die aanpassings te maak, is hierdie boek gewis jou beste vriendin in die kombuis. Die bestanddele is maklik te kry, nie buitensporig duur nie en die resultate waarlik ‘n kwessie van ‘goeiste, maar dis lekker.’ Werklik inspirerend.
Eat Lekker for goodness sake deur Inè Reynierse is uitgegee deur Quivertree Publishers. Die boek is propvol uitstekende advies, wenke, nuwe idees en meer as 70 resepte. Die pragtige lusmaak-foto’s is deur Craig Fraser. Dit kos R330.
Klewerige gemmerpoeding met karamelsous en ‘blender’ vla
6 porsies
250 ml amandelmeel
30 ml klappermeel
10 ml bakpoeier
Nat bestanddele:
3 eiers
60 ml xylitol
90 g gesoute botter
30 ml gerasperde gemmer
100 g skorsie
125 ml melk (of 65 ml room en 60 ml water)
Karamelsous
2,5 ml gerasperde gemmer
30 ml xylitol
190 ml room
45 ml gesoute botter
2,5 ml vanielje-ekstrak
Voorverhit die oond tot 180°C.
Meng die droë bestanddele goed saam in ‘n mengbak en maak seker dat alle klonte opgebreek word. In ‘n aparte mengbak, klits al die nat bestanddele saam tot skuimerig. Voeg die geklitste nat bestanddele by die droë bestanddele, meng en giet in ‘n vierkantige oondvaste bak of individuele ramekins.
Bak 25-30 minute vir een groot poeding, minder as dit die kleiner poedings is. Laat 5 – 10 minute afkoel terwyl jy die klewerige sous maak.
In ‘n kastrol verhit al die sousbestanddele saam tot dit liggies begin kook. Laat die sous prut en verdik en liggies bruin word, sowat 8 – 10 minute. Roer gereeld deur met ‘n handklitser.
Gooi die klewerige gemmersous oor die poeding.
‘Blender’ vla
15 ml botter
190 ml melk
190 ml room
5 ml vanielje ekstrak
30 ml xylitol
2 vryloop eiergele
1 vryloop eier
15 ml goue lynsaadmeel
In ‘n kastrol oor matige hitte, verwarm die botter, melk, room, vanielje en xylitol sonder dat dit kook. Plaas die eiergele, heel eier en goue lynsaadmeel in die versapper of ‘bullet blender’ se beker. Giet die warm melkmengsel oor die eiers en meel en meng vir 10 – 15 sekondes.
Giet die mengsel terug in die kastrol en oor lae hitte – terwyl jou aanhou klits – laat die vla verdik, sowat 1 minuut. Moenie skrik vir die tekstuur op hierdie punt nie). Giet die verdikte vla terug in die versapper/bullet blender se beker en verwerk 10 sekonds tot ‘n skuiemerige, dik en romerige vla. Bedien met jou gunsteling nagereg.
Outydse koejaweltert
12 – 15 porsies
Kors:
500 ml geweekte neute van jou keuse, soos okkerneute en amandels of okkerneute en sonneblomsade
125 ml gedroogte klapper
30 ml xylitol
Knippie sout
25 g gesmelte botter
45 ml warm water
5 ml vanieljegeursel
Vulsel:
6 koejawels, geskil en halveer
60 – 75 ml xylitol of na smaak
250 ml water
3 eiergele
500 ml volroom jogurt
45 ml gelatien, geweek in 90 ml water
125 ml amasi
250 ml room
Knippie sout
Verwerk al die korsbestanddele saam in ‘n voedselverwerker tot dit ‘n bonkige pasta vorm. Skep die pasta in ‘n 15 x 30 cm of 25 x 25 cm bak en druk dit vas tot gelyk. Dit help om met klam hande te werk.
Voeg die koejawels, xylitol en water bymekaar in ‘n kastrol en verhit tot dit begin prut. Prut 8 – 10 minute tot die water afgekook het en die koejawels pap gekook het en ‘n pulp vorm.
Verwerk die helfte van die koejawelpulp, eiergele en 250 ml jogurt in ‘n voedselverwerker om ‘n vla te vorm. Giet die vla in ‘n mengbak.
Voeg die geweekte gelatien by die oorblywende warm koejawelpulp steeds in die kastrol; roer dit oor lae hitte deeglik deur vir ‘n minuut of twee tot dit heeltemal opgelos is.
Giet die warm gelatienpulp en die res van die bestanddele in ‘n voedselverwerker en verwerk vir 20 sekondes. Giet die gelatienmengsel by die vla in die mengbak en klits goed met ‘n handklitser sodat die gelatien eweredig sal stol.
Giet die koejawelvulsel oor die tertkors en verkoel 3 ure of oornag in die yskas.
Ons is almal lief vir broodpoeding, maar met die lente hier wil ‘n mens nie die winter teruglok met ‘n warm poeding nie. Wat hierdie broodpoeding besonders maak, is dat dit koud bedien word. En dit is by diplomaat-dinees voorgesit, so dis genoeg vir gaste of Sondagkos.
Laat ons stilstaan by die naam. Dis ‘n algemene verskynsel dat gebak en poedings dikwels vernoem word na staatmanne, politici, diplomate en staatsinstansies: van burgemeesterspoedings tot kabinetspoeding.
Daar is verskeie stories oor die diplomaatpoeding:
Dis blykbaar in 1908 voorgesit by ‘n diplomatieke konferensie in Hongarye – en die afgevaardigdes het so baie daarvan gehou dat die sjef dit gepubliseer het.
Die ander teorie is dat die verwys na ‘n beroemde Russiese diplomaat wat dol was oor Britse poedings. Baie, baie lekker gebakte poeding vir die lente. Elegant, maar maklik.
Resep: Diplomaatpoeding
Wat hierdie broodpoeding anders maak is dat die broodblokkies met versiersuiker oor in die oond gebak word tot bros. En natuurlik, dat dit uit die vorm gehaal word en koud bedien word. Die brandewyn of rum gee werklik ‘n heerlike aksentgeur aan die poeding – nie ‘n alkoholsmaak nie.
Poeding:
4 snye, goeie kwaliteit brood, korsies verwyder
Versiersuiker, vir oorsif
20 ml goue sultanas of mengsel van sultanas en goue rosyne (ek het ‘n mengsel van opgekapte gedroogte perskes, pere en versuikerde gemmer gebruik)
60ml brandewyn of donker rum, of paar druppels rumgeursel
Appelkooskonfyt, warm gemaak vir glaseersel
Vla:
250ml melk
250ml klitsroom
150g strooisuiker
4 eiers
1 vanieljepeul se sade, of 5 ml vanielje geursel (die melk kan ook met perskeblare gekook word)
Botter, vir smeer
Metode
Voorverhit die oond tot 180C
Sny die brood in groot blokke, versprei in ‘n bakplaat en sif versiersuiker oor. Bak in die oond tot bros en krakerig. Haal uit en verminder die oondtemperatuur na 140C.
Plaas die rosyne en sultanas in ‘n kastrolletjie, bedek met koue water, bring tot kookpunt en dreineer. Voeg rum of brandewyn by en laat afkoel.
Vir die vla: meng die melk, room, strooisuiker en eiers in ‘n groot mengbak en gooi deur ‘n sif. Roer die vanieljesaad of ekstrak by en hou eenkant.
Smeer 6 ramekins en 6 stukke alumininiumfoelie wat groot genoeg is om oor elke bakkie te pas.
Roer die broodblokkies by die rosyntjie/sultana- en rum mengels in en verdeel dit tussen die ramekinbakkies. Skep die vlamengsel bo-oor, plaas die gesmeerde foelie bo-oor en plaas in ‘n waterbad.
Bak vir 30 – 40 minute tot geset. Laat afkoel en plaas in yskas.
Wanneer reg om te bedien, keer die poedings uit en glaseer met ‘n bietjie warm appelkooskonfyt.
Broodpoeding in die geskiedenis
Bykans elke koskultuur het ‘n nagereg wat spaarsamig van ou brood of koek gebruik maak.
Nie dat dit altyd as ‘rieme-dunsny’ poeding gesien is nie, want in die boek Puddings, A Global History deur Jeri Quinzio word uitgewys dat dit as ‘n heel elegante en duur gereg begin het. In ‘n 14de eeuse Franse huishouding is dit gemaak van brood en koekies met rosyne, appels, amandelmelk, saffraan en suiker. Dis egter nie gebak nie; die gekookte amandelmelk is oorgegooi en dan gelaat om te stol.
Krummels is ook dikwels gebruik in plaas van die brood – ons eie poedingskatkis het vele resepte; selfs die smulpaap Louis Leipoldt verskaf heelwat variasies van broodkrummels wat met soetmelk gemeng is en dan met botter opgekook is – dis laat staan vir ‘n uur en die suiker, eiers, sout, neut en gerasperde suurlemoenskil bygeroe; in die vorm gesit en in die oond gebak.
Hy vertel van ‘n selfs eenvoudiger boodpoeding wat met die ‘kruin van ‘n taamlik ou bruin brood’ gemaak is. Pleks van melk is water en klontjie botter bygevoeg, bruinsuiker, gemmer, korente en ‘n grypie nartjieskil. Dis in ‘n poedingvorm gestoom en bedien met botter-en-suurlemoensous. “Beter gestoom as gebak,” reken hy.
*Queen of Puddings, ‘n resep wat in Mev SH Van Tulleken se Practical Cooking for SA verskyn, maak gebruik van broodkrummels en die vlamengsel. Dit word dan bedek met ‘n konfytlaag en geklitste eierwit – koninklik voorwaar!
Bedien hierdie toebroodjiepoeding op ‘n koel lentedag of wanneer jy na jou skooldae verlang met ‘n skeppie roomys.
Grondboontjiebotter en jêm toebroodjiepoeding
Die konsep van toebroodjie-brood en botter-poedings is niks nuuts nie. In die 19de eeu is daar dikwels na verwys as ‘sandwich puddings’. Die nostalgiese smaak van grondboontjiebotter-en-konfyf (of goue stroop) toebroodjies herinner aan ons skoolda.
4 1/3 koppie growwe grondboonbotter
8 dik snye dag-oud witbrood
1/3 koppie frambooskonfyt of appelkooskonfyt
Botter, saggemaak, vir smeer
250 ml slagroom (whipping cream)
160 ml melk
3 eiers + 1 eiergeel
80 g strooisuiker
5 ml vanieljegeursel of sade van 1 vanieljepeul
Bruinsuiker (Demerera) vir sprinkel
Metode:
Voorverhit die oond tot 160 C. Smeer twee snye met grondboontjiebotter aan die een kant en sit twee snye bo-op. Smeer nou die ander twee snye met konfyt en plaas oorblywende twee snye bo-op. Sny die korsies af, sny elke toebroodjie in 4 kleiner toebroodjies (dus blokkies, nie driehoeke). Botter elke mini-toebroodjie en pak in ‘n kleinerige oondvaste bak. (sowat 625 ml kapasiteit bak). Meng die room, melk, eiers en ekstra eiergeel, suiker en vanielje in ‘n bakkie en klits. Gooi dit geleidelik oor die brood en laat goed week vir 2 minute. Besprinkel die broodpoeding met die bruinsuiker. Plaas die bak in ‘n oondpan. Vir die waterbad gooi genoeg kookwater tot halfpad van die poedingbak. Bak 40-50 minute tot net gaar. Haal uit en laat staan 10 minute voor bediening. Bedien met vla.