Diplomaat broodpoeding vir die lente

10 Sep

Ons is almal lief vir broodpoeding, maar met die lente hier wil ‘n mens nie die winter teruglok met ‘n warm poeding nie. Wat hierdie broodpoeding besonders maak, is dat dit koud bedien word.  En dit is by diplomaat-dinees voorgesit, so dis genoeg vir gaste of Sondagkos.

diplomaat poeding voor en na omkeer

Laat ons stilstaan by die naam. Dis ‘n algemene verskynsel dat gebak en poedings dikwels vernoem word na staatmanne, politici, diplomate en staatsinstansies: van burgemeesterspoedings tot kabinetspoeding.

Daar is verskeie stories oor die diplomaatpoeding:

  • Dis blykbaar in 1908 voorgesit by ‘n diplomatieke konferensie in Hongarye – en die afgevaardigdes het so baie daarvan gehou dat die sjef dit gepubliseer het.
  • Die ander teorie is dat die verwys na ‘n beroemde Russiese diplomaat wat dol was oor Britse poedings.
    Baie, baie lekker gebakte poeding vir die lente. Elegant, maar maklik. Baie, baie lekker gebakte poeding vir die lente. Elegant, maar maklik.

Resep: Diplomaatpoeding

Wat hierdie broodpoeding anders maak is dat die broodblokkies met versiersuiker oor in die oond gebak word tot bros. En natuurlik, dat dit uit die vorm gehaal word en koud bedien word. Die brandewyn of rum gee werklik ‘n heerlike aksentgeur aan die poeding – nie ‘n alkoholsmaak nie.

Poeding:

4 snye, goeie kwaliteit brood, korsies verwyder

Versiersuiker, vir oorsif

20 ml goue sultanas  of mengsel van sultanas en goue rosyne (ek het ‘n mengsel van opgekapte gedroogte perskes, pere en versuikerde gemmer gebruik)

60ml brandewyn of donker rum, of paar druppels rumgeursel

Appelkooskonfyt, warm gemaak vir glaseersel

Vla:

250ml melk

250ml klitsroom

150g strooisuiker

4 eiers

1 vanieljepeul se sade, of 5 ml vanielje geursel (die melk kan ook met perskeblare gekook word)

Botter, vir smeer

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180C
  2. Sny die brood in groot blokke, versprei in ‘n bakplaat en sif versiersuiker oor. Bak in die oond tot bros en krakerig. Haal uit en verminder die oondtemperatuur na 140C.
  3. Plaas die rosyne en sultanas in ‘n kastrolletjie, bedek met koue water, bring tot kookpunt en dreineer. Voeg rum of brandewyn by en laat afkoel.
  4. Vir die vla: meng die melk, room, strooisuiker en eiers in ‘n groot mengbak en gooi deur ‘n sif. Roer die vanieljesaad of ekstrak by en hou eenkant.
  5. Smeer 6 ramekins en 6 stukke alumininiumfoelie wat groot genoeg is om oor elke bakkie te pas.
  6. Roer die broodblokkies by die rosyntjie/sultana- en rum mengels in en verdeel dit tussen die ramekinbakkies. Skep die vlamengsel bo-oor, plaas die gesmeerde foelie bo-oor en plaas in ‘n waterbad.
  7. Bak vir 30 – 40 minute tot geset. Laat afkoel en plaas in yskas.
  8. Wanneer reg om te bedien, keer die poedings uit en glaseer met ‘n bietjie warm appelkooskonfyt.

Broodpoeding in die geskiedenis

Bykans elke koskultuur het ‘n nagereg wat spaarsamig van ou brood of koek gebruik maak.

Nie dat dit altyd as ‘rieme-dunsny’ poeding gesien is nie, want in die boek Puddings, A Global History deur Jeri Quinzio word uitgewys dat dit as ‘n heel elegante en duur gereg begin het. In ‘n 14de eeuse Franse huishouding is dit gemaak van brood en koekies met rosyne, appels, amandelmelk, saffraan en suiker. Dis egter nie gebak nie; die gekookte amandelmelk is oorgegooi en dan gelaat om te stol.

Krummels is ook dikwels gebruik in plaas van die brood – ons eie poedingskatkis het vele resepte; selfs die smulpaap Louis Leipoldt verskaf heelwat variasies van broodkrummels wat met soetmelk gemeng is en dan met botter opgekook is – dis  laat staan vir ‘n uur en die suiker, eiers, sout, neut en gerasperde suurlemoenskil bygeroe; in die vorm gesit en in die oond gebak.

Hy vertel van ‘n selfs eenvoudiger boodpoeding wat met die ‘kruin van ‘n taamlik ou bruin brood’ gemaak is. Pleks van melk is water en klontjie botter bygevoeg, bruinsuiker, gemmer, korente en ‘n grypie nartjieskil. Dis in ‘n poedingvorm gestoom en bedien met botter-en-suurlemoensous. “Beter gestoom as gebak,” reken hy.

*Queen of Puddings, ‘n resep wat in Mev SH Van Tulleken se Practical Cooking for SA verskyn, maak gebruik van broodkrummels en die vlamengsel. Dit word dan bedek met ‘n konfytlaag en geklitste eierwit – koninklik voorwaar!

Bedien hierdie toebroodjiepoeding op 'n koel lentedag of wanneer jy na jou skooldae verlang met 'n skeppie roomys. Bedien hierdie toebroodjiepoeding op ‘n koel lentedag of wanneer jy na jou skooldae verlang met ‘n skeppie roomys.

Grondboontjiebotter en jêm toebroodjiepoeding

Die konsep van toebroodjie-brood en botter-poedings is niks nuuts nie. In die 19de eeu is daar dikwels na verwys as ‘sandwich puddings’.  Die nostalgiese smaak van grondboontjiebotter-en-konfyf (of goue stroop) toebroodjies herinner aan  ons skoolda.

4 1/3 koppie growwe grondboonbotter

8 dik snye dag-oud witbrood

1/3 koppie frambooskonfyt of appelkooskonfyt

Botter, saggemaak, vir smeer

250 ml slagroom (whipping cream)

160 ml melk

3 eiers + 1 eiergeel

80 g strooisuiker

5 ml vanieljegeursel of sade van 1 vanieljepeul

Bruinsuiker (Demerera) vir sprinkel

Metode:

Voorverhit die oond tot 160 C. Smeer twee snye met grondboontjiebotter aan die een kant en sit twee snye bo-op. Smeer nou die ander twee snye met konfyt en plaas oorblywende twee snye bo-op. Sny die korsies af, sny elke toebroodjie in 4 kleiner toebroodjies (dus blokkies, nie driehoeke). Botter elke mini-toebroodjie en pak in ‘n kleinerige oondvaste bak. (sowat 625 ml kapasiteit bak). Meng die room, melk, eiers en ekstra eiergeel, suiker en vanielje in ‘n bakkie en klits. Gooi dit geleidelik oor die brood en laat goed week vir 2 minute. Besprinkel die broodpoeding met die bruinsuiker. Plaas die bak in ‘n oondpan. Vir die waterbad gooi genoeg kookwater tot halfpad van die poedingbak. Bak 40-50 minute tot net gaar. Haal uit en laat staan 10 minute voor bediening. Bedien met vla.

2 Responses to “Diplomaat broodpoeding vir die lente”

  1. ddupl3ss1s September 10, 2014 at 8:36 am #

    Ek val soos klip in die dam vir ‘n broodpoeding.. wonder darem oor die Grondboontjie botter variasie – moontlik kan die oorskiet sommer vir brekfis broodjie(poeding) ge-eet word..

    • huiskok September 10, 2014 at 6:32 pm #

      Die diplomaatpoeding is my gunsteling. Heerlik en romerig.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: