Ons vier die einde van parstyd – of ‘oesaf’ – soos die boere dit in die Durbanville kontrei noem. Wat uitstaan van oestyd, of dit nou hier by ons is of Frankryk of Italië, daar’s altyd een of ander tradisionele gebak. Dink maar aan Kaapse mosbolletjies en Toskaanse druiwebrode.
DRUIWEPIZZA MET KRUIE, HEUNING EN PARMESAANSKAAFSELS
Lekker en mooi genoeg om saam met vonkelwyn te geniet.
500 g klaar brooddeeg (koop by supermark se bakafdeling)
4 teelepels loperige heuning (fynbosheuning gee ‘n heerlike geur)
’n paar takkies vars roosmaryn
’n paar skeute olyfolie
twee handevol druiwekorrels, verkieslik swart druiwe
50g parmesaan in skaafsels gesny
Bedien 4
Verhit die oond tot 200°C. Intussen stamp die roosmaryn fyn in ‘’n stamper en vysel, gooi ‘n bietjie olyfolie by en stamp nog fyner. Sny die druiwe in die helfte en hou eenkant.
Sny die gekoopte deeg in 4 stukke. Rol die deeg baie dun uit en bak in die warm oond tot die deeg plek-plek sulke blase maak en goudbruin is. Nou’t jy ’n baie lekker bros kors. Smeer nou die basis met die fyngestampte roosmaryn en die kruierige olietjies wat in die stamper oorbly. Strooi die druiwekorrels oor, bedek met die parmasaanskaafsels en bedruip met die heuning. Sit dit dan net vinnig weer in die oond sodat die Parmasaan net-net begin smelt.
- ‘n Blaaskans in oestyd met Italiaanse druiwekoek en ‘n glasie Meerendal natuurlike soetwyn
MARIO SE DRUIWEKOEK
Druiwekoeke is ‘n eeue-ou Toskaanse oestyd-tradisie. Hierdie resep van die Italiaans-gebore stersjef Mario Batali is so lekker dat dit in my kookboek Huiskok Glanskok ingesluit is. Dis ’n lekker koek om laat-somer, vroegherfs te maak – en met koffie of soetwyn te geniet. Maklik en mooi. Al versiering wat jy nodig het is ‘n takkie druiwe.
3 eiers
250 ml suiker
75 ml botter, gesmelt
75 ml olyfolie
125 ml melk
500 ml koekmeel
fyn gerasperde skil van 1 lemoen
30 ml amaretto likeur
5 ml bakpoeier
500 ml druiwe, gehalveer en ontpit
ekstra druiwekorrels vir versiering
Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer ’n ronde losboom koekpan met gesmeerde bakpapier uit.
Klop die eiers en suiker tot lig en donsig, sowat 3 minute lank. Voeg die botter, olyfolie en melk by. Vou die meel, lemoenskil, amaretto en bakpoeier by die mengsel. Roer die ontpitte druiwe by. Giet die mengsel in die voorbereide pan en bak 40 tot 50 minute tot goudbruin en ’n toetspen skoon uitkom. Laat die koek in die pan afkoel. Sit dit met die onderkant na bo voor, sif versiersuiker oor en sprinkel ‘n paar druiwekorrels oor.
DRUIWE EN OKKERNEUT OESBROOD
(maak 2 brode)
14 g kitsbrouersgis
170 g strooisuiker, plus ekstra teelepel
Knippie sout
350 g broodmeel
500 g swart druiwekorrels
85 g okkerneute
2 eetlepels olyfolie
1 eetlepel gekapte vars roosmaryn
Growwe seesout vir oorsprinkel
Meng die gis, ekstra suiker en ½ koppie warm water in ‘n bakkie en laat staan vir ongeveer 15 minute. Sif die meel, 110 g strooisuiker en ‘n knippie sout saam in ‘n groot mengbak. Voeg die gismengsel, olyfolie en 45ml warm water by en meng goed. Knie die deeg vir ongeveer 5 minute en plaas in ‘n gesmeerde bak en bedek liggies met kleefplastiek, laat rys tot dubbel in volume. Voorverhit oond tot 180⁰C. Knie die deeg af en sny in 2 ewe groot dele. Vorm twee plat sirkels. Meng die druiwe, neute, roosmaryn en die res van die strooisuiker en plaas bo-op die deegsirkels. Bak vir 45-50 minute tot goudbruin. Besprinkel met growwe seesout en bedien die brood warm met brie of enige sagte ryp kaas
{Dankie Samarie Smith wat altyd regstaan met die kamera as die druiwegebak uit die oond uit kom}