Druiwepizza en ander oes-gebak

16 Mar

Ons vier die einde van parstyd – of ‘oesaf’ – soos die boere dit in die Durbanville kontrei noem. Wat uitstaan van oestyd,  of dit nou hier by ons is of Frankryk of Italië, daar’s altyd een of ander tradisionele gebak. Dink maar aan Kaapse mosbolletjies en Toskaanse druiwebrode.

As jy ’n ware oesaf-makietie wil beleef moet jy hierdie Woensdag 21 Maart  die Durbanville Wynvallei se Fees van die Druif bywoon wat druiwe in al sy fasette vier – van korrel tot mos.  Tot my RSG kookmaat – die glanskok Francois Ferreira gaan in aksie te sien wees met ‘n roosterkoek-kompetisie op  Nitida, een van die 11 plase wat deelneem.

Druiwepizza met parmasaan, kruie en heuning

DRUIWEPIZZA MET KRUIE, HEUNING EN PARMESAANSKAAFSELS

Lekker en mooi genoeg om saam met vonkelwyn te geniet.

500 g klaar brooddeeg (koop by supermark se bakafdeling)
4 teelepels loperige heuning (fynbosheuning gee ‘n heerlike geur)
’n paar takkies vars roosmaryn
’n paar skeute olyfolie
twee handevol druiwekorrels, verkieslik swart druiwe
50g parmesaan in skaafsels gesny

Bedien 4

Verhit die oond tot 200°C. Intussen stamp die roosmaryn fyn in ‘’n stamper en vysel, gooi ‘n bietjie olyfolie by en stamp  nog fyner. Sny die druiwe in die helfte en hou eenkant.

Sny die gekoopte deeg in 4 stukke. Rol die deeg baie dun uit en bak in die warm oond tot die deeg  plek-plek sulke blase maak en goudbruin is. Nou’t jy ’n baie lekker bros kors.  Smeer nou die basis met die fyngestampte roosmaryn en die kruierige olietjies wat in die stamper oorbly. Strooi die druiwekorrels oor, bedek met die parmasaanskaafsels en bedruip met die heuning. Sit dit dan net vinnig weer in die oond sodat die Parmasaan net-net begin smelt.

 

‘n Blaaskans in oestyd met  Italiaanse druiwekoek en ‘n glasie Meerendal natuurlike soetwyn

MARIO SE DRUIWEKOEK

Druiwekoeke is ‘n eeue-ou Toskaanse oestyd-tradisie. Hierdie resep van die Italiaans-gebore stersjef Mario Batali is so lekker dat dit in ons kookboek Huiskok Glanskok ingesluit is. Dis ’n lekker koek om laat-somer, vroegherfs te maak – en met koffie of soetwyn te geniet.   Maklik en mooi. Al versiering wat jy nodig het is ‘n takkie druiwe.        

3 eiers

250 ml suiker

75 ml botter, gesmelt

75 ml olyfolie

125 ml melk

500 ml koekmeel

fyn gerasperde skil van 1 lemoen

30 ml amaretto likeur

5 ml bakpoeier

500 ml druiwe, gehalveer en ontpit

ekstra druiwekorrels vir versiering
Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer ’n ronde losboom koekpan met gesmeerde bakpapier uit.

Klop die eiers en suiker tot lig en donsig, sowat 3 minute lank. Voeg die botter, olyfolie en melk by. Vou die meel, lemoenskil, amaretto en bakpoeier by die mengsel. Roer die ontpitte druiwe by. Giet die mengsel in die voorbereide pan en bak 40 tot 50 minute tot goudbruin en ’n toetspen skoon uitkom. Laat die koek in die pan afkoel. Sit dit met die onderkant na bo voor, sif versiersuiker oor en sprinkel ‘n paar druiwekorrels oor.

Druif- en okkerneut oesbrood

DRUIWE EN OKKERNEUT OESBROOD

 Die platbrood is gemaak met swart Barbera druiwekorrels, ‘n Italiaanse druifsoort gepluk in  Altydgedacht se wingerd. Enige swart druiwe is geskik.  Bedien dit warm met brie. 

(maak 2 brode)

14 g kitsbrouersgis

170 g strooisuiker, plus ekstra teelepel

Knippie sout

350 g broodmeel

500 g swart druiwekorrels

85 g okkerneute

2 eetlepels olyfolie

1 eetlepel gekapte vars roosmaryn

Growwe seesout vir oorsprinkel

Meng die gis, ekstra suiker en ½ koppie warm water in ‘n bakkie en laat staan vir ongeveer 15 minute. Sif die meel, 110 g strooisuiker en ‘n knippie sout saam in ‘n groot mengbak.  Voeg die gismengsel, olyfolie en 45ml warm water by en meng goed. Knie die deeg vir ongeveer 5 minute en plaas in ‘n gesmeerde bak en bedek liggies met kleefplastiek, laat rys tot dubbel in volume. Voorverhit oond tot 180⁰C. Knie die deeg af en sny in 2 ewe groot dele. Vorm twee plat sirkels. Meng die druiwe, neute, roosmaryn en die res van die strooisuiker en plaas bo-op die deegsirkels. Bak vir 45-50 minute tot goudbruin. Besprinkel met growwe seesout en bedien die brood warm met brie of enige sagte ryp kaas.

{Fees van die Druif}

Die Durbanville Wynvallei se Fees van die Druif  word op die volgende 11 plase gehou op 21 Maart:

Nitida, Klein Roosboom, Hillcrest, Groot Phesantekraal (Phizante Kraal-wyne), Durbanville Hills, Diemersdal, De Grendel, D’Aria, Bloemendal en Altydgedacht. Loer in by www.durbanvillewine.co.za vir besonderhede.

{Dankie Samarie Smith wat altyd regstaan met die kamera as die druiwegebak uit die oond uit kom}

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: