Live in abundance het na my kombuis toe gekom in die vorm van kreefsterte wat vriend Cobus Bekker na sy Paternoster-vakansie hier aangebring het.
Alles aan Vrystater Cobus is groot; hy’s seker 6 vt 4 in ou taal (dis lank). Maar dis in ruimhartigheid dat hy ‘n reus is. As hy in my kombuis is, wil ek alles in grootmaat maak. Sy kreefpersent het my aangemoedig om my groot te gaan, my gunsteling garnaalresep en my paella-grootte koperpan uit te haal. Die bottel Pernod, die anys-aperatif waaroor die Franse gaande is, word vir oomblikke soos hierdie prop-af gedraai. Wat dan volg is nie soseer resep as ritueel nie.
Die pan word baie warm gemaak en ‘n stewige klont botter ingegooi. Dit sis, raas en word neutbruin. Gooi garnale in, fyngekapte knoffel en droë rissievlokkies. Ek vul die botter aan as dit lyk of die garnale nog vra. Alles gebeur in sekondes eerder as minute. Braai, braai, skud die pan, braai. Klompie ontpitte Kalamata olywe kom by. Nou moet die Pernod diens doen. ‘n Paar skeute word in die pan gegooi (en ek laat glip hierdie keer my hand) om die bottersappe te bevorder tot ‘n sous vir die seegode. Pietersielie in repies gesny (chiffonade vir die kenner) en blokkies vars pruimtamatie by geroer. Klaar.
En as jy so gelukkig soos ek is om ‘n pêl soos Cobus te hê, pak jy geskenk-kreefsterte (apart in botter gebraai en met suurlemoen geseën) bo-op. Dit gaan alles blitsig tafel toe waar varsgebakte growwebrood wag om die heilige botter-, Pernod, seesmaak-sous op te slurp.
Daar’s nie nog tyd vir mooi fotos neem nie, maar sonder ‘n speech kan dit nie. Dit word oorgelaat aan vriend Rick sat altyd instaan as praise-singer aan die vriendskapstafel. Hierdie Pernod garnale met ‘n kreefkroon verdien ‘n speech. En ‘n oomblik stilte.
Garnale met Pernod en ‘n sous vir die seegode
17 Jan
- Comments Leave a Comment
- Categories Uncategorized
Kedgeree, kitsery en verlang na Zanzibar
13 AugDoedelsakspelende troepe uit Skotland. Downton Abbey. My ma se kombuis. Britse kolonies. Die Raj se kitchiri. ‘n Speserywoud in Zanzibar en ‘n kleurvolle mark in Stonetown. Kedgeree. Kitsery en kerrie-eiers. Kokkedoor. Haddock. Eikehout-gerookte stokvis uit ons eie waters. Basmati-rys.
Hoe op aarde kom al hierdie inspirasies op een aand in my skottel?
Dubbeldoor van onthou: die kedgeree EN die kerrie-eiers van my ma met ‘n groot skeut Zanzibar-kosreis-herinneringe. Die Ardmore kleibak met sy vissie-dekorasie is ‘n verdere band met Afrika.
Ek het onlangs ‘n lewens-veranderende kosreis na Zanzibar kon meemaak saam met twee Kokkedore, Marius Uys van Discover Zanzibar en Johnny Hamman, Kinkelkok-wenner. Van die goed wat my bybly is die vars borrie, kokosneute en al wat spesery is wat oral op die markte te sien is. Ek het ook ‘n speserywoud besoek wat my koorsig gelaat het van opwinding. Onvermydelik sou hierdie sins-bedwelmende ervaring sy invloed op my kosmaak laat. Vandaar dat my weergawe van kedgeree (kitsery, ook khichari of kitcherie) wat ek al vir jare maak na Zanzibar met ‘n wavrag meer smaak bedeel word.
Die reis van kedgeree, kedjeree, kitsery tot in ons koskultuur, en tot my Ma se kombuis, is ‘n interessante een; sy ware herkoms nie sonder misterie nie. Dit word algemeen aanvaar dat die gereg in Victoriaanse tye van Indië na die Britse ontbyttafels gebring is deur kolonialiste wat terug huis toe is. Dit het vermoedelik sy wortels in khichri, ‘n gereg van speserygegeurde lensies (of boontjies) en rys wat al sedert die 13de eeu in Indië gemaak word. Hierdie oer-ouer van kitsery was sonder vis en sonder eiers. Dis die Britte wat hierdie byvoegings gemaak het.
As jy die periode-televisiereeks Downton Abbey met ‘n valkoog dopgehou het soos ek, sou jy ook die oomblik wat die kok Mrs Patmore die skottel met kedgeree vir die lakei oorhandig (om op te neem na Lord en Lady Grantham en die jong dames), as ‘n wow-moment vir die ontbytgereg beskou. Oh, so British. As ‘n ontbytgereg het dit in die era voor verkoeling baie sin gemaak. Vis en rys wat oorgebly het van die vorige aand se ete is vindingryk omskep in ‘n ontbytgereg wat – terloops – ook as ‘n goeie babalaas-kuur beskou word.
Doedelsak in die pot
Daar’s egter ‘n ander teorie dat kedgeree eintlik oorspronklik ‘n Skotse gereg is wat deur Skotse troepe Indië toe geneem is tydens die Britse Raj-era. Daar is dit kwansuis aangepas deur Indiese kokke wat dit meer woema gegee het, want die Skotse weergawe was maar valerig. Interessant, toe ek Kook en Geniet van SJA De Villiers se kedgeree/kitsery-resep bekyk, is dit asof die Skotte self die resep verskaf het voor hulle voet aan wal in Indië gesit het, want daar is nie ‘n greintjie kerrie of borrie nie: net gestoomde vis, gaar rys, bietjie botter, hardgekookte eiers en sout en peper.
‘n Beskrywing uit die Woordeboek van die Afrikaanse taal lui: “Gereg van gekookte vis en rys dikw. oorskietvis en -rys, gebind met eiers, gew. piramidevormig opgestapel i/d skottel en opgedien met blatjangsous of ander geurmiddels.” Dit verklap nie die ware sjarme van die ‘koloniaal-Victoriaanse’ lig-gekerriede weergawe nie., alhoewel die piramidevorm klink asof dit bedien kon word in Agatha Christie se Death on the Nile!
Die kleure en parfuum van borrie, Cartwright se kerriepoeier, gemmer en mosterdsade wat opwalm uit ‘n keurige kedgeree is genoeg om as ontbytgereg die dag op baie goeie voet te begin. As aandkos verdien dit ook ‘high praise, old chap.”
Kedgeree vir die Queen en die First Lady
Gekerriede kedgeree loop ook sy pad met ons Kaapse kookkuns. ‘n Knipsel uit die Pittsburgh Press (1977) verskaf ‘n resep vir kreef kedgeree en beskryf dit as ‘A South African Kedgeree to put before your own king or queen”. Gemaak met rys, uie, bietjie room, kerriepoeier en hardgekookte eier, is daar ook kreefstert bygevoeg. Die artikel verduidelik die Kaap se bande met die VOC en hoe speseryhandelaars Oos-Indiese resepte na die Kaap gebring het – en dat die Kapenaars kedgeree gemaak het met enige vis of seekos wat beskikbaar was. Waar in Merry Olde England kedgeree dikwels met oorskietvis gemaak is, het ons hier aan die Kaap kreef en snoek ingespan, wat in die vroeër jare beide volop was. Die gewildheid van rys en vis in ons skottels word bevestig met geregte soos smoorsnoek op rys en natuurlik ook breyanis. Dis natuurlik ook nou al allemans-kennis dat Michelle Obama met haar besoek aan die Kaap gesmul het aan kedgeree by The Kitchen in Woodstock.
Outyds raak weer sexy
Het so ‘n uit-die-mode-gereg moderne bestaansreg? Ek dink so – en selfs dat dit ‘n sexy gereg is. Die voorbereiding daarvan het my in vervoering. Daar’s die sagte prut van die vis en die vlok daarvan, met ‘n subtiele rokerigheid wat jou uidaag. Daar’s die gaarmaak van die geurige basmatirys, die braai van die uie en die afmeet van die kerrie. Ek geniet selfs die afdop van die eiers, terwyl ek wonder of ek dit nie dalk te kort (of te lank) gekook het nie. Maar die lekkerste is die oomblik wat die gevlokte vis versoen word met die geurige rys – dan maak dit nie saak of ek ‘n doedelsak, God Save the Queen, Downton Abbey se temamusiek of ‘n konsertina in die agtergrond hoor nie – al wat saak maak is dat die geurige gereg sy pad na my kombuis toe gevind het.
Soveel variasies
Eke huis het sy variasie – lensies kan by die rys gevoeg word, so ook sultanas. Snoek, pleks van skelvis, is besonder lekker en eg-Kaaps. Ek bly weg van die neon-oranje kamma-skelvis wat eintlik niks anders as kunsmatig-gekleurde stokvis is nie. Maar vars gerookte stokvis is heerlik, soos die van Ocean Jewels in die Kaap.
Nog dinge is opsioneel – sommige kokke voeg room by kedgeree. Daar is selfs ‘Wet kedgeree” wat met witsous gemaak word. Jy kan tamatie bysit. Pietersielie. Brandrissie. Jy kan die rys met die vis se posjeervloeistof kook. Soms bedien ek dit met ‘n jogurt-bysousie en koljanderblare, ander kere daarsonder. Die een ding waarsonder ‘n kedgeree kaal gaan voel is die gekookte eier. Jy besluit self of jy dit in kwarte of ringe sny, dit fyn kap of deur ‘n sif druk. Jy kan selfs ewe modieus die eier loperig sag kook of posjeer.
HUISKOK KEDGEREE MET ‘N KLAP VAN ZANZIBAR
Smake en kleure van my Zanzibar-trippie helder die kitsery wat ek by my ma leer maak het verder op. In Zanzibar het ek vars borrie van die plant af in ‘n speserywoud kon ervaar. Dit lyk soos piepklein gemmerwortel, maar vlek anders as gemmer mens se hande goudgeel! Die vars borrie word baie in hul kookkuns gebruik, so ook klappermelk. Ek het ook grootgeword met kerrie-eiers en daarom is hierdie gereg eintlik ‘n dubbeldoor van 2 onthougeregte bekinkel. Doen moeite en rook jou eie stokvis as jy dit nie klaargerook in die hande kan kry nie.
3 eiers
Vir rys: 2 koppies basmati rys (Ek gebruik Spekko); 2 kardomompeule; 5 ml borrie; 15 ml botter; 40 ml sultanas
600g vis – gerookte, ongekleurde stokvis of gerookte snoek ook gebruik
Genoeg melk of water om vis te kan bedek
1 ui, fyngekap
Botter of olie vir braai
25 ml matige kerriepoeier, soos Cartwrights of Raja
1 t vars gerasperde gemmer
5 ml fyn komyn
10 ml mosterdsaad
80 ml klapperroom of 125 ml klappermelk
Skil en sap van 1 suurlemoen of lemmetjie
Garnering: 2 tamaties, pitte verwyder en fyngekap; Vars koljander (of pietersielie indien verkies), gekap
Metode:
- Kook die eiers vir 8 minute, koel dit af en laat eenkant.
- Kook die vis liggies in genoeg melk of water om dit te bedek. Sowat 8 minute. Laat afkoel en vlok die vis. Verwyder vel en grate.
- Kook die rys in soutwater waarby borrie, kardomom en botter gevoeg is.
- In ‘n groot braaipan, braai die uie en gemmer vir sowat 5 minute tot dit begin verbruin en voeg dan die kerriepoeier, komyn en mosterdsade sade by. Kook sowat 2 minute. Voe die klapperroom by, die orige melk waarin die vis geprut het, skil en sap van die suurlemoen en prut tot dit verdik, sowat 7 minute. Skep sous uit.
- Skil eiers en sny in kwarte. Gooi die kerriesous oor die eiers.
- Sit dit rys, visvlokkies en fyngekapte tamatie in die pan, en roer saggies deur. Laat goed warm word. Skep rys met die gevlokte vis en tamatie in opskepskottel, rangskik eiers in kerriesous bo-op. Rond of met vars koljander. Bedien warm.
Marius Uys bied pasgemaakte pakette vir kosentoesiaste na Zanzibar. Besoek Discover Zanzibar by www.discoverzanzibar.co.za
- ‘n Spesiale dankie aan Julie Carter van Ocean Jewels Fresh Fish & Seafood www.oceanjewels.co.za vir die gerookte stokvismootjies. My kosvriende het my van haar vertel en dit was so ‘n plesier om haar gister te kon ontmoet. Julie is toegewyd tot die varsste seekos en volhoubare praktyke. Hulle lewer ook af in die Kaapse skiereiland. Kyk uit vir die Ocean Jewels Deli in Woodstock en by die Neighbourgoods Market. Kontak Julie by 083 582 0829 of oceanjewelsfish@gmail.com
Tags: aandete, basmatirys, Discover Zanzibar, Downton Abbey, gerookte stokvis, haddock, Johnny Hamman, kedgeree, kerrie, kitsery, Kook en Geniet, kreef, Marius Uys, middagete, mosterd, Ocean Jewels, ontbyt, onthoukos, rsg, rys, skelvis, snoek, Spekko, speserye, vis
- Comments 6 Comments
- Categories Uncategorized
Recent Posts
- Asynribbetjie met bros kruie- en botter gegeurde braaiaartappels
- Yakitori – Japanese hoenderspiesies oor die kole en uie-stokkiesbraai
- Banoffeetert Alaska met souttoffiestroop; BANOFFEE-TRIFLETERT EN TOFFIEGLASSKERWE
- Kardamom- en brandewyn-appelkoek
- Fattoush en tabouleh sonweer-slaaie uit die Midde-Ooste
Archives
- December 2022
- September 2022
- May 2022
- April 2022
- March 2022
- February 2022
- December 2021
- November 2021
- August 2021
- July 2021
- April 2021
- March 2021
- July 2020
- June 2020
- April 2020
- March 2020
- February 2020
- January 2020
- December 2019
- November 2019
- September 2019
- August 2019
- July 2019
- June 2019
- May 2019
- February 2019
- January 2019
- December 2018
- November 2018
- June 2018
- May 2018
- April 2018
- January 2018
- November 2017
- October 2017
- September 2017
- August 2017
- July 2017
- June 2017
- May 2017
- April 2017
- February 2017
- December 2016
- November 2016
- October 2016
- September 2016
- August 2016
- July 2016
- June 2016
- May 2016
- March 2016
- December 2015
- November 2015
- August 2015
- July 2015
- June 2015
- May 2015
- April 2015
- March 2015
- February 2015
- January 2015
- December 2014
- November 2014
- October 2014
- September 2014
- August 2014
- July 2014
- June 2014
- May 2014
- April 2014
- March 2014
- February 2014
- January 2014
- December 2013
- November 2013
- October 2013
- September 2013
- August 2013
- July 2013
- June 2013
- May 2013
- April 2013
- March 2013
- February 2013
- January 2013
- December 2012
- November 2012
- October 2012
- September 2012
- August 2012
- July 2012
- June 2012
- May 2012
- April 2012
- March 2012
- February 2012
- January 2012
- December 2011
- November 2011
- October 2011
- September 2011
- August 2011