Live in abundance het na my kombuis toe gekom in die vorm van kreefsterte wat vriend Cobus Bekker na sy Paternoster-vakansie hier aangebring het.
Alles aan Vrystater Cobus is groot; hy’s seker 6 vt 4 in ou taal (dis lank). Maar dis in ruimhartigheid dat hy ‘n reus is. As hy in my kombuis is, wil ek alles in grootmaat maak. Sy kreefpersent het my aangemoedig om my groot te gaan, my gunsteling garnaalresep en my paella-grootte koperpan uit te haal. Die bottel Pernod, die anys-aperatif waaroor die Franse gaande is, word vir oomblikke soos hierdie prop-af gedraai. Wat dan volg is nie soseer resep as ritueel nie.
Die pan word baie warm gemaak en ‘n stewige klont botter ingegooi. Dit sis, raas en word neutbruin. Gooi garnale in, fyngekapte knoffel en droë rissievlokkies. Ek vul die botter aan as dit lyk of die garnale nog vra. Alles gebeur in sekondes eerder as minute. Braai, braai, skud die pan, braai. Klompie ontpitte Kalamata olywe kom by. Nou moet die Pernod diens doen. ‘n Paar skeute word in die pan gegooi (en ek laat glip hierdie keer my hand) om die bottersappe te bevorder tot ‘n sous vir die seegode. Pietersielie in repies gesny (chiffonade vir die kenner) en blokkies vars pruimtamatie by geroer. Klaar.
En as jy so gelukkig soos ek is om ‘n pêl soos Cobus te hê, pak jy geskenk-kreefsterte (apart in botter gebraai en met suurlemoen geseën) bo-op. Dit gaan alles blitsig tafel toe waar varsgebakte growwebrood wag om die heilige botter-, Pernod, seesmaak-sous op te slurp.
Daar’s nie nog tyd vir mooi fotos neem nie, maar sonder ‘n speech kan dit nie. Dit word oorgelaat aan vriend Rick sat altyd instaan as praise-singer aan die vriendskapstafel. Hierdie Pernod garnale met ‘n kreefkroon verdien ‘n speech. En ‘n oomblik stilte.
Leave a Reply