Met Paasnaweek skaars ‘n week weg word die kostradisies van hierdie geestelike tyd tafel toe gebring. – van pashka en kulich in Rusland tot Simnelkoek in Engeland – en natuurlik die wêreld deur word paasbolletjies (hot cross buns) geniet.
Ek het nie grootgeword met spesiale Paasgebruike nie – behalwe stringetjies sjokolade-paaseiers van marshmallow wat my ma by Grand Basaars gekoop het. Pa het nie paaseiers in die tuin weggesteek nie (my drie broers en ons hond Wagter sou dit in elk geval lank voor my uitgesnuffel het), maar Ma het gesorg dat die huis oor Paastyd na die soet warmte van kaneel en korente geruik het. Paasvrydag het ons haar tuisgemaakte paasbolletjie (nog warm van die rooster) geëet met botter wat in geel strome oor die vingers drup.
As kind het die lekkerte die voorhand gehad bo simboliek en ek het die kruisie bo-op die paasbolletjies stukkie vir stukkie afgetorring, sonder om werklik te weet dat dit ’n diep geestelike betekenis het.
{Paasbolletjies}
‘n Mens kan jou dit skaars indink dat die blink-wang spesery-bolletjies ‘n bron van politiese konsternasie kan wees. In die 16de eeu in Engeland het die Protestante beswaar gemaak teen die paasbolletjies wat hulle as Katolieks beskou het. Elizabeth I het toe ‘n wet gemaak dat dié geurige gebak net tydens Paasfees, Kersfees en begrafnisse geëet mag word. Paasbolletjies het ‘n paar jaar gelede weer die nuus gehaal in Brittanje toe sekere skole nie meer dit aan hul leerlinge wou voorsit nie – oor die kruis!
Jy het nodig:
4 x 250 ml meelblom
3 ml sout
5 ml fyn kaneel
5 ml gemengde speserye
65 g koue botter
125 ml korente, rosyntjies of sultanas (of mengsel)
1 pakkie gis
125 ml suiker
250 ml melk
1 eier, geklits
Kruise:
100 ml meel
25 ml suiker
Genoeg melk om ‘n pasta te maak
30 ml stroop, verhit*
Maak so:
Sif die meelblom, sout en spesery saam in ‘n groot mengbak. Vryf die botter in en voeg die korente (of ander) by. Voeg die pakkie gis en die suiker by. Maak die melk louwarm en voeg dit by die bestanddele in die bak en meng tot dit ‘n deeg vorm. Knie vir 3-5 minute tot glad. Laat rys sowat 30 minute in ‘n warm plek tot die deeg verdubbel het. Keer deeg uit op ‘n meelbestrooide oppervlakte en knie goed tot glad. Verdeel die deeg in 12 dele en vorm elke deel in ‘n platterige balletjie. Sny diep kepe in ‘n kruisvorm op elke bolletjie. Laat rus vir 15 minute. Verf die bolletjies met die geklitste eier.
Kruise: Meng die meel, suiker en melk saam met die orige geklitste eier om ‘n pasta te vorm. Rol die deeg in lang dun worsies en plaas op die kepe van die kruis. Bak 20 minute by 200º C. Haal uit en smeer die warm stroop oor.
* Maak die glasuur-stroop deur 15 ml strooisuiker en 5 ml gelatien in 15 ml water te verhit tot dit opgelos het, maar nie kook nie. Smeer oor die bolletjies wanneer dit uit die oond kom.
{Pashka}
Bevind jy jou oor Paastyd iewers in Rusland, kruis pashka dalk jou pad. Pashka is Russies vir Paas. Die pashka word gemaak van kaas soortgelyk aan maaskaas, versoet en in ‘n vorm geset. Die tradisie is om die kaasmengsel te giet in ‘n piramied-houtvorm, simbolies van Christus se graftombe. Die Ortodokse tradisie is steeds om die letters XB op die sykante van die pashka uit te pak met neute en versuikerde skil. Die letters beeld uit ‘Christos voskres’ – Christus het opgestaan. Die gebruik is om die pashka op die Donderdag en Vrydag voor Paassondag kerk toe te neem om geseën te word deur die priester.
En die kulich? Kulich is ‘n koek-brood, deurspek met rosyne, amandels en speserye. Volgens gebruik sal die kulich bedek wees met wit versiersuiker, afgerond met ‘n wit roos wat dan ook deur ‘n priester geseën word. Die gees van ‘n Russiese Paasfees kan geniet word met ‘n kortpad deur die kombuis. Vervang die kulich met paasbolletjies, rosyntjiebrood of brioche.
Pashka resep
Gebruik ‘n meelsif as vorm, of ‘n terracotta blompot vir ‘n meer tradisionele vorm.
150ml vars room, geklop tot sagte punte vorm
2 houers Simonsberg tradisionele roomkaas (dis ’n lekker veerligte roomkaas)
150 g strooisuiker
Gerasperde skil van 2 suurlemoene
5 mℓ suurlemoensap
60g versuikerde lemoenskil, fyngekap
60g versuikerde gemengde skil
30g geroosterde amandels of pistasie neute, gekap
Vir afwisseling kan gedroogde appelkosies, dadels of goue sultanas ook bygevoeg word.
Voer ‘n meelsif uit met kaasdoek. Klop room tot sagte punte vorm. Plaas in yskas. Kombineer roomkaas, neute, versuikerde skil, strooisuiker, suurlemoenskil en sap. (As die roomkaas te dik is, verdun met ‘n bietjie lemoensap). Vou room in. Skep in die voorbereide vorm. Verkoel vir 8 ure. Haal uit die vorm en bedien verkieslik teen kamertemperatuur saam met tradisionele paasgebak.
Wenk: Jy kan ook maaskaas of ricottakaas gebruik, pleks van die roomkaas. Die vars room kan met suurroom vervang word, maar los dan die suurlemoensap uit die resep.
Dankie Simonsberg vir die foto van pashka met paasbolletjie.
{Simnelkoek}
Paasfees-Simnelkoek (Waitrose.com)
Simnelkoek is ‘n gewilde paasgebak met simboliek so ryk as die koek self. Die gebruik het in Engeland onstaan om dié ligte vrugtekoek op Paassondag voort te sit. Dogters het die koek gebak vir hul ma’s op die sogenaamde ‘Mothering Sunday’ – terloops, dis ‘n dag op die kerkkalender wat nie verband hou met die hedendaagse Moedersdag nie).
Soos met tradisionele Kerskoek, word simnelkoek ook met marsepein, die klassieke wit amandelgegeurde koekversiering, bedek. Wat die simnelkoek onderskei van ander feesgebak is die elf marsipeinballetjies waarmee dit afgerond word. Hoekom elf? Elke balletjie verteenwoordig ‘n dissipel, met die uitsondering van Judas.
Resep – Simnelkoek
Die resep bak ‘n familiegrootte koek, genoeg vir 15 snye.
Jy het nodig:
500 ml suiker
250 g botter
4 eiers
500 ml meelblom
Knypie sout
500 ml korente
375 ml Sultanas
125 ml fyngemaalde amandels
5 ml gemengde speserye
Gerasperde skil van ½ suurlemoen
Paar druppels amandel-geursel
3 ml koeksoda
190 ml melk
Gekoopte marsepein vir versiering
Metode
Voorverhit die oond to 150ºC. Smeer 2 groot koekpanne. In ‘n groot mengbak, voeg die suiker by die botter en verroom. Klop die eiers een op ‘n keer by saam met ‘n bietjie van die meel en meng tot die beslag styf en glad is. Voeg die oorblywende meel, sout, vrugte, neute, speserye, amandelgeursel, koeksoda en melk by. Meng goed. Plaas die helfte van die mengsel in elke koekpan en maak die oppervlakte goed gelyk. Bak nagenoeg 2½ uur. Die koek is gaar as jy ‘n metaalpen indruk en dit skoon uitkom. Haal koek uit die oond en laat behoorlik afkoel. Versier met marsepein tussen die twee lae en bo-op. Rol 11 marseleinballetjies (so groot soos okkerneute) en plaas in ‘n sirkel bo-op.